Скачать книгу

      9. Die heil behoort aan die HERE; laat u seën wees oor u volk! Sela.

      Ryker as Dawid

      • Psalm 3 is die worstellied van die pa van ’n verlore seun: ’n lieflingseun wat sy pa volkome verwerp en geen eerbied vir God het nie.

      • Psalm 3 is die klaaglied van ’n enkeling wat baie goed weet hoe ver hy geval het en van ander hoor dat God hom afgeskryf het.

      • Psalm 3 is die môrelied van ’n sondaar wat kies om te glo dat God die God van tweede kanse is. Dat God hom goedgesind is, ten spyte van die groot gemors wat hy in roekelose ongehoorsaamheid aan God aangevang het.

      • Psalm 3 is die lied van ’n onvoorwaardelike Godsvertroue: Dawid kies om ongeag die afloop van sy eksistensiële krisis, nie aan God te twyfel nie.

      • Langs Psalm 3 staan God die Vader, wat verlore seuns en dogters inwag.

      • Bokant Psalm 3 uit stuur Jesus Christus ’n boodskap aangaande Homself aan Johannes die Doper en aan elke gelowige in krisis: “[G]elukkig is die man wat nie aan My begin twyfel nie” (Luk 7:23, 1983-vertaling).

      Jesus, ek sal nie aan U begin twyfel nie

      1–2. Ons Vader wat in die hemel is

      U weet alles, U ken die aard en omvang van my krisis.

      2–3. U weet hoe meedoënloos Satan

      – die teëstander van u wil vir my lewe – my aankla,

      hoe sy influisteringe in my vermenigvuldig.

      Hy staan teen my op en sê:

      Vir jou is daar geen ontferming by God meer oor nie.

      Op jou draai Hy sy rug.

      Sela, sela. Word stil, my siel. Kom tot rus by God.

      4–5. Maar U, Jesus, beskut my deur u bloed en u gehoorsaamheid.

      U is bekleed met ’n kleed wat in bloed gedoop [is]

      U wat deur u krag wat in ons werk, magtig is

      Sela, sela. Word stil, my siel. Kom tot rus by God.

      6–7. Wie kan my in hierdie tyd van die liefde van Christus skei?

      Watter teëstander kan my langer by U aankla? Ek het my skuld bely

      en U, my God, het my vrygespreek.

      Christus Jesus het gesterf, Hy is uit die dood opgewek,

      Hy het opgevaar na die hemel; Hy pleit vandag vir my.

      Vader, in my nood en benoudheid,

      in alles wat ek nie begryp nie,

      sal ek u Woord glo:

      Ek sal deur al hierdie dinge kom.

      8–9. In die vroeë ure van die nuwe dag

      aanbid ek U reeds

      soos eendag wanneer aardse tyd verby sal wees:

      “Die lof, die heerlikheid, die wysheid, die danksegging

      die eer, die krag en die sterkte behoort aan ons God

      tot in alle ewigheid!” Dit is so, ook vandag, ook vir my.

      Sela, sela. Word stil, my siel. Kom tot rus by God.

      Drie-enige God, my heil vind ek net in U.

      En, Jesus, ek maak u boodskap aan Johannes die Doper – en aan ons almal – my eie.

      Ongeag die uitkoms waarop ek hoop,

      ten spyte van alles wat ek nie verstaan nie,

      sal ek nie aan U begin twyfel nie.

      Besprekingsvrae

      1. Wat het jy gehoop om in dié psalm te kry?

      2. Wat het jy verwag om in dié psalm te vind?

      3. Hoe is die Ou-Testamentiese mens volgens dié psalm? Waarom sê jy so? Is ons nog so?

      4. Wat (kan) verander wanneer ons in Christus is? Hoe en hoekom sê jy so?

      5. Wat het God nou vir jou deur sy Woord aangaande Homself openbaar?

      6. Wat wil jy vir die Here sê?

      Psalm 4

      ’n Aandlied

      1. VIR die musiekleier; met snaarinstrumente. ’n Psalm van Dawid.

      2. As ek roep, verhoor my, o God van my geregtigheid! In benoudheid het U vir my ruimte gemaak; wees my genadig, en hoor my gebed!

      3. O Manne, hoe lank sal my eer tot skande wees? Hoe lank sal julle die nietigheid liefhê, die leuen soek? Sela.

      4. Weet tog dat die HERE vir Hom ’n gunsgenoot afgesonder het; die HERE hoor as ek Hom aanroep.

      5. Sidder, en moenie sondig nie; spreek in julle hart op julle bed, en wees stil. Sela.

      6. Offer offerandes van geregtigheid en vertrou op die HERE.

      7. Baie sê: Wie sal ons die goeie laat sien? Verhef oor ons die lig van u aangesig, o HERE!

      8. Groter vreugde het U in my hart gegee as wanneer hulle koring en hulle mos oorvloedig is.

      9. Ek wil in vrede gaan lê en meteens aan die slaap raak; want U, o HERE, alleen laat my in veiligheid woon.

      Ryker as Dawid

      • Langs Dawid, wat homself met al sy probleme vir die nag in geloof oorgee aan die beskerming van die God wat hy nog nooit gesien het nie, sing ook óns ons aandlied voor die hoë God wat ons sy kinders gemaak het.

      Aandlied van die verlostes

      1. Vir die leiers van die kore van die Kerk,

      met musiekinstrumente wat aan God gewy is.

      Gewer van die Gesalfde wat Homself vir ons sondes gegee het

      om ons uit hierdie

Скачать книгу