Аннотация

Tien dae lank praat Sara nou al met God, die Almagtige. Hiervoor het sy haar donkie opgesaal nadat Abraham met hulle enigste kind, twee slawe en 'n bondel vuurmaakhout op 'n pakdonkie in die verte verdwyn het. Met die sluier oor haar gesig is sy vrou-alleen by almal in die kamp verby, die woestyn in. Sy, wat so bang is vir die giftige slange en skerpioene van die Negev, het die groot skerpioen naby haar skaars raakgesien toe sy op die grond neergeval en na die onsigbare God begin roep het… In dié roman word Abraham van die Bybel deur sy vrou Sara se oë gesien. Die leser word meegesleur na die Middel-Bronstydperk, na die mense van die sondvloed, na Abraham se stanings en huwelik, sy swakhede en sy geloofspad, en die lewe van sy vrou Sara. En gekonfronteer met die Wese en die werklikheid van God.

Аннотация

Hanna is kinderloos. Haar man moet seuns hê om sy priesterlike pligte as Leviet voor die Here na te kom, en ná nege jaar trou hy weer. Peninna skenk die lewe aan die een kind ná die ander. Maar Hanna sukkel met Peninna se teenwoordigheid in die huis. Is haar kindersloosheid die Here se straf? Sal Hanna kan vrede maak, met haarself en met Peninna? Sal sy guns kan vind in die oë van die God sodat Hy haar lamp weer aansteek en die donker verdryf?

Аннотация

Ryker as die tempelkore is ’n persoonlike reis na ’n dieper kennis van die God wat ons oorvloediglik met genadegawes seën. Die skrywers nooi die leser om hul opnuut in die Psalms te verdiep en sodoende in te gaan in die magtige krag van één Woord en één verbond. Ou-Testamentiese psalms word met Nuwe-Testamentiese Skrif gekombineer om die leser die geestelike dissipline te wys waardeur die gelowige van duisternis na lig, van radeloosheid tot sekerheid kan beweeg. Hierin herontdek die leser die Ou Testament en die Nuwe Testament as één geskiedenis van God se liefde en trou. Die leser ontdek ook watter mag daar is om erns te maak met God se Bybelse name tydens selfstudie.

Аннотация

Margo Diederichs kom op die Vrystaatse dorp Winburg vrede maak met die ma wie se stryd sy nooit verstaan het nie. Vier jaar lank het Margo gaan heel word in Israel, maar nou moet sy die kompleksiteit van haar herkoms en identiteit kom uittorring. Haar tyd op Winburg raak ’n ontdekkingstog deur die dorp se verlede en haar eie verbintenisse daarmee. Sy kyk saam met die vroue van 1901 in die naghemel op na die Groot Komeet met die V in sy stert. Sy verken bywonerstentedorpe ná die Anglo-Boereoorlog. Die liefde en haat, die geloof en die diepste geheime van vier geslagte vroue van wie sy afstam, kom aan die lig in die Winburgse huis waaroor die aartsengelhond Michael snags waak. Margo stol voor die monument wat haar ma se buurvrou en dié se seuns ná ’n plaasmoord gebou het. Sy hoor die hart van haar ma se oppasster, wie se grootjie in ’n swart konsentrasiekamp was. Ook daar sien Margo monumente. ’n Man wat haar aan Kipling se alleenkat herinner, veroorsaak dat haar besluit oor waar sy hoort – in die land van haar voorouers of in Israel by haar geliefde Yachin? – nie meer so maklik is nie.
Monument is feitefiksie. Dit is ’n verhaal rondom die Vrouemonument in Bloemfontein en ander monumente van klip en marmer. Maar ten diepste wys dié roman na die onvernietigbare monumente wat Suid-Afrikaners al die afgelope 100 jaar in mekaar se menswees bou. Monument vertel van die meesterbouers, die vroue van Sentraal-Suid-Afrika.

Аннотация

Mense is soms geneig om te dink die Ou Testament is nie relevant vir die tyd waarin ons leef nie. Die teendeel is egter waar! In Ryker as Dawid gaan kyk die skrywers spesifiek na die relevansie wat die Psalms vandag vir ons het. Sodoende ontsluit hulle die belangrikheid en die betekenis daarvan, in die lig van Jesus Christus wat gekom het om ons te verlos. Soos altyd is hierdie Bybelstudieboek ideaal vir selfstudie of studie in ’n groep. Lesers sal met nuwe oë na die Psalms kyk en dit sal opnuut betekenis kry. Ontdek saam met Hennie en Maretha hoe ons as gelowiges vandag ryker as Dawid is omdat ons met Jesus Christus beklee is. Want danksy Hom is ons ryker as Dawid. Sien hoe die Ou- en die Nuwe-Testamentiese Skrif saam ’n simfonie van lof en genesing, liefde en trou word.

Аннотация

Ver van jou goed is naby jou skade, het Paula Rall se vriendin Erika gewaarsku, en Paula het die waarheid van daardie woorde waaragtig leer ken. Want dis einste Erika wat tussen haar en Hans de Lange gekom het. Die liefde tussen haar en die buurseun wat Paula gedink het vir ewig is, is deur verraad en leuens vernietig, en drie jaar later sukkel Paula nog om die impak daarvan te verwerk. Maar dis Wêreldbeker-sokker en goeie pastoriedogter wat sy is, spring Paula in om haar ma te help met die kerk se maand lange uitreikaksie na haweloses. Dat liefde en vergiffenis die lááste ding op haar agenda is, verswyg sy . . . totdat Hans onverwags weer op die toneel verskyn.

Аннотация

In Katryn Müller se ouerhuis was swaarkry of die aanvaarding van verantwoordelikheid nie hoog op die agenda nie en godsdiens het geen rol gespeel nie. Maar kort voor Katryn as vennoot in haar ouers se verslankingsmiddel-sakeryk opgeneem kan word, verander die lewe en die atmosfeer in Müllerhof onherroeplik. Eggert en Frieda Müller roep die landskap van die maer lywe vaarwel toe en gooi die deure van ’n ou plaashuis oop vir mense wat ’n tweede kans in die lewe nodig het. Teen haar sin begin Katryn betrokke raak by haar ouers se nuwe lewe en ontmoet vir Dawid Pretorius, die maatskaplike werker met die groot hande wat so sag aan mense raak. Wanneer haar pa ’n dodelike siekte plaas toe bring en kwarantyn afgedwing word, ontdek sy Dawid Pretorius is nie ’n engel wat op aarde diens doen nie . . .

Аннотация

Farah Olivier aanvaar ’n pos as kuns- en dansonderwyseres by ’n privaatskool in Somerset-Wes, maar wanneer sy aanmeld, is daar nie ’n mens in sig nie. Want die skool was net ‘n verneukspul. Vyf dae later weet die 22-jarige Farah hoe dit voel om die ma van twee tieners en ’n laatlam te wees. Sy moes noodgedwonge die pos as au pair vat. Maar Farah voel self nog kind. Padgee is egter nie ’n opsie nie. As dit nie vir haar buurman se seun, Alexander Meiring was nie, sou sy verlore wees. Sy is heel tevrede met die stand van sake – tot die Sondag saam met Alexander en die kinders teen ’n silwer see . . .