Скачать книгу

verkoop nie.

      Die Soweto-opstande het gegoede Suid-Afrikaners laat wakker skrik. Met die land wat brand glo Wiese daar gaan opnuut ’n behoefte onder rykes wees om in bateklasse te belê wat beweeglik is.

      “’n Man kan met ’n handvol diamante alles agterlaat en iewers anders van voor af begin,” sê hy.11

      So stig hy die Cape Town Diamond Investment Brokers.

      En die geld rol in.

      Maar groter kragte is aan die werk. Die soeke na waarde in dié tyd van hoë inflasie lok ook spekulante en diamantpryse styg tot ongekende vlakke.

      “Op die hoogte van die 1980-diamantlopie het ek aangevoel die mark is ongesond en verkoop toe aan Johan.”12 Wiese kry volgens berigte R5,8 miljoen vir sy belang.13

      Dit was in Februarie. In Augustus slaan De Villiers, in daardie stadium net 26 jaar oud, ’n slag toe die myn op ’n enkele afsetting afkom wat R30 miljoen se diamante oplewer.

      “Hy het my met gemak uitbetaal.”14

      Twee jaar later stort die diamantmark ineen en die maatskappy word gelikwideer. Wiese het op die regte tyd uitgeklim.

      “Twee dinge mag jy nooit doen nie. Jy mag nooit in die politiek ingaan nie en jy mag nooit flieks maak nie,” het Caro, volgens Wiese, vir hom gesê.15

      Rolprente was toe nie ’n probleem nie, maar die politiek het gewink.

      “My eerste liefde, het ek altyd gedink, was die reg. Die theatrics en die intellektuele stimulasie het by my aanklank gevind,” sê Wiese.16

      Hy word ’n lid van die Kaapse Balie. Maar daar is geen voorbeelde van groot sake waaraan hy gewerk het nie. Jare later noem hy homself “a failed lawyer”.17

      Die lewe van ’n advokaat was vir hom té afgesonder, sê hy, want hy werk heeltyd net met dinge uit die verlede. Maar al van sy universiteitsdae af stel hy vurig in die politiek belang.

      Wiese se skoonpa, Japie Basson, was teen die middel 1970’s die Verenigde Party (VP) se volksraadslid vir Bezuidenhoutvallei. Hy het die planne teengestaan om die party in 1977 te ontbind. Maar die VP het uiteindelik uitmekaargespat en Basson was een van die stigters van die Progressiewe Federale Party (PFP of die Progge).

      Dit is waar Wiese ook vir ’n paar jaar sy politieke tuiste sou vind.

      Colin Eglin was die PFP se eerste leier en Helen Suzman en Frederik Van Zyl Slabbert was onder die ander vername figure in die party. Die PFP was gekant teen diskriminerende wette en glad nie te vinde daarvoor dat een groep ’n ander domineer nie. Vandag klink dit dalk nie na die radikaalste idee nie, maar die PFP was ten gunste van onderhandelinge tussen Suid-Afrika se verskillende bevolkingsgroepe oor die pad vorentoe.

      In 1977, kort ná die ontbinding van die VP, roep die eerste minister, John Vorster, ’n algemene verkiesing uit. Dit was duidelik ’n taktiese skuif waarmee hy sy meerderheid in die volksraad wou verstewig terwyl die gefragmenteerde opposisie skarrel om te herorganiseer. Die vorige verkiesing was trouens in 1974.

      “Van Zyl Slabbert het my gebel. Ek was in Londen. Hy sê ‘kyk, ons is op soek na kandidate, sal jy dit oorweeg om ’n kandidaat op Stellenbosch te wees?’”18

      Wiese het toe daaroor gedink.

      “Ek bel my vrou en vertel haar en sy sê onmiddellik ‘nee, dis reg’ want sy weet as ’n Prog was daar geen kans om Stellenbosch te wen nie.”

      Maar op die ou end staan hy nie op Stellenbosch nie, maar in Simonstad.

      Sy opponent is John Wiley, reeds ’n lid van die volksraad en dié keer ’n kandidaat vir die Suid-Afrikaanse Party (SAP). Wiley was voorheen lid van die Verenigde Party, maar hy en vyf ander volksraadslede het weggebreek en ’n naam wat laas in die 1930’s gebruik is laat herleef om die SAP te vorm.

      Maar Wiley was nie ’n Sap in die ware sin van die woord nie. Hy was bereid om regser te leun as dit stemme sou wen. Die Nasionale Party het dit raakgesien en was hom taamlik goedgesind. In 1977 stel die NP nie self ’n kandidaat in Simonstad nie en verbeter sodoende Wiley se kanse in die kiesafdeling.

      Maar Wiese benader die verkiesing met dieselfde optimisme wat hy in die komende dekades as ’n openbare figuur sou uitstraal.

      “Dit is hoogs moontlik dat die PFP in die volgende verkiesing in ’n posisie sal wees om genoeg kandidate in die veld te stoot om aanspraak daarop te maak om die regering oor te neem,” sê hy in die aanloop tot die stemmery.19

      Die waarheid is dat die PFP daardie jaar besluit het om glad nie kandidate in sterk NP-kiesafdelings te nomineer nie. Die NP was ’n formidabele politieke masjien en die PFP was nuut op die toneel. Maar Simonstad was ’n setel wat hulle met ywer betwis het.

      In die oorwegend Engelssprekende kiesafdeling het Wiese waarskynlik gedink hy sal min met Afrikaner-nasionalisme en stoere boerekiesers te doen kry, wat hom die kans gee om eerder te fokus op die onvolhoubaarheid van apartheid.

      “Die Nasionaliste-regering het bo enige redelike twyfel bewys dat hy ’n regering is wat Suid-Afrika nie langer kan bekostig nie,” sê hy voor die verkiesing.

      Drie weke voor die verkiesing debatteer Wiese en Wiley in Vishoek se stadsaal. En al was daar baie om oor te stry – soos onder meer die tuislandbeleid, die toekoms van Suidwes-Afrika en binnelandse veiligheid ná die Soweto-opstande – is die vergadering deur die Red Rhodesië-beweging gereël.

      Die land wat later Zimbabwe sou heet, was in daardie stadium in sy eie bosoorlog gewikkel. Ian Smith en sy wit minderheidsregering het baklei teen die militêre vleuels van Robert Mugabe se Zimbabwe African National Union en Joshua Nkomo se Zimbabwe African People’s Union.

      “Ek beskou Rhodesië nie as ’n strydpunt in die verkiesing nie …” sê Wiese, waarop die gehoor wou weet waarom dan nou nie?20

      “Suid-Afrika het heeltemal genoeg moeilikheid van sy eie,” antwoord hy.

      “Onsin. Hulle is ons bloedbroers,” roep ’n lid van die gehoor terug.

      Daarna is Wiese meer diplomaties, maar later jou ’n deel van die gehoor hom uit toe hy voorstel Rhodesië se probleme word aan die Rhodesiërs oorgelaat. Ander in die gehoor juig hom toe.

      Wiley lees daardie aand die gehoor beter en sê hy is onbeskaamd pro-Rhodesies. Hy praat van gemeenskaplike vyande in Suid-Afrika en Rhodesië en misleide liberaliste wat deel is van ’n kommunistiese plan vir wêreldoorheersing.

      Wit vrese vir swart oorheersing het swaar geweeg in 1977 se verkiesing en die ekonomiese pyn van sanksies en isolasie was nie ’n sterk genoeg argument vir die PFP om die kiesers se koppe te swaai nie.

      Die NP wen die algemene verkiesing oorweldigend en stuur 135 lede volksraad toe. Die PFP wen net 17 setels, maar dit is genoeg om die amptelike opposisie te word.

      Wiese se skoonpa is een van hulle, maar nie hy nie. Wiley stof hom uit met 4 927 stemme teenoor Wiese se 3 306 – sowat 64% van die kiesers het gestem.

      Hy maak nietemin opgang in die party en is van 1978 tot 1979 lid van die federale uitvoerende komitee. Wiley doen in 1980 afstand van sy setel om by die Nasionale Party aan te sluit. In die daaropvolgende tussenverkiesing staan Wiese nie weer teen hom nie.

      Die land het intussen ’n nuwe eerste minister in die gedaante van PW Botha gekry nadat John Vorster in die nadraai van die Inligtingskandaal bedank het. En Botha, die voormalige minister van verdediging, lyk of hy groot politieke hervormings beplan, al maak die beeld wat hy oor die jare as sekurokraat opgebou het, dit moeilik om te glo.

      Hy wil bruin mense en Indiërs by die regering betrek. Een van sy skuiwe is om die senaat af te skaf en met ’n raadgewende liggaam, bekend as die presidentsraad, te vervang. Dit sal wittes, bruin mense en Indiërs in sy geledere hê en uiteindelik rigting moet gee oor ’n nuwe grondwetlike bedeling. Geen swart verteenwoordiging in die raad nie, natuurlik.

      Botha en sy binnekring het hul sommetjies gedoen en tot die gevolgtrekking gekom dat die wit minderheid nie op sy

Скачать книгу