Скачать книгу

Ander rede was dat hy nie geglo het hy is op lang termyn bereid om ’n ander ou se joggie te wees nie. Pep Stores was in daardie stadium bekend as “Van Rooyen’s Express”.

      As student op Stellenbosch was dit duidelik, en dit raak duideliker in die dekades wat volg, dat Wiese nie ’n man is wat wegskram van die kollig nie. Maar in Pep was Renier die baas. Wiese en sy familie was reeds die grootste aandeelhouers, maar hy het gedink Van Rooyen is ’n beter nommer een as hy wat Christo is.

      “Ek was nie uitgeknip om ’n nommer-twee-man te wees nie.”

      Hy het ook planne gehad om te trou met ’n nooi by wie hy toe al ’n tydjie vlerksleep en daarvoor het hy ’n meer stabiele lewe nodig, waar hy meer as 10 aande per maand by die huis is. En sonder die rowwe werktempo van Pep Stores.

      “Ek het in elk geval besluit ek wou eers ’n miljoenêr word voordat ek trou.”19

      5.

      “Failed lawyer”, politiek en diamante

      “Maar my lewensuitkyk was en is nog altyd dat ’n mens moet kies. Vir my het dit gelê tussen ’n gewone werk met ’n taamlike salaris en sekuriteit, of risiko’s en opofferinge.” 1

      Christo Wiese in ’n onderhoud, 1984

      Christo Wiese het sy lewensmaat by ’n dansparty op Gordonsbaai ontmoet. Caro Basson was toe ’n matriekmeisie. Wiese was ’n regstudent in sy finale jaar op universiteit.2

      Hy het daardie aand, nadat hy met haar gedans het, al vir ’n vriend gesê hy gaan met haar trou, maar het nie geweet wat haar naam is nie.

      Sowat ’n jaar later sien hulle mekaar weer.

      ’n Universiteitsmaat van Wiese sê hy ken die mooi dogter van ’n politikus. So reël hulle ’n afspraak. Wiese neem Caro saam na ’n ete by die huis van prof Francie van Zijl, hoof van Stellenbosch se mediese fakulteit, maar ook ’n man wat skouers skuur met die vernaamstes in die regering van die dag. Die meeste van die gaste is politici.

      “Caro Basson? En wie se dogter is jy?” wou die gasheer weet.

      “Meneer Basson s’n,” het sy geantwoord.

      Dié meneer Basson is Japie Basson, ’n politikus wat eers in die NP was, maar in die laat 1950’s uit die party geskop is omdat hy beswaar gemaak het teen die rigting wat met apartheid ingeslaan word. Intussen het hy sy eie party, die Nasionale Unie, gestig en later by die Verenigde Party, in daardie stadium die amptelike opposisie, aangesluit. In die 1980’s, teen die einde van sy loopbaan, het hy weer lid van die Nasionale Party geword.

      Dat dié opportunis – Daily News noem hom in ’n doodsberig3 die “verkleurmannetjie van die Suid-Afrikaanse politiek” – Wiese se skoonpa gaan wees, is nog nie ’n uitgemaakte saak nie.

      Caro lag later oor Wiese se benadering en sê sy het ernstig beswaar gemaak “teen die vent se voortvarendheid”.

      Daar steek dalk ’n bietjie waarheid in, want Wiese moet ses jaar by Caro vlerksleep voordat hulle eers in 1975 in die NG kerk Drieankerbaai trou. Dis dieselfde kerk waarin sy skoonpa, Japie, en sy vrou, Clarence, getrou het. En Wiese se seun, Jacob, trou ook jare later daar.

      Wiese sê later4 die geheim vir ’n gelukkige huwelik is “inter alia, om jou eggenoot se voorkeure vir lugversorging te leer ken voordat jy die knoop deurhak”.

      Hy skerts ook dat Caro hom geleer het dat hy oor die groot dinge kan besluit (soos wat die goudprys behoort te wees en of Amerika met Irak moet oorlog maak), maar dat die laaste sê oor alles anders by haar berus.

      Toe Caro ’n “bungalow” in Clifton sien, sê sy dit is die enigste plek in die Kaap waar sy wil bly. En vandat hulle getroud is, woon die egpaar in dié huis langs die buurt se vierde strand met sy kenmerkende rotse van graniet.

      “Ons woon letterlik op die rotse en die see is ons tuin. Ek sê altyd ek het die grootste swembad in die Kaap en ek hoef hom nie skoon te hou nie,” vertel Wiese later.5

      Dit is nie die enigste eiendom wat hy oor die jare koop nie. Maar groter huise en selfs nie eens wynlandgoedere kon die Wieses in vier dekades daar weglok nie.

      ’n Idilliese huisie by die see is egter nie vir almal beskore nie. Veral nie in die Suid-Afrika van die 1970’s nie, waar die wit minderheid se onderdrukking van die swart meerderheid nuwe afmetings aanneem.

      Die Nasionale Party se besluit om swart leerlinge te dwing om hul onderrig in Afrikaans te kry, maak derduisende skoolkinders woedend. ’n Peiling onder inwoners van Soweto, die grootste swart township met sowat ’n miljoen inwoners, toon dat 98% van hulle teen onderrig in Afrikaans gekant is. Die regering druk nietemin deur en bepaal in 1976 dat onderwysers wiskunde en rekenkunde net in Afrikaans aanbied.

      Op 16 Junie 1976 betoog 20 000 skoolkinders in Soweto. Nadat traangas die skare nie uiteen jaag nie, brand die polisie met skerp ammunisie los. Hector Pieterson, ’n dertienjarige seun, is een van die eerstes wat sterf.

      Daarna breek opstande en geweld in Soweto uit wat honderde lewens eis en eers teen Oktober die volgende jaar heeltemal tot bedaring kom. Die onrus kring ook uit na ander swart woongebiede en die wêreld neem kennis dat Suid-Afrika ’n kookpot van probleme is.

      Dit knak beleggersvertroue.

      Maar dit skep ook geleenthede.

      “Gedurende die Soweto-opstande het ek ’n besigheid by iemand gekoop wat geen hoop vir Suid-Afrika gehad het nie,” sê Wiese.6

      En dit was ’n winskopie, voeg hy by.

      Die besigheid was nie sommer ’n kafee op die hoek nie. Dit was ’n diamantmyn.

      En vir dié wat dink dit is net De Beers wat sulke myne mag besit, sê hy:

      “Dis ’n denkfout. Enigiemand kan ’n diamantmyn besit.”7

      Die onderneming se naam is Octha Diamonds en die myn is aan die oewer van die Oranjerivier, sowat 80 km van waar dit in die Atlantiese Oseaan uitmond. ’n Europese avonturier, Otto Thaning, wat verskeie kere in pioniersvlugte beseer is, het die myn in die 1930’s ontwikkel. Hy was later ook ’n Deense diplomaat in Suid-Afrika.

      Met Thaning se dood stel sy seun nie in so ’n groot Suid-Afrikaanse belegging belang nie.

      “Hy het ’n baie aantreklike opsie op ’n myn gegee aan ’n 22-jarige prokureursklerk, Johan de Villiers, wat net R400 gehad het,” vertel Wiese.8

      De Villiers maak ’n aanbod maar dit word teen 16:30 op ’n Maandagmiddag afgekeur. Hy nader toe vir Wiese as vennoot. Dit pas hom soos ’n handskoen, want edelstene bekoor hom, veral omdat hy van Upington af kom. Daar heers altyd ’n mate van ’n diamantkoors, sê hy. Teen 08:45 die volgende oggend is die transaksie beklink.9

      “Ek het alles op die spel gesit om dit saam met hom te koop.”10

      Die 1970’s was nie net die tyd van snorre en hemde met oopslaankrae nie. Inflasie was ook in die mode.

      Voor 1973 het ’n vaatjie ru-olie teen $3 verhandel, maar daardie jaar vererg die Arabiese lande hulle vir die Westerse wêreld wat Israel in die Jom Kippoer-oorlog steun. Hulle draai die krane toe. Binne ’n jaar vervierdubbel die prys van olie en die gevolg is ongekende prysstygings wêreldwyd – nie net in vervoerkoste nie, maar ook van die meeste ander produkte. En die olieprys hou aan met klim. Teen die einde van die dekade staan dit op $40 per vat.

      Hoë inflasie verminder die koopkrag van geld jaar ná jaar en beleggers soek dan bates wat hul waarde sal behou. So vloei daar in die 1970’s miljarde dollar na goud en diamante.

      Wiese se tydsberekening is uitstekend.

      Hy doen sy huiswerk. Hy gaan leer by die kenners in Antwerpen, die bedryf se middelpunt waar die diamanthandel en slypwerk al vier eeue aan die gang is. Elke maand is hy drie keer by die myn. Sommige naweke vlieg hy en Caro saam soontoe. Wiese en De Villiers vestig kantore in Antwerpen en Zürich en het ook planne vir New York en Sydney.

      En

Скачать книгу