Скачать книгу

’n hawelose met ’n plan, troos hy homself gereeld vandat hy twee maande gelede die TV-program gesien het. Hy’t op daardie spesifieke dag skuiling gesoek onder ’n gebou se afdak toe sy klere ná ’n harde reënbui deurdrenk was. Bedremmeld en koud het hy deur die winkelvenster na die rye TV-skerms gestaar. Die program het hom gefassineer, en danksy die Engelse onderskrifte kon hy dit woord vir woord volg.

      Dáár het sy plan begin.

      Sedertdien gaan Boon elke tweede dag na die Kaapse Argief. Dis tydrowend om die magdom ou koerante deur te werk. Eenkeer was hy seker hy’t die regte geval gekry, maar ná verdere navorsing het hy teleurgesteld besef dit sal nie werk nie. Die seun was te tengerig, en hy het buitendien blonde hare en blou oë gehad.

      Maar nou het sy big break in die lewe gekom, daarvan is Boon oortuig.

      * * *

      Daar is ’n ligte blos van opwinding op brigadier Shaheena Fortuin se wange toe Kassie en Rooi by haar kantoor instap.

      Dié saak moes soos ’n reddingsgordel na haar gekom het, dink Kassie. Met haar oormaat ambisie sou sy dit nie kon hanteer as haar elite-eenheid so kort ná die stigting daarvan in betekenisloosheid moes verval nie.

      Daar is ’n hoop dossiere op haar lessenaar gestapel en sy het ’n notaboek voor haar oop.

      Sy glimlag breed. “Uiteindelik is ons weer in business. Net betyds ook, want die polisiehoof het al rooimiere begin kry.” Die geluksaligheid op haar gesig spreek boekdele.

      “Hierdie is ’n hélse groot saak.” Sy bly ’n oomblik stil vir dramatiese effek. “Ek’t vanoggend saam met die Wes-Kaapse polisiehoof en ’n paar grootkoppe van die Valke vergader. Hulle het die saak eers hanteer, maar hulle is toegegooi met ander prioriteitsake. En hierdie saak het nou sulke afmetings aangeneem dat hulle voel hulle gaan net afskeepwerk doen. As julle my vra, is hulle te behep met die politiek, pleks daarvan om te fokus op hul kern-job van misdaadbekamping.”

      Kassie wens sy wil by die punt uitkom, maar hy’t al geleer om geduldig te wees. Hy vermoed sy put heimlike genot daaruit om hulle aan ’n lyntjie te hou.

      “So, dis nou óns baby.” Sy trek die notaboek nader. “Hierdie storie gaan ’n special effort van julle twee verg. Tot tyd en wyl die ander twee spanne jobs kry, kan julle hulle ook inspan. Verder sal julle met ander polisie-eenhede moet skakel.”

      Sy sit haar hand op die stapel dossiere. “Die saak is boonop deur die jare deur verskillende speurders hanteer. Julle sal dalk ook by van hulle moet kers opsteek.”

      Kassie knik. Kom net by die fokken kern uit, dink hy.

      “Mensehandel.” Die brigadier kyk vlugtig af na haar notaboek. “Daar word geraam daar’s wêreldwyd dertig miljoen mense wat vir slawearbeid en seks en wat nie alles aangehou word. Almal het spoorloos uit die samelewing verdwyn.”

      Sy leun terug in haar stoel, asof sy wil hê dié inligting moet eers insink.

      “Ons hoef darem seker nie ál dertig miljoen op te spoor nie,” probeer Rooi ’n grappie maak om die ongemaklike stilte te verbreek.

      Kassie loer na die brigadier. Sy vind dit duidelik nie amusant nie. Soms laat Rooi se oordeel hom sleg in die steek wanneer hy onvanpaste goed op die verkeerde tyd kwytraak, en hierdie is een van daai kere.

      “Nie nou die tyd vir jou soort humor nie, Rooi,” sê sy ysig. “Dis ’n baie ernstige saak.”

      “Jammer, brigadier,” mompel Rooi.

      “Hierdie is gevalle van mense wat die afgelope agt jaar in die Skiereiland verdwyn het,” gaan sy voort. “Hoofsaaklik kinders, maar in die laaste tyd ook volwassenes – twee vroue. Die Valke vermoed dis die werk van dieselfde sindikaat. By twee van die onlangse gevalle is ’n wit paneelwa opgemerk. Hulle is nie seker of die ouer sake verband hou met die nuwes nie.”

      “Hoeveel vermistes is daar?” vra Kassie.

      “Nege-en-twintig, van wie sestien straatkinders is. Maar die afgelope twee jaar het dertien mense verdwyn wat in taamlik goeie gebiede woon, selfs rykmansbuurte. Die ouderdomme van die kinders wissel tussen vyf en dertien. Die twee vroue is albei ma’s in hul laatdertigs wat saam met hulle jong kinders verdwyn het.”

      Kassie onthou nou dat hy koerantberigte daaroor gelees het.

      Die brigadier tokkel met haar voorvinger op die boonste dossier. “Julle sal genoeg tyd hê om ordentlik hierdeur te werk, maar daar’s ’n dringende taak wat voorrang móét kry. Die afgelope naweek het nóg ’n vrou en haar twee kinders spoorloos uit hul huis in Durbanville verdwyn. Dit was vermoedelik Saterdag. Die vrou se man was vir die naweek weg op ’n gholfuitstappie. ’n Vriendin het Sondag by die huis aangekom om die kinders vir Sondagskool op te tel. Die voordeur het oopgestaan, maar die vrou en kinders was nêrens nie. Volgens ’n verklaring aan die Durbanville-polisie het ’n buurman Saterdagoggend ’n wit paneelwa by die erf sien uitry. Die Valke is honderd persent oortuig dit hou verband met die ander sake, want dis nou die derde keer dat so ’n paneelwa naby die misdaadtoneel opgemerk is.”

      “Moet ons eers by die Durbanville-polisie aangaan?” vra Kassie.

      “Nee, hulle is klaar ingelig dat ons die saak oorneem. Julle sal volledige verklarings by die huis en in die straat moet afneem en ’n nuwe dossier open.”

      Sy skuif die stapel in hulle rigting. “Kêrels, dis ’n grote hierdie,” benadruk sy. “Ons eenheid se naam is op die spel. Want ek belowe julle die Valke gaan ons met valkoë dophou.”

      3

      Zach se vingers dans oor die toetsbord van sy rekenaar. Hy maak kort-kort aantekeninge in ’n notaboek en laai foto’s af op ’n geheuestokkie.

      Hy wil vanmiddag by een van die biblioteke se rekenaars ’n paar profiele gaan skep. Dalk moet hy dié keer weer na die Brackenfell-biblioteek gaan. Hy was die afgelope tyd twee keer kort ná mekaar by Goodwood en Bellville se biblioteke, maar hy wil nie ’n bekende daar word nie. Môre sal hy weer na een van die internetkafees gaan, maar hulle is deesdae meestal in die stad en boonop duur. Hy wil ook nie daar te sigbaar word nie.

      Hy kyk op toe sy broer by die deur instap.

      “Ek soek geld,” sê Festus.

      “Vir wat?”

      “Spray paint vir die panel van.”

      Zach staan agter sy rekenaar op en stap kluis toe. Hy’s bly Festus gaan uiteindelik na hom luister en die paneelwa oorverf. Dit is lánkal nodig.

      Hy haal ’n pakkie note uit en oorhandig dit. “Hierdie behoort genoeg te wees. Watse kleur gaan jy dit maak?”

      “Blou.”

      Sy broer wil loop, maar hy roep hom terug. “Het jy al die solder skoongemaak?”

      “Ja, fok!”

      “En het jy die Opel se bak ordentlik uitgewas?”

      Festus knik terwyl hy aan sy balls krap.

      “Waar’t jy haar gedump?”

      “Moenie worry nie. Niemand sal haar kry nie.”

      “Hulle beter nie.”

      “Jy’s te nervous, Zach.”

      “Natuurlik is ek nervous! As iemand haar lyk kry, weet die polisie dit was moord en nie ’n kidnapping nie. Jou katoolsgeit gaan ons nog in groot kak laat beland. Hoekom hou jy nie net een hier aan vir ’n paar maande nie? Dan kan jy haar elke dag pomp.”

      “Ek hou van variety. Jy moet vir my ’n nuwe een soek.”

      “Jissis, jy’s siek!”

      Festus lag net en loop uit.

      Zach weet sy broer is ernstig. Hy sal nog ’n vrou móét kry.

      Wat met die donner se kopbedrading verkeerd gegaan het, sal hy nie weet nie. Al wat hy weet, is dat hy skytbang

Скачать книгу