Скачать книгу

se ma sit haar arm om sy skouers. “Dink nou mooi. Dis belangrik vir die oom.”

      Die seun kyk op. “Danie het net gesê dis ’n outjie wie se pa ’n sportwinkel het en dat hulle ’n klomp goeters het wat hulle baie goedkoop verkoop.”

      “Weet jy of dit ’n vriend van Danie is?”

      Bertie skud sy kop. “Ek dink nie so nie, oom. Dis nie iemand by ons skool nie.”

      “Nou hoe het Danie van die goedkoop kolwe uitgevind?”

      “Hy’t dit op Facebook gesien, oom. Ek dink hy’t gesê die outjie is ’n Facebook-vriend van hom, maar ek’s ook nie heeltemal seker nie.”

      Kassie kyk geskok na die seun. “Is Danie dan nie te jonk vir Facebook nie?”

      Bertie glimlag effens. “Nee, oom, hy’s oud genoeg.”

      Kassie knik. Hy onthou nou eers hoe geskok hy was om onlangs by Rooi uit te vind dat kinders van dertien jaar al toegelaat word om Facebook-profiele te skep. Rooi het ’n nefie wat tot sy ouers se ontsteltenis glo voltyds op Facebook boer vandat hy ’n paar maande gelede dertien geword het, en nou sy skoolwerk gruwelik afskeep.

      “Is jy op Facebook?” vra hy vir Bertie.

      “Nee, ons wil nie hê hy moet nou al by sulke goed betrokke raak nie,” antwoord die pa. Hy kyk met ’n grinnik na sy seun. “Hy mag nét krieketwebwerwe op die internet besoek.”

      Kassie knik. Hy stem heelhartig saam met die man. “Baie dankie vir jou hulp, Bertie. Laat weet my dadelik as nog iets jou byval.”

      Kassie groet en stap uit na sy motor.

      Hy sal hopelik van Danie se selfoon af op sy Facebook-profiel kan inkom. Die kolwe is steeds sy enigste leidraad. Maar ’n louwarm een, want dis moontlik dat die outjie met die kolwe by die Van Tonders se huis opgedaag het nadat hulle al ontvoer is.

      Die kolwe-storie klink nou skielik vir hom heel onskuldig. Glad nie soos die werk van uitgeslape misdadigers nie.

      * * *

      By die huis gaan Zach op sy rekenaar in op die Facebook-profiel van Leticia Bergh, die enigste vals profiel waarvandaan hy sorgeloos kan werk. Hy gebruik nooit dié profiel om friend requests aan enige van sy geteikendes te stuur nie, aangesien die IP-adres na sy woonplek getrace kan word.

      Hy’t wel gister by die biblioteek friend requests van sy sewe nuwe vals profiele aan Leticia gestuur, wat hy nou aanvaar. Dit gee hom die geleentheid om op die vals profiele in te gaan en te kyk hoeveel van die geteikendes hulle requests aanvaar het.

      Hy tel ses en kyk vlugtig na die profiele. Daar’s ’n meisie met drie sussies wat belowend lyk. Hulle bly naby ’n park, want daar’s foto’s van hoe hulle daar speel. Op twee van die foto’s kan hy die Tygerbergheuwels op die agtergrond sien. Drie van hulle is in die Laerskool Kenridge, kan hy van hulle kleredrag aflei. Die kleintjie is nog te jonk vir skool, maar hy dink nie ’n vier- of vyfjarige sal vir Medusa ’n probleem wees nie.

      Hy moet vir Festus sê om daardie omgewing met die Opel te gaan verken. Dalk is die park afgesonder genoeg vir hulle doeleindes.

      Hy is verlig om te sien nie een van die ses het ’n foto van hul ma geplaas nie. Anders was hy verplig om Festus te roep om te kom kyk.

      Net die gedagte aan sy broer laat sy maag op ’n knop trek.

      Festus tree al hoe meer irrasioneel op. Asof die verkragtings nie die hoofrede vir die vroue se ontvoering is nie, maar eerder wat hy daarna met sy bottelkoppe aan hulle doen.

      Hy het amper naar geword toe hy in die solder gaan kyk het nadat Festus gister met die lyk hier weg is. Daar was nie net bloedspatsels op die vloer soos met die vorige twee nie, dit was teen albei mure en tot teen die plafon sigbaar.

      Dis die ergste wat hy die plek gesien het sedert Festus hulle stiefma vier jaar gelede vermoor het. Hy ril nou nog as hy daaraan terugdink.

      Hy het daardie tyd by die rekenaarwinkel in Durbanville gewerk en het eers skemeraand by die huis gekom. Festus het op die bank gelê en videospeletjies speel.

      “Ou Sofia wil jou sien,” het hy gesê. “Sy’s in die solder.”

      Zach was dadelik gatvol. Die ou vrou wil natuurlik weer geld bedel, het hy gedink. Vandat hulle pa dood is, teer sy op hom om haar drankverslawing te voer. Hy kan skaars voorbly om kos te koop en die kragrekening te betaal.

      Toe hy die solderdeur oopmaak, het hy ’n kreet gelos en geskok na die grutoneel voor hom gestaar. Haar kaal lyf was vol gate gesteek, tot haar oë is nie gespaar nie.

      “Jissis, Festus!” het hy geskree.

      Sy broer het onder in die sitkamer gelag. “Ek’t jou mos gesê ek gaan haar nog vrekmaak.”

      Zach het die ou vrou menigmale doodgewens, en Festus het heeltyd gedreig hy gaan haar nog kry, maar dít het Zach nie voorsien nie. Ook nie die manier waarop Festus dit gedoen het nie.

      Hy was dadelik paniekerig en het daarop aangedring dat hulle haar iewers op die hoewe gaan begrawe.

      Hulle het haar teen die rantjie agter die huis ingespit.

      Toe hulle die laaste kluite met die grawe platstryk, het Festus op die grond gespoeg. “Hoop sy vrot fokken gou.”

      Hy het na Zach gekyk. “Noudat sy uit die pad is, gaan ek nie weer skool toe nie. Dis tyd dat ons twee regte geld begin maak.”

      7

      Rooi wag Kassie by die kantoor in. Dis duidelik hy’s angstig om verslag te doen oor die dossiere.

      “Raait, laat waai,” sê Kassie toe hy agter sy lessenaar gaan sit.

      “Ons het agt jaar se dossiere hier, maar daar’s ’n duidelike verskil tussen die eerste ses jaar en die laaste twee jaar se gevalle.” Rooi beduie na die twee stapels dossiere voor hom.

      “In die eerste ses jaar het sestien straatkinders verdwyn, een keer soveel as vyf op ’n slag. Volgens die haweloses wat die polisie ondervra het, het die voorvalle hoofsaaklik in die stadskom en suidelike voorstede plaasgevind. Die kinders is deur die bank swart of bruin en hulle ouderdomme wissel tussen vyf en elf, met die meerderheid tussen agt en tien jaar oud. Daar’s géén opvolgbare leidrade nie en ook nie foto’s van die kinders nie.”

      Hy trek ’n vel papier met notas nader. “In die laaste twee jaar en drie maande het vyftien kinders en drie ma’s verdwyn. Ek het die Van Tonders sommer bygetel.”

      Kassie knik.

      “Van die vyftien kinders is twaalf wit en drie bruin,” gaan Rooi voort. “Almal bly in die noordelike voorstede en kom uit gegoede huise. Daar was altesaam ses voorvalle waar drie groepe van drie kinders en drie groepe van twee verdwyn het. Die groepe het almal dieselfde kenmerke: Dit bestaan uit sussies en boeties, en die oudste lid van elke groep was dertien toe hulle verdwyn het. Daar is dus ses dertienjariges en die ander nege is tussen die ouderdomme van vyf en elf.”

      “Shit,” mompel Kassie. Danie van Tonder se Facebook-storie klink nou nie meer so onskuldig soos hy aanvanklik vermoed het nie.

      Rooi trek nog ’n papier nader. “Die drie vroue was almal by hul huise toe hulle saam met hulle kinders verdwyn het. In die ander gevalle het die kinders weggeraak by onderskeidelik Canal Walk en die Tygervallei-sentrum. Die wit paneelwa is in Tygervallei se onderdakparkeergarage opgemerk. Die sekerheidskameras wys hoe die kinders in elke geval alleen na die parkeergarage gaan en enkele minute later ry die paneelwa uit. Dit het nie nommerplate nie en weens die getinte ruite is dit onmoontlik om die bestuurder uit te ken.”

      Hy tel ’n derde vel notas op. “’n Groot wit paneelwa is ook opgemerk naby ’n huis in Panorama waar ’n ma en haar kinders verdwyn het. In dié geval het ’n ooggetuie bevestig die voertuig het getinte ruite. Die ma’s en hulle kinders het elke keer op ’n Saterdag verdwyn, en in al drie gevalle was die pa nie tuis nie.”

      Hy

Скачать книгу