Скачать книгу

sy oë oop en glasig.

      Lila buk af en voel aan sy pols. Daar is niks.

      “Ek dink hy leef nog,” lieg sy. “Bly jy eers by hom. Ek sal die ambulans gaan bel.”

      Sy haas haar na die telefoon. Snik eers ’n paar keer hard in die gehoorstuk voor sy met ’n bewerige stem sê: “Ek dink meneer Knoetze het erg seergekry. Hy’t van die trappe afgeval. Ek moet die ambulans bel. Ek sal mevrou laat weet hoe dit met hom gaan.”

      Sy druk die foon dood. Dan bel sy die ambulans.

      “Meneer roer nie eens nie,” sê Sanna toe sy terug is by haar.

      “Gaan haal yskoue water in die kombuis,” beveel Lila. “En roep vir Jakob.”

      Toe Sanna gangaf verdwyn, haal sy die hamer onder haar trui uit en draf teen die trappe op. Met bewende hande trek sy die drie spykertjies uit die hout.

      Sy beskou die trap vlugtig. Die hout is verweer en vol merke. Niemand sal die drie gaatjies opmerk nie. Sy sit die spykertjies in haar jeans se sak en loop ondertoe, bêre die hamer op sy plek in die gangkas.

      Terug by ou Knoetze glimlag sy tevrede. Sy het lankal opgemerk hoe hy in die middel van die stel trappe afkom sonder om aan die reling vas te hou. Sy het die spykertjies op die derde trap van bo ingekap – so gespasieer dat sy skoenpunt minstens agter een moes haak.

      Dit was die volmaakte moord.

      7

      Junie 2001

      Lila skuif die getinte bril ’n entjie hoër op haar neus en druk liggies aan haar lang blonde krulle voor sy agter die dobbelmasjien inskuif.

      Vandat die GrandWest-casino sy deure verlede jaar in November geopen het, is sy weekliks hier. Die flitsende liggies, die getjieng van munte en die geroesemoes van stemme het haar dadelik bekoor. Daarby is geld nie vir haar ’n probleem nie.

      En vandat sy stiletto’s en kort rokkies met uitdagende lae halse dra, kýk die mans na haar. Sy geniet die aandag terdeë. Dis veel meer opwindend as om haarself in die plaashuis te sit en bejammer.

      Haar genoegdoening oor ou Knoetze se dood het gouer verdwyn as wat sy gedink het. Daar was geen geregtelike gevolge nie. Volgens die lykskouing was sy nek morsaf van die val, en Sanna was tydens die polisie se ondersoek ’n geloofwaardige getuie dat die voorval ’n tragiese ongeluk was.

      Maar Lila se saai bestaan het haar mettertyd ingehaal. Sy het in ’n put van depressie verval. Om finansieel onafhanklik te wees en alles te koop wat haar hart begeer, was nie meer genoeg nie. Haar selfbeeld het op die grond gesleep. Sy was steeds Lelike Lila Liebenberg, wat in die verlede net goed genoeg was om ’n kindermolesteerder se drange te bevredig.

      Sy het ’n kluisenaarsbestaan gevoer in die kasarm van ’n huis. Deur ’n korrespondensiekursus het sy haar matrieksertifikaat gekry, maar daarna was die lus vir leer verby. In ’n stadium het sy dit oorweeg om die huurkontrakte vir die wingerde op te skort en dit self as ’n wynplaas te bestuur. Maar dit sou te duur wees om ’n kelder in te rig, het sy gou besef, en sy het te min kennis van boerdery en wynmaak.

      Sy het haar dae verwyl met inkopies, TV-programme en deur na rolprente op die videomasjien te kyk. Sy het spanningsromans en tydskrifte verslind. Maar uiteindelik het dié doellose bestaan haar grondeloos verveel.

      Toe sy op ’n dag in die koerant lees van die nuwe casino in Goodwood, het sy besluit om vir die pret te gaan dobbel. Dit sou ’n welkome uitkoms bied – iets wat sy op haar eie kan doen sonder om van ander se geselskap afhanklik te wees.

      Die opwinding wat sy ervaar wanneer sy wen, het haar gou verknog gemaak aan dobbel. Of sy by ’n blackjacktafel of ’n slotmasjien sit, dit maak nie saak nie. Die adrenalien wat deur haar are bruis, verdryf al haar sorge. En omdat dobbel ’n spel van geluk is en geen formule vir sukses het nie, bied dit ’n soort risiko waaraan sy verslaaf geraak het.

      Voor sy die eerste keer casino toe is, was haar grootste uitdaging om haar voorkoms te verander. Sy was lanklaas in ’n sosiale omgewing en was bevrees dat mense haar snaaks sou aankyk. Dat sy weer dieselfde vernedering as in haar skooldae sou ervaar. Die letsels wat sy daarvan oorgehou het, was nog ver van genees.

      Sy het geweet Lelike Lila Liebenberg het ’n drastiese makeover nodig.

      Vir plastiese chirurgie het sy nie kans gesien nie. Die beeld van Naomi se geskende gesig het in haar onderbewussyn bly steek. En chirurge kan boonop nie sukses waarborg nie, het sy in ’n tydskrif gelees. Die artikel het gewys hoe snywerk aan mense se gesigte sleg skeefgeloop het met neuse wat platval en oë wat onnatuurlik wyd gesper is. Nee, sy sou net ’n groter spektakel van haarself maak.

      Maar sy was vasberade om deur te druk met ’n nuwe voorkoms. Nadat sy haar growwe vaalbruin hare tot teen die kopvel afgeskeer het, het ’n blonde pruik, getinte bril en die kreatiewe aanwending van grimering wondere verrig.

      Haar grootste bate, haar sexy lyf, het sy geklee in die karigste kledingstukke wat die noordelike voorstede se boetieks kon bied. En ná baie moeite en talle proefnemings was sy omgetower in ’n skaflike Marilyn Monroe.

      Reeds op haar eerste aand by die casino kon sy agterkom haar makeover was ’n reusesukses. En waar sy nou hier sit, voel sy hoe verskeie pare mansoë op haar brand. As sy eerlik moet wees, verskaf dít haar selfs groter plesier as om te dobbel.

      Nie dat sy kans sien vir ’n verhouding nie.

      En beslis nie met ’n volwasse man nie.

      8

      Januarie 2004

      Lila pak die laaste goed in ’n boks weg. Sy beskou die ander vier bokse tevrede. Nou kan sy asemhaal in die studeerkamer. Sy het die plek altyd vermy. Die herinneringe aan ou Knoetze het net te swaar aan die vertrek gekleef.

      Maar noudat al sy goed weggepak is en dit vandag nog ashoop toe gaan, is dit asof die laaste Knoetze-kruis van haar skouers val. Sy is reg vir ’n nuwe begin.

      Die afgelope tyd het sy haarself gedwing om nuut oor haar toekoms te dink. ’n Roekelose projek wat gepaardgaan met adrenalien en opwinding, is al wat haar uit hierdie vervelige kluisenaarsbestaan gaan sleep. Want buiten haar dobbelaande is haar lewe steeds vaal en saai.

      Sy maak die boonste lessenaarlaai oop. Die drie spykertjies wat sy twaalf jaar gelede ingespan het om die volmaakte moord te pleeg, lê nog daar. Vir ’n oomblik oorweeg sy om dit ook in die boks te gooi, maar besluit daarteen. Dit sal in die toekoms vir haar as aansporing dien dat sy tot enigiets in staat is.

      Ses maande gelede het sy die groot besluit geneem. Sy het ’n klomp bemarkingsboeke oor die internet bestel en kundiges se raad oor suksesvolle ondernemings opgeslurp. ’n Konvensionele onderneming sou nie vir haar werk nie, het sy geweet. Sy het besluit op ’n unieke produk vir ’n nismark. Die mark is beslis daar, sy moet net die produkte in die hande kry.

      Snaaks genoeg was dit haar dagboek, wat sy van haar dertiende jaar af getrou gehou het, wat haar die idee gegee het vir haar onderneming. ’n Onderneming wat dieselfde uitdagings, risiko’s en opwinding sal verskaf as toe sy haar wraak op Quinton, Wessel, Naomi en ou Knoetze beplan het. Die herlees van haar dagboekinskrywings het haar oplaas laat besef dís die soort suurstof wat sy in haar lewe benodig.

      Nou is al haar beplanning afgehandel. By die casino het sy deur die jare die regte mense leer ken wat haar kan help om haar onderneming te vestig. Mense wat onder die radar van die gereg hulle brood verdien, en wat bereid is om enigiets te doen vir ekstra geld.

      Haar planne vir veranderings en aanbouings aan die plaashuis is goedgekeur. Die bouers begin oor ’n week. Sy het die huishulpe laat aftree en die laaste paar plaaswerkers afbetaal. Dis ’n projek waarvan sy die enigste stuurman sal wees.

      Sy staan op agter die lessenaar en beskou haarself in die hangspieël teen die muur. Druk-druk aan haar blonde pruik en glimlag. Sy kan nie wag dat haar casino-vennote begin werk nie. Hulle het haar verseker sy sal kort voor lank genoeg produkte hê. En dat hulle weet van baie voornemende kliënte.

Скачать книгу