Скачать книгу

het haar polse met kabelbinders aan die bed se raamwerk vasgemaak. Sy moes haar bene wyd oopmaak sodat hy haar enkels ook kon vasbind.

      Hulle het haar so kaal en oopgespalk daar gelos.

      Later was die seun alleen terug. Hy het sy klere met koorsagtige haas uitgepluk en op haar gespring, haar van kop tot toon betas en haar heeltyd “my hoer” genoem. Toe het die verkragtings begin.

      Sy het haar oë toegeknyp, haar brein met die grootste inspanning probeer manipuleer om aan ander dinge te dink, haar te distansieer van die foltering wat haar willose liggaam deurmaak.

      Maar die fisieke pyn, die brutale skending van haar privaatheid, Festus se hortende, stink asem in haar gesig en sy ekstatiese uitroepe tydens elkeen van sy orgasmes, het dit onmoontlik gemaak. Ek word verniel … verrinneweer … verkrag, was al besef wat deur haar kop geëggo het.

      Dit het gevoel of dit nooit gaan ophou nie.

      Hy het uitgeloop met sy klere saamgebondel onder die arm. Sy het verwag sy broer gaan volgende wees, maar dié het genadiglik nie opgedaag nie.

      Haar nag was hel. Sy was seer, dors en boweal angsbevange oor die lot van haar kinders. Sy het gebid, gehuil, geskree en naar geword, amper in haar braaksel verstik.

      Nou is die seun terug. En hy staar net grynslaggend na haar.

      Sy verwag dat hy sy klere enige oomblik gaan uittrek.

      Dalk moet sy ’n ander benadering volg? Hom op sy naam noem. Op sy gevoel probeer speel.

      “Asseblief, Festus, moenie iets aan my kinders doen nie. Ek smeek jou! Hulle is nog so jonk en onskuldig. Hulle verdien nie om seer te kry nie. Ek sweer ek sal nie polisie toe gaan as jy ons vrylaat nie. En ek sal jou betaal! Daar’s baie kontant in ons kluis by die huis,” lieg sy.

      “Jou kinders is lankal nie meer hier nie.”

      “Waar … waar’s hulle?” Haar keel trek toe.

      Hy antwoord nie.

      Sy kan die trane nie keer nie. “Asseblief, Festus …”

      Sy gesig ondergaan ’n metamorfose. Die grynslag is skielik weg. Sy oë vernou, ’n spiertjie spring in sy wang, sy lippe trek weg van sy tande soos ’n roofdier wat wil aanval.

      Hy buk onder die bed in.

      Daar is ’n gebreekte bierbottel in sy hand toe hy orent kom.

      Die skerp glas glinster onder die skynsel van die dakliggie toe hy dit oplig.

DEEL I

      1

      September 1987

      Lila luister aandagtig na meneer Groenewald, die standerdvyfs se klasonderwyser. Hy begin altyd sy geskiedenisles met “’n historiese moment uit die verlede”.

      “Op 5 September 1972, presies vyftien jaar gelede,” sê hy afgemete, “het daar iets gebeur wat aangeteken sal staan as een van die skokkendste en verfoeilikste dade van die twintigste eeu … Dit het in my laaste jaar op onderwyskollege gebeur, ek onthou dit soos gister.”

      Hy stut sy hande op die lessenaar. “Elf Israeliese atlete is in ’n terreuraanval by die Olimpiese Spele in München doodgemaak. ’n Ekstremistiese splintergroep van die Palestynse Bevrydingsorganisasie was daarvoor verantwoordelik. Hulle het bekend gestaan as die Swart September-organisasie en het …”

      Iemand stamp Lila liggies van agter. Dis Naomi wat vir haar ’n briefie aangee.

      Sy vou die velletjie oop en lees.

      Lelike Lila, het jou ma al weer vergeet om vir jou toebroodjies in te pak?

      Lila kyk af na haar skooltas langs die lessenaar. Die flap is oop. Die toebroodjies wat sy vanoggend self in waspapier toegedraai het, is weg. Soos elke dag bêre sy dit vir ná skool wanneer sy vir die bus wag. Dis die tweede agtereenvolgende dag dat iemand dit steel.

      Sy kyk om.

      Quinton, skuins agter haar, se kieste staan bol. ’n Krummel brood kleef aan sy ken. Van sy maats kyk grynslaggend na haar, maar Quinton staar onskuldig voor hom uit.

      “Jou gemors,” fluister sy.

      “Lila Liebenberg, sal jy asseblief aandag gee!” sê meneer Groenewald streng.

      Iemand agter in die klas proeslag.

      Sy kyk verleë voor haar. “Jammer, meneer.”

      Hy knik nors. “Soos ek gesê het, daardie September het later wêreldwyd bekend gestaan as Swart September, natuurlik verwysend na die terreurdaad en die terroriste-organisasie se naam. Maar genoeg daarvan.”

      Hy blaai die handboek voor hom oop. “Kom ons keer terug na die negentiende eeu. Maak julle boeke oop by die eerste hoofstuk oor die Groot Trek.”

      Lila slaan haar boek oop, maar sy luister nie verder nie.

      Haar oë word vol trane. Die briefie vra of haar ma vergeet het om toebroodjies in te pak. Almal weet haar ma is laas jaar dood. En Naomi se skindertong het seker gemaak die hele klas weet sy’t haar dood gedrínk.

      Twee weke gelede het iemand gedurende pouse ’n leë brandewynbottel in Lila se tas gedruk. Toe sy haar tas oopmaak, het die bottel uitgeval en tot voor meneer Groenewald se voete gerol. Quinton en sy vriende het geskaterlag. Naomi het gegiggel.

      “Wat doen dit in jou tas?” wou meneer Groenewald fronsend weet.

      “Sy’t dieselfde probleem as haar ma,” het Quinton gefluister, hard genoeg vir Lila om te hoor.

      Sy staar na haar geskiedenisboek, maar doof die onderwyser se stem uit, haar gedagtes ver weg van Andries Pretorius se trekroete.

      Dis ’n verligting toe die klok die einde van die skooldag aankondig. Sy wag geduldig tot die stormloop na die deur verby is, pak dan haar boeke en skryfgoed tydsaam in en stap laaste uit.

      Op pad na die bushalte koggel ’n klomp kleintjies haar. “Lelike Lila Liebenberg, Lelike Lila Liebenberg!”

      Terwyl sy op die bankie sit en wag, kyk sy hoe die ander kinders deur hulle ma’s in spoggerige blink karre opgelaai word. Haar pa sê altyd die kinders in Durbanville het baie ryk ouers.

      Ná ’n uur daag die bus op. Soos gewoonlik gaan sit sy voor.

      Die bus ry stop-stop deur die dorp. ’n Koerantplakkaat teen ’n lamppaal in Wellingtonstraat verklaar: Dié September kan warmste in 50 jaar wees. Dit herinner haar aan meneer Groenewald se storie oor Swart September.

      Sy laat rus haar kop teen die ruit toe hulle op die grondpad is. Die vibrasie laat haar oë toeval, maar sy weet sy sal nie vandag aan die slaap raak nie. Daarvoor is haar gedagtes te donker.

      Die bus laai haar voor die plaashek af. Sy slof met die kronkelende stofpad aan, soek eers lafenis in die koelte van die laning bloekoms voor sy verder stap.

      By die huis gooi sy haar tas in haar kamer neer. In die kombuis maak sy vir haar ’n toebroodjie en sluk dit met ’n glas melk af. Haar pa en die werkers is seker nog in die wingerde besig.

      Sy is bekommerd oor haar pa. Sy gehoes snags klink nie goed nie. Dis oor daai pyp wat permanent in sy mond is.

      Sy het al ’n paar keer gesê hy moet dokter toe gaan.

      “Ai, my kindjie, ’n plaasbestuurder kan nie sommer ’n middag af vat en dokter toe gaan nie,” het hy walgegooi. “Meneer Knoetze aanvaar mos nie ’n doktersertifikaat as verskoning nie.”

      Ou Knoetze is ’n vark. Hy behandel haar pa soos vuilgoed.

      Sy staan vir ’n rukkie broeiend in die kombuis. Dan haal sy ’n paar keer diep asem voor sy doelgerig na die stoorkamertjie agter die huis stap.

      Die plek is deurmekaar en sy moet houers en bokse wegskuif om die rottegif te kry. Sy skep ’n klomp pille in ’n leë blikkie uit. Haar pa sê drie tot vyf pille sal ’n mens soos ’n os laat neerslaan.

Скачать книгу