Скачать книгу

soos my pa die draai vat, die inrit op. Ek raap my bal op en hardloop om die garagedeur vir hom oop te maak. Die son sak agter die berge weg; dis winter en dit word vroeg donker. Dis koeler maar nie juis koud nie, met my pa tuis is dit nie koud nie, net grys met donkerder plante. My broer maak in die houthok hout bymekaar vir die vuur vanaand. Ek lag hard oor die rooi vlamme wat gaan opskiet uit die kissieplanke en die gekners soos van geweertjies wat uitskiet uit die gekapte hout. En ek gaan maak later, ure na die ete, voordat ek gaan slaap vir almal kakaomelk.

      Eendag moet hulle ’n kamera ontwerp om ou mense se geheues mee af te neem.

      * * *

      Na elke samekoms van die drie geslagte voel dit vir my of woorde hulle betekenis of funksie aan die verloor is. Nie net my nefies en niggies nie, my eie kleinkinders en hulle vriende. Omdat die jong kinders nie meer kan of wil spesifiseer as hulle praat of skryf nie; alles word gedek met een woord: en dit volg ’n mode wat wie weet waar ontstaan het (in die donker elektroniese wêreld – vir my onbekend en bedreigend – waar die kinders en hulle duime so tuis is?). Eers “nice”, toe “cool”, toe “awesome”, toe “stunning”, toe “amazing”, en nou weer iets nuuts. Nou’s dit “huge”. Alles is “huge”. Kan hulle nog skakerings van dinge of gebeurtenisse aanvoel? Ken hulle nog die woorde daarvoor? Ek vra: Hoe was die groot jazznaweek waar julle op die plaas uitgekamp het? “Amazing, Ouma, maar dit was nie jazz nie, dit was rock.” Hoe was die nuwe meisie? “OK, Ouma.” Hulle moet pasop. Soos die baasspelerige Duitse fisio sê toe sy my, na ’n heupoperasie, in die gang weer wil leer loop: “Lift your feet; belief me, wot you don’t use, you lose.” Julle verloor nog al julle woorde. Erger nog, julle verloor die nuansering van belewenisse. Julle kan mos maklik van die konsert sê: Dit was oorverdowend, mind-boggling, gebruik maar Engelse woorde vir nou, onthutsend, meevoerend, wonderlik, vervelig, gebruik enigiets, maar benoem dit net. Al daardie SMS’e wat julle almal so gedurig aan’t stuur is, gee dit opinies weer? Of is dit net die ou voosgebruikte, verminkte woorde? Oor en oor. Ek wil graag bybly in die kleinkinders se wêreld, maar die gaping word al hoe groter, dis nie meer die oumas wat moet help nie, dis die kleinkinders wat die oumas moet help met al die nuwe dinge wat ons nie ken nie. Hulle word groot en sterk, ons word oud en klein.

      * * *

      My pa het ’n ballasmandjie vol druiwe oor die agterdraad gelig. Die boer se wingerd grens aan ons erf en ons kinders hou dop hoe die werkers gebukkend, sodat dit lyk asof hulle blikkitaar speel, op en neer tussen die wingerdrye afdrywe en afwals en die ballasmandjies volmaak. ’n Ballasmandjie druiwe. Na die oestyd is daar ’n kompetisie om te sien wie se mandjie eerste vol is, en dan hardloop hulle, mandjie op die skouer en met ’n skewe stappie, so vinnig as wat hulle kan na die eindpunt.

      Met die druiwe eet uit ’n ballasmandjie het ons nooit gedink aan pitte of velletjies nie. Ons het net gesuig en gespoeg. Nou eet ons uit die supermark se plastiekpakkies en die tong wil nie sluk nie, die pitjies en velletjies lê soos gepakte skoentjies om die rand van die piering.

      Wie ken nog ’n ballasmandjie?

      Al die ou woorde kruip nou uit my geheue uit – wanneer laas het ek hulle gehoor: anghoerie, wat gedawer het oor die speelgrond terwyl ons skree-skree mik en koes en hol en veins soos ons deur die verdedigde lyne van die groot in-die-stof-getrekte blokke wil breek. Speel hulle nog anghoerie? Hoe kan hulle? Daar staan nou ’n saal wat hulle gebou het.

      Wie ken nog ’n klein, donker spens wat ruik na muis? Waar die kardoessak se puntjie onder afgekou is en die suiker of meel of wat ook al in ’n wit heuweltjie uitgeloop het? En jou ma sê: Ag nee, ons moet vanaand weer die muisval stel. En wanneer almal slaap gaan jou broer, wat die sagste hart het, met sy vingerpunte die kaas uithaal en die muisval saggies laat terugknip.

      My broer wil ook nie die hoender eet wat in die agterplaas grootgeword het nie. Of kom kyk wanneer die lewende hoenders kopaf gekap word deur Abraham wat sy graaf moet neersit en sy broek stywer optrek en sy kapblok staanmaak en bietjie spoeg op die byl se lem smeer en die hoender, vlerke styf teenaan sy lyf gedruk, oor die blok laat lê en deur die gespartel deur sy hou inkry dat die kop daar waai en die bloed uitspuit en die hoender sy afkopdans tussen ons terugskarrelende bene deur begin dans nie.

      Ek kry raas as daar bloed op my bene kom, ek skuur my bene teen die lang groen gras deur, ek pluk handevol lang groen spriete en vryf my bene skoon. Ek hou my hande in die stoom van die kookwater wat Lenie oor die twee afkoplywe in die skottel gooi. Na ’n ruk begin sy vere pluk. Die klein geel verestompies kom maklik uit die pap pienk hoendervel en elke veregaatjie laat ’n klein, stil vulkaantjie agter.

      Ha-ha, dis hoekom ’n mens sê jy kry hoendervel as jy skrik! Ek vertel dit aan tafel en my broer sê vir my: Sjarrap.

      Die byl word in die houthok gebêre en dis daardie byl wat ek berg toe vat as ek die dag skrikkerig word en wonder of my ma se afskrikstories miskien waar is. Maar tog wil ek berg toe gaan, ek daag myself uit om te gaan, veral noudat hulle met die motor Kaap toe is en die hele middag sal weg wees, en Lenie is winkel toe om brood te koop. Ek sê vir myself die byl is om takke vir ’n boomhuis mee te kap, maar ek weet dit is my wapen. Met die byl kan ek die gevaar tegemoetgaan. Dis bietjie swaar om te dra, maar ek draai dit in my jersie toe. Ek klim die agterstraatjies uit totdat die geel grondpaadjie tussen die bossies deur voor my lê: berg toe.

      * * *

      Die toe deur van die siek Ingelsman se woonstel is ’n aanklag. Maar hy’s so doof hy hoor nie as jy klop nie, en maak mens die deur oop sonder dat hy gehoor het, is die moontlikheid groot dat hy nog in sy pajamas is en verbouereerd die broek wat al wil afsak, gryp om dit te probeer optrek, en dis ’n verleentheid vir hom en vir my.

      “Roep my as jy dink hy het rêrig iemand nodig,” sê ek vir die verpleegster, maar sy is te besig en later hoor ek hy’s hospitaal toe geneem – hulle stoot ons sommer met ’n kruiwa (lees rolstoel) oor die pad, want ons woon net oorkant die hospitaal. Mense het die manier om te verdwyn en dan ’n paar dae later teruggestoot te word, sonder dat ons ander eens agtergekom het hulle was hospitaal toe.

      Hulle gaan ook dood sonder dat ons dit agterkom.

      Dis dieselfde hospitaal waar my sustertjie destyds gediagnoseer is met leukemie. Nadat sy die hele seevakansie net op my ma se skoot wou sit en my pa ingery het Kaap toe na die Kaapse dokters. Sy’s eers in die lente dood, na byna ’n jaar se geleidelike doodgaan. Dit het ons almal geknou en ek dink nie my ma het ooit daarvan reggekom nie. Ek wonder wat my ma sou gedink het daarvan dat ek, byna ’n eeu oud, nou reg oorkant die hospitaal woon en al twee keer oorgestoot is in ’n kruiwa. En darem weer teruggestoot is. My dogter het die portier wat die mees onlangse keer gestoot het ’n honderdrandnoot gegee. Sy het my kwalik geneem toe ek sê dis te veel. Net vir oor die pad!

      Alle ou mense dink dat hulle kinders nie die waarde van geld ken nie, oor die kinders te spandabelrig is, oor hulle te veel in restaurante eet. Oor die kleinkinders bederf word en almal die nuutste selfone moet hê wat in die mode is, wat dit ook al mag kos. Baie van ons ou mense kry die uit-die-mode-selfone van die kinders, maar dit skeel ons nie, want ons gebruik dit tog nie.

      Een se kind het gesê: Ma, neem dit nou saam as Ma in die park gaan stap, vir Ma se veiligheid. Heretjie tog, kind, as die skobbejak my met ’n selfoon in die hand sien, dan bestorm hy my mos juis om die foon te vat! Hoe dink jy dan so agterstevoor?

      * * *

      Die swart telefoon het teen die gangmuur net buitekant my pa se studeerkamer gehang. Die meisie by die sentrale het my stem geken en nog voordat ek kon vra, het sy my smiddags na skool deurgesit na Truida, my vriendin. Ons kon praat so lank ons wil en dit het niks gekos nie. My ma wou nie dat ek ’n stoel nader trek nie – dan val almal daaroor en dan kry julle nie end nie. Nou nog praat ons so lank, ons kry nie end nie. Ons albei se mans is oorlede, ons het albei drie kinders; maar sy’s my een voor met ’n sewende kleinkind, ek het net ses. Ons het toe albei drie agterkleinkinders, my drie is almal seuntjies. Ons praat nie oor hulle nie, ons praat soos in die ou dae, oor dinge: Ons albei glo “thoughts are things”, en daar’s so baie meer thoughts deesdae as wat daar destyds was. Al val alles van ons weg, thoughts kan niemand wegvat nie. Ons praat oor wat ons voel en dink, oor hoe ons die vinnig voortskuiwende wêreld moet probeer aanvaar, oor hoe ons skaars

Скачать книгу