ТОП просматриваемых книг сайта:
Skepelinge. Karel Schoeman
Читать онлайн.Название Skepelinge
Год выпуска 0
isbn 9780798176118
Автор произведения Karel Schoeman
Издательство Ingram
Soos die chirurgyn Ferdinand Dejean, ’n kajuitgas op die Drie Papegaaien, opgemerk het: ‘Ik beschouwde deze reis als een plezierreisje met een goede tafel, goed wijn en passabel gezelschap.’ In die kajuit was daar nie net betreklike gerief nie, maar het alles in beginsel ook besonder wellewend toegegaan, in ’n styl wat mens soms nog in die brieweboeke, dialoogboekies, romans en toneelstukke uit hierdie tyd teëkom.
Koopman. Ik heb de Eer van Mynheer en Mevrouw te verwelkomen.
Mev. A. Mevrouw, uw Dienaresse. Het is my lief dat ik uw wederom
hersteld zie.
Mev. L. Ik ben Mevrouw verplicht voor haar Beleeftheyd. Ik verzoek
Mevrouw van te gaan zitten.
Behalwe wanneer frustrasie, irritasie of gekrenkte eergevoel die oorhand kry en ’n individu se ware geaardheid by die aangekweekte wellewendheid deurbreek. Dan is pruike of hooftooisels afgeruk en is daar met die naels gekrap of met die vuis geslaan, messe of degens uitgepluk of krasse taal gebruik ewe goed soos op die oorloopdek.
Die kajuitgaste se vernaamste weermiddels teen die verveling en beklemming van die lang en eentonige reis in ’n beperkte geselskap en ruimte, naas konversasie, was kaartspel en musiek.
‘Die de eerste maal de kaart geeft,’ lees mens in De hoofsche welleventheid, ’n handleiding uit 1733, ‘wenscht aan de mede speelders, met een vriendelyke buiging, een goed spel; aan de andere veel vermaak en voordeel,’ en ’n hele wêreld van formele hoflikheid word opgetower. ‘Indien er by het spelen eenig verschil van meening ontstaat, moet men niet hardnekkig zyn, maar indien men eindelyk gehouden is zyn stuk staande te houden, moet men het bezadiglyk doen, zonder luid en hard te roepen.’110
Verder het hulle musiek gemaak.
En hulle het gesing.
‘Nederlanders uit de Gouden Eeuw,’ skryf Natascha Veldhorst,
zongen van de wieg tot het graf, en er was voorlopig niemand die ze van die energieke en troostende bezigheid af kon brengen. ‘Wie sal dan onse Nederlanders het singen kunnen ofte mogen verbieden?’ had de rooms-katholieke priester-dichter Salomon Theodotus zich in zijn liedboek Paradijs der gheestelycke en kerkelijke lofsangen (1621) al verwonderd afgevraagd.111
’n Onlangse bibliografie, die Short-title catalogue Netherlands, bied vir die sewentiende eeu 5000 titels onder die lemma ‘liedboek’, en alhoewel dit nie as ’n finale gesaghebbende statistiek beskou kan word nie, gee dit ten minste ’n aanduiding van die gewildheid van hierdie tipe publikasie, en toon dit by implikasie hoe algemeen daar gesing is.
Die predikante van die tyd was eenstemmig gekant teen hierdie verskynsel. ‘Wat vir ’n menigte en verskeidenheid van sulke sangh-boeckjens word daar nie daagliks gedruk en herdruk nie,’ het die plattelandse predikant-digter Willem Sluiter byvoorbeeld uitgeroep, ‘met name soos Minne-boekjes, Lust-hoven, Zangh-prieeltjes, Nachtegaeltjes en dergelike meer.’112
Sluiter se Rooms-Katolieke tydgenoot, die Suid-Nederlandse priester-digter Daniel Bellemans, het nie anders geoordeel nie.
Tot my groot droefheid word daar aan alle kante liedboekies aangetref wat deur hul bedrieglike soetigheid en haatlike venyn die harte van die mense trek, nie tot God nie, maar na die ewige verdoemenis; want indien hulle deur hierdie skadelike vrolikheid oorwin is, bly hulle vassteek in die vuiligheid van die wêreld, en maak vir hulself ’n ketting waarmee hulle in die ewige brand van die hel ingesleep sal word.113
Die singende gemeenskap het hulle egter geensins hierdeur van stryk laat bring nie. ‘Zo ’t gebeurt dat men een goede stem heeft,’ het De hoofsche welleventheid beslis,
of indien men op eenige speeltuig kan roemen of ook indien men de bequaamheid had van vaerzen te maken, moet men dat door geene teekenen immermeer laaten blyken; maar indien ’t bekent en openbaar is, en dat men gebeden werd, moet men zich in het begin beleefdelyk ontschuldigen; en zo het gezelschap zich daarmede niet laat vergenoegen, dan voegt het voor iemand die wel opgebracht is niet langer te wachten met zingen, of om dat speeltuig te spelen, of eenig gedicht van zyn maaksel op te zeggen.114
Kolb beskryf die feestelikheid op die Unie met ses vroue onder die passasiers: ‘daar werd dapper wyn en bier gedronken en gedanst’. Of soos ’n toneelaanwysing uit ’n eietydse toneelstuk dit saamvat:
In de Kajuit beneden word getrompet, getrommelt, en op instrumenten gespeeld, alsmede gezongen. De zangmeester zingt een Italiaanse air, en daar word intussen gespeeld. Nadat het gedaan is, klappen ze in de handen, en de trompetters blazen.115
Daar was saamsingliedjies en rondeliedjies, komiese liedjies en liedjies op geskiedkundige gebeurtenisse soos dié wat die Nederlanders se vryheidstryd teen Spanje gekenmerk het, stigtelike liedere en berymde psalms, liedjies vir seemanne en krygsmanne, en natuurlik was daar uitgesproke liefdesliedjies in alle grade van speelsheid of erns, stemmigheid, dubbelsinnigheid of onwelvoeglikheid. Hier onder die opvarendes in die kajuit dink mens egter veral aan dit wat destyds ‘amoureuse liedere’ genoem is, romantiese sange, dikwels met erotiese ondertone, waar moontlik begelei deur die musiek van ’n klavesimbel, ’n luit of ’n ghitaar, stemme in die nag. Schoon lief, wilt mij troost geven, Toen Daphne d’overschoone, Orpheus droef van sinne …
Ik kan uw schoon gezicht niet langer derven,
uw afzyn is my wreeder als de dood,
moet ik in uw byzyn sterven,
ik wensch, ik wensch, de laatste zucht te geeven in uw schoot …116
Die Nederlander Jacob Haafner skets ’n aantreklike prentjie van die kajuitgaste saans ná die ete op die dek van die Bleijenburg, wat hy danksy sy posisie as kajuitwagter of -bediende van naderby kon meemaak: ‘Al de passagiers en de officieren vermaakten zich op het dek met zingen, en hun schaterend gelach klonk in de wijde eenzaamheid totdat, tegen tien ure, de eene voor, de andere na aftrok, en zich ter ruste begaf.’
Dog waar daar eenmaal musiek gemaak en gesing is, is daar in ’n gemengde geselskap soos dié in die kajuit so dikwels was, nie minder gedans nie.
Wanneer daar hoë amptenare aan boord was, bewus van hul eie waardigheid en die noodsaak om hul medepassasiers daarmee te beïndruk, is voorkeur miskien gegee aan bourrées, gavottes, sarabandes, en later in die eeu minuette, wat alle ander dansvorms in gewildheid sou oortref; trae, formele, statige danse, met slepende passies en streng voorgeskrewe bewegings van voete, hande en arms.
Maar afgesien van diegene wat waarde aan hul waardigheid geheg en die statigheid dus gehandhaaf het, is daar vermoedelik gou tot meer gewilde danse oorgegaan, boeredanse, kontradanse, vrolike, lewendige danse wat vernaamlik bestaan het uit ’n huppel en spring en rondswaai in ’n warreling van rokke en onderrokke. Soos ’n eietydse digter uitgeroep het:
Laet ons wat lagchen, wat mallen, wat deunen,
Singhen en springen, ja, maecken een klanck
Dat er de kamer begint van te dreunen …117
En ewe goed die skeepskajuit.
Die arm om die middel of die skouers geslaan, die omarming, hande wat hande aanraak en sweterig verstrengelde vingers; die onvermydelike en vanselfsprekende intimiteit van vreemdelinge wat deur die maat van die musiek verenig is. Blanketsel smelt en teken strepe kleur oor die verhitte, verrukte gesigte, krulle trek los, kamme en spelde val uit die kapsels, en die lokke van pruike kleef aan beswete gesigte, totdat pruike en swaar baadjies albei eenkant gegooi word om die geselskap aan die verdere intimiteit van hempsmoue en geskeerde koppe bloot te stel.
Indien die hoë amptenare in die kajuit miskien van mening was dat danse soos hierdie hul waardigheid aantas, was die predikante van Nederland egter nog lewendiger besorg oor die skade wat wêreldse danse en liedere die onsterflike siel kon aandoen, en dwarsdeur die eeu het hulle daarteen uitgevaar. ‘De principale Auteur deser grouwelijcke sonde,’ verklaar eerwaarde Westerman byvoorbeeld met betrekking