Скачать книгу

met sitate van die grimmiger profete uit die Ou Testament het die predikante hul veldtog volgehou. ‘Gy quinckeleert op het geklanck der luyten en bedenckt u selven instrumente der musijcke, gelijck David’, het Amos byvoorbeeld reeds geskryf, terwyl Jesaja verwys het na ‘harpen ende luyten, trommelen ende pypen ende wyn in hare maeltijden’.

      Dans was egter nog erger as bloot quinckeleeren, en hieroor het eerwaarde Westerman in ’n stigtelike werk wat vir seemanne bedoel was besonder welsprekend geraak:

      Dat danssen, trippelen ende trepelen, hippelen ende springen, keeren ende draeyen op ’t geluyt van trommelen ende pijpen, vedelen en violen, luyten, schalmeien ende andere musicale instrumenten die daertoe misbruyckt werden. Marc. 6 vers 22. Doen ginck Herodias dochter in ende danste, ende behaechde Herodi.118

      Die vrome Nederlandse amptenaar en ouderling C.J. Wits van Enkhuizen het die gevoelens van sy medegelowiges weer op rym uitgedruk in sy Stichtelijcke bedenckinge, wat op die vooraand van Van Riebeeck se vertrek na die Kaap in druk verskyn het.

      Soete Jeucht, u danssen, springen,

      Al u dertel mal gelaet,

      En u geyl en ydel singen,

      Voor Godt als een gruwel staet.119

      Dog dit het nie gebaat nie, níks het gebaat nie: in die kajuit is daar gesing, gedans en gespring op maat van klavesimbel, viool, luit of fluit, en as daar ’n predikant en sieketrooster onder die passasiers was, kon hulle hul maar net vroegtydig terugtrek, wat egter ’n moeilike situasie geskep het wanneer hulle onder die passasiers was wat in die kajuit moes slaap.

      Die heer met die wit hande, die sakdoek omsoom met kant, die handskoene van Spaanse leer wat met muskus gegeur is. Die heer met die lang askleurige krulpruik, die heer met die wakker, oplettende oë maar waaksame blik; hoflik aan die kaarttafel (Uw Dienaar wint het spel, Mevrouw); vaardig op die klavesimbel, met ’n aangename sangstem; swygend aan tafel, wellewend wanneer hy in die algemene gesprek betrek word, maar beleefd-ontwykend in sy uitlatings, sodat niemand veel van hom te wete kom nie en hy sommige van sy medepassasiers effens ongemaklik laat voel.

      Onvermydelik maak hy dan ook die onderwerp van hulle gesprekke uit wanneer hy self nie aanwesig is nie.

      ‘In sy jong jare was hy glo ’n page van die Stadhouer.’

      ‘Van prinses Amalia …’

      ‘Verwant aan die Goewerneur-Generaal …’

      ‘Aan sy vróú …’

      ‘Die familie kom uit Vlissingen, het ek verstaan.’

      ‘’s-Hertogenbosch—vooraanstaande mense.’

      ‘Goeie konneksies, in elk geval.’

      ‘Is hy nie miskien uitgestuur as kommissaris nie, ’n geheime

      sending …?’

      ‘Daar was ’n duel, het ek gehoor, met iemand uit die gevolg van

      die Franse ambassadeur, in die Haagse Bos.’

      ‘Dóód.’

      ‘Dodelik verwond.’

      ‘’n Skandaal in elk geval, die hele Den Haag het daaroor gepraat.’

      ‘Breda.’

      ‘Uit die provinsie verban.’

      ‘Holland.’

      ‘Utrecht.’

      ‘’n Skandaal oor ’n vrou, die ambassadeur se vrou.’

      ‘In elk geval ’n skandáál van een of ander aard.’

      ‘Maar sy oë, so gevóélvol …’

      Agter fladderende waaiers, oor die kaarte aan die kaarttafel by kerslig.

      Zinkend.

      Verdrinkend.

      ’t Verdriet, waer uyt // dat spruyt // mijn swaer benauwen …

      Tot wie is die versugting gerig wat hy so elegant by kerslig voordra, geboë oor die toetse van die klavesimbel? Sy lippe glimlag, sy oë beweeg rond in die kring van sy reisgenote, maar bly op geen gesig rus nie, beweeg verder, en soek êrens anderkant die kring van die kerslig.

      ’t Verdriet, waer uyt // dat spruyt // mijn swaer benauwen …

      Waar kom hy vandaan, wie is hy eintlik? Niemand kan met sekerheid sê nie, en ék mins van alle, voor wie se oë hy hier vorm aangeneem het in die loop van my oorpeinsings, uit wie se herinnerings hy opgerys het, in wie se verbeelding hy stuk vir stuk gestalte verkry het. Die aardse geur van muskus in die donker; die verre klank van stemme, singend in die nag of roepend.

      In die skadu van die seil onder die sontent wat op die kampanjedek gespan is, waar die matrose op die voordek onder hom besig is of in die tuigasie klouter, naakte lywe blink in die son, en hare wat uitstroom in die wind. Teen die koelheid van die aand wanneer hul dienstyd beeindig is, luister hy graag hoe hulle saam op die voordek musiek maak of sing. Dit waarin hy behae skep, is kennelik van ’n persoonlike aard; onmeedeelbaar; ondéélbaar,

      Ertrinken, versinken, unbewusst—höchste Lust.120

      Eggo’s. Stemme in die verte, êrens in die donker.

      ‘’n Skandáál, dit weet ek seker. Wat sou hy anders in die Ooste gaan soek?’

      Betreklik min vroue het na die Ooste uitgereis, of na die Kaap, gewoonlik die eggenotes, dogters, ongetroude susters of diensmeisies van hooggeplaastes. Vroue kon heelwat onenigheid in die beknopte kringetjie van die kajuitgaste veroorsaak, sodat hul teenwoordigheid by die owerheid ongewens was; dog aan die ander kant kon hul aanwesigheid vir heelwat vrolikheid sorg, om te swyg van flirtasies, liefdesverhoudings, verlowings, huwelike, owerspel, verleidings en verkragtings.

      Op die Batavia in 1629 het die skipper, Adriaen Jacobsz, eers probeer om een van die kajuitgaste, Lucretia Jansz, te verlei, ’n welgestelde jong vrou wat gaan aansluit het by haar man, Koopman in diens van die VOC in die Ooste, sodat sy die mees gesiene vrou aan boord was. In een stadium was daar onder die opseilendes, agter die waaiers of in die skadu van die sontent, gerugte van ‘groote familiariteyt’ tussen hulle; maar dit was skynbaar as wraakname vir ’n afwysing dat Jacobsz en ’n aantal ander lede van die bemanning haar een aand ná aandete in die skemer oorrompel en met uitwerpsels en pik ingevrywe het, en na bewering meer spesifiek haar geslagsdele, ’n tipiese voorbeeld van kru en hardhandige persoonlike wraakneming in die mannewêreld van die vroeë sewentiende eeu. Eietyds is daar verwys na mans ‘die aen Lucretia handdadig geweest waren’.

      Intussen het Jacobsz se aandag gedurende die week toe die Batavia en sy metgeselle by Kaap die Goeie Hoop oorlê, oorgeslaan na Lucretia se diensmeisie, Swaentje Hendricx, wat geen bedenkings gehad het nie. Hy het haar met hom saamgeneem na feestelikhede op die ander skepe in Tafelbaai, waar daar nog geen nedersetting was nie, en die Onderkoopman Jeronymus Cornelisz het later getuig hoe hy in hierdie tyd in die kajuit van die Batavia gekom het, ‘ende ’t huysje onversiens in de galerije open doende, bevond hy den Schipper ende Swaentje malkanderen vleeschelijck te bekennen’: met ander woorde besig om gemeenskap te hê in die afsondering van die sekreet wat deur die kajuitgaste gebruik is. In die omstandighede was sulke episodes seker nie uitsonderlik nie.

      Van Riebeeck teken die geval aan van Andries van Nesse, skipper van die Verenigde Provincien, wat onderweg na die Kaap deur die opperstuurman van die skip vervang is nadat hy aangekla is van owerspel met ene Cornelia van Savelpoel, eggenote van die Onderkoopman Huybrecht van Hocht, ‘ende andre vrouwen meer’. Van Nesse het beken dat hy ‘verscheyde malen des ondercoopmans vrouw vleeschelijck bekent ende beslapen heefft’, en is aan die Kaap agtergehou om met ’n ánder skip na Batavia aangestuur te word, terwyl Van Hocht aangesê is om vir die verdere reis beter op sy vrou te let.121

      Ten slotte vertel Jacob Haafner van ’n insident op die Luxemburg toe daar een aand gesoek is na die opperstuurman, wat nie op sy pos was nie, maar in sy hut opgespoor is, ‘in de armen van Mejuffrouw H– ingeslapen’, ’n verwysing na die dogter

Скачать книгу