Скачать книгу

nog, jy praat van ’n páár brokkies.”

      “’n Paar is twee. Die ander een is: hy ken vir Adam Jonker, jou poolboy-getuie. Hy sê hy en Jonkertjie is soort van tjommies.”

      “Adam is bietjie jonk om sy tjommie te wees.”

      “Hy sê soort van. Jonker studeer art en Charlie het skelm na van sy sketse gekyk.”

      “Hoekom skelm?”

      “Jonkertjie is glo erg oor sy privaatheid, wys nie sy art sommer vir enigeen nie.”

      “Nie eens vir sy tjommie nie? Wat’s so snaaks aan die sketse?”

      “Charlie wil nie hê Jonker moet weet dat hy aan die wêreld uitlap wat hy gesien het nie, sê Jonkertjie kan taamlik touchy wees.”

      Taamlik touchy? Opvlieëndheid is nou nie juis ’n emosie wat sy sou assosieer met die skugter bleeksiel op Clara se stoep nie, met sy pragtige babavel en groen oë.

      “Charlie noem die sketse ‘extremely bloody en violent en weird’. Praat van comic book superheroes.”

      “Ek het nie broers nie, Stallie. Maar Adam is negentien jaar oud, is sulke jong knape nie van nature maar soms bietjie barbaars nie?”

      Stallie haal sy selfoon uit. “Ek het hom opgeneem. Luister self.”

      Stallie: “Oukei dan, off the record, vertel weer van daai tekeninge wat jy in jou Jonker-tjom se boek gesien het.”

      Charlie: “Hy noem dit sketse. Hy’s mal oor voëltjies, hy versamel opnames van voëlsang en het my genooi om na van sy nuwe opnames te gaan luister. Ek kry Adam partykeer jammer.”

      Stallie: “Hoekom?”

      Charlie: “Hy’t nie eintlik vriende nie.”

      Stallie: “Hoe ken julle mekaar?”

      Charlie: “Hy maak Saterdae mevrou Heyns se swembad skoon. En hy was een van haar pasiënte. Dis waar ek hom gesien het.”

      Stallie: “En hoe’t jy háár geken? Omdat julle in dieselfde straat woon?”

      Charlie: “Ek was ook vroeër by haar.”

      Stallie: “Jy bedoel as ’n pasiënt?”

      Charlie: “Nie vir lank nie.”

      Stallie: “Vertel wat jy gesien het.”

      Charlie: “Een van sy sketsboeke het daar op sy lessenaar gelê. Dis nie dat ek in sy laaie gaan krap het nie. Hy’s badkamer toe en ek was nuuskierig. Ek het deur die boek geblaai terwyl ek na sy voëls sit en luister het. Hy teken baie mooi, ek dink hy’s ’n baie goeie kunstenaar, hy’s goed genoeg vir gaming-sketse.”

      Stallie: “Oukei, hoekom dink jy ek behoort van die sketse te weet?”

      Charlie: “Die koerante sê mevrou Heyns is verwurg? En daar’s sketse van hoe ’n comic book superhero ’n vrou aan ’n tou om haar nek agter hom aan sleep. Met vlerke op haar rug.”

      5

      Tom Heyns kom omtrent halfses eers by haar afskorting aangeslenter, toe sy haar aand se drawwery al lankal afgeskryf het. Hy het ’n metgesel. So, hy’t toe besluit om tog sy geleerde vriend saam te bring. Nie ’n goeie besluit nie; tussen haar en prokureurs was daar al menige bloedlatings in howe – sý sukkel om die skurk aan te keer, hý probeer die skurk loskry.

      Haar plan was ’n simpatieke gesprek, veral omdat Tom Heyns pas die oggend sy vrou moes gaan uitken. Sommer ’n informele geselsie hier by haar lessenaar, slaan die bal bietjie heen en weer oor koffie, klaar ’n paar sakies uit, maak ’n paar aantekeninge. Hoekom moet ’n dêm prokureur sy hand kom vashou?

      Hy stel hulle voor. Zimmerman het ’n swart pinkiering, rooi sydas, blink skoene, pap groethand, en trek sy neus op ’n plooi of hy iets slegs in haar hok ruik.

      Sy gradeer die gesprek op tot formele onderhoud. Laat haar nie meer intimideer nie. Deur niemand nie. As dit hulle plan was, gladdejan en gladdebek … wel, hulle moer.

      Sy druk haar sel, notaboek en tablet in haar sak, gryp haar Clara Heyns-werkslêer, tel die boks van haar lessenaar op. Dis nie swaar nie, net ongemaklik, maar nóg bruingebrande Heyns nóg uitgevrete Zimmerman bied hulp aan.

      Sy stap eerste by die onderhoudkamer in.

      “Baie offisieel, nè?” sê Zimmerman.

      “Jy weet tog, meneer Zimmerman, met ’n regsverteenwoordiger by is alles offisieel.” En aan Heyns: “Jou regsman het seker die prosedure verduidelik, maar net sodat daar nie misverstande is nie: offisieel beteken alles wat hier gesê word, word opgeneem en vorm deel van die amptelike ondersoekdossier en kan in ’n hofsaak gebruik word. Jy’s nie ’n verdagte nie, die doel is bloot om met die ondersoek te help.”

      “Is die outopsie afgehandel?” vra Zimmerman.

      Elke keer as hy sy mond oopmaak, krap dit aan haar soos naels oor ’n swartbord. Sy rig haar weer tot Heyns: “’n Laaste punt van protokol. Ek praat met jou, nie met jou regsverteenwoordiger nie. Hy kan jou adviseer, maar jy antwoord.”

      Sy sien Heyns se blik na Zimmerman, sien Zimmerman se grimmige lippe, sien sy skouerophaling wat sê: Gee haar tog maar haar sin, fokken cops kan tog so petty wees, veral dié met ’n agterstand, jy weet, dié sonder borshare en balls.

      Ella skakel die oudiovisuele opname aan en stel elkeen vir die rekord voor, met tyd, datum en plek.

      “Is die outopsie afgehandel?” vra Heyns toe sy na hom opkyk.

      “Ja, gister, en ek was as ondersoekbeampte teenwoordig. Jou volgende vraag, raai ek, is oor hoe sy dood is. Dit kan ek nie beantwoord nie, dit vorm deel van dokter Koster se regsgeneeskundige verslag. En hy wag nog vir die uitslae van biologiese en ander forensiese toetse. Dit kan nog ’n tyd duur.”

      “Die koerante sê sy’s vermoedelik verwurg.”

      “Ek kan nie namens koerante praat nie.”

      “Maar is hulle reg?”

      “Ek kan nie oor die oorsaak van haar dood bespiegel nie, dokter Koster sal die bevindinge in sy verslag hanteer.”

      “Jy’t gesê jy sal –”

      “Wat ek Saterdagaand gesê het, is dat ons ná die outopsie sal weet hoe sy dood is. Ek was onder die indruk dat ek en jy privaat gaan gesels om mekaar te help om jou vrou se moordenaar op te spoor. Jy’t verkies om hóm saam te bring. Dit kompliseer dinge, dit verander die trant van ons gesprek. Dus, my formele antwoord op jou formele vraag is: Uit die voorlopige bevindinge van die outopsie blyk dit dat jou vrou aan onnatuurlike oorsake dood is. ’n Wond of wonde is gekry wat noodlottig kon gewees het. Dit lyk nie of die wonde selftoegedien is nie. Maar ek’s nie ’n kenner van sulke wonde nie, dokter Koster wel, en hy sal alle wonde volledig in sy verslag behandel. Haar dood lyk ook nie na ’n ongeluk of wat genoem word ‘an act of God’ nie. Dus ja, ons ondersoek die moontlikheid dat jou vrou vermoor is.”

      Hulle konsulteer weer met koppe bymekaar, en Heyns sê: “Dis die vierde dag van die ondersoek, volg julle al enige leidrade op?”

      “Ons hét sekere leidrade gekry, maar die ondersoek is vertroulik. Nog vrae, voor ék ’n beurt vir vrae kry?”

      Zimmerman los die pretensies. “Wat van verdagtes?”

      “Wat daarvan, wat’s die vraag?”

      “Het julle al ’n verdagte geïdentifiseer? Dink julle daar was meer as een?”

      “Ek kan my nie oor die verloop van die ondersoek uitlaat nie.”

      “Help my, adjudantoffisier Neser,” sê Heyns. “Off the record, dan. Alles is so onseker. My seuns wil weet wat met hulle ma gebeur het. Haar ouers vra my uit. Almal wonder hoe sy dood is, en waarom, of dit inbrekers is. Maar inbrekers skiet en steek mos, hulle verwurg nie?”

Скачать книгу