Скачать книгу

’n familielid wat hy lanklaas gesien het.”

      “Die enigste familielede wat hy lanklaas gesien het, is sy verloopte pa en verlore broer. En die onus is tog nie op mý om hóm oor sy straatomhelsing uit te vra nie.”

      “’n Mens gee nie net op nie, jy veg vir iets wat vir jou belangrik is.”

      Ek gee nóóit op nie, Mimi, vra vir Abel Lotz, vra al daardie geweldenaars wat óf onder die kluite óf agter die tralies is. Maar hierdie geveg is op ’n vlak waar ek nie so gekonfyt is nie.

      “Dis nou sewe-uur Sondagaand,” sê Ella. “Hy’t vier-en-dertig uur gehad om oor haar te praat. As hy dit genoem het, sou ek begin veg het, en jy ken my as ek begin veg – kyk na al my letsels. Hy praat van dringende besigheid met ’n kliënt, maar swyg oor ’n sexy, omhelsende rooikop. Hoe kan ek veg as ek nie weet of die uiteindelike prys die moeite werd is nie?”

      Want wat gebeur nóg waarvan sy nie weet nie? Hoeveel ander ongesiene omhelsings was daar al? Of lê in die toekoms voor? En daardie kleresak, met sy spookbeelde van bedbesigheid?

      Mimi swyg weer, asof sy nou eers haar woorde mooi wil kies. “Ek het ’n teorie, Ella, en ek wil dit toets, nie vanaand of in ons volgende sessie nie, maar as deurlopende tema. Want dit gaan ’n paar sessies vat, en dis belangrik dat ons dit uitpraat.”

      “Wat uitpraat? Dink jy ek ly aan die een of ander Freudiaanse kompleks? Iets soos penis-afguns?”

      “Miskien nie heeltemal só erg nie, maar daar’s ’n opstandigheid in jou aan’t gis. Teen die einste … uhm … penisdraers. Nie omdat jy die gebrek aan so ’n ding as ’n danige verlies ervaar nie, eerder omdat jy voel dat mans jou lewe beheer. Jy’s in ’n manlike beroep, jy’s elke dag omring deur mans, jy’s bekommerd oor jou pa, die moordenaars wat jy soek, is meestal mans, jy’s skepties oor ’n man se gevoelens vir jou. Maar ons sál jou gemoed regkry, glo my, al het ek nie onmiddellik al die antwoorde nie. Want ek’s ook net ’n soort speurder, wat soos jy saam na leidrade soek en geheime probeer ontrafel. En alles vat tyd. Maar ons sal die Lou Pepler-spook stuit voor dit jou lewe oorneem … die spook, nie die man nie. Met die man is daar waarskynlik nie veel verkeerd nie, die probleem is die spook.”

      “En intussen, wat doen ek?”

      “Intussen bly jy lief vir hom.”

      “Al is hy dislojaal?”

      “Moenie lojaliteit of dislojaliteit meet aan ’n toevallige omhelsing in ’n straat nie.”

      3

      Maandagoggend op pad werk toe lees sy die plakkate en koop by verkeersligte vier koerante met groot, vet opskrifte op hulle voorblaaie.

      POLISIE KRAP KOP OOR MOORD

      POPULAR THERAPIST STRANGLED

      MOM OF 2 KILLED IN HER HOME

      JAGTER SE VROU WREED VERMOOR

      Die laaste een vat die koek, asof Clara sonder haar jagterman kwalik nuuswaarde het, lewend óf dood.

      Sy smyt die koerante op haar lessenaar en begin lees. Clara Heyns se gesig is ook die hooffoto op elke voorblad – vriendelik, glimlaggend, pragtig, so anders as die verrinneweerde gesig toe hulle haar van die voetstoel op haar rug neergelê het.

      Die onnatuurlike dood van ’n mooi vrou. Wenresep vir elke koerant, orgastiese gelukkie vir elke tabloid-redakteur. Clara het gisteraand selfs die TV-nuus gehaal, saam met die pratende polisiekop se gewone diarree, gewone niksseggende clichés: Ons volg belowende leidrade op … Ons laat geen steen onaangeraak nie … Ons sal nie slaap tot ons die skuldige gevang het nie … Ons doen alles moontlik om moorde op vroue en kinders te bekamp …

      Dis omtrent toe dat sy na Big Bang oorgeskakel het.

      Die foto’s van Clara is nie een van dié wat sy in die huis gesien het nie. Sy wonder of Babs dit vir hulle gegee het, of dalk Tom Heyns self, want daar is ook kommentaar van hom.

      Mnr. Tom Heyns sê in ’n kort verklaring wat deur sy prokureur uitgereik is:

      “Clara was ’n wonderlike vrou en ma en het ook baie liefdeswerk gedoen. Haar dood is daarom nie net vir ons as gesin en familie ’n groot skok en verlies nie, maar ook vir al haar vriende en almal wat sy so onbaatsugtig gedien het. Sy laat ’n leemte wat moeilik gevul gaan word.

      “Ek is vol vertroue dat die polisie haar geweldenaar gou sal opspoor sodat geregtigheid kan geskied.”

      Op pad om koffie te gaan kry, maak sy ’n draai by Fred se lessenaar. “Nog niks by bure gekry nie?”

      Ook hy lees oor die moord en kyk gesteurd op. “Ek hét jou e-posadres, as ek iets kry, stuur ek dit.”

      Sy voel die hittigheid aan haar kiewe, swaai om koffiemasjien toe. En sug. Koud en leeg. Hulle is vinnig om dit uit te suip, maar niemand sal vars koffie maak nie. Hoekom sal hulle? Sy’s mos daar, dis mos ’n vrou se werk.

      Haar sel lui net toe die filtreerder uiteindelik weer begin drup. Babs Eloff.

      “My gewete pla my, ek wou jou nog iets vertel het. Moes dit gister al gedoen het toe jy vra of Clara vyande gehad het. Of sy iemand se kêrel afgevry het. Onthou jy dit?”

      “Die afvryery was net ’n beeld. Sy’s tog seker nie iemand wat …”

      “Wel, sy hét, sy’t Tom afgevry. Ek moes dit vir jou gesê het. Ek weet nie hoekom ek stilgebly het nie. Jy sou dit uitgevind het, dis nie ’n vreeslike groot geheim nie. Weet nie of dit eintlik ter sake is nie, dis al so lank terug. En nie juis iets om oor te moor nie.”

      “Ek sal graag wil hoor, al is dit net om Clara beter te leer verstaan.”

      “Ek wil nie dat Tom dink ek skinder oor hom nie.”

      “Hy sal nie weet nie, Babs. Wanneer was dit?”

      “Hulle oudste is elf.”

      “Clara het swanger geword toe Tom nog met ’n ander vrou getroud was? En jy dink sy eks het iets hiermee te doen?”

      “Hemel, nee! Haar naam is Mollie, sy was destyds taamlik bitter, wie sal nie wees nie? Maar het toe seker begin dink: good riddance. Want sy’s lankal weer getroud, glo gelukkig, glo in die Kaap, weet seker nie eens van Clara se dood nie.”

      Ella knyp die sel met ’n skouer vas en skink haar koffie. “Dankie dan, Babs, bel gerus as nog iets jou byval.”

      “Ja, daar ís nog ietsie. Jan sê gisteraand ’n snaakse ding. Vra of Clara ooit iets vir my gesê het oor Tom se Duitser.”

      Ella sit die beker neer en vat die sel stewiger vas. “Tom se Duitser?”

      “Tess.” Gee kans dat dit insink. “Ek sweer hy’s wéér besig met sy dinge. Jan sê dis Tom se nuwe partner. Tess Waldeck. Was glo saam Sun City toe vir die wild-indaba.”

      “Watse partner?”

      “Sy jagsafari, en sy taksidermis-besigheid. Jan sê Tom is ’n beter jagter as sakeman. Clara het hom gehelp om sy besighede van die grond af te kry, met haar pa se geld. Maar Jan dink sy’t die kraantjie begin toedraai.”

      “Toe gaan soek hy ’n ander vennoot. Of sy kom soek hom. Dink Jan die vennootskap het ’n nuwe vlak bereik, gevorder tot meer as net ’n saketransaksie?”

      “Jan weet nie, maar hy sê as hy mý nie gehad het nie, sou hy ook graag met só ’n partner indaba wou hou. Ek sê vir hom: Ja, Jan my lief, droom maar lekker, dis nog ál wat jy kan doen.”

      A, die ou, ou motief, holrug al: as jy nie ’n nuwe polis kry nie, soek ’n nuwe skelmpie. Maar ís Tom Heyns weer besig met ’n owerspelige vryery? Indien wel, is dit sommer net ’n opportunistiese gekattemaai, ’n affaire d’amour? Of het dit al gevorder tot die vlak waar dit ’n rede kan word om van die lastige derde been van die ewige liefdesdriehoek ontslae te raak?

      Nege-uur stap sy agter die hospitaal by die anneks van

Скачать книгу