Скачать книгу

uithaal en weeg, hulle weefsel en selle onder mikroskope bestudeer en oorweeg, en hulle weer toeryg en bedek en terug in yskaslaaie deponeer, om dan in Engels, asof dit ook van die dooies die lingua franca is, deurknede verslae te skryf oor contusions, abrasions en lacerations, livor mortis, rigor mortis en algor mortis, oor asphyxiation, subarachnoid haemorrhage en vitreous humour, contact wounds, trauma en – meer op die punt af – oor manner of death en cause of death en time of death.

      Sy het al gehoor dat sekere chirurge en forensiese patoloë en diesulke snyers en kerwers graag na sê nou maar Tsjaikofski of Sjostakowitsj of Rimski-Korsakof luister – glo om die gemoed en hartritme te kalmeer, en die hand met die skalpel stigtelik te hou. Ander verkies Nataniël of Mandoza of dalk Fokofpolisiekar. Dok is ’n Billy Joel-fan, en sy dink Clara Heyns sal uit haar witbroodwêreld ook die lustige “Uptown Girl” waardeer.

      Maar toe sy langs die outopsietafel kom staan en die diener die laken wegtrek, fladder iets in haar maag. Dit gebeur elke keer wanneer sy afkyk op ’n liggaam hier op Dok se koue, blink staaltafel. Die gefladder van ’n diepe treurnis, wat dan toevou soos ’n bol deeg.

      Want hier lê die eens opgeruimde en uitverkore Clara nou bleek en weerloos, en so onverwags tenger in al haar naaktheid. Ja, jy kan ontslae raak van die persoonlike puin van jou lewe, maar hoe berei jy jouself voor vir hierdie finale vernedering, hierdie pornografie van die dood, waarin niks meer privaat is nie, selfs nie die gewig van jou hart waarin jy soveel liefde probeer bewaar het nie?

      Skielik is dit of sy ’n sensasie ervaar van groot liggaamlike metamorfose, nie insekagtig soos Gregor Samsa nie, maar kadaweragtig soos Clara Heyns. Sy kyk af na Clara, maar sien haarself hier lê. Oë geslote, ongeplukte wenkbroue en ongekleurde lippe, prominente sleutelbene en klein borsies, dunnerige arms, in die kom van die heupe die verskrompelde perserige velletsel aan haar plat magie met die ligte donsies, heupknoppe en gesnoeide hare waar bobene ontmoet, skraal voete soos dié van ’n kind.

      Maar dan kom eis Clara weer haar posisie op, wange en neus en mond nou skoongewas van trane en ou, korserige bloed en braaksel, die heuninghare van die voorkop teruggekam, nou klammerig en slierterig namate Clara die laaste flenters van haar waardigheid prysgee.

      Dok lig die ooglede op en speel met die liggie oor die melkerige oë waarin die duimspykers gedruk was, en dis of sy Clara se gees diep in haar kan voel, en sy weet die band is gesmee – Clara gaan help om die man op te spoor wat dit aan haar gedoen het, wat haar van haar waardigheid én haar lewe beroof het. En terwyl sy toekyk hoe Dok haar liggaam oopmaak, doen sy ’n stille belofte aan Clara dat sy sal aanhou tot sy hom het.

      Terug op kantoor bel sy vir Tom Heyns om sy afsprake vir die volgende dag te bevestig: die amptelike uitkenning van sy vrou se liggaam, sy besoek aan Forensies vir monsters van sy vingerafdrukke en DNS, en sy besoek hier aan haar vir ’n opvolggesprek, met of sonder sy prokureur.

      4

      Op Dinsdag se oggendbiduur sê kolonel Sauls: “Warrant Neser, jy sien die helse bohaai in die koerante en op TV. Ons word dopgehou, generaal Pitso het my vroeg vanoggend al gebel, hy wil weet wanneer hy ’n arrestasie kan verwag. Het jy al iets?”

      “Nee, kolonel, maar ek’s –”

      “Jy kry vir Stallie, laat hy help. Skreeu as jy nog hulp soek, ek sal kyk of ek nog iemand tydelik kan losmaak, dalk Fred en Tabs ook as julle later vasbrand. Begin gatte skop onder julle informante, almal van julle. Dis ’n hoëprofielsaak, iets sal iewers uitspring. En dryf die ondersoek, warrant. Ek soek voetwerk, voetwerk, voetwerk. Moenie wag dat leidrade na julle aangedra word nie, gaan uit, gaan soek die blerrie leidrade! Einde van die week kan ons aan ’n hotline begin dink. Hoop nie dis nodig nie, hoop einde van die week het ons al ’n verdagte. Of hoe, warrant?”

      “Ja, kolonel, ek hoop so, ek begin klaar wenke kry.”

      “Watse wenke?”

      “Moet dit eers opvolg, kyk of dit nie nonsens is nie. Gee my ’n dag of twee.”

      Sy’s dankbaar vir Stallie. En Tabs is ook oukei. Maar sy kan sonder Fred klaarkom. Min liefde tussen hulle. En kyk daardie uitdrukking op die ou suurgat se gesig: Sý kry hulp, wat van mý, is ek nie ook toegegooi nie? Is ons nie almal toe onder berge dossiere nie? Wat maak háár so spesiaal?

      In haar afskorting wys sy vir Stallie die PlayStation-kwitansie van The Gaming Spot. “Dis Vrydag uitgereik, toevallig dieselfde dag as Clara se dood. Gaan gesels met die afleweraar, Tom Heyns noem hom Charlie.”

      Haar sel sing “Loslappie”. Sy kan hom nie langer ignoreer nie. Sy kyk na Stallie. Dié is vlug van begrip, staan op en stap weg.

      “Hoekom antwoord jy nie?” vra Lou.

      “Hier’s ek, ek antwoord.”

      “Wat van al die ander?”

      “Dis ’n malhuis, Lou.”

      “Jy’t nie vyf minute om terug te bel nie?”

      “Ek het skaars vyf minute om te gaan pie.”

      “Bel dán.”

      “Lou, ek’s soggens sesuur op, hol die hele dag rond, eet nie, rus nie, kom elfuur saans by die huis, slaap skaars. Ek kan nie die wêreld skielik net laat stilstaan vir enigiets nie.”

      “Ek’s nie enigiets nie, Ella. Of ek hoop nie so nie. Wat’s fout?”

      “Ons gesels as dinge hier bedaar het.”

      “Ek wil jou sien, ek mis jou. Kan jy vanaand kom?”

      “Ek het vyfuur ’n afspraak met Tom Heyns, sal sien hoe lank dit duur. Praat later, koebaai.”

      Stallie is net ná twee terug, plak hom oorkant haar neer en vra: “Bespeur ek onmin in die liefdesnessie?”

      “’n Ligte meningsverskilletjie.”

      Vir sy lang neus kan jy niks wegsteek nie. En sy weet sy kan op sy skouer gaan grens, soos gewoonlik. Maar sy’s nog ver van die huilfase.

      “Jou spesmaas was reg, sy’s ’n ou klant van The Gaming Spot, koop haar seuns se electronic games daar. My chat met Charlie het ’n paar interessante brokkies opgelewer. Ek dink ons het nog ’n getuie gekry. Charlie sê … hy beweer hy’t Vrydagnag iemand met ’n beanie op die sypaadjie voor die Heynse se huis gesien.”

      “’n Verdagte? Hoe laat?”

      “Hy’s nie seker nie, dink dit was ná middernag.”

      “Wat soek hý op die moordnag in daardie buurt?”

      “Hy woon daar, huur ’n buitekamer by Camdenstraat 39, skuins oorkant die Heynse. By meneer en mevrou Moller, pensioentrekkers. Hy’t die beanie-man gesien toe hy laatnag huis toe gery het.”

      “Kan hy hom beskryf vir ’n identikit?”

      “Dis die slegte nuus – nee, hy kan nie, was te donker, daar’s nie ’n straatlig voor die Heyns-huis nie.”

      “Maar in die donker kon hy ’n beanie herken?”

      “Hy sê dit het soos ’n beanie gelyk.”

      “Het dit gelyk of die beanie-man by die Heynse se voorhekkie uitkom?”

      “Dit kan hy ook nie sê nie, hy’t die figuur net op die sypaadjie voor die huis sien stap.”

      “Het hy ’n bril gedra, of was hy brilloos? Was hy lank of kort, vet of maer? Het hy regop gestap soos ’n soldaat, of krom soos Fred? Het hy vinnig gestap, of gedrentel? Het hy iets in sy hande gehad? Hoe laat ná middernag het hy die figuur gesien? Ons moet die presiese tyd kry.”

      “Ek sal weer met hom gaan chat.”

      “Hoe oud is die afleweraar, dié Charlie?”

      “Charlie Olsen. Vyf-en-twintig, en hy’s nie ’n delivery boy nie, hy’s die eienaar.”

      “Al baas van sy eie winkel?”

      “Nou

Скачать книгу