Скачать книгу

help eers vir Jacob. Hy het baie goeie oë, die vermoë om ’n springbok of selfs ’n steenbokkie van ver af in die vaal wintergras raak te sien. Maar hy is net ’n redelike skut. Ek dink dit is omdat hy nie regtig daarin belang stel nie.

      Daarna skiet ek al die magasyne uit.

      Domingo bring die aand nog agt Orphanage toe. “Hoe het jy gedoen?”

      Ek sê vir hom van vierhonderd meter af sukkel ek. Hy vra waarheen my skote gaan. Bietjie bont, sê ek, maar oor die algemeen te links en te kort. Hy kyk of my teleskoop reg gemonteer is. Hy sê hy kom môre ’n draai maak in die berg. Want die honde is weer gesien.

      15 Augustus

      Hy kom elfuur die oggend. Hy kyk deur ’n verkyker na waar my skote tref. Dan sê hy: “Jy is net inconsistent. First thing to remember, as jy baie skote op mekaar skiet, gaan jy te veel barrel heat generate, en jy gaan inconsistencies kry. Tweede ding is inconsistent trigger pull. Elke een moet dieselfde wees. Derde ding, inconsistent shoulder pressure. Try hom so bietjie stywer druk, en try dit elke keer dieselfde doen.”

      Ek skiet weer.

      “Much better,” sê Domingo. “One more thing. Jou skoot is nie klaar as jy die sneller getrek het nie. Dis soos ’n golf swing. Jy moet follow through. Jy moet deel bly van daai rifle, jy moet visualise hoe die bullet die target tref. En jy kyk deur die scope, vir die target, tot hy tref. Eers dan is die skoot verby.”

      Ek skiet weer, ’n hele magasyn.

      “Perfect,” sê Domingo.

      Ek gloei van trots.

      “Now both of you, remember, if those dogs come up here, you aim for the leaders first, the ones in front of the pack. You get them, they will get confused. Keep shooting, we need to get them all. You hear me?”

      Ons knik, ek en Jacob Mahlangu, en ons harte klop vinniger.

      “Waar het jy dit alles geleer?” vra ek vir Domingo.

      Sy oë is agter sy donkerbril, soos altyd bedags. Sy gesig vertrek effens na wat moontlik ’n glimlag kan wees. “You’re talkin’ with Davy, who’s still in the Navy.”

      “Jy was in die Navy?”

      “Nee,” sê Domingo. “Billy Joel.”

      “Wie?”

      Hy sê niks.

      Ek verstaan glad nie. “Was jy saam met Billy Joel in die Navy?”

      Maar hy is al weer op pad, en ek is niks wyser nie.

      16 Augustus

      Iewers ná nege in die oggend. Ek en Jacob is hoog in die berg, naby die skape. Dis hy met sy arendsoë wat die honde sien. “Nico,” fluister hy, en hy wys met sy vinger. Hulle kom oor die rant, sydelings en skelm, hulle snuif die wind. Hulle het nog nooit so helder oordag kom jag nie, hulle moet baie uitgehonger wees in dié verskriklike winter.

      Ek rig die teleskoop op hulle, Jacob kyk deur ’n verkyker. “You can see,” sê hy. “They are killers.” Daar is amper dertig, hulle draf ’n moeitelose draffie, die trop naby aan mekaar, ’n klein, hoogs doeltreffende doodsoptog.

      “You shoot,” fluister hy. “I’ll pass you the magazines.”

      “Okay.”

      Tweehonderd meter van ons af versnel die honde, want die skape is in sig. Die vee sien en ruik die honde, hulle skarrel vreesbevange. Dan begin ek skiet.

      Die eerste skote is nie baie akkuraat nie. Ek is oorgretig, oorhaastig, ek laat nie genoeg ruimte vir hulle beweging toe nie.

      Die skote ruk die trop eers tot stilstand. Ore regop, oë soekend na waar ons windaf lê, terwyl ek aanhou skiet. Ek fokus op die leiers. Domingo was reg, dit verwar die trop verder sodat hulle heen en weer hardloop en eindelik koers kies, weg van die geluid van die geweer.

      Ek kry die laaste een net voor hy vyfhonderd meter weg is. Ek is baie trots op die skoot, dit is ’n bewegende teiken, dit is ver. Jacob spring op, hy juig, vuiste in die lug, hy slaan my op die rug, hy sê: “Incredible shot, we got the bastards, Nico, we got the bastards, every one of them!”

      Ons jaag met die vierwiel om vir Pa en vir Domingo te gaan sê, om die eerste goeie nuus in ’n baie lang tyd te gaan oordra. Ons sien almal staan saamgedrom voor die Midas-vulstasie. Daar is vreugde in die lug, die meeste is besig om te help om sakke van een van ons teruggekeerde vragmotors af te laai.

      “Ons hongerte is verby, dis mieliemeel,” sê iemand vir ons. “Tweeduisend sakke. Hulle het dit op ’n goederetrein anderkant Warrenton gekry.”

      “Ons het amper dertig honde doodgeskiet,” sê Jacob.

      “Tweeduisend sakke. En daar is dalk nog, hulle het nie al die treintrokke oopgebreek nie. Is dit nie fantasties nie?”

      Ek gaan soek vir Pa om hom van die honde te vertel. Ek kry hom in die OK Value-supermark. “Pa … !” sê ek opgewonde.

      Pa hou sy hand in die lug, die radio naby sy oor. Domingo se stem kraak oor die eter: “As jy ’n draai kan kom maak, hier’s fresh arrivals by die bushek.”

      “Ek kom,” sê Pa. Hy probeer altyd hek toe gaan as nuwe mense aankom. Hy ry met die Cannondale Scalpel Black Inc. Nero Dlamini het die duur fiets geskenk as Amanzi se “ampsmotor”, vir uitsluitlike gebruik van die Voorsitter – om brandstof te bespaar en oral sigbaar te wees. Pa hou baie van die idee, hy glo as leier moet hy nederig bly, net een van die mense wees.

      Ek en Jacob is agterna met die vierwiel.

      Dit is Birdie wat by die hek aankom. Birdie en Lizette Schoeman.

      29

      Cairistine Canary

      Dis daai blêddie Domingo wat my kom staan en Birdie noem het. Ek is Cairistine gedoop, en dis wat mense my genoem het, in die ou dae. Ek weet nie hoekom almal nou hier so hulle mond vol het oor die “Canary” nie, daar was baie Canary’s voor Die Koors. Ek gaan nie baie oor Die Koors self praat nie, ek hoop dis okay. Dit maak nog te seer, al is dit nou al ’n paar jaar gelede. My ma … I just don’t want to go there.

      Ek kom uit die Newtown uit, op Calvinia. Ek was besig met my masters in High Energy Physics by UCT toe Die Koors kom. Ek het vroeg al gesien dis ’n lelike ding, ek is weg uit die Kaap voor die groot gemors gebeur het, ek is met die taxi’s huis toe, want ek was baie worried oor my ma. By Clanwilliam, toe het hulle daai dam se sluise oopgemaak, hulle was glo bang daar’s niemand oor om dit te doen nie. That was a sight to behold.

      Ek het alles van Calvinia af gesien gebeur. Ek het al my familie en my vriende verloor, in die hele dorp was daar net twee survivors, ek en so ’n obese witte met die naam van Nelus Claassen wat Claassen’s Trading gehad het, ’n supermark daar op die dorp, hy was so dik van net agter die till sit en marshmallows vreet. Nou moet jy verstaan, sy winkel is die laaste een uit op die R twenty-seven, langs die Total garage, so it’s the last place I’m going to go look for food, want daar’s darem ’n hele paar ander supermarkets op Calvinia, en dis net twee survivors, daai eerste weke, voor die travelling scavengers begin kom het.

      Ek het vir my ’n scootertjie gekry, ’n MotoMia wat daar by een van die garages gestaan het. Ek het met daai dingetjie rondgery, ek het vir my ’n handpompie gemaak wat in ’n backpack gepas het, vir die petrol, very basic physics. En ek wou gaan kyk hoe maklik die petrol by die Total is, toe kom daai dikke Nelus Claassen daar uit sy winkel uit, en ek skrik my omtrent dood.

      Ons is al twee so honger vir gesels, vir ’n ander siel, ons chat, en hy sê, kom, hier’s nog baie kos hier binne. En ek sê, thank you very much, en kry vir my ’n paar blikkies kerrievis, en hy sê dit sal vyf-en-sewentig rand wees. I kid thee not. En ek sê vir hom, jy’s darem nou lekker laf, en hy sê, maar dis my winkel se goed. En ek sê, moet ek nou da’ by die Total inloop en cash uit die till uit gaan haal en vir hom gee, jy weet, to try and point out how ludicrous he is. Sê hy vir my,

Скачать книгу