Скачать книгу

kom op 2 Mei in die Jaar van die Hond by ons aan. Die werklike rede vir sy koms sal ons eers later uitvind. Want op 3 Mei kom die eerste van dié bitter winter se kouefronte – ’n seldsame sewe sentimeter sneeu in die herfs, op die rand van die Karoo. Binne ’n dag val die temperature tot ver onder vriespunt, pype bars, kinders bibber en baljaar met sneeuballe in die straat. Die hele gemeenskap moet ratte verwissel, moet aandag afstaan aan noodreparasies en die skep van hitte.

      En op 5 Mei kom Die KTM. Vir die eerste keer.

      25

      Die KTM

      Voor Die Koors het dit dalk een keer in vyf of ses jaar in die Karoo gesneeu, sê Pa. Meestal nie eintlik regte sneeu nie, net so ’n halwe sentimeter yslagie wat hulle “kapok” genoem het. Dié woord kom van Maleis af, kapoq, daar was in die trope sekere bome wat sulke wollerige wit vrugpluis gemaak het waarmee hulle kussings en matrasse opgestop het.

      Op 3 Mei van daardie jaar lê die sneeu in die oggend sewe sentimeter dik.

      Ná die sneeu kom die winde en die ysreën.

      Die gemeenskap het nie genoeg warm klere vir dié ekstreme weer nie. Niemand het gedink om brandhout te versamel vir die winter nie. Paaie is ’n paar dae lank byna onbegaanbaar.

      Ek en Jacob Mahlangu, kleinseun van ou tannie Nandi, is aangestel as veewagters, ’n taak wat ons elke tweede week verrig, wanneer ons nie moet skoolgaan nie. Maar op 5 Mei is daar vir niemand skool nie. Ons twee ry agterop die ou munisipale trekker saam met oom Hennie Flaai. Dit neem langer as ’n uur om in die reservaat bo in die berg te kom. Ons moet in die veld sneeu gaan wegvee en -skoffel, sodat ons groeiende troppies skape en beeste ’n paar plekke het waar hulle gras kan vreet. Dan soek ons hout, ons moet kap en saag en aandra na die sleepwa toe. Dit is harde fisieke werk, ons is nat en koud en teen laatmiddag baie honger.

      Gewoonlik help ek saans vir Domingo om gewere skoon te maak. Maar op die aand van 5 Mei is ek te moeg. Pa en Nero Dlamini en Ravi Pillay sit in die groot sitkamer van die Orphanage in ’n kring en praat oor die moontlikheid dat die baie rook in die aarde se atmosfeer vir dié ekstreme en ongewone weer verantwoordelik kan wees – die rook van brande reg oor die wêreld, van haastig ontruimde industrieë en oorverhittende kernreaktors en onbeheerste bosbrande en selfs hele stede in digbevolkte lande wat in vlamme opgaan weens gaslekke, byvoorbeeld. Nie een van hulle kan dié soort intense koue, soveel sneeu in suidelike Afrika, só vroeg in die jaar, onthou nie.

      Domingo is eenkant, soos gewoonlik. Hy olie en maak vyf R4-gewere skoon, deel van ons arsenaal wat uit De Aar se Weermag-opslagplek aangery is. Hy doen elke aand vyf nuwes, en soggens gaan bêre hy hulle weer by ons magasyn. Domingo hou tweehonderd gewere en patrone in die kluis van die ou polisiestasie – die gewere wat hy so skoonmaak. En nog ’n paar duisend gewere en baie ammunisie het hy stil-stil op ’n geheime plek gaan berg, waarvan net die Komitee weet. En ek, want ek kon afluister: die pakhuis van die natuurreservaat, sewe kilometer uit die dorp uit, bergop. Agter die hek en die heining. Afgeleë.

      Domingo se bewegings is ritmies, georden, geoefen. Sussend vir ’n uitgeputte dertienjarige wat amper aan die slaap is.

      Tot hy skielik ophou, en opkyk, voordeur se kant toe. “Hier’s mense,” sê hy.

      Pa sug. Daar was die hele dag mense hier om te kom sê van ’n nuwe krisis, nog skade of nood.

      Domingo sit die geweer neer, staan op, en loop na die voordeur toe. Eers dan kom ’n harde, dringende klop.

      Ek is wakker, ek sien hoe Pa en Ravi ook opstaan. Domingo maak oop, die wind waai ysig in, daar staan ’n vreemde vrou buite. Sy is lank en indrukwekkend en baie mooi, daar is grys in haar hare, al is sy nie oud nie. Sy sê iets, ek kan nie hoor nie. Domingo kyk na haar, en die mense agter haar. Tot Pa sê: “Laat hulle inkom.”

      Domingo huiwer.

      Dan staan hy weg. Die vrou kom in. Agter haar, nog vier vroue en drie mans, almal onder vyftig jaar oud, vreemdelinge. Pa nooi hulle almal om te kom sit. Die vrou stel haarself voor. Sy het ’n melodieuse stem, sy sê haar naam is Mecky Zulu. Hulle is jammer hulle kom só laat, hulle sou al vroeër vandag hier gewees het, maar hulle bussie het gebreek voor Venterstad. ’n Bebaarde man in sy veertigs sê hy is Hans Trunkenpolz, hulle het ons pamflette in Steynsburg gekry. Dit het hulle twee dae geneem om van daar af te kom, oor die sneeu, en die meganiese teenspoed.

      Pa heet hulle welkom, hy nooi hulle om by die vuur te kom sit, hy vra of hulle geëet het. Hy loop self kombuis toe om soutbeskuitjies en koffie te gaan haal terwyl die biskop met die aankomelinge gesels.

      Domingo staan vir hulle en kyk. Dan loop hy ook kombuis toe. En ek agterna, nuuskierig, want ek kan sien hy is baie ongemaklik.

      “Hulle lieg,” sê Domingo agter die toe kombuisdeur.

      “Waaroor?” vra Pa.

      “Oor die bussie wat gebreek het.”

      “Hoe weet jy?”

      “Hulle hande is skoon.”

      “Domingo, ons weet nie wat gebreek het nie, dit beteken nie …”

      “Waar is die kinders, die oumense?”

      “Hoe bedoel jy?”

      “Hulle is nie ’n natural groep nie. Hulle is almal … fighting age. En aware …”

      “Vyf is vroue …”

      Domingo frons. “Willem, daar is iets aan hulle …”

      Pa glimlag. “Ek waardeer jou besorgdheid, maar hulle lyk vir my na doodgewone, doodgoeie mense, en hulle is moeg en honger.” En hy dra die skinkbord uit sitkamer toe.

      * * *

      Trunkenpolz en Mecky Zulu doen die meeste van die praatwerk. Hulle sê hulle kom almal van die ooskus af: Margate, Durban, Umhlanga en Richardsbaai. Hulle het mekaar so stelselmatig ná die chaos gevind. En toe begin hulle reis, op soek na veiligheid. Mecky is ’n Zoeloe-prinses, sê Trunkenpolz, vol eerbied. En hy was ’n ingenieur.

      “Dit is baie goeie nuus,” sê Pa. “Ons het ’n ingenieur dringend nodig. Wat was julle ander se beroepe?”

      Voor hulle kan antwoord, vra Domingo: “Wat het met die bussie gebeur?”

      “Ekskuus?” sê Trunkenpolz.

      “Die bussie wat gebreek het. Wat het gebeur?”

      “Die vergasser … Ons dink die petrol in die vulstasies se tenks is besig om te degradeer. Ons moes die vergasser skoonmaak. Heeltemal. Dit het ons ’n paar uur gevat om die blêddie fout te kry …”

      Domingo knik.

      “Kom,” sê Pa. “Julle kan vanaand sommer hier in die Orphanage slaap.”

      * * *

      Domingo kom klop aan ons deur nadat almal kamers toe is. Pa maak oop. Domingo kom in, geweer in die hand. “Ek vertrou hulle nie.”

      “Kom ons kry ons slaap,” sê Pa in sy dis-nou-genoeg-stem.

      “Niemand ruik na petrol nie. Jy kan nie ’n carburettor skoonmaak en nie na petrol ruik nie.”

      “Asseblief, Domingo, ons praat weer môre.”

      * * *

      Die KTM beroof ons net voor die middaguur van die sesde Mei, maar ek is nie by nie. Ek en Jacob Mahlangu moet met die vierwiel op berg toe om seker te maak die vee het vreetplek, en om ongediertes af te skrik. Ons is laat met die terugkom in die middag, want die sneeu lê nog diep bo in die reservaat, die grondpaadjies is modder, en baie glad.

      Wanneer ons eindelik weer in Amanzi is, hoor ons die volle verhaal:

      Dié oggend gee Pa en pastoor Nkosi vir Mecky Zulu, Trunkenpolz en die nuwe aankomelinge ’n stewige ontbyt en ’n deeglike toer van die dorp en al die sleutelpunte. Hulle kies kwansuis vir hulle huise, hulle kom doen die administrasie by die ou poskantoor, hulle kry hul rantsoene waar ons die meeste van ons

Скачать книгу