Скачать книгу

probeer die situasie ontlont. Hy loop tussen hulle in, sy stem het ’n informele geselstrant. “We all know Domingo is one of the bravest in our community. I’m sure he has a good reason for declining the nomination.”

      Domingo se hande bly op sy gespe. Hy kyk verby Pa na pastoor Nkosi. Dit is ’n mespunt-oomblik wat rek en rek, die paar omstanders is vasgenael.

      Domingo haal diep asem, ontspan, sê dan sag: “Tell me, padre, would you rather have a real man who lies about his beliefs?”

      Die pastoor dink hy het die konfrontasie gewen, sy stem steeds aggressief: “What do you mean?”

      “I declined the nomination because I don’t believe in democracy. Not now.”

      “What do you believe in?”

      “Even in a perfect world, democracy is a messy business. This world is all screwed up. What it needs, is a benevolent dictator.”

      “You can’t be serious?” sê die pastoor met triomfantelike afgryse.

      “Hy het die Romeine aan sy kant, Nkosi,” sê Pa, sy stem verlig en paaiend. “Hulle het ’n diktator verkies in tye van krisis. In daardie tyd was die term ‘diktator’ ’n positiewe een.”

      “Then call me a Roman,” sê Domingo.

      Nero Dlamini is die enigste een wat op dié oomblik sag lag.

      Die pastoor blaas af. Maar ook hy moet met waardigheid retireer. “You scare people,” sê hy vir Domingo.

      “I know,” sê Domingo. Hy draai om en loop.

      * * *

      Op 4 Julie sneeu dit weer.

      Nero Dlamini noem dit die laaste strooi wat die Amanzi-kameel se rug breek. Pa verwys later na al die gebeure, van die eerste sneeu en Die KTM tot die laaste onweer, as “die perfekte storm”.

      Hennie Flaai is al vir twee maande besig met die enigste noemenswaardige boerdery in die gemeenskap – ’n hoender- en eierprojek, én ’n groentekweekhuis, alles in en om die asbesgeboue van die uitgestrekte ou vakansieoord heel bo, naby die hek na die natuurreservaat.

      Die sewe sentimeter sneeu doen algemene skade aan geboue en paaie, maar die grootste skade is wanneer die kweekhuis se dak weens die gewig instort. Al die plantjies daarmee heen – die tamaties en soetmielies, die groenboontjies en beet, twee weke voor Hennie dit kon begin oes. Dit was die Komitee se voedsel-versekeringspolis.

      Die ysige nagte laat ’n ontstellende aantal hoenders vrek. Ons karige eierproduksie kom heeltemal tot stilstand. In die reservaat verkluim ’n klomp skape.

      Die twee oudste inwoners, sekere kandidate vir die komende verkiesing, tannie Nandi Mahlangu en biskop James Rankin, word ernstig siek. Nero Dlamini is die naaste aan ’n mediese praktisyn wat ons het, en hy sê oor en oor hy weet eintlik niks. Hy skryf uit radeloosheid vir die siekes antibiotika voor. Dit help nie. Hy besef die twee oues eet nie, hulle staan hul kosrantsoene aan die kleintjies af. Nero steek ’n stokkie daarvoor. Hy sit al twee op ’n drup. Dit is te laat vir biskop James Rankin. Hy sterf op 10 Julie. Almal wat nie op ekspedisies uit is nie, woon sy begrafnis by op 12 Julie.

      Tannie Nandi oorleef om verkies te word tot die Komitee. Saam met Pa, Ravi, Beryl, Nero en pastoor Nkosi. Omdat daar geen grondwet is nie, besluit die gemeenskap om almal ’n geleentheid te gee om bykomende lid van die Komitee te word: Elke inwoner van Amanzi ouer as agttien sal in alfabetiese volgorde ’n beurt kry om vir twee weke ook op die Komitee te sit, met volle stemreg.

      Die Voorsitter moet deur die Komitee self verkies word, en sal ’n jaar lank dien.

      Daardie selfde aand van 14 Julie, in die eetkamer van die Orphanage, verkies hulle my pa Willem Storm tot die eerste Voorsitter van Amanzi. Pa probeer keer, maar hy huil. Hy sê in sy toespraak hy weet dit is ’n simboliese gebaar, daar is ander wat dit beter sal kan doen as hy. Maar dit is vir hom ’n groot eer, en hy beloof sy trou en sy beste pogings aan almal in hierdie moeilike, moeilike tyd.

      Ou tannie Nandi Mahlangu sterf op 29 Julie. Haar begrafnis word ontwrig wanneer die hele Amanzi se watertoevoer ineenstort op die dertigste. In die daaropvolgende twee weke moet die hele gemeenskap skarrel om dit te probeer regmaak.

      Die ekspedisies wat terugkeer, bring nie veel meer as slegte nuus nie, veral oor die desperaatheid en aggressie van troppe jagtende honde wat al hoe nader aan ons gesien word. Pa sê dit maak sin, die groot feesmaal vir dié diere is verby, die winter eis ook sy tol. Domingo stuur patrollies uit om die paaie rondom Amanzi dop te hou. Hulle sien in die tweede week van Augustus ’n paar keer ’n groot trop honde, op ’n afstand. Wanneer hulle nader gaan, smelt die diere weg in die veld. Hulle sien oral oorblyfsels van die honde se verskeurde prooi – klein bokkies, springhase, ’n ou, sterwende koedoebul.

      Teen dié tyd slaap my pa omtrent nie meer nie. Hy is so maer soos die laaste van ons skape. Hy bekommer hom erg oor die meer as twintig mense wat siek is weens wanvoeding en ontbering, en die feit dat die gerantsoeneerde kos se einde in sig is.

      28

      13 Augustus

      Ek en Jacob Mahlangu stel ’n wip vir die kransduiwe bo in die reservaat, ’n eenvoudige lokval van stokke en ogiesdraad en ’n lang stuk lyn. Voëlsaad as lokaas. Ons vang sewe terwyl ons veewagterdiens verrig. Ons slag hulle daar. Ons is bedrewe met slag, ons het baie geleer in die afgelope maande. Ons kan skaap en bees en springbok en hoender en kransduif slag sonder om te mors, sonder om deur die proses ontstel te word.

      Die sneeuvalle was die groot uitsonderings. Die meeste van die winterdae op die rand van die Karoo is blou, oop hemel, sonskyn, maar delikaat, soos iets waaraan jy met omsigtigheid vat.

      Ek onthou hy het die sout gebring. Ek onthou die verterende honger en die ongeduld terwyl die duiwe op ons spit oor die kole draai, ek wat sê: “Hulle is reg,” en Jacob wat sê: “Nee, nog ’n bietjie, onthou jy laas?”

      Laas was hulle nog rou, omdat ons te honger en gulsig was. Rou duif is nie lekker nie.

      Ons sit in die son terwyl ons eet, soos dassies op ’n rots. Agterna help ons mekaar skoonmaak, sodat daar geen bewysstukke is nie.

      Dié aand is dit koud in die Orphanage se sitkamer, want die vuur brand net terwyl die klein kinders nog wakker is, om hout te spaar.

      Domingo kom na my toe aangestap, met wapens in sy hande. “Kom saam met my,” sê hy. “Ons moet met jou pa praat.”

      Ek skrik, want hy lyk kwaai. Ek dink hy weet van die duiwe wat ons so alleen vreet, so skelm. Ek vergeet Domingo lyk altyd kwaai.

      Hy gaan sit langs Pa, hy sit die twee R4’s op die koffietafel neer. Die een is die DM- skerpskuttersgeweer met ’n teleskoop. Hy sê vir Pa: “Dis vir Nico en Jacob Mahlangu. Die bushek se guards sê hulle het vanoggend die honde gesien teen die flank van die suiderberg, aan die sirkel se kant. Hulle gaan die vee daar bo kry, Willem. Die night shift op die berg is al klaar armed and ready. Die seuns moet ook kan skiet. Ons kan nie afford om nog skape te verloor nie. Ek wil vra of Nico en Jacob eers die skool kan los, tot ons met die honde gedeal het.”

      Pa se kop is by al die ander ellendes. Hy kyk na Domingo. Hulle verhouding is deesdae meer formeel. Pa kyk na my. “Dis goed.”

      “Dankie.”

      Domingo staan op, neem die gewere, loop voor my uit sitkamer toe. Hy beduie ek moet langs hom kom sit. Hy gee vir my die DM-geweer en ’n swart seilsak met agt magasyne. “Jy oefen hiermee, hoor jy?”

      “Ek hoor,” sê ek en probeer my geesdrif onderdruk.

      “Begin op honderd meter, en oefen tot op seshonderd. Skiet al die ammunisie uit, ek bring vir jou môre nog agt.”

      “Okay, Domingo,” sê ek. “Dankie.”

      “Niks dankie nie. This is business. Daai honde kan ons uitroei as hulle by die herd kom.” Hy gee ’n kleiner sakkie met magasyne aan. “Dis vir Jacob. Help hom, lat

Скачать книгу