Скачать книгу

die geweer om Domingo se aandag af te trek. Zulu haal ’n pistool uit haar handsak en druk dit teen Domingo se kop en sê: “Gee hom die geweer.”

      Domingo sit net.

      Trunkenpolz druk sy hand in haar handsak en haal nog ’n pistool uit. Hy slaan vir Domingo in die gesig daarmee. “Gee my die geweer,” en hy ruk die R4 uit Domingo se greep. Domingo se neus en oogbank bloei. Hy sit net en kyk hoe Mecky Zulu ’n teken vir die twee ander mans by hul bussie gee. Die een haal ’n tweerigtingradio uit, en praat daarin.

      Tien minute later hou ’n vragmotor en agt motorfietse in die straat stil. Die motorfietse is almal helderoranje-en-swart. Op hul tenks staan die letters KTM. Die mans is almal gewapen. Hulle dra ons hele voorraad blikkies- en droë kos uit die supermark-stoor uit. Hulle steel al tweehonderd R4-gewere en ammunisie in die ou polisiestasie en pak dit in die vragmotor. Een van die mans wat in die nag aangekom het, klim in ons brandstof-tenkwa vol diesel en ry daarmee weg.

      Trunkenpolz hou nou die R4 teen Domingo se kop. Hy sê vir Mecky: “Ons moet hierdie een skiet.”

      Ons mense wat dit alles sien, sê later daar is geen vrees in Domingo se gesig nie. Hy sit net daar met haat en kwaad in sy oë, alles op Trunkenpolz gefokus, sy hande is vuiste, sy naels so diep in sy palms ingeslaan dat dit bloei.

      Die vrou kyk Domingo smalend op en af. “Nee, wat.”

      En dan ry hulle, die motorfietse brullend, in ’n triomfantelike konvooi daar weg.

      * * *

      Die Komitee vergader die aand in die Orphanage se eetkamer. Pa sê: “Ek was verkeerd. Ek moes na Domingo geluister het.”

      “Ons is almal … ons is te goedgelowig,” sê biskop Rankin.

      “Ons sal dit moet regstel,” sê Ravi Pillay. “En gou ook.”

      “Maar hoe? Ons het nie die kennis nie,” sê pastoor Nkosi.

      “Ons het,” sê Pa. Hy kyk na my waar ek in die hoek sit en luister. “Gaan roep vir Domingo, Nico.”

      Ek gaan soek hom. Hy is nie in die sitkamer nie. Ek klop aan sy kamerdeur. Hy maak oop. Die wonde is dun bloedlyne teen sy oog en neus af. “Pa vra of jy eetkamer toe kan kom.”

      Hy knik, asof hy weet waarom. Ons stap saam.

      In die eetkamer vra Beryl Fortuin: “Wat moet ons doen, Domingo?”

      Hy kyk na hulle. “Vra jy vir my?” vra Domingo.

      “Dis reg. Hoe maak ons dat dit nooit weer gebeur nie?”

      “Kom sit hier by ons,” sê Pa.

      “Ek staan.”

      “Hoe maak ons?”

      “Ons moet toegang beheer,” sê Domingo. “Ons moet gewapende mense dag en nag by ’n toegangshek laat wagstaan.”

      “Ons het nie ’n hek nie,” sê pastoor Nkosi.

      “Ons het die twee busse wat ons oor die pad kan trek, halfpad teen die eerste bult op,” sê Domingo. “Só dat niemand kan deurjaag nie. En ons sit nog ’n kar tussen hulle, wat geskuif moet word. Kos ons niks.”

      “Kom sit, asseblief, Domingo,” sê Pa weer.

      “Nee, dankie.”

      “Is dit al? Is dit genoeg?” vra Beryl.

      “Nee. Ons moet ’n army train,” sê Domingo.

      “Sad,” sê die biskop. “But true.”

      “Sal ’n baie klein army moet wees,” sê Beryl. “Daar’s nie mense nie.”

      “Kan maar eers klein wees,” sê Domingo. “Klein is beter as niks. Klein sou die KTM-spul gekeer het.”

      So staan die rowers eers as “die KTM-spul” bekend, en later net as “Die KTM”.

      “Sal jy so ’n verdedigingsmag begin? En afrig?” vra Pa.

      Domingo skud sy kop.

      “Hoekom nie?”

      “Verdediging is ’n symptom of a certain attitude. Ons soek ’n aanvalsmag,” sê hy. “Vir hulle sal ek train.”

      * * *

      Ek onthou: Daardie aand loop die gemoedere hoog in die Orphanage se eetkamer. Hulle stry oor noodmaatreëls, oor prioriteite, oor beleid en die algemene filosofie van verwelkoming van onbekende nuwelinge.

      En Nero Dlamini, wat eenkant sit met ’n boek in die hand en ’n slapende kind op sy skoot, verbreek die spanning. “My goodness, that woman was beautiful,” sug hy.

      “What woman?” vra pastoor Nkosi gesteurd.

      “That Zulu princess. If I have to be robbed, I’d want it to be by her.”

      26

      Die skerpskutter

      Op 7 Mei begin die werk om Amanzi se ingang te beveilig.

      Voor ek en Jacob Mahlangu berg toe ry om vee te gaan oppas, gaan kyk ons gou: Ek sien vir Pa by die biskop en Beryl teen die heuwel staan. Hulle kyk hoe Domingo en die paar mans wat hom help die versperrings oprig. Pa lyk vaagweg senuagtig en bekommerd.

      Domingo-hulle trek die twee busse dwars oor die pad, net mooi waar dit tussen die eerste twee heuwels deurloop. Dit is ’n slim keuse, want wanneer hy later ’n hekwag in die voorste bus laat sit, kan hy minstens drie kilometer bergaf sien. En met verdedigers teen die hoogtes sal dit baie moeilik wees om die nuwe hek aan te val. Domingo verwyder die twee busse se wiele om hulle baie moeilik skuifbaar te maak. Hy sleep ’n swaar ou Nissan-bakkie tot tussen die busse, sodat dit die dwarslat van ’n H vorm. Die Nissan sal eers moet beweeg voor enige voertuig tussen die busse kan deurkom.

      Hy laat twee mense permanent op hekwagdiens staan – een in elke bus – toegerus met radio’s om vir hom en Pa te laat weet as iemand op pad is. Dan ry Domingo en sy span klippe en rotse aan, om die gapings tussen die busse en die heuwels aan die kant van die pad te vul. Dit neem hulle drie weke om dié taak te voltooi.

      * * *

      In die nag bring Domingo ongesiens nog tweehonderd R4-aanvalsgewere uit die berg uit, en genoeg ammunisie. Hy hervul die wapenstoor in die polisiestasie. En oor die daaropvolgende week kry almal in Amanzi kans om te leer skiet en hul talent ten toon te stel, mans en vroue, seuns en meisies, enigiemand ouer as tien jaar.

      Dié wat op ekspedisies uit is, kry ook hul beurt wanneer hulle terugkom.

      Domingo rig ’n skietbaan in by die tamaai ou klipgroef naby die damwal. Hy gee vir elke groep van tien skuts ’n uur se basiese opleiding in wapenhantering en wapenveiligheid. Dan laat hy hulle skiet. Wanneer almal redelik bedrewe is, toets hy ons: Elkeen moet vir hulself vyf klippe, min of meer so groot soos ’n baksteen, op vyftig meter pak en dit met vyf koeëls deur ’n oop visier probeer tref. So skei hy die koring van die kaf.

      Ek kry my kans eers heelwat later. Ek word aangevuur deur ’n vrees vir vernedering, want ek het ’n bietjie spogtend vir die ander seuns vertel ek kán skiet. En ek is gemotiveer deur my begeerte om vir Domingo te beïndruk.

      Ek skiet al vyf my klippe flenters.

      Die volgende slag skiet ek teen al die ander vyfklip-finaliste – twaalf van ons. Dié keer moet ons oor honderd meter raakskiet. Ek dring deur, saam met ses ander, na die uitdun op honderd-en-vyftig meter. Steeds ses. Op tweehonderd is die klippe amper te klein om te sien. Net drie van ons dring deur. Die ander twee is ouer as twintig jaar. Ek sukkel om my trots weg te steek. Ek kyk kort-kort na Pa, maar hy lyk kwaad. Hy staan arms gevou vir my en kyk. Ek verstaan nie waarom nie.

      Domingo loop na sy Jeep toe – dieselfde een waarmee die twee oorspronklike Vanderkloof-inwoners gery het. Hy haal drie ander gewere uit, gee vir ons elkeen een. Hulle het teleskope op. “Dis die DM-variant van die R4. DM staan vir ‘dedicated marksman’, dit is skerpskutter-gewere

Скачать книгу