Скачать книгу

het gisteraand ’n wonderlike sin van Thomas Merton in een van sy dagboeke gelees. “If you want to identify me, ask me not where I live, or what I like to eat, or how I comb my hair, but ask me what I am living for, in detail, and ask me what I think is keeping me from living fully for the thing I want to live for.”

      Terwyl ek die woorde gelees het, het ek onthou van die ander sin wat ek in De Gruchy se boek onderstreep het: “For the purpose of Christian faith is not to make us religious, but to make us more truly human.”

      Jimmel, dit is roerend. “Not religious, more human.”

      Waarmee hou ons ons besig? “Religiosities.”

      Ek wonder hoeveel regte egte mense ken ek? Mense wat eg broos is? Want is dit nie maar wat menswees is nie …

detail.jpg

      Gister was ’n slegte dag. Ek probeer so hard om “gesentreer” te leef, maar dan gebeur iets en raak ek sommer van balans af. Genade, hoe lank moet mens iets in-oefen voordat dit ’n gewoonte word? Ek moet myself oor en oor herinner, my wysheid is nie iemand anders s’n nie. As iemand nie die groter prentjie kan snap nie, dan is die persoon nog net nie gereed daarvoor nie.

      “----” (’n vrouenaam) was gister by my in die spreekkamer. Hoe de ongeluk kan sy haarself so bluf? En dan haar eie leuens glo? Dit is niks anders as iemand wat so toneelspeel dat sy later die rol as haar enigste script ken nie. (Ek is weer terug by Brueggemann.)

      Hoekom mag niemand weet dat ons worstel en sukkel nie? Daar is goed wat ons eerder ontken as om dit onder die kombers te laat uitkom; ons sal nie praat oor iemand in die familie se alkoholprobleme nie; ons praat nie oor ’n kind se dwelmafhanklikheid nie. Ná die tyd sal mense sê: “Maar dit was so ’n ideale gesinnetjie …”

      Dit is dalk hoekom Olivier Clement se sin vir my so belangrik is: “Much more serious is the state of death we are in even while we are alive.”

      Ons is konstant besig met pogings om te verbeter, of skuldig te voel omdat ons dit nie doen nie. “Voluit leef” is vir ons “méér doen”. Jy raak benoud oor jou “lysie van 50 moet-doens-voor-ek-doodgaan” waarby jy nie gaan uitkom nie.

      Dit is nie wat “voluit menswees” beteken nie. Beslis nie méér en nóg nie. Dit is nie nóg goed wat moet bykom op jou vurk nie.

detail.jpg

      Ek moet onthou om vir my Martha Beck se boek te koop. In De Gruchy se boek het hy daarna verwys. Klink fassinerend. Expecting Adam. De Gruchy skryf oor die vrou, Martha, wat ’n Downsie kry:

      I have discovered that many of the things I thought were priceless are as cheap costume jewelry, and much of what I labelled worthless was, all the time, filled with the kind of beauty that directly nourishes my soul. Now I think that the vast majority of us “normal” people spend our lives trashing our treasures and treasuring our trash.

      Om werklik jou lewe te omhels, is om die Gees toe te laat om die oëverblindery te ontmasker. ’n Voller lewe is in die totaal onverwagte te vinde: nie “harder” leef nie, wel mensliker. Nie selfgerig leef nie, inteendeel, wel vrygewiger met jou menswees.

      Ons is geskep. Ons het onsself nie beplan nie. De Gruchy beskryf dit so mooi: Daar is nie ’n ideale mens nie, daar is net regte mense soos onsself, daardie mense saam met wie ons leef en werk en hulle wat ons op die sypaadjies ontmoet.

      Die laaste ruk begin ek besef wat Brueggemann bedoel het met die taak van die kerk (of eerder geloofsgemeenskappe, want dit is meer as die kerk. Dit sluit eintlik die taak van alle godsdienste in). Ons moet mense help (veral in ons land) om eerlik(er) te leef. Ons moet ruimtes skep waar dit oukei is om nie voor te gee nie. Ons moet ruimtes skep waar dit oukei is om broos en gebroke te wees. (Wie is nie?) Die alternatiewe storie het met hoop te maak. Eerlike, egte mensheid is hoopvol, juis omdat ons nie volmaak is nie. “Eg mens” beteken om altyd met deernis te leef – juis omdat ons ons gebrokenheid in ag neem. Is dit nie Plato wat ons juis herinner om sag met alle mense te wees nie, juis omdat daar geen mens is wat nie ’n swaar vrag op sy skouers dra nie. Hoopvol en vol deernis. Dit is die kenmerk van ’n mensch. Dit is sulke mense, eg, wat weet …

      nie perfek nie … maar eerlik

      nie perfek nie … maar worstelend

      nie perfek nie … wel soekend

      nie perfek nie … maar vergewensgesind

      nie perfek nie … maar twyfelend gelowig

      nie perfek nie … maar voluit mens-hoopvol.

      Vir jou eie nadenke …

      Ek is baie bewus daarvan dat hierdie hoofstuk “dig” geskryf is, met ander woorde, ’n klomp inligting, kompak en teenaan mekaar. Ek wil jou aanmoedig om die “digtheid” te “ontrafel”. As jy dus paragraaf vir paragraaf, weer van voor af sou deurlees, wat is die sinne wat jy dalk die eerste keer onderstreep het? (Dit is nou as jou boeke, soos myne, amper soos studieboeke lyk.) Waarom het jy dit onderstreep? Waarom het jy ander gedagtes nié onderstreep nie? Dit wat ons uitlaat is soms meer insiggewend as dit wat ons raaksien. Watter notas het jy in die kantlyn gemaak? Waarom? Wat praat met jou? Wat nie?

      Wat gaan in jou lewe aan dat jy hierdie boek, nóú, in hierdie periode van jou lewe, lees? Hou deurentyd een vraag in gedagte: Hoe verskil dit om te lees as jy met die bril van ’n “verbruiker” lees of met die bril van ’n “verdieper”?

detail.jpg

      Is jy een van die mense wat voel dat “daar tog méér moet wees aan die lewe as dít”? Wat is jou “dit”? Vergeet eers die “meer”. Raak net eers bewus van jou “dit”.

detail.jpg

      Wat is die een besluit, na aanleiding van hierdie hoofstuk, waaraan jy jouself aanspreeklik wil hou? Wie gaan jy daarmee help? Wanneer gaan jy jouself toets om te kyk of jou besluit in jou lewenspatroon ingegraveer is?

detail.jpg

      Sou jy dit kon regkry om ’n hele maand lank, daagliks, die gebed van Rabi’a al-Adawiya jou gebed te maak?

      God, as ek U liefhet uit vrees vir die hel, laat ek dan brand in die hel.

      As ek U liefhet uit hoop op die Paradys, weerhou dan die Paradys van my;

      maar as ek liefhet ter wille van U Self, weerhou dan tog nie u ewige skoonheid van my nie.

      Word bewus van dit wat jy bid. Elkeen van hierdie sinne hou die “geheim” in van ’n lewe van intimiteit met en voor God. Wat gebeur met jou as jy God vertrou om hierdie gebed in jou lewe te antwoord? Wat vra jy as jy dit bid? Wat is jy bereid om te laat staan as jy dit bid? Wat wil God van jou hê as jy ernstig is oor hierdie gebed? Wat wil God vir jou gee as jy hierdie gebed uitleef?

Скачать книгу