ТОП просматриваемых книг сайта:
Woestynwysheid. Ronell Bezuidenhout
Читать онлайн.Название Woestynwysheid
Год выпуска 0
isbn 9780796318213
Автор произведения Ronell Bezuidenhout
Жанр Религия: прочее
Издательство Ingram
’n Chronos-samelewing vergeet dat daar ook ’n ander manier is om tyd te beleef: kairos-tyd. Kairos is die nóú-tyd. Die tyd van geleenthede. Dit is die tyd vir mense wat met oop oë leef. Hier waar ek op hierdie oomblik is, is die beste geleentheid vir my, want ek is nie nou op ’n ander plek nie. Maklik gesê. As dit ’n lekker plek is waar jy is, dan is nóú nie sleg nie. Maar as jy slegte nuus gekry het? As jy alles wil doen om die nóú net ’n bietjie vorentoe te kry?
Tog, ja, kairos vra van jou om dit as die oomblik van jou lewe te beskou, want dit is nóú! En die nóú is reg. Kairos-mense hou nie nóú konstant die tyd dop omdat ons nóú-nóú weer op ’n ander plek moet wees nie. Kairos-tyd is ’n ontmoetingstyd, waar elke oomblik afhanklik is van al my sintuie, sodat ek die kairos-oomblik nie deur my vingers laat glip nie, want hierdie kairos-oomblik sal nooit herhaal kan word nie. Dit is altyd eenmalig. Dit is nie dat kairos-tyd nie chronos-tyd nodig het nie. Dit is eintlik dat chronos-verslaafdes vergeet dat hulle binne kairos-tyd leef. Chronos raak ’n afgod as kairos se stem stilgemaak word. Chronos eis: “Staan op aandag.” Kairos nooi uit: “Kom sit langs my.” Kairos bied ’n verhouding aan. Nie net met mense, of myself, of die omgewing nie, maar veral met die oomblik waarin ek leef.
Dit is nie óf die een óf die ander nie, ons weet dit. Chronos is nie ons vyand nie, want ons leef buitendien in die ritmes van elke dag se son wat opkom en saans se skemering. Chronos-tyd is nodig, want ja, ons het gaste vir aandete genooi en ons wil darem graag aan tafel aansit, met die kos betyds gaar voordat die gaste weer moet ry. ’n Kairos-gesindheid is nie ’n ontvlugting dat ons nie ons verantwoordelikhede moet nakom nie. Die probleem is dat ons leef asof ons nie albei nodig het nie! En juis dit is wat ek en soveel ander terapeute elke dag in spreekkamers sien: mense, tot die dood toe moeg. Nie net ’n lyfmoegheid nie, veral ’n sielsmoegheid. Omdat die siel onversorg is. Omdat die oog net die paadjie na Chronos se wysers ken.
… want iets is fout!
Boek ná boek haal ek uit my boekrak om net dieselfde tema te sien: skrywers wat nadink oor “ons probleem”. Iets is fout. Ons kan met meesterlike vernuf die fynste en ingewikkeldste tegnologiese kunswerke voortbring, maar dit lyk asof min mense dit regkry om die “kuns om te leef” te bemeester. Was dit nie juis die bekende Viëtnamese vlugteling, Tich Nhat Hanh, wat op ’n dag gevra het: “Hoekom sal ons treë op die maan wil gee as ons nie eers hier op aarde met mekaar kan saamstap nie?”
Wat ’n verstommende realiteit: Hoe slimmer ons raak, hoe “vlakker” word ons. Dennis Okholm skryf in sy Monk Habits for Everyday People: “In baie opsigte leef ons oppervlakkige lewens, ons laat ons deur glinstermense vermaak, jaag beuselagtighede na en is bloot verbruikers van produkte. ’n Diepgewortelde geestelike lewe word deur baie begeer, maar die belewenis daarvan ontglip net soveel.”
Iets is beslis fout.
Nog ’n skrywer, Tony Jones, haal in sy boek The Sacred Way ’n vriend se blog-inskrywing aan, wat ek nou sommer vry vertaal: “Ons tegnologies-gedrewe wêreld laat ons die god van besigwees en ‘baie-doen’ verafgod. Ons kla, maar tog kan ons nie daarsonder nie. Ons het, om die waarheid te sê, slawe van onsself geword.”
Ek sien dit in myself en in baie ander se lewe: Ons verwar “besige” lewens met “betekenisvolle” lewens. Ons weet nie hoe om ons sielshongerte te versadig nie, daarom verdoof ons die sug met allerhande kunsmatige afleidings. Wie het gesê dat dit ons nie baat om die stoele op die Titanic se dek rond te skuif as die skip besig is om te sink nie? In plaas daarvan dat ons ons diepste behoeftes vervul, laai ons ons vurk net nog voller. En raak ons nog meer uit balans.
Dan ís iets mos beslis fout.
In die heel laaste boek wat die bekende Thomas Merton voor sy dood geskryf het, The Inner Experience, begin hy sy eerste hoofstuk met ’n donker prentjie van hoe hy die lewe rondom hom waarneem. Terloops, as hy dit in die vroeg 1960’s gesien het, wonder ek wat sou hy 50 jaar later hieroor te skryf gehad het? Oral, so skryf hy, sien hy mense wat net “gelukkig” wil wees. Hulle is bereid om enige raad tot geluk soos soetkoek te verslind. Met so ’n sprinkel van populêre sielkundige selfhelp hier en darem ’n betaamlike hoeveelheid godsdienstigheid daar – in die 1960’s, dit het intussen verander … – probeer mense die leegheid van die lewe van hulle af weghou. In die proses bly mense vreemdelinge vir hulself. Hulle troos hulself met ’n “vals identiteit”. Hulle raak so gewoond aan hierdie valsheid, dat dit later vir mense die enigste bekende identiteit is, skryf Merton.
Dit is tog nie hoe mense bedoel is om te leef nie?
Daar is ’n ander manier
In 1964 het Bob Dylan ’n lied geskryf met die naam “The times, they are a-changin’ ”. ’n Lied waarin hy oor rassisme, armoede en die noodsaaklikheid van sosiale verandering in Amerika sing:
Come gather ’round people / wherever you roam /
and admit that the waters around you have grown
/ and accept it that soon / you’ll be drenched to
the bone / if your time to you / is worth savin’
/ then you better start swimmin’ / or you’ll sink
like a stone / for the times they are a-changin’.
’n Lied van protes
Dinge kan nie meer dieselfde bly nie.
’n Proteslied is altyd gekoppel aan ’n beweging wat kritiek lewer teen ’n sekere sosiale situasie van onreg. Die doelwit van die protesteerder is om die samelewing wakker te laat skrik. Al singend roep kunstenaars dit oor mikrofone uit: “So kan dit nie aanhou nie.”
Elke era bied sy eie stemme wat protes aanteken teen wat verkeerd gaan in daardie samelewing. Of dit die negro-spirituals is waar slawe mekaar singend bemoedig (en die slawe-eienaars uitdaag) met die herinnering dat God nooit van hulle kan vergeet nie, dat God hul eksodus uit hierdie slawerny sal bewerkstellig; en of dit rock-musikante is wat sing oor menseregte-skendings as gevolg van rassisme, protes teen die oorlog in Viëtnam of jare later in Irak of Afganistan; of protes teen die vaders van apartheid uit die monde van ons eie alternatiewe Afrikaanse proteskunstenaars soos in die 1980’s in Suid-Afrika sing, sing ons ons liedere om te sê: The times they are a-changin’!
Een ding glo ek: Wat verkeerd is, kan nooit vir ewig verkeerd bly nie. Die lewe het in haarself ingebed hierdie basiese leefbeginsel: Wat verkeerd is, word nooit permanent onder die mat ingevee nie. Het Paulus nie ook so iets gesê nie? Daardie sinnetjie van alles sal in die lig geopenbaar word? Jy kan byvoorbeeld dink dat jy met toe oë verby die nood van ander kan kyk, maar die een of ander tyd dwing die lewe jou om jou oë oop te maak. En as dit die nood van jou eie honger siel is, dan sal daar weldra opstand vanuit jou binneste kom, al is dit in die vorm van ’n siekte. Ek herinner weer aan wat Thomas Moore sê: Jy kan maar begin rondkrap in al jou ander obsessies, verslawings, aggressies … jou siel se protes word nie so maklik onderdruk nie. Uitkom sal dit uitkom, hoe krom en skeef, of in watter patologie dan ook al. Die vraag natuurlik is of jy die siel se protestaal sal kan interpreteer? Soos menige mens wat in spreekkamers beland jou sal kan sê, as jy dit nie reeds self al ervaar het nie, die siel praat nie so duidelik Afrikaans nie. Hoe minder ons aandag aan die siel se sugte gegee het, hoe minder sal ons in voeling wees met die oorspronklike “moedertaal” van ons binneste, die taal van ons siel.
As dit waar is van die individu, is dit waar van die samelewing. Ook die samelewing se siel roep uit: “Dit kan nie so aanhou nie!”
Twee stories
Die Amerikaanse teoloog Walter Brueggemann help ons baie as hy verduidelik dat daar in die samelewing twee kragte is wat teen mekaar werk.2 ’n Mens sou dit ook twee stories kon noem. Aan die een kant is daar ’n “lekkerluister-storie”.