Скачать книгу

moontlike storie kan wees. Hierdie “blitsverkoper” vertel dat ons net die beste verdien, daarom is dit heel in orde as ek dit wat ek laas jaar gekoop het hierdie jaar vervang (want wie wil darem nie “goeie nuus” glo dat hulle net die beste verdien nie?). Die storie vertel vir ons wie ons rolmodelle moet wees; blaai maar na die agterste bladsye van gesinstydskrifte: Daar kry jy hulle wat suksesvol, dinamies, ryk en daarom bekend is. Dit is selfs ’n storie waarin mense vir mekaar vertel aan wie se kant God is (en wie dus God se vyande is, want óns vyande word gewoonlik ook God s’n …). As God aan jou kant is, sal jy (om die grillerige uitdrukking te gebruik) “uit jou sokkies geseën” word. Belowe God dan nie immers, so herinner ons mekaar, om “die grondgebied uit te brei” van “sy volk” nie? Selfverryking het altyd so ’n lekker soet smakie. Solank ons veilig voel – en die leiers van die dag vir ons die “regte” antwoorde gee, sodat ons tog net vannag rustig kan slaap en nie byvoorbeeld oor nasionalisering van goudmyne hoef wakker te lê nie – dan is daar mos g’n rede om ontevrede te wees met hierdie slapbandstorie nie.

      Hierdie storie is die storie waarbinne die meeste Westerse, moderne mense leef. Want, ja, die meeste Westerse mense glo steeds in God, so wys die navorsers vir ons. Hoe meer ons gesekulariseerd raak, hoe meer verkies ons net ’n ander “naam”: “Groter Realiteit”; “Krag”; “Energie”. Dit moet ál meer ’n G/god word wat natuurlik by ons gesekulariseerde leefstyl pas. Dit is selfs die storie wat in baie kerke vertel word: God kies kant, óns s’n natuurlik. God wil hê dit moet met ons goed gaan, ons is immers “koningskinders”. “Ons Pa is die Koning”, sing ons lustig saam met die kleuters. Omdat die storie so baie vertel word, begin ons ons lewe volgens die beginsels van dié storie leef.

      Maar daar is ’n ander storie ook.

      Ons hoor hierdie storie nie so gereeld nie. Dit is nie ’n storie wat so lekker oorvertel word soos die ander meer gewilde een nie. Ook nie ’n storie waarna ’n mens so aandagtig kan luister soos die een wat vertel van sukses en skoonheid en voorspoed en seëninge nie. As jy in ’n mooi huis bly, ’n vol klerekas het, gemaklik jou seevakansie elke jaar hou, dan klink ’n storie wat jou uitnooi om so bietjie aan die “ander kant van die draad” te gaan loer nie na ’n #1 op die trefferlys nie.

      Hierdie storie, die meer kritiese storie, herinner jou – sonder ophou – aan die mense wat dit nie so gemaklik as jy het nie, wat nie aan hierdie kant van die snelweg bly nie. Hierdie storie herinner jou gereeld aan hulle wat anders as jy dink en klink. Hulle laat jou ongemaklik voel. Hulle laat jou skuldig voel, vanselfsprekend, want daar aan daardie kant van die hoofpad waar hulle bly, lyk dit allermins mooi en suksesvol. Hierdie minder gewilde storie gaan nie oor beter en meer nie, inteendeel, dit gaan oor broosheid en deernis. Dit gaan nie oor sterker nie, dit gaan oor dieper. Dit gaan nie oor sekuriteit nie, dit gaan oor weerloosheid. Dit gaan nie oor selfverryking nie, dit gaan oor medemenslikheid. Menswees. Hierdie storie se punch line wil min mense regtig glo: Die Outeur van die storie het nie bedoel dat daar twee verskillende wêrelde, die wêreld van die haves en die have nots, moet wees nie. Wat hierdie storie nog slegter maak, is dat as jy eenmaal die storie gehoor het, dan verwag die Outeur van jou om krities te wees teenoor die meer gewilde een. Nou moet jy die draer van ’n ongewilde storie word!

      Vir niemand is dit lekker nie! Wie wil nou ongewild wees? Immers weet ’n mens wat met Jesus gebeur het toe Hy ’n nuwe koninkryk as alternatief teen die Romeine s’n kom probeer vestig het …

      Dit is wat gebeur as ’n mens in kontak met jou siel kom. Sielsmense sien deur die misleidings van die gewilde stories. Hulle begin ál meer ontdek hoe die meerderheid mense geblinddoek deur die lewe gaan. En dít is sielsmense wat sag begin neurie, selfs hardop sing, the times they are a-changin’.

      ’n Nuwe ontwaking

      Die 21ste eeu is sekerlik een van die opwindendste tye ooit, só vertel die mense wat met hul hand oor hul oë die horison dophou. Ons wat so maklik krities is oor die tyd waarin ons leef, moet dalk heel nuut oor onsself begin dink. Eintlik is dit ’n hoogtepunttyd. Die nuutheid begin in óns leeftyd aanbreek.

      Dit is nie die eerste keer dat so iets nuuts gebeur nie, maar dit is ook nie asof dit elke nou en dan gebeur nie. Daar is ’n teorie wat meen dat dit min of meer drie millennia gelede is dat daar vir die eerste keer so iets opwindends veranderend met die mensdom gebeur het: in die jare 800 – 200 v.C. Gedurende daardie tydperk, so verduidelik die godsdienshistorici, was daar vir die eerste keer sprake van georganiseerde godsdienste wat wêreldwyd vorm aangeneem het: die Zoroastrianisme in Persië, Vediese Hindoeïsme, Boeddhisme en die Jaïnisme in Indië. Dit was die tydperk waarin ’n handvol prominente mense met hul absoluut unieke manier van dink die leefstyl van mense heeltemal verander het. Dit sluit onder andere ’n paar Joodse profete in, veral Jesaja, Amos en Jeremia. Dit is ook in daardie tyd dat die grootste Griekse filosowe, met Sokrates, Plato en Aristoteles op die voorgrond, in Europa die wêreld op ’n spesifieke nuwe manier begin bedink het. Aan die ander kant van die bekende wêreld tree ’n ander klomp filosowe uit ander kulture na vore, byvoorbeeld die Chinese filosofiese reuse Lao-Tzu, Confucius en Mencius. Dit is nie noodwendig name wat in die algemeen aan ons bekend is nie. Die punt is dat daar in hierdie periode van die mensdom se bestaan (800 – 200 v.C.) “iets” gebeur het wat mense heeltemal anders oor menswees laat begin dink het. Dit was ’n draaipunt.

      Voor daardie periode was die mensdom mitiese, ritualistiese stamme, wat net op ’n (kollektiewe) manier oor menswees kon dink. En toe kom daar die eerste ontwaking: Mense begin op ’n nuwe morele manier oor die lewe dink. Hulle begin op ’n spesifieke manier oor God dink. God wat selfs groter as die natuur is. Skeppergod. Hulle begin nuut dink oor wat heilig is. Oor wat goed is. Oor hoe om te leef. Oor wat die mens se posisie in die skepping is.

      Onthou darem ook dat nie alles van daardie tydperk noodwendig goed was nie. Dit was ook die begin van die tydperk waar mense dualisties oor die lewe begin dink het, met ander woorde hulle het ’n onderskeid begin maak tussen die aarde en die hemel, tussen liggaam en siel, tussen wat hulle as goddelik en menslik beskou het, en tussen die enkeling en die groep.

      Soos wat die eeue voortgegaan het, het die fokus mettertyd weg van die groep na die individu toe verskuif. Waar die groep, byvoorbeeld die kerk, aanvanklik bepaal het wat mense kon dink, het die geloof in die individu langsamerhand die geloof in en van die groep onttroon. Ál meer mense het begin protesteer dat daar aan hulle voorgeskryf word terwyl hulle van mening was dat hulle mos vir hulself kan dink. Toe was dit nie meer die God-van-die-kerk nie, maar die God-van-die-wetenskap wat aanbid word. Of dalk moet ’n mens dit eerder beskryf as “Die wetenskap as God”. Mense het ál hoe meer gefokus op dit wat hulle kon sien. Dit het vanselfsprekend geword om te redeneer dat, as God nie gesien kan word nie, geloof nie moontlik is nie. Ál meer mense het begin protesteer teen enigiets wat met geloof te make het, want, het hulle geredeneer, is dit nie uiters subjektief en daarom nie bestudeerbaar nie? Gevolglik het godsdiens ál meer ’n “privaat” saak geword, want dit pas nie in ’n sekulêre, dominant natuurwetenskaplike wêreld se verstaan van hulself nie. En, ja, godsdiens is selfs as gevaarlik vir die voortbestaan van die mensdom beskou. Hierby vind ’n mens aansluiting, want ons weet immers wat alles al “in die naam van geloof” gedoen is.

      Waar die ontstaan van godsdiens in die tydperk 800 – 200 v.C. die begin van iets nuuts vir die mensdom aangekondig het, so het daar toe weer iets nuuts gebeur. Toe was die fokus nie meer op formele godsdiens nie. “Spiritualiteit” het met die aanbreek van hierdie nuwe era die fokuspunt begin word. Godsdiens is iets waarop jy jou stempel kan plaas en sê “myne” en “hande tuis”. Met die formele godsdiens kan mense “reg” glo – en daarom ook “verkeerd” glo. Diegene wat verkeerd glo, kan selfs “verwerp” word.

      Spiritualiteit is

Скачать книгу