Скачать книгу

Ek neem aan die geleentheid is formeel?”

      “Aandpak, ja, asseblief. Waar kry ek jou?”

      “Ek word by jou adres afgelaai, dan gaan ons met jou motor. Anders kan ek jou by die première kry.”

      “Ek verkies om saam met jou daar aan te kom.”

      “Dan kry ek jou by die huis.”

      Hy loop in die hysbak in. Die verbinding word verbreek.

      Tristan kyk na die kennisgewings in die hysbak, merk nou eers die slim bewoording en besef dat hy deesdae weer vergeet om te kyk en raak te sien. Begging outside. Give me money or must I pretend to limp. Alles reg gespel en in goeie Engels.

      Hy glimlag effens vir die tekening van ’n man met ’n veelkleurige kombers oor sy kop. Pragtig.

      Toe hy twee jaar gelede die boonste verdieping van hierdie verlate gebou in die Johannesburgse middestad betrek het, het die meeste kantoorhuurders lankal gevlug of hul besighede het bankrot gespeel. Die nuwe eienaars het die gebou egter van die destydse Nigeriese dwelmbaronne, wat uit die land gevlug het, oorgeneem en dit restoureer. Dit was ’n lang en moeisame proses.

      Toe sy vriend Lance van die dwelmbaronne hoor, veral nadat Nigerië die sokkerwedstryd in Februarie gewen het, was sy kommentaar: “Vergeet Bafana-Bafana! Die Nigeriërs is eintlik ons land se tuisspan! Dit het seker vir hulle gevoel asof hulle in hul eie land gespeel het.”

      Gaandeweg het nuwe huurders teruggekeer na die gebou om weer hul besighede op die been te kry, al was dit drupsgewys. Boheemse kunstenaars wat ’n volledige verdieping as ’n ateljee gebruik, ’n New Yorkse ontwerper wat die negende verdieping as ’n modelagentskap ingerig het; ’n filmmaker wat die sewende en agtste verdiepings in produksie-ateljees omskep het. En die twaalfde verdieping is deur Chinese oorgeneem wat grimering daar vervaardig en bemark.

      Gelukkig is die negentiende verdieping, die een reg onder syne, nog onbeset behalwe vir ’n klomp winkelpoppe wat daar gestoor word.

      Eintlik grillerig, die klomp mannekyne nes mense wat in die gange en kamers gepak is. Laat hom dink aan hotel­kamers waarin hy soms oorslaap – dan verbeel hy hom hy voel nog die teenwoordigheid van die honderde siele wat voor hom in die bed geslaap het.

      Hy druk die knoppie waaronder PENTHOUSE staan op die boonste verdieping en die hysbak ruk weer. Dit moet net nie nou vassteek nie. Tristan maak die hysbak se deur oop en weer toe. Dit help dikwels.

      Lekker dakwoonstel. Dit is sý ruimte waarvan nie eers sy ma destyds geweet het nie. Waarheen hy niemand ooit bring nie – en beslis nie kliënte sedert hy homself sewe maande gelede begin uitverhuur het nie.

      Nadat hy drie jaar gelede uit sy ma se huis getrek het – hy het toe nog in die klerewinkel in Sandton gewerk – het hy genoeg geld verdien om meubels te koop, tot hy die ruimte uiteindelik leefbaar gemaak het. Sy ma wou natuurlik na sy “geheimsinnige blyplek” kom kyk. Hy het gesê dat hy in ’n kommune bly en dat sy nie van sy huismaats sou hou nie; as sy moes weet dat hy in die middestad bly, sou sy nooit geslaap het nie.

      “Ek is bang jy bly saam met dwelmslawe.”

      “Natuurlik nie, Ma!”

      Die hysbak beweeg opwaarts. Hy sien elke verdieping deur die venstertjie verbygly. Merk hoe die verdiepings verander en dié wat eers verlate was huurders gekry het.

      Tristan weet nie hoekom nie, maar hy voel elke keer onaardig in hierdie hysbak en is deurgaans bewus van die diep gat onder hom terwyl die hysbak opskuif.

      Met sy oë toe, herleef hy die aanval van kort tevore en vee die sweet van sy voorkop af. Probeer kalmeer. Plaas sy sonbril terug op sy gesig.

      Hy dink weer aan Mathilda Fourie. Aangesien sy ma haar van skooldae af geken het – hy was saam met haar seun Lance in die klas – het sy die ouer vrou aanvanklik vertrou, salig onbewus van hoe sy eintlik oor Tristan gevoel het. Dat sy hom met alle geweld wou besit.

      “Ek en jy gaan nog mooi musiek saam maak, prinsie,” het sy gesê toe hy by haar begin werk het en haar oë oor sy liggaam beweeg het. “Ek het die breins en die sakevernuf,” en terwyl haar vinger oor sy bors gespeel het, “en jy het die lyf, die sjarme. Dis ’n dodelike kombinasie.” En terwyl haar vinger strepies oor sy maag getrek het: “Ek dink nie jy besef hoe ’n stewige wapen jy hier het nie.” Toe ’n effense laggie en ’n soen teen sy nek wat net te lank geduur het. En elke keer die alwetende laggie, asof sy verwag dat hy die een of ander tyd gaan ingee.

      Hy het nooit.

      Die hysbak kom op die sesde verdieping tot stilstand, maar niemand klim in nie.

      Vyf dae gelede het die hel losgebars. Skakel mense hom aanhoudend. Het selfs die pers hom gebel oor die konsternasie wat die advertensie veroorsaak het. En van sy voormalige kliënte wat gesoebat het dat hulle hom weer wil sien.

      Die geld vir die modelwerk was aanloklik en sou hom kon help om sy skuld af te betaal en nog meer onafhanklik te raak.

      Maar hy het die krag van die sensasiebeluste pers onderskat. Dit was Lance wat hom gebel het toe die bom bars. “Jis, pella. Jy moes dit verwag het. Die tydskrifmark is so oorvol op die oomblik dat elkeen probeer om nuwe stories te kry. En hierdie een bied weer op ’n nuwe voorblad twee dae lank daardie goue vierletterwoordjie ‘seks’ groot in die opskrif. Jy moes dit verwag het.”

      Lance, wat onbewus is van hoe hy eintlik sy geld verdien.

      Die hysbak begin weer beweeg. Op en op en op terwyl hy nog steeds probeer om sy asemhaling te beheer.

      Dit kom skielik op die veertiende verdieping tot stilstand en die twee bleeksiel-eienaars van ’n rekenaarfirma loop in. Hulle groet hom, maar Tristan het nie vandag lus om te gesels nie.

      “Whoa. Daai brille kos seker meer as ons hele toetie,” beduie die een met die gejelde hare met ’n kopknik na die veertiende verdieping toe die hysbakdeur toegaan. Hulle staan ook te naby aan hom.

      “Dit dien sy doel,” antwoord Tristan, maar sê niks verder nie. Die twee kyk na mekaar en die een pomp die ander in die ribbes.

      “Seker sodat jy nie deur jou fans herken word nie. Ek bedoel soos in wow-flippen-wow, dude!”

      Tristan lig sy skouers en hoop die gesprek is verby.

      Die een mannetjie dra ’n kortbroek wat net bokant sy knieë ophou en ’n paar onooglike, harige bene ten toon stel. Die ander dra ’n stywe bruin broek wat sy boepie oorbeklemtoon. Hy het ’n slegte vel en ruik na puisieroom.

      “Moerse drama met die ads,” probeer die jongetjie weer.

      “Oorreaksie wat my betref.”

      “Ons hoor jy is honderd-en-vyftigduisend daarvoor betaal. Ek sweer ek sal my volmaan vir veel minder wys. Maar dan het ek nie dieselfde,” hy lag, “vital statistics nie.” Hy grinnik weer. “So, jy is seker nou gemaak, package en al. Agentskappe staan seker tou met oop tjekboeke, hú?”

      Die hysbak stop gelukkig op die agttiende verdieping en die twee loop uit. Teen die muur voor hulle blink die embleem van ’n maatskappy wat eksotiese kopdoeke maak. ’n Vrou met wilde hare loer om die hoek, sien Tristan, lag oopmond en gooi haar arms oop vir die twee bleeksiele.

      “Howzit, sweeties! Come to Mama!” Sy knik in Tristan se rigting. “And you can service my lawnmower anytime, brother!”

      Die mannetjies verdwyn laggend in ’n bol daggarook. Tristan pluk die deur toe en voel hoe die hysbak effens ruk toe dit weer in beweging kom.

      Hy onthou sy eerste gesprek met Mathilda destyds, die beloftes dat hy die beste hoofverkoopsman in die stad gaan word. Die gedurige flirtasies, die geskenke, die dubbelsinnige aanmerkings, die lofsange nadat hy die een motor na die ander verkoop het, die knype aan sy boud, die hand wat kort-kort oor sy mik gespeel het. Die uitnodigings na eksotiese naweke op plekke wat hy nooit aanvaar het nie. Sy het selfs aangebied om hom vir ’n week Martinique toe te neem en vir alles te betaal. Sy ma was elke slag sy verskoning. “My ma sal nie daarvan hou nie.”

Скачать книгу