Скачать книгу

makulu, boss. Hey hey! Siyabonga!” Sy trollie staan eenkant vol komberse, kartondose en metaal wat hy iewers opgetel het. En op ’n skewe bordjie: Fineas’s Taxi Cab.

      Tristan pons die kode in en die sekuriteitsdeur swaai oop. Dit is sy goeie vriend Lance wat hom destyds van hierdie gebou vertel het, toe hy na sy terugkeer van oorsee af gekla het dat hy nie langer by sy ma wil bly nie en hy onafhanklik wil wees. Hy het na verskeie woonstelle en duplekse in die noordelike voorstede gaan kyk, maar het elke keer daar­teen besluit.

      Toe hy hoor dat sommige geboue in die Johannesburgse middestad nuwe lewe kry en opgetert word (Lance se woord), het hy kom kyk na hierdie een in Commissionerstraat, waarheen al hoe meer besighede teruggekeer het. Die ruim dakwoonstel op die boonste verdieping met ’n uitsig op die stad het met hom gepraat, en dit teen vierduisend vyfhonderd rand per maand. Hy het dit onmiddellik geneem en was nog nooit spyt daaroor nie.

      Tristan stap in die voorportaal in. Van die gloeilampe moes geblaas het, want die vertrek is nie so goed verlig soos gewoonlik nie. Hy sal die nuwe eienaars in kennis moet stel.

      ’n Beweging aan sy linkerkant.

      Tristan draai sy kop. Iets beweeg. Iemand verskyn voor hom. Instinktief val hy plat. ’n Vloeistof word in sy rigting gegooi, maar trek skadeloos verby en tref ’n muur. Die verf begin smelt. Suur! Iemand het suur in sy gesig probeer gooi.

      Hy rol om, spring orent, pluk sy sonbril af en gooi dit eenkant toe. Hy soek na die figuur. Iemand buk voor hom en tref hom met die kop in sy maag. Tristan bring sy knie op en stamp die persoon in sy maag. Die man kreun en val agteroor, maar spring weer orent. Hy dra ’n klapmus. Net sy oë steek uit. Tristan tol om en skop hom in sy gesig dat hy vir ’n tweede keer agteroor val.

      ’n Gil. Die houer waarin die suur was, rol tot teen die muur. Sy aanvaller spring orent en storm op Tristan af. Dié slag is daar ’n mes in sy hand. Hy kap-kap daarmee na Tristan se gesig.

      Tristan swaai weer om en gee ’n karateskop, sodat die man vir die tweede keer teen die muur val. Maar hy is skynbaar gewoond aan baklei. Hy lê net vir ’n oomblik en spring dan weer orent. Hy buk en kap-kap met die mes. Toe storm hy weer op Tristan af en steek na hom, maar Tristan val plat. Die man struikel oor hom, val, spring weer op en mik met die mes na sy gesig.

      Dié slag skop Tristan hom onder sy kennebak. Dit het die gewenste uitwerking. Die mes spat opsy. Die man kreun, lê ’n oomblik duiselig, rol om, spring orent, skud sy kop en gryp weer die mes. Toe storm hy na die deur toe en stamp die groen Exit-knoppie hard met die palm van sy hand. Die deur klik oop en die aanvaller storm uit.

      “Jy gaan betaal, jou donnerse hoer! Ons gaan jou dood bliksem!” skreeu hy.

      Tristan staan ’n oomblik verdwaas. Toe volg hy die man.

      Hy is net betyds om hom te sien spring in ’n motor wat wegjaag. Die son is skielik skerp in sy oë sodat hy nie die nommerplaat kan eien nie.

      Verbygangers kyk verbaas na hom. Die bedelaar swaai om. ’n Taxi toet verwoed omdat die motor met sy aanvaller in voor hom ingesny het. Die bestuurder jaag oor ’n rooi verkeerslig – iets wat algemeen is in hierdie buurt – en verdwyn om die hoek.

      Tristan kyk om hom rond, die son steeds verblindend in sy oë, en sien gesigte wat saamsmelt en mense wat nuuskierig na hom staar. Sy hart klop in sy keel, sy asemhaling is vlak. Nou tref die skok hom eers behoorlik en besef hy wat amper gebeur het. Hy leun met sy arms teen die muur, kry sy asem terug.

      Hy vee die sweet van sy gesig af, wag tot die bewing in sy bene bedaar het en pons dan weer die kode by die deur in. Hy stap terug in die gebou in, elke sintuig gespanne en met kolle voor sy oë van die sonlig.

      Dit neem hom ’n ruk om aan die skemerte gewoond te raak. Hy tel sy sonbril op, gewaar die suurhouer wat eenkant lê en stap soontoe, dink dat daar vingerafdrukke op kan wees en wonder wat sou gebeur het as hy ’n sekonde later weggeduik het.

      Hy raak aan sy gesig asof hy wil seker maak dat hy nie seergekry het nie.

      Skielik is hy terug by Mathilda Fourie se kantoor nege maande gelede; die vrou wat hy vermoed die brein agter hierdie aanval is. Hy het nog by haar motorhandelaar gewerk. Toe het iemand hom vanuit die bosse in die tuin langs die handelaar bespring. Die persoon het hom voluit met die vuis in sy gesig geslaan en byna sy neus gebreek. “Dis wat ons met pretty boys doen!” het hy uitgeroep.

      En toe, dae later, die boodskap op sy selfoon vanaf ’n onbekende nommer: Hoer. Jou bakkies gaan spaghetti word.

      Hy was daarna meer op sy hoede as gewoonlik en het kort-kort groot mans gesien wat hom gevolg het of hom in die skaduwees ingewag het. Hy kon hulle gelukkig telkens betyds ontduik.

      En nadat hy by bedank het, Mathilda se oproepe, SMS’e, pleidooie en toe dreigemente. “Ek het jou gemaak, prinsie, onthou. Sonder my is jy niks.” En: “Kom terug na my toe. Jou lyf is myne. Moenie dat ek soebat nie.”

      Sy het hom later persoonlik begin volg. Gebel, hom gesoebat om terug te kom, erken dat sy hom liefhet en dat sy hom wil terughê. Maande lank dié teistering, maar hy het geen oproepe beantwoord nie, op geen SMS reageer nie, en die kere wat hy deur uitsmyters of ander ongure figure agtervolg is, het hy ompaaie gevolg tot hy hulle afgeskud het.

      Dit het erger geraak. Naamlose oproepe van private nommers af vol beledigings en vierletterwoorde en dreigemente. Weer iemand wat hom met ’n bofbalkolf probeer slaan het.

      En tussenin, vorige kliënte wat hom wil terughê: Jy kan my nie net een keer so laat kom het nie. Niks was daarna weer dieselfde nie. Ek soek jou. Asseblief, kom terug. Ek sal enigiets doen om jou terug te kry.

      Maar hy het selde twee keer by ’n vrou geslaap. Daar was te veel nuwes.

      En toe, skielik, twee maande gelede, hou Mathilda se SMS’e op. Geen kommunikasie meer nie – tot nou met hierdie aanval. Maar hy het baie vyande.

      Hy stem nooit in om by getroude vroue te slaap nie. Maak altyd eers seker dat hulle enkellopend of geskei is. Maar jaloerse oudminnaars kry soms sy spoor, of broers, of vriende. En mans in dieselfde bedryf as hy wat hom as ’n bedreiging sien.

      Tristan kyk rond. Die toonbank, waar daar soms ’n ontvangsdame sit, is verlate. En geen deurwag nie, ten spyte van die eienaars se beloftes.

      “Dis die middestad, vriend. Moenie Sandton City verwag nie.” Een van die huurders op ’n vergadering onlangs. Maar na wat pas hier gebeur het …

      Tristan kyk weer oor sy skouer. Hoe sou sy aanvaller die sekuriteitskode gekry het?

      Hy druk die hysbakknoppie en wag.

      Sy selfoon lui. Hy huiwer en antwoord dan.

      “Meneer Hansen?”

      “Tristan, asseblief.”

      “Dis professor Sophia Mouton hier. Ek het u nommer by ’n kollega gekry.”

      “Mag ek maar Sophia sê?”

      Hy hoor hoe die hysbak se kabels dreun soos dit van een van die boonste verdiepings begin afkom.

      “Natuurlik.” Sy praat asof sy gewoond is daaraan om opdragte te gee. “Ek soek ’n gesel om my na ’n première te vergesel. My vriendinne wat gewoonlik saamgaan, is nie beskikbaar nie. Ek sal egter graag vooraf wil gaan eet en gesels, en jy is skynbaar uitstekende geselskap. Ek soek niks meer nie.” En dan, amper as ’n nagedagtenis: “Ek mis werklik goeie, stimulerende geselskap, en Maryna – dis nou my vriendin – het saam met jou na die opening van ’n kunsgalery gegaan. Sy het jou sterk aanbeveel. En ek beklemtoon weer, ek soek niks meer as net geselskap nie. Is jy beskikbaar?”

      Die hysbak stop. “Dit hang af wanneer?”

      “Vrydagaand agtuur.”

      Hy dink. “Ja. Ek is beskikbaar. SMS asseblief u adres, dan verskaf ek my bankbesonderhede. Ek vra vierduisend rand. Dit moet vooraf in my rekening gedeponeer word.”

      “Ek maak so. Nou ja, dit was makliker as wat ek gedink het.”

      Hy

Скачать книгу