Скачать книгу

… ek het nie geweet ek …” ek sluk en vee die trane van my wange af, “. . . mag nie op jou grond wees nie.”

      Hy rig weer die geweer op my. Nou kyk. As jy dit in CSI sien, lyk dit koel. Ek het ’n pel wat altyd skreeu “Kadwaa!” of “Kill the motha!” as iemand ’n geweer lig om ’n gomgat te skiet op TV, maar as jy regtig in die loop van ’n geweer kyk, is dit nie so cool nie. Jy dink ook nie aan iets witty om te sê soos “Make my day, punk” of “Any last wishes, boyfriend?” nie. Jy staan net daar en hoop jy skyt nie in jou broek nie.

      “Die naam is Scrapjaart. Dis wat almal my hier noem, want ek versamel ou karre, dan verkoop ek hulle weer. Maar ek versamel ook rondlopers en verkwansel hulle vir scrap nadat ek hulle in ’n masjien saamgepers het. Jy moet weet, mannetjie, niemand, en ek bedoel niémand van Ratels mag hulle vuil voete op my grond sit nie. Kapiesj?”

      Daai kapiesj klink na iets uit ’n Martin Scorsese-movie. En ek dink: Scrapjaart lyk so dig, hy sal sy broek agterstevoor aantrek en dan twee blokke in die verkeerde rigting loop voor hy dit agter­kom.

      Ek sluk weer. Dis nou my geluk. Binne ’n halfuur nadat ek in die bosveld aangekom het, ontmoet ek ’n steroid-challenged dude wat te veel deodorant gebruik en ’n outoppie met meer grys hare as breins.

      Ek probeer glimlag, maar daai smile hou nie langer as ’n ka­meraflits op Britney Spears se gesig nie.

      Scrapjaart hou sy geweer op my gerig en ek sweer as hy nou die sneller trek, gaan hy ’n pad oopskiet deur my Bostik-kuifie. Dis wat my oom my kuif noem.

      Toe hy weer praat, klink hy nes Vincent. Sy stem is net ouer en harder. En heser. “Nou luister jy mooi vir my, Boetie-gaan-border-toe. Ratels gaan eendag myne wees. Ek het Stefan al ’n paar aanbie­dinge gemaak, want ek wil uitbrei, maar hy is te hardegat. Toe verbied ek hom en enigiemand van Ratels my grond. Maar weet net: Binnekort is Ratels myne, want julle is amper bankrot, seuna. En dan skop ek julle gatte verby die maan en terug van hierdie plaas af. Dra daardie boodskap aan die Rateliete oor.”

      Ek wil nog vir die vark sê ek skiem hy is totaal anaal, maar toe maak hy soos water op ’n warm dag en verdamp.

      Ek retireer en hol die bosse in.

      En skielik staan hulle voor my. Drie moewiese bokke met net sulke horings. Horings wat eintlik so gedraai is. Ek dink dis koe­does; ek onthou hulle uit die boeke wat ek altyd lees.

      Maar nou is dit die eerste keer dat ek regtig Kadwaa! binne-in die natuur is. Eintlik in die Avatar-bosse. (Dis net nie so blou nie.) En elke dier wat ek sien, elke beweging, is ’n HPH-oomblik. Ek vries. Die ou grote check my uit. Ek sê iets soos: “Ek sal nooit weer porn surf nie, ek belowe, solank hulle my net nie deurboor met daai horings nie!”

      Al drie bokke staan nou gevries. Die een se vel bewe. ’n Voëltjie kom sit op die grootste bok se rug en begin na iets soek. Hy skep-skep so ’n paar keer met sy horings en ek dink: Sherbet! Wat gaan ek doen as hy my nou storm? In een van die bome klim? Maar wat van my hoogtevrees? En net daar besef ek: Hoogtevrees of te not, as hulle my storm, klím ek!

      “Kwê-ê-ê-ê!” skreeu ’n voël hier bokant my in ’n tak en ek dink: Voertsek! Nou trek jy nog meer aandag! Maar die simpel ding hou aan met skreeu! “Kwê-ê-ê-ê!” Al wat leliker klink, is een van my ma se negentien-voertsek hits wat sy nog op vinyl het.

      Ek luister na die geluide om my. Sonbesies zrrrr aanmekaar. Ek weet nie hoekom ek nou daaraan dink nie, maar ons het in die aardrykskundeklas geleer hulle raas so as hulle hulle vlerkies teenmekaar vryf. Wat help daai inligting my nou? Plaas dat die onnie ons geleer het wat om te maak as drie moerse bokke met gedraaide horings jou in die bos wil bestorm!

      Die voël bokant my hou aan skreeu. Die grootste bok snork. Dis so ’n snaakse geluid wat teen my gesig vasslaan. Ek skrik my gat af. Weer die snork. Selfs die voël hier bokant my bly nou skielik stil en vlieg na ’n ander boom toe.

      “Nooit, nooit weer nie!” prewel ek nog steeds oor my porn-surf-ekspedisies.

      Die bok se vel tril weer asof hy hoendervleis kry en ek sien hoe die vlieë wegspat van sy vel af. Toe loop die voorste bok tussen die bosse in. Hy hou sy horings plat op sy rug asof hy nie wil hê dit moet in die takke haak nie.

      Die volgende oomblik is hulle weg.

      Ek kyk af na my broek. Ek het dit darem nie natgemaak nie. Maar dit was amper! As ek so oor drie bokke voel, hoe gaan ek nie voel as ek ’n leeu sien nie?

      Ek laat nie op my wag nie. Ek hol met die pad af soos ’n laser­straal in ’n WFI-game. Elke geluid, elke beweging is ’n nuwe re­ality check.

      Die sonbesies skreeu nog steeds en die voël wat kwê, volg my asof hy vir elke ongedierte in die bos wil sê: “Kom kyk! Hier’s mens­vleis!”

      “Suka wena! Voertsek!” skreeu ek en loop onder ’n boom deur wat sulke lang worse dra. Een neuk af en mis my net-net. En ek dag elke boom lyk dieselfde.

      Dis toe ek verby die groot kremetart met die boomhuis loop dat ’n missiel by my verbyblits dat die stof so staan.

      Ek skrik elke lyric wat ek nog ooit gehoor het weg. Ek hoop my ma het my lewe verseker, want binne ’n uur was daar drie aanslae op my aardse bestaan en ek dink glad nie meer dis cool om in die bosveld te wees nie. Dit smokkel met my kop!

      Ek sien ’n bruin ou. Jonk, met ’n moerse cool houding. Hy kom aangestap met sy skateboard onder sy arm.

      “Wens hulle het my aan die begin gesê hier’s nie ’n skateboard-baan nie. Nou kan ek net in die flippen kamp op die sementpaaie jol.”

      Ek sluk en probeer om nie bang te lyk nie.

      “Haai.” Hy het ’n hees stem en sy oë kyk baie stip. Hy dra sy pet agterstevoor en ’n T-shirt wat sê: My hormone werk fast & furiously. Vind uit hoekom.

      Ek wonder hoe ek nou lyk. Soos ’n outtake uit Zombieland.

      “Haai.” Ek probeer my stem normaal hou. Eerste indrukke is blywend, het ons in die skool geleer.

      “Wat’s los?” vra hy en vroetel aan sy skateboard.

      Baie dinge gaan deur my kop. “Vlieg onder die radar!” sê ons altyd vir mekaar. Moenie dat die onnies van jou bewus word nie. Moenie onnodig aandag trek nie. Dan weet hulle van jou en dan is jou lewe hel.

      Ek soek nog na my stem.

      “Hei, dude. Kan ander mense jou ook sien?” vra hy en krap deur sy kort hare. “Soos in, bestaan jy regtig of is jy ’n green screen image?”

      “Ek … check sommer … die bosse uit.”

      Hy kyk my aan asof ek ’n verkleurmannetjie in ’n Smartie-boks is. “Jy’s weird.”

      “Great! Dis ’n kompliment,” sê ek.

      Ons vuisstamp, maar hy is so sterk en ek is so vodde, ek val amper om.

      “Ek’s Jan-Lourens. En jy is …?”

      Ek weet sommer ek gaan van die ou hou. Soms kry ’n mens mos ’n gevoel hier in jou guts dat jy met iemand gaan pelle maak. En Jan-Lourens gee my daai gevoel.

      “Velskoen. Velskoen Ferreira.” Dit klink nes Bond. James Bond. En ek sê dit ook in so ’n Daniel Craig-stem.

      Jan-Lourens grinnik. “Watse dowwe naam is Velskoen?”

      Ek vertel weer die inry-storie en hy lag soos ’n drein wat skoon­gemaak word.

      “Cool, man. Cool.”

      “Wie’s jou favourite bands?” vra ek vinnig.

      “Ek is crazy oor Nicki Minaj.”

      “Jy weet dan!”

      “En Christina Aguilera.”

      “Ek like Taylor Swift en Adele en Foo Fighters en die Parlotones,” sê ek. “En Die Psigedeliese Toebroodjies.”

Скачать книгу