Скачать книгу

      Ek giggel. “Jy sal moerse snaaks lyk in drag as my ma.”

      Stupid grappie. Eew!

      Stefan grinnik. Hy draai in op die hoofpad en kies koers Kruger Wildtuin se kant toe.

      “Als het lelik verspoel met die groot vloed in Januarie,” beduie hy. “Ons was selfs weke lank sonder water op Ratels. Maar daar is darem boorgate, toe kon ek dinge gelukkig beheer.”

      Wmj text Theo.

      Saam met cool dude, text ek terug. Want Stefan lyk nou baie cooler as toe ek hom ontmoet het. Nie soos die onnies wat ek ken of ander oumense nie. Almal oor vyf-en-twintig is vir my oud. Hulle lyk partykeer soos jong dudes wat gerecycle is.

      “Hoe oud is jy?” vra ek.

      “Vyf-en-twintig. En jy?”

      Sjoe. Hy maak dit net …

      “Sewentien.” Ek wou sê agtien. Want dis wat ek gesê het toe ek Ryan Gosling se Drive wou gaan kyk en die vrou my ID gevra het. “Ek is agtien. Check maar. Ek het al harde baard,” het ek gesê en sommer my lang kakebeen uitgestoot sodat sy kan voel. Dis waar. Ek skeer al vandat ek twaalf is. Maar in die vakansie skeer ek nie. Dan hoor ek die girls praat van “daai ou met die designer stubble”. Ek hou van designer stubble, nes George Clooney s’n in sy flieks.

      “Soos jy teen dié tyd weet, Ratels is ’n somerskool. Die kursus duur vier weke. Julle gaan vier ouens en twee meisies wees. Ek gaan julle lewensvaardighede leer. En ons gaan elke dag in die na­tuur wees. Ons gaan stap.” Stefan grinnik toe ek frons en voeg vinnig by: “Hike, bru. En ons gaan bunjee. Ons gaan op die rivier ry. Ons gaan swem en ons gaan die hoofgebou herstel wat in die vloed beskadig is.”

      “Ek hoop nie ons gaan bergklim of abseil nie,” sê ek.

      “Natuurlik gaan julle. Hoekom?”

      “Want ek ly aan hoogtevrees,” sê ek. “Toe ek Mission Impossible 4: Ghost Protocol gekyk het, het ek die helfte van die movie gemis. Ek was skytbang.”

      “Hoogtevrees is in jou kop, Veldskoen.”

      “Velskoen!” help ek hom reg, maar hy gaan aan asof hy my nie hoor nie.

      “Ek gaan jou help om jou vrese te oorkom. En jy gaan lekker pelle maak met almal wat ingeskryf het.”

      “Wie gaan almal hier wees?” vra ek.

      So daar is twee girls, want ek soek seriously na ’n date. En in die bosse het die girls seker nie veel van ’n keuse nie, so ek gaan lekker connect!

      “Jy weet al van Vincent de Wahl …”

      “Wat kom maak hy hier?” vra ek terwyl Stefan afdraai op ’n grond­paadjie wat ons soos ’n cappuccino-maker laat skud en met ’n bordjie wat sê RATELS

      “Hy het probleme en …” praat Stefan dit vinniger weg as ’n poep in ’n Cinema Nouveau movie, “dan is daar Pauline Maguba­ne. Haar ma stuur haar omdat sy glo verveeld is by die huis.”

      “So sy het nie issues nie?”

      “Nie waarvan ek weet nie. Barbra Botha kom ook binnekort. Sy het sewe onderskeidings in graadelf gekry en sy wil glo kom rus. Ek verwag Jan-Lourens later vandag.”

      Klink na ’n koekerige klomp. Ek sal maar na Bruno Mars op my iPod luister en Verneukpan verder lees. Dis nogal ’n cool boek.

      Terwyl ons ry, beduie Stefan na die bome en die plante. “Dis kierieklappers. Hulle is volop hier.” Hy wys na links. “En daar’s ’n kremetart.

      “Ek het ’n boomhut in die groot kremetartboom op Ratels gebou, so julle kan daar uithang as julle wil.”

      Ek sien wit blomme met rooi strepe. Asof hy my gedagtes sight-read, sê hy: “Impalalelies. Maar dis meer boompies as lelies. Een van die taaiste vetplantagtige boompies in die veld.” Hy hou skielik stil en beduie ek moet stilsit.

      Sjoe, lekker instant natuurlessie met houding en in lekker Afri­kaans! Stefan sal maak dat ek beter Afrikaans begin praat. (En skryf!)

      Voor ons staan ’n renoster en haar kalfie. Flippen hel. Ek het hulle al dikwels op Discovery gesien en een keer op YouTube, dieselfde tyd as toe daai ou van die fiets afgespring is deur een of ander bok. Maar ek het hulle nog nooit in lewende lywe só naby gesien nie.

      Die renoster lyk soos ’n tenk – van dié wat in die oorlogmovies­ gebruik word. En sy het nog haar horing. Hulle stroop mos die renosters so in die wildtuin. Hier is sowaar nog een met haar ho­ring! Dis amper so skaars soos ou tienrandnote.

      “Dis ’n witrenoster,” beduie Stefan.

      Ek sien niks wits aan die renoster nie.

      “Kyk. Sy’t ’n opvallende breë, plat bek. Dis hoe jy hulle uitken.”

      Die kalfie kyk in ons rigting. Ek hoor skielik my ma in my ge­dagtes: “Haai moe-oeder. Is hy nie prrrag-tig nie?”

      Ek capture haar op my videokamera en zoem stadig in.

      “Hulle oë is baie swak, maar hulle kan goed ruik,” sê Stefan. “Ons het omtrent vyf van hulle hier op Ratels. Die wildbewaarders probeer hulle beskerm teen die stropers. En veral teen Scrapjaart.”

      “Wie is Scrapjaart as hy by die huis is?” vra ek. Daai naam klink omtrent so cool soos ’n pienk hoender in ’n tutu op ’n rugbypaartie.

      “My buurman. Oppas vir hom. Hy’s ’n teertou.”

      Sjoe. Lekker woord. Teertou! Die ou raak net al hoe cooler! Ek voel sommer dadelik meer gemaklik by hom, want grootmense probeer mos om nie voor ons te vloek nie. Maar draai jy jou rug, dan vloek hulle erger as ons.

      Ná omtrent vyf minute stap die renosters tydsaam oor die pad. Ek capture hulle steeds op my videokamera. Ek het nie geweet hulle is so mooi nie! Hierna capture ek vinnig vir Stefan op my selfoon en SMS dit vir Theo.

      Ddln text ek. (Dinosaur de luxe not!) En ek sit ’n smiley face agterna. Dis my en Theo se geheime kode as ons bedoel wat ons sê.

      Ons ry by twee groot hekke in waar ’n man met ’n boek aan­gestap kom waarin besoekers hulle name moet skryf. Ek moes een­dag inteken toe ek ’n papier by ’n kantoor in Randburg gaan afhaal het, toe skryf ek:

       Name: David Beckham

       Purpose of visit: To kick your balls

       Address: Heaven is my woman’s love

       ID number: 6666666666666

      Hulle het dit nie eens fllippenwil gecheck nie!

      Stefan praat met die hekwag in ’n taal wat ek nie verstaan nie en die man glimlag van oor tot oor – jy sien net tande.

      “How are you?” vra hy vir my, nes my ma, maar dié slag in Engels.

      “I’m fine,” antwoord ek en dink ek moet my ma tienkel. Toe sien ek Stefan frons en ek wonder: Is dit iets wat ek gesê het? Of dalk nié gesê het nie?

      “And how are you?” voeg ek haastig by.

      Die man glimlag breed. “Welcome to Ratels.” Hy ry so op die r. “I am fine.” En hy laat ons deur.

      Ek verwag Stefan gaan vir my preek, maar hy lyk nie na die prekerige tipe nie, waaroor ek dankbaar is.

      Toe is ons op Ratels.

      Ons ry verby die grootste boom wat ek nog ooit in my lewe ge­sien het. Dit lyk of hy onderstebo geplant is.

      “Dis ’n kremetart,” beduie Stefan. O ja, ek het al van hulle gehoor. En ek het al van hulle op foto’s en screensavers gesien, maar nog nooit regtig hier by my nie. Cowabanga! Daar ís ’n boomhuis in die kremetart gebou!

      Dan is dít die huis waarvan Stefan netnou

Скачать книгу