Скачать книгу

of ander eetmaal of onthaal, terwyl hy self noodgedwonge buite die gang van haar te vol en te besige lewe gelaat is, oorgelewer aan die sorg van duur kindermeisies en die mees eksklusiewe kosskole. Hulle kontak was toevallig, hul gesprekke oppervlak­kig, die geneentheid tussen hulle skaars meer as ’n formaliteit, maar hy het hierdie dinge altyd as vanselfsprekend aanvaar, sonder om daaroor na te dink. Nou toe hy omdraai in die roukar en na haar kyk in die middel van ’n sin, ’n woord, in die middel van die verhaal wat sy vertel, het hy haar egter gesien asof dit vir die eerste keer was: ’n middeljarige vrou wat in ’n ander land grootgeword het en as balling in die vreemde lewe, iemand wie se assosiasies en herinnerings hy nie deel nie en met wie hy nouliks nog iets gemeen het. Hierdie skakels met die verlede, hierdie bejaarde generaals en volksraadslede, is haar werklikheid, het hy gedink, en toe het hy besef hoeveel sy vader se dood vir haar moet beteken en hoe groot die vereensaming is wat dit vir haar impliseer, alleen agtergelaat in die vreemde met die helfte van haar lewe verlore; en hy het sy hand op hare gesit en sy het dit gedruk en haar kop gebuig en begin huil.

      Die vonke vlieg werwelend op en verdwyn in die donker van die skoorsteen. “Ek kan dit glo,” sê mevrou Hattingh. “En om dan so alleen gelaat te word – jy was natuurlik nog daar, maar jou vader se dood was tog seker ’n groot verlies gewees. Sy het ook nie ’n maklike lewe gehad nie …” Sy swyg en aarsel, onwillig om verder uit te vra.

      “Sy het gelukkig nooit probleme gehad met geld nie,” sê George. “My vader het voorsiening vir haar gemaak. Sy het ’n huis gehad, ’n vaste inkomste …”

      “Ek kan my nie voorstel dat Anna ooit tot rus sou kan kom in die vreemde nie,” sê Hattingh. “Ek het haar goed geken toe ons kinders was – ja, dis nou lank gelede, maar mens verander tog nie soveel nie.”

      George wag op wat hy nog sal sê, maar hy voeg niks by sy woorde nie. “Sy het ’n sterk persoonlikheid gehad,” sê hy dan. “Sy was altyd besig met iets, sy moes altyd mense om haar hê …”

      “Ja, Anna was altyd die voorbok, dit was altyd sy wat die leiding neem wanneer ons saam speel, en selfs óns seuns het na haar geluister.” Hy het begin om sy pyp te stop, nadenkend besig terwyl hy praat. “Ek onthou nog hoe sy eenkeer van die windpomp geval het op Rietvlei, sy was toe seker so ’n nege, tien jaar oud. Na regte moes sy dood gewees het, maar sy’t net ’n paar kneusplekke gehad.” Hy lag by die herinnering.

      “En later,” vra George, “toe sy ouer word?”

      “Ag, wanneer jy ouer word, verloor jy dikwels kontak met mekaar. Ek is weg kosskool toe en Anna is weg, en later het sy gaan studeer, ons het mekaar net nog in die vakansies gesien. Sy was ’n mooi meisie, aantreklik …” Hy buk om in die vuur ’n takkie vir sy pyp aan te steek en praat nie verder nie.

      “Het jy by haar gewoon?” vra mevrou Hattingh vredig, haar hande gevoue.

      “Ek het in die stad gebly, in Genève; ek werk daar. My vader het al jare gelede vir hulle ’n huis aan die ander kant van die meer gekoop, en ná sy dood het sy daar bly woon.”

      “Dit was seker maar eensaam vir haar.”

      “Sy wou nie die huis verkoop nie, alhoewel dit eintlik te groot vir haar was, en dit staan ook nogal afgesonder. Sy het ’n goeie huishoudster gehad, maar dit het moeilik geword toe sy siek word. Ons moes ’n verpleegster vir haar kry, en hulle kon die dokter nie altyd betyds bereik nie …”

      “Dit moet swaar gewees het,” sê mevrou Hattingh en staar in die vuur. Dit beteken vir haar niks nie, dink hy, en sy vra hom ook niks meer nie. Die vrae wat in hierdie huis aan hom gestel is, het almal oor bekende mense gegaan, oor dinge wat aansluit by die bekende en vertroude, en dié skraal, middeljarige in­valide op die rooskleurige diwan met haar Franse tydskrifte en Engelse romans bied geen aanknopingspunte meer nie. In hier­die stilte waarin net die geknetter van die vuur nog hoorbaar is, is dit moontlik om die gesprek in ’n nuwe rigting te stuur en ’n ander onderwerp aan te roer, maar hy wil oor sy moeder praat en hoor wat hulle hom nog oor haar kan vertel.

      “Sy het stiller gelewe nadat my vader dood is,” sê hy. “Dit was natuurlik nie meer nodig om soveel te onthaal nie, baie van hulle gaste was eintlik sy sakevriende gewees. En dit was ook nie so lank ná sy dood dat sy siek geword het nie.” Hulle luister egter nouliks, hulle reageer nie. “Sy het ’n paar keer na Lon­den of Parys gegaan,” sê hy; “sy het belanggestel in opera en ballet. Eenkeer het sy nog met vakansie gegaan, na die Italiaan­se mere, maar sy het daar siek geword en sy moes ná ’n week al terugkom. Sy het met ’n vriendin gegaan,” voeg hy by in ’n laaste poging om hulle aandag te trek. “Mevrou Minnaar; haar man was vroeër militêre attaché …”

      Dit is tevergeefs: in ’n halwe kring sit hulle na die vlamme en kyk asof hulle van sy aanwesigheid vergeet het. Sy stem sterf weg en hy kyk na hulle roerlose gesigte in die vuurlig, laat sy oë van die een na die ander gaan, en sien dan dat die meisie, wat in die kombuis agtergebly het, ongemerk binnegekom het en agter die ander na hom staan en kyk. Hy kan haar nog net uitmaak in die skadu aan die rand van die groep, en wonder wanneer sy gekom het en hoe lank sy reeds so na hom luister.

      Dan gaap die oudste seun en rek hom uit. “Ek gaan slaap,” sê hy. “Ek is vaak.”

      “Wat is jy dan so ongesellig?” vermaan mevrou Hattingh hom.

      “Ek moet môre dieselfde tyd opstaan as altyd, daar is baie werk.”

      “Ons moet die aartappels invat koöperasie toe,” sê Hattingh.

      “Tog nie môre al nie.”

      “Môre of oormôre. Ons kan nie tot aanstaande week daar­mee wag nie.”

      Johannes skuif sy stoel ook terug. Die drie seuns het geen deel aan die gesprek geneem nie, net ’n bietjie onder mekaar gepraat, maar wanneer hulle opstaan, word die groep nogtans opgebreek.

      “Ja,” sê mevrou Hattingh, “dis seker tyd om te gaan slaap,” en sy sug, maar staan nie op nie.

      “Is dit nog altyd jou plan om môre Rietvlei toe te ry?” vra Hattingh vir George.

      “As u vir my sal verduidelik hoe om daar te kom.”

      “O, dis nie so moeilik nie, maar dit lyk vir my nouliks die moeite werd om die hele ent soontoe te gaan. Daar’s skaars nog ’n murasie oor, die geboue is heeltemal vernietig.”

      “Deur wie?” vra hy.

      “Dit is al jare lank verwaarloos, geen mens kom ooit daar naby nie; die hele plaas het verwilder. Julle het te lank op julle laat wag.”

      “Daar moet tog ’n oppasser wees,” sê George. “Hulle het ons laat weet dat daar ’n oppasser is – my ouers het gereeld geld gestuur …”

      Hattingh lag. “Iemand het julle lekker verneuk. Hulle ge­niet dit, hulle’s maar net te bly as hulle iets uit ons uit kan kry. Jy moet op jou hoede wees in hierdie land, sê ek vir jou.”

      Mevrou Hattingh het al opgekyk toe hulle oor Rietvlei begin praat. “My man sê ek sou miskien kan saamry Moedersgift toe,” sê sy.

      “Ja natuurlik, mevrou.”

      “Ek was maande laas by tant Miemie, en dis nie uit jou pad uit nie, jy moet tog daar verbyry.”

      “Ek sien jou in elk geval nog môreoggend,” sê Hattingh.

      Hulle het nou almal opgestaan. Stoele word reggestoot, Hat­tingh klop sy pyp uit, die meisie is besig om hulle leë glase bymekaar te maak.

      “Het jy genoeg komberse?” vra mevrou Hattingh vir George.

      “Ja dankie, mevrou.” Sy het hom reeds die vraag gevra.

      “Ek kan vir jou nóg uithaal as jy wil. Die aande is al koud …” Sy trek haar trui stywer om haar terwyl sy met hom saam die gang af stap na sy kamer, so vertroud met die huis dat sy die donker nie eers merk nie, alhoewel hy met sy hand na die muur moet voel. “Ja, tant Miemie sal my ook nooit vergewe as ek jou nie daar langs bring nie: Moedersgift grens aan Rietvlei, sy en jou grootouers was bure, sy ken jou familie

Скачать книгу