ТОП просматриваемых книг сайта:
Klassiek reeks: Na die geliefde land. Karel Schoeman
Читать онлайн.Название Klassiek reeks: Na die geliefde land
Год выпуска 0
isbn 9780798159975
Автор произведения Karel Schoeman
Жанр Контркультура
Издательство Ingram
Hy kyk sonder belangstelling die boeke deur en lees wat daar op die skutblaaie geskryf staan: Marie, van Pappie en Mammie; J. Human, Negende Straat 156; Kersfees 1947. “Waar kom hulle vandaan?” vra hy.
“O, van orals – party was hier in die huis gewees en party het ek gekry, en party is agtergelaat deur mense wat weggegaan het.”
“En lees jy hulle?”
“Ja, wanneer ek hier alleen is.”
Hy blaai deur die boeke, glimmende kunspapier, vaal oorlogspapier. Daar is ook tikskrifte by, kopieë wat met koolpapier gemaak is, die blaaie verslete langs die rand.
“Waarom wys jy dit alles vir my as dit so gevaarlik is?” vra hy.
Die seun lê op die matras vir hom en kyk met dieselfde gretige blik, en draai dan weer vinnig sy oë weg. Ongemaklik begin George die boeke terugpak in die kas.
“Ek weet nie. Ek het dit nog nooit vir iemand gewys nie, niemand weet daarvan nie. Dan het dit nie eintlik sin nie.”
“As iemand die huis deursoek, sal hy dit gou genoeg vind,” merk George op, maar die seun lê op sy rug en opstaar na die plafon sonder teken dat hy gehoor het. “Dit reën nie meer nie,” sê George dan. “Ek moet gaan.”
“Jy sal vir niemand hiervan vertel nie?” vra die seun sonder om te beweeg.
“Nee, ek sal nie.” Vir ’n oomblik aarsel hy nog, bewus van die feit dat hy gefaal het, sonder dat hy self weet waarin. Maar wat is daar wat hy kan sê, watter gebaar kan hy maak wat toereikend sal wees? Hy draai om om te gaan.
“Trek die deur agter jou toe,” roep die seun wanneer hy al op die eerste solder is, gebuk onder die sinkplate van die lae dak.
Die reën het opgehou, die wolke trek verby, en die dag ruik koel en skoon. Hy stap weg van die huis langs ’n klipperige voetpaadjie teen ’n rant en bly dan staan om terug te kyk. Agter hom sien hy die saamgeskaarde dakke en klipmure van die plaas, die turksvye en vyebome en die windpomp, en daaromheen slegs die wydheid van die veld. Is dit wat hy soek? wonder hy; is dít die antwoord? Is dít waarvan sy moeder gedroom het, waarna sy gehunker het; is dit waarna sy haar uiteindelik omgedraai het in haar bed met uitgestrekte hand, half bedwelm deur die verdowingsmiddels wat die dokter haar gegee het? ’n Eensame huis met sy bome, ’n klipperige voetpad, en die stilte onder hierdie groot lug waar die wolke verbytrek, verbygaan?
Hy sien iemand van agter die rant aankom met ’n paar koeie, herken vir Hattingh uit die verte, en bly op hom wag.
“So,” sê Hattingh wanneer hy hom bereik het. “Ek het die koeie in die kamp gaan haal. Dit het goed gereën, nè? Dit was weer ’n goeie jaar, deur die Here se genade; partykeer gaan dit maar naelskraap, dan kry ons dit net nog reg om aan die lewe te bly, maar vanjaar het dit beter gegaan.”
“Is dit net u en u gesin wat hier bly?” vra George.
Hattingh kyk hom skerp aan. “Hoe dan so?”
“Dit moet moeilik wees om so ’n groot plaas te bewerk.”
Die ligte, byna onmerkbare spanning gaan weer oor. “Ons het die grootste deel van ons grond verloor, hulle het dit onteien, en ons moes ’n deel aan die proefplaas verkoop toe dit ’n slag ’n moeilike jaar was, maar daar het tog nog meer oorgebly as wat ons kan behartig.” Die koeie ken die pad huis toe en het self verder gestap.
“Loon dit nog om so ’n plek te bewerk?” vra George.
“Dis moeilik, maar wat anders moet ons doen? Hier kan ons ten minste nog ’n bietjie onafhanklikheid behou, ons het genoeg om van te lewe, ons kan ons eie lewe lei te midde van ons eie mense, ons word min of meer met rus gelaat …” Saam stap hulle verder agter die koeie aan. “Het jy die kerkhof gesien?” vra hy dan. George het nie eers besef dat daar ’n kerkhoffie is nie, verskole agter die klipmuur langs die pad. “Ons gebruik dit nie meer nie, maar die meeste van ons familie is hier begrawe, tot my oorlede oupa se tyd.” Daar is ’n paar grafstene met onhandig uitgebeitelde opskrifte, en blomme, die grond geskoffel. “Ons hou dit netjies, dis die minste wat mens kan doen. Daar het so min van die verlede oorgebly: die grafte, die huis, ’n paar ou portrette … Selfs ons Familiebybel het weggeraak; dit was ’n agttiende-eeuse Bybel met ’n slot, Hooghollands, ’n familie-erfstuk, ’n waardevolle ding. Toe ek ’n seuntjie was, het ek altyd verlang om so groot te wees dat ek dit kan optel. Maar dit het verdwyn, alles het verdwyn, sommerso voor ons oë.”
Hulle staan nog ’n rukkie by die muurtjie en kyk na die grafte. Die wolke trek weg: die son, reeds laag in die weste, glip uit en spoel oor die werf, die vaal mure en dakke van die plaasgeboue, en die kerkhof. Dan stap hulle verder.
“Miskien kan ons vanaand vuurmaak,” sê mevrou Hattingh en kyk vraend na haar man.
“Hoe moet ons genoeg hout hê vir die winter as ons nou al begin vuurmaak?” vra die oudste van die seuns. Hulle moet broers wees, dink George, en bemerk weer eens die ooreenkoms tussen hulle waar hulle langs mekaar sit aan tafel; maar nou kan hy, anders as gisteraand, ook die verskille tussen hulle sien. Johannes is die enigste van die drie wie se naam hy al kon vasstel, want dit is Johannes wat vanoggend in die buitekamer opgeskrik het by sy binnekoms en koffie afgeneem het na sy vader en broer op die land. Hy het dieselfde gesig as sy broers, met breë voorhoof en oë wyd uitmekaar, en dit sou aangenaam wees, selfs aantreklik, as dit nie was vir die onverbiddelike erns wat dit merk en selfs al sy lyne om die oë en mond gegrif het nie: waaksaamheid bedek dit soos ’n masker.
“Daar is nog mieliestronke in die skuur,” sê hy nou nadenkend.
In die gelaatstrekke van die oudste van die broers is daar geen fynheid nie, en sy oë is flets, sy bewegings traag. Sy gesig het sélf masker geword, en mens kry skaars die indruk dat daar iets agter daardie uitdrukkingloosheid leef.
“Hoe lank dink jy sal die mieliestronke bly brand?” vra hy ’n bietjie honend terwyl hy kou.
“’n Rukkie in elk geval, as ons dan ’n vuur moet hê.”
“Niemand het gesê ons móét ’n vuur hê nie.”
“Waarom maak ons brandhout en mieliestronke bymekaar as ons nooit eers kan vuurmaak nie?” vra die derde broer, die seun van die solder en die boeke. George kyk van die een na die ander terwyl hulle sit en eet, na die ooreenkoms en na die verskille. Ja, hierdie seun is die jongste van die drie, en by hom het die masker nog nie aangegroei nie, hy oorweeg nie voordat hy praat nie en sy oë beweeg minder behoedsaam deur die kamer.
“Ons moet ons brandgoed spaar vir die tyd dat ons dit regtig nodig kry.”
“Julle wil ook alles spaar – spykers, blikke, ou motorbande …”
“Jy kan ook alles eendag nodig kry.”
“Daar was een winter net nadat ons hier kom bly het dat ons van die meubels moes gebruik om vuur te maak,” vertel mevrou Hattingh vir George asof sy weer van haar voorstel vergeet het. Self voel hy ook dat dit om sy ontwil gedoen is, en ongemaklik oor die lang bespreking wat dit uitgelok het, oorweeg hy dit om te sê dat hy liewer dadelik ná die ete wil gaan slaap.
“Ons het darem genoeg brandhout om vir ’n uur of so te kan vuurmaak sonder om hierdie winter in die nood te raak,” sê Hattingh dan egter. “En bowendien het ons vanaand ’n besoeker.”
Dit is die refrein van alles wat hy en sy vrou sê, die regverdiging vir elke afwyking van hulle roetine. Terwyl die jongmense afsydig bly en geen teken gee van wat hulle dink of voel nie, is George se aanwesigheid vir hulle ouers baie duidelik ’n besondere gebeurtenis. Aan die einde van die maaltyd bring mevrou Hattingh die koek wat sy gebak het op tafel, die jongste seun word gestuur om brandhout te gaan haal, en Hattingh probeer George oorhaal om ’n glasie brandewyn te drink. Versigtig skink hy vir al vyf die mans, met onderdrukte opwinding, asof dit ’n teken van besondere feestelikheid is. Die seun drink met klein, byna onwillige teugies; Johannes slaan sy glas met een sluk weg en vee sy mond met sy hand af. In die hoek waar hy hom ná