Скачать книгу

’n afstand bly. En daar is Esegiël, gehurk net buite die onmiddellike gloed van die vuur.

      “Genade, ou Ben,” sê Reitz sag, onderlangs vir Ben, “wie het ons nou almal hier?”

      Ben antwoord nie, maar sy neusvleuels sper senuweeagtig, soos wanneer hy onseker is van ’n situasie.

      Hulle is so honger dat hulle aanvanklik moeite het om op iets anders as die kos te konsentreer. Willem moet selfs vir Abraham maan om stadiger te eet.

      “Stadig,” sê Gert Smal, “anders kots julle vanaand algar op ’n streep.” Hy skink kort-kort sy blikbeker flink vol uit ’n bottel.

      “Honger gehad afgelope dae?” vra Ruieben. En gooi ’n been na die hond wat uit die skadu nader sluip om dit op te tel. Sy neem dit in haar bek en gaan weer by Gert Smal se voete lê. “Tág,” sê hy, “die honger kan lélik aan ’n man se derms vreet. Van honger kan julle my niks vertel nie!”

      Na hulle geëet het, skuif Japie Stilgemoed nader aan die vuur en lees uit die Bybel voor. Hy lees Job 27 vanaf die eerste tot die drie en twintigste vers: Job wat sy onskuld voor God handhaaf; Job wat sy vriende daarop wys hoe min ooreenkoms daar tussen hom en ’n goddelose is; Job wat erken dat die reg van God dikwels in die ondergang van goddeloses geopenbaar word, hoewel dit nie op hom toepaslik is nie, want hy is geen goddelose nie.

      Nadat hy gelees het, bid hy – ’n skugter maar innige gebed. Hy dank God dat die nuwelinge veilig by hulle aangekom het, en hy bid dat God hulle almal spoedig met hulle geliefdes sal herenig. Daarna sing hulle ’n gesang. Dit is veral Willem wat vanaand uit volle bors sing – vol dankbaarheid en lof.

      Daarna bring Gert Smal nog ’n bottel te voorskyn, en skink vir elkeen ’n forse skeut brandewyn. (Hulle durf hierdie gebaar van gasvryheid nie van die hand wys nie. Reitz wíl ook nie.)

      Jong Abraham proes en Willem klop hom op die rug, vee sy mond versigtig af. Maar die groot weldadigheid wat kort voor lank deur hulle liggame sypel, is vanaand nie te versmaai nie, en Reitz weier nie die bottel wanneer dit weer en weer die rondte doen nie.

      “Die generaal,” sê Gert Smal, “het nooit ’n tekort aan voggies nie – oorlogsbuit,” sê hy, en glimlag soetlik-smalend. “Die generaal skroom nie om te vat wat hom toekom nie.”

      Gert Smal wil weet hoe hulle by Senekal se walaer uitgekom het, maar hy luister met sy kop skuins gedraai asof hy nie wil hoor wat hulle sê nie. ’n Wantrouige frons tussen sy wenkbroue met die swaar, opvallende vou. Hy drink kort-kort uit sy beker.

      Reitz het aan die begin van die oorlog by die Johannesburgkommando onder aanvoering van kommandant Ben Viljoen aangesluit, en het na die slag van Donkerhoek by die Lichtenburgkommando onder aanvoering van kommandant Celliers beland, waar hy sy vriend Ben ontmoet het. Vandaar was hulle ’n tyd in die Noord-Vrystaat met manne van die Kroonstadkommando in die veld. Onder aanvoering van kommandant Nel was hulle so ver as Kimberley, maar moes na die slag van Slangfontein by kommandant Senekal aansluit.

      Ben het aanvanklik by die Winburgkommando onder kommandant Vilonel aangesluit, voor hy saam met Reitz by die Lichtenburgkommando beland het.

      Willem het in die Middelburgkommando onder aanvoering van kommandant Fourie geveg voor hy by kommandant Senekal se walaer aangesluit het. Daar het sy goeie vriend Frederik Fouché by die slag van Droogleegte gesneuwel, en Willem het die vriend se jonger broer sedertdien onder sy vlerk geneem. En hy wys na jong Abraham, wat bewegingloos voor hom in die vlamme staar.

      “Snerp,” sê Abraham toonloos.

      “Celliers, Vilonel en Fourie se móére,” sê Gert Smal.

      “En mag ons verneem,” vra Willem hoflik, “watter paaie julle manne hier na die generaal se kamp gebring het?”

      Gert Smal spoeg ’n stokkie waaraan hy gekou het uit. Hy vat ’n sluk uit die bottel. Hy gee ’n abrupte laggie.

      “Ou Japie daar oorkant,” sê hy, en beduie na Japie Stilgemoed, “kan nie meer goed hoor nie – ’n bom het iewers langs hom ontplof. Dié het lank die buiksiekte en skittery gehad. Hy was so verswak en vermaer dat jy met hom niks kon uitrig nie.”

      Japie Stilgemoed luister aandagtig; knik instemmend.

      En is hy nou heeltemal herstel? vra Willem besorg.

      O ja, o ja, hy is beter, sê Japie Stilgemoed, en kyk anderpad.

      “Ou Kosie,” en Gert Smal beduie kortliks in die rigting van Kosie Rijpma, “was predikant in die vrouekamp hier anderkant voor hy die kluts kwytgeraak het. Dié het ons dolend in die veld gekry – malkop. Sy gat in die kamp saam met die vrouens gesien. Van sy malgepeuter kon niemand iets wys word nie. Hy is nou nog nie altyd ewe by nie.”

      Kosie Rijpma kyk uitdrukkingloos; weerlê nie hierdie inligting nie.

      “Arme man,” sê Willem met meegevoel.

      “Beref,” sê jong Abraham toonloos.

      “Ruieben het sy been by Dwarslêersbos verloor,” sê Gert Smal, “nou is die ou van g’n godsnut meer op die slagveld nie.”

      Ruieben knik.

      “Bogte,” sê jong Abraham. Hy is bleek en rusteloos. Willem lyk besorg.

      “Rustig, boet,” sê hy, en probeer hom oorreed om ’n bietjie water te drink.

      Geen woord van Gert Smal oor sy eie bewegings nie, val dit Reitz op.

      Gert Smal warm nou eers behoorlik op, aangehelp deur sy beneweling. As hy ’n naam of ’n pleknaam nie onthou nie, klap hy sy vingers in Esegiël se rigting, wat dan dadelik die ontbrekende feite vanuit die skaduwees verskaf.

      “Piet Joubert se móér,” sê Gert Smal. “Hy moes die Engelse in die see gejaag het, reg aan die begin, toe ons nog die voordeel van beweeglikheid gehad het. Die beleg van Ladysmith was ’n klug! Die manne kon beter gebruik gewees het. Joubert moes die troepe by Nicholsonsnek agterna gesit het. Die Vrystaters was die beste skerpskutters – die Heilbronners alleen kon by Nicholsonsnek die Kakies op hulle moer gegee het! Einde April was die manne al ontmoedig. Hulle het al begin huis toe gaan. Hulle fut was uit. Hulle het te lank lê en wag op aksie. Joubert het hulle laat lê en hulle gatte af verveel, toe hulle nog vol daadkrag en aksie was – toe hy hulle moes toegelaat het om die vyand die see in te jaag!”

      So en in dié trant voer Gert Smal die woord. Ruieben voeg soms iets by. Japie Stilgemoed sê min en Kosie Rijpma sê geen dooie woord nie, en hulle is die eerste om op te staan en na hulle eie slaapplekke te gaan.

      Seun, kom Reitz agter, kan weens sy gesplete verhemelte nie net nie behoorlik praat nie, maar kom ook effens traag van begrip voor. Hy kommunikeer – nét met Esegiël en Gert Smal – deur middel van handgebare en onverstaanbare geluide.

      Die hitte van die vuur, die kos en die drank maak hulle lomerig; Reitz het groot moeite om te konsentreer op wat gesê word; hy probeer nouliks Gert Smal se gepraat volg.

      “En mag ons verneem,” vra Willem later – namens hulle almal – taktvol, soos hulle hom ken, toe Gert Smal se oë stokstyf en glasig in sy kop staan, toe sy spraak al goed aangetas en sy taal onbehoorlik ruig is, “waar die generaal op die oomblik is?”

      “Jy mag vra, neef,” sê Gert Smal, “maar ek kan nie vir jou sê nie, want die generaal se bewegings is ’n geheim. Aanvaar maar dat hy met ’n paar manne op ’n klein strafekspedisie uit is. Hulle het die verdomde Kakies op hulle móér gaan gee.”

      Laatnag, die naglug koel en geurig, die geluid van krieke oorverdowend, ’n koel ruising soos van populiere en water op ’n afstand, die sterre behoorlik aan die skitter en verskiet; toe Willem en Abraham al gaan inkruip het, en Reitz en Ben al aansienlik benewel is (nie onaangenaam nie), sê Gert Smal skielik: “Ons gaan môre bo in die kloof heuning haal. Julle twee kom saam,” en hy beduie na Reitz en Ben.

      Hulle bereik hulle beddens net betyds, dankbaar vir die matrasgoed op die grond; voel nouliks die nagkoue en die vroemôre dou, slaap soos in geen nag nie, slaap soos

Скачать книгу