Скачать книгу

so vrugtig verrot, so skaduryk, so soet, so nameloos, na die oorverligte, harde, bar, eindelose landskap waardeur hulle die afgelope dae beweeg het.

      Die beeskraal ’n entjie van die huis is ook leeg.

      Dit is dodelik stil op die werf – ’n verlatenheid wat die hart aangryp en knel. ’n Somber bui oorval hulle.

      “Waarheen sou die mense uitgewyk het?” vra Reitz.

      “Wie sal weet,” sê Ben, “wie sal weet watter onheil hulle hier te wagte was?”

      “Kakies op die spoor van rebelle,” sê Willem, beslis.

      “Dis goed moontlik,” sê Reitz, “dat die inwoners iewers in die rantjies skuil.”

      Goed moontlik inderdaad, want die klipkoppies sal goeie skuiling bied. Hulle tuur in die halfdonker in die omgewing rond, maar in die sterk skemer is daar nie veel sigbaar nie.

      Hulle sit besluiteloos op die stoep, aan die suidekant van die huis. Oorval van tamheid en gebrek aan moed, of vooruitsig.

      “Ek het ’n gevoel,” sê Willem, en hy hou sy vinger op, asof hy luister, “dat ons naby mense is.”

      Reitz kreun sag.

      “Goeiste, ou Willem,” sê Ben, “vriend of vyand?”

      “Vriend,” sê Willem, sonder aarseling.

      Die maan kom op, reeds byna in haar eerste kwartier. Dit word vinnig koud, en hoewel traag om dit te doen, maak hulle ’n entjie van die huis aan die kant van die boord hulle vuurtjie.

      “Geduld,” sê Willem. “Ons moet die geloof behou.”

      “Van watter geloof praat hy nou, ou Reitz?” vra Ben sag.

      Hulle sit digby die vuur. Verwarm hulle hande.

      “Noudat ons in die omgewing van mense is,” sê Reitz, “is ek skielik op my senuwees.”

      “Die opregte het niks te vrese nie,” sê Ben plaerig.

      Willem kyk hom vermanend aan.

      Hulle maak ’n skamele potjie pap. Die hitte daarvan is vertroostend, al skiet die hoeveelheid hopeloos te kort. Willem lees uit die Bybel voor. Hy lees Daniël drie en vier: Die vriende van Daniël in die vuuroond, Nebukadnésar se kranksinnigheid. In sy gebed dank hy die Here dat Hy steeds sy hand van beskerming oor hulle hou, en dat hulle daardeur niks het om te vrees nie. (Reitz loer onderlangs na Ben.)

      Onder die gebed word hulle skielik van ’n beweging in die omgewing van die beeskraal bewus. Ben en Reitz gryp dadelik na hulle gewere. Versigtig, maan Willem nog, toe daar uit die donkerte in die gloed van die vuur twee mense sigbaar word. ’n Wit man en ’n swart man. Albei hou gewere op hulle gerig.

      “Wat soek julle manne hier?” vra die wit man bars. Hy bekyk hulle wantrouig. Hy is korterig. Stewig gebou. Breë gesig, breed oor die wangbene. Krullerige hare. ’n Boefgesig. Hou die kop effens uitdagend vorentoe – veglustig; brutaal. Sy verslete baadjie is met pendorings voor vasgemaak.

      Willem verduidelik waarom hulle hier is.

      “A!” sê die man. Hy swaai effens op sy voete en sy spraak is ’n raps diktongig. “Op die een of ander sending. Julle wil die generaal sien. Julle lyk vir my na drosters.”

      “Ligtelik besope?” sê Reitz onderlangs teenoor Ben.

      Agter die man hang die swart man terug in die skaduwee. Hy is lank, sterkgebou, met ’n welgevormde hoof, breë wangbene en ’n donker, prominent gewelfde mond.

      Kafferbeul, dink Reitz, onwillekeurig.

      Die man draai skielik om na die swart man agter hom.

      “Esegiël,” sê hy, met wye gebaar in die man se rigting, “is ’n Kaffer om mee rekening te hou. Julle kan hom enigiets vra. Vra hom iets!”

      Hulle kyk algar oorbluf.

      “Toe!” sê die man ongeduldig. “Vra hom iets uit die Bybel!” Hy stamp ongeduldig met die geweerkolf. “Of het julle drostermanne nie vrae nie?!”

      Ben en Reitz kyk onderlangs na Willem, die bron van hulle Bybelkennis. Willem neem aanstoot, hou nie van die aantyging nie, kry ’n kleurtjie.

      “Wie,” vra Willem gewigtig, nadat hy ’n paar sekondes geaarsel het, “wie was die tweelingseuns van Tamar, die skoondogter van Juda?”

      Die swart man lig sy kop. Hy neem ’n tree vorentoe. Die wit van sy oë ’n paar oomblikke lank sigbaar in die gloed van die vlamme.

      “Die seuns van Tamar,” sê Esegiël, “was Peres en Serag.”

      “Reg?!” roep die wit man.

      “Reg,” sê Willem plegtig.

      “Wat het ek julle gesê?!” sê die man. En hy stamp triomfantlik met sy geweerkolf op die grond.

      “Nog iets,” sê hy. “Vra nog iets. Vra iets uit die geskiedenis. Ons eie geskiedenis. Nie Kaffergeskiedenis of Kakiegeskiedenis nie.”

      “Onder wie se aanvoering,” vra Ben, “was die Boere by die slag van Nooitgedacht in die Transvaal?”

      Willem kyk hom beskuldigend aan, asof hy nou te ver gegaan het.

      Is Ben nou moedswillig? wonder Reitz.

      Weer eens gee die man ’n tree vorentoe, rol sy oë boontoe dat die witte glim in die vuurgloed, en dink ’n oomblik na.

      “Die Boere,” sê hy, “was onder aanvoering van generaal De la Rey, generaal Smuts en generaal Beyers.”

      “Reg?!” roep die wit man.

      “Reg,” sê Ben.

      “Nou wat de hel het ek julle gesê!” sê die man.

      Sodra Esegiël geantwoord het, gee hy weer ’n tree terug en staan uitdrukkingloos in die nagskadu.

      “Kom,” sê die man ineens. “Ek is Gert Smal. Ek het nie tyd om te mors nie. Kry julle goed. Bring die perde. Kom saam.”

      So gaan hulle met ’n paadjie verby die beeskraal, deur ’n laagtetjie, en dan by ’n groterige koppie op, agter Gert Smal aan, met Esegiël die slim Kaffer wat die agterhoede vorm.

      Hoofstuk 3

      Gert Smal lei hulle na die kamp teen die agterkant van die groterige koppie, wat meesal uit los rotsblokke bestaan. Teen die hoogste kant is ’n grot met ’n diep oorhang, en ’n soliede rotswand daarnaas. Voor hierdie rotsoorhang is ’n groot, oop ruimte met ’n vuurmaakplek. Daaromheen, op verskillende plekke tussen die groot rotsblokke, is ’n aantal skerms opgerig. Die los rotse en die digte struikgewas lyk of dit aansienlike beskerming bied. (Meer as wat hulle in ’n lang tyd gesien het.) Hier van bo is die plaashuis goed sigbaar in die effense kom onder hulle.

      Dit is reeds donker toe hulle aankom. Die manne om die vuur is besig om te eet. Daar is die benewelende reuk van vleis en pap.

      Hulle word deur Gert Smal aangesê waar hulle hulle slaapplekke vannag kan maak. Daar is grasse en hotnoskooigoed wat hulle as matrasse kan gebruik. Môre sal Esegiël vir hulle ook skerms bou, sê hy, niemand kan ’n skerm bou soos daardie Kaffer nie.

      Esegiël word aangesê om hulle perde te versorg, wat saam met die ander ’n ent verderaf teen die koppie gehou word.

      Hulle neem met dankbaarheid plaas by die vuur. Behalwe Gert Smal met die boefgesig is daar Japie Stilgemoed – ’n maer, seningrige man met ’n skerp, intense gesig en hare wat wild en regop van sy hoë voorkop af weggroei. Behalwe ’n snor, is sy gesig gladgeskeer. Daar is Kosie Rijpma – ’n klein, delikaat geboude man, met welig krullende donker hare, ’n kort, netjies geknipte, donker baard, en donker, sielvolle oë – wat ineengedoke sit en niemand aankyk nie. Daar is Ruieben Wessels – ’n groot man met ’n lewendige, maar verweerde gesig, ’n ruie baard en hare, groot hande en een been wat kort

Скачать книгу