Скачать книгу

jy hom nie kan leer nie,” sê Gert Smal, “is om ’n grap te verstaan. Verseg of die Kaffer kan kop of stert uitmaak van wat vir ons snaaks is. Of hoe sê ek, my ou swarte?” en hy draai om en gee vir Esegiël ’n stukkie vleis aan die punt van ’n knipmes aan.

      “Julle kan hom enigiets vra,” sê Gert Smal weer, en wag afwagtend.

      “Vra hom of hy ’n siel het,” sê Ben sag, buite hoorafstand.

      Willem, wat gehoor het, kyk Ben betigtigend aan. “Hy is gekersten,” sê hy, “hy is tog ’n Christen, soos ons almal.”

      “Ja?” sê Gert Smal, ongeduldig.

      “Wat is president Steyn se geslagsregister?” vra Reitz.

      Esegiël, gehurk in die skaduwees, gooi sy kop agteroor dat sy oogwitte glim. Sy lippe beweeg ’n paar oomblikke in woordelose preweling voor hy begin opsê.

      Doodse stilte toe hy klaar is.

      “Reg?!” roep Gert Smal triomfantlik.

      “Vir my klink dit reg genoeg,” sê Reitz – wie se vader ’n kleinneef van die ou president was.

      “Wat het ek julle gesê?!” sê Gert Smal. “In die hele land is daar geen Kaffer wat sy gelyke is nie!”

      Kort hierna gaan Willem en jong Abraham ook slaap. Toe Reitz en Ben later opstaan, laat hulle Gert Smal nog vurig aan die betoog in die geselskap van die swygende Ruieben en die slapende Seun agter.

      In die nag droom Reitz van magtige kranse en van vuur op water.

      *

      Die volgende dag sê Gert Smal vir Esegiël aan om hulle te help om skuilings te bou – soos hulle almal het. Hy het instruksies van die generaal, sê hy, dat hulle voorlopig hier moet bly.

      “Goeiste,” sê Ben sag, “wat hy wanneer gekry het?”

      “Ai, tog,” sê Reitz onderlangs vir Ben, “hier gaan ons lank bly. Dit vra vir beraadslaging. Diep en ernstig.”

      “Dit wil so voorkom,” sê Ben.

      Eers maak Esegiël ’n sterk struktuur van latte en matwerk. Latte wat hy by die populierbos gaan sny het. Wat dan bedek word met ligte dekgras. Esegiël werk stadig, metodies en noukeurig. Hy buig en vleg die jong groen latte. Hy dek en herdek. Hy knoop en weef. Die raamwerk staan stewig, die bedekking is dig. Daarna word die hut uitgevoer met hotnoskooigoed en ander geurige grasse word op die grond neergelê.

      Die hele tyd wat hy werk, sing Esegiël sag gesange in ’n aangename, diep stem.

      Japie Stilgemoed staan skugter nader, stel voor dat die opening van die skerm noord wys, omdat die koue winde altyd uit die suide kom.

      Die skerm is stewig en so te sien, waterdig. Met ’n lekker sagte bed van matrasgoed waarop hulle hulle skamele komberse kan gooi – in teenstelling met die nat komberse en die lekkende tente waarin hulle die afgelope maande vertoef het, en wat hulle agtergelaat het toe hulle by kommandant Senekal se laer weg is. ’n Voortreflike bedekking teen watter weersomstandigheid ook al. Beter beskerming as wat hulle tot dusver in al die maande op kommando had.

      “’n Bed met ’n prys, ou Ben,” sê Reitz, “vertrou jy die vrede?”

      “Vrede?” sê Ben, “wie het gepraat van vrede?”

      Later die oggend vra hulle by Gert Smal toestemming om hulle klere in die rivier te gaan was. Wat hy gee, maar nie sonder ’n klomp dreigemente nie. Na hulle besoek met Gert Smal aan Oompie die vorige dag het hulle heelwat om oor te praat. Dit doen hulle liefs buite hoorafstand van die ander.

      Hoewel hulle dus onvergesel na die rivier mag gaan, bly hulle tog deurentyd van Seun se teenwoordigheid agter rotsblokke ’n entjie hoër op in die omgewing bewus.

      Van die kamp stap hulle met dieselfde paadjie na die rivier as waarmee hulle die vorige dag met Gert Smal na Oompie is.

      Hulle was hulle liggame, hulle was hulle klere. Ten spyte van die fris oggendluggie baljaar hulle uitgelate soos otters in die water. Wanneer was hulle laas in water? Daarna sit hulle op die rotsplate in die son om droog te word.

      Hulle albei se nekke, gesigte, voorarms is bruin verbrand, maar Reitz merk hoe weerloos bleek die res van Ben se liggaam is. Hy is so maer dat sy ribbes wys, en sy liggaam het ’n blouerige bleekte, wat skerp afsteek teen die donkerte van sy hare. Sy eie lyf, veel rossiger, is ook heelwat hoekiger as voorheen.

      In die kransmuur wat loodreg voor hulle opstyg aan die oorkant van die rivier maak ’n groot verskeidenheid voëls nes. Ben eien dadelik die oewerswawels, die bos- en die kransduiwe. Die rooi kaffervinke en die visvangertjies. Laer af met die rivier is die geborrel en getjik-tjik van die geelvinke, die vliegroep van die rooivinke en die harde gefluit van die koringvoël duidelik hoorbaar. Verder weg hoor hulle bobbejane blaf. Hier is dit paradyslik welig.

      Daar is vir seker otters in die omgewing, meen Ben, hy het hulle uitwerpsel gesien van hopies vergruisde, spierwit krapdop en skulp. Die watermuishond dink hy sal ook hier hou. Daar is ’n oorvloed van insekte: daar is naaldekokers, sê Ben, motte en skoenlappers, kewers en besies, wespe en watermotte – ’n groot verskeidenheid spesies. Ben is opgewonde. Dit is anders hier as die bar omgewings waardeur hulle die afgelope maande beweeg het.

      Smiddae sal die krans ’n diep skaduwee oor die rivier gooi, maar nou is dit nog sonnig hier, met net die skaduwees van oorhangende takke.

      Reitz wys vir Ben hoe goed sigbaar die horisontale en vertikale doleriet-intrusieplate tussen die opeenvolgende sedimentêre lae van kakiekleurige skalies, kleipilkonglomerate en sliksteen is. Hierdie gange en plate kruissny die sedimentêre lae soos loodgieterspype, sê hy, en hierdeur het die vuurwarm lawa na bo ontsnap. Hy wys ook vir Ben hoe op sommige plekke die lawalaag die sandsteen aan weerskant gebak het, so warm was dit.

      En die rivierwal teenoor die kransmuur, wat hoër word ’n entjie verder af met die rivier, meen Reitz is ’n ideale plek om na fossiele te soek.

      Maar hoewel hy die omgewing geologies interessant vind, vind hy dat dit ook ’n ánder, onbepaalbare aanspraak op hom maak.

      “Ben,” vra Reitz ’n rukkie later versigtig, “wie en wat dink jy het ons hier? Waar dink jy het ons tereggekom?”

      “Sien dit as ’n opvangskamp,” sê Ben, “vir tydelike en permanente gevegsongeskiktes.”

      “Wat is ons?” vra Reitz, “tydelik gevegsongeskik?”

      “Ons is nog van onsekere status,” sê Ben, “enigiets tussen drosters en verraaiers. Spioene selfs.”

      “Nou ja,” sê Reitz, “daar het jy dit nou. Senekal se werk.”

      “Dit word wel alles mettertyd duidelik,” sê Ben, “ek het goeie goed van generaal Bergh gehoor. Hy is skynbaar ’n intelligente en redelike man.”

      “In teenstelling met Senekal,” sê Reitz.

      “In teenstelling met Senekal. Intussen kry elkeen van ons ’n takie om te verrig,” sê Ben, “totdat daar oor ons lot beslis word.”

      “Kouse stop,” sê Reitz. “Ek hou dit nie.”

      “Gedenk altoos Senekal se waansin,” sê Ben.

      “Ons kampgenote lyk die een so verskrik en bedremmel as die ander,” sê Reitz. “Gert Smal is nouliks ’n redelike gespreksgenoot. Kosie Rijpma het nog g’n dooie woord gesê nie. Die arme Seun kan met moeite ’n paar onverstaanbare geluide uitkry. Ruieben lyk ’n rowwe diamant. Japie Stilgemoed skarrel weg as mens net in sy rigting kyk.”

      “So sku soos die aardvark,” sê Ben.

      “En Esegiël tel nie,” sê Reitz.

      “Nee,” sê Ben, en hy glimlag, “hy tel nie.”

      Ben lig ’n plantjie aan sy wortel uit die water. “Laat ons voorlopig ons seëninge tel, ou Reitz,” sê hy, “tot tyd en wyl daar oor

Скачать книгу