Скачать книгу

kan aangesien word as deel van die rommel op die sypaadjie. Ou matras, flenterstoel sonder sitplek en met twee pote, kartonbokse, stuk van ’n tweeplaatstoof, rooi KFC-houers met hoenderbene vol miere, plastieksakke, bierbottels; uitskot van Hillbrow se rioolstrate.

      Fred sien die wond aan die voorkop, druk hurkend sy hande in die rubberhandskoene in, probeer die kop weglig, soek vir bloed. Daar is áltyd ’n plas. Groot bloedverlies met so ’n koeël uit ’n Smith & Wesson, of ’n Colt.

      Fred, van die ou skool, dra nog ’n knipmes saam. Hy vroetel in sy sak, haal dit uit. ’n Rodgers, die lem net vier sentimeter lank maar vlymskerp, en al dun weggeslyp op die fyn oliesteen van karborundum in sy motorhuis. Hy gebruik die mes om sy biltong te kerf, en om met die dun lem onder sy naels te krap. Nou druk Fred die lem onder die kadawer se hempsmou in, lig dit weg om die goue armketting te beskou. Die oorledene het ook twee vingerringe en ’n goue ketting om sy nek. In die lel van ’n oor ’n fyn goue ring. Die versierings aan die liggaam sê hy was nie die slagoffer van ’n roof nie.

      Fred is honger; in die oond tuis wag tjops en gebraaide aartappels en soetpampoen. En Ans voor die TV. Sy weier om bed toe te gaan as hy laat werk. Sê sy klim nie alleen in die kooi nie, dis slegte karma vir ’n huwelik.

      Karma, bid jou aan!

      Kyk te veel TV, sy Ans. En waarna kýk sy as sy saans so alleen daar sit? Wat meen sy, karma? Miskien sal Jimmy Julies weet. Forensiese manne weet álles. Ella Neser sal ook weet. Nog jonk en fiks. Hy kan háár met karma voorstel, sy en haar Bam … voor die haker ’n slegding oorgekom het. Gat-oor-kop-karma met daardie dun latlyf. O ja, Miss Prim ’n Proper, stille water, diepe grond. Drink nie saam bier vir spanbou ná die oplossing van ’n moeilike saak nie. Wat reg is. Ella Neser het nog nie rede vir bier nie. Haar saak is onopgelos, die verdagte uitgeken, maar op vrye voet.

      Ella Neser, het Fred nou die aand voor die TV vir Ans gesê, het nog ’n paar lesse om te leer. Ella Neser kan nog nie met net ’n blik na ’n liggaam op ’n Hillbrowse sypaadjie die oorsaak en motief sien soos ’n ou hand nie.

      Maar sy word in doeke toegevou, op verpligte siekteverlof, traumaberading. Die ou hande loop die harde pad, kan ’n pak vat, smeer Mercurochrome aan hulle wonde, gaan vang die volgende boef. Alles met voetwerk, goeie ou speurvernuf, g’n intuïsie of sesde sintuig of sulke hokus-pokus van die kopkwakke nie. Ou hande het nie traumaberading nodig nie.

      * * *

      Sy het dit verwag, álmal het dit verwag. Dit is nogtans ’n skok. Wanneer jy ’n doodskis opgrawe en die deksel oopmaak, verwag jy die oorskot van ’n mens. Dit is natuurlik. Dis die doel van ’n doodskis wat in ’n graf neergelê is: om die afgestorwene ter ruste te bring, van stof tot stof.

      “Hier het julle dit nou, voor julle eie oë,” sê dokter Koster.

      Ella gee ’n tree nader om die inhoud van die verweerde dennekis beter te beskou. Betrag die stukke van sementblokke met mos oortrek, die geroeste skrootyster, herken twee bladvere van ’n ou kar, ’n suierstang, lengtes metaalpyp, ’n tuinkraan van geelkoper. Alles ingebed in ’n laag grond, sodat dit nie kletter wanneer die kis vervoer of rukkerig in die gat laat sak word nie.

      Dokter Koster neem foto’s, die kis nou ’n addendum tot sy regsgeneeskundige verslag oor Dorkas Lotz, byvoeging tot Ella se moorddossier. Nuwe klagtes: dis ’n misdaad om sonder verlof of permit ’n lyk te verwyder, bedrog te pleeg met die inhoud van ’n doodskis.

      “Wil julle die kis en inhoud as bewysstukke bewaar?” vra dokter Koster.

      Silas kyk na Ella. “Is dit regtig nodig, adjudant?”

      Hy hoef haar nie te vra nie, en sy waardeer dit. Dis soos sy die kolonel ken. Nie oor wat hy sê nie, maar oor wat hy soms nié sê nie. Hy impliseer sy bly die ondersoekbeampte, al is sy met siekteverlof.

      “Die foto’s is voldoende, saam met die verslag oor die kis,” sê Ella.

      “Wat van Dorkas?” vra dokter Koster. “Wil julle háár as bewysstuk in die argief gaan bewaar?”

      Ella skud haar kop. “Ek sal ’n lasbrief kry, of iets … ’n permit, ’n wettige dokument om haar in haar graf te laat herbegrawe.”

      “Begrawe,” sê dokter Koster. “Nie hérbegrawe nie. Sy’s nooit in die eerste plek daar begrawe nie. Net haar kis is ingespit.”

      “Is jou outopsie op haar afgehandel, dokter?”

      “’n Outopsie was onnodig; haar mediese verslae en dokumente was in die hospitaal se argiewe. Die doodsertifikaat is in 2005 uitgereik. Sy’t aan natuurlike oorsake gesterf. Sy het ’n ernstige beroerteaanval gehad en is ’n paar maande later oorlede. Apopleksie weens bloeding op die brein. Kort voor haar vyf en sewentigste verjaardag.”

      “En toe laat haar seun haar balsem,” sê Silas.

      “Om haar vir ewig te bewaar,” sê Ella.

      “Die balsemer het uitstekende werk gedoen, moet ek byvoeg,” sê dokter Koster.

      “Meneer Poppe Junior,” knik Ella. “Hulle dink sy’s steeds in die kis. Hulle weet nie Abel het haar uitgehaal tydens die nagwaak nie.”

      Dokter Koster beduie vir sy assistent om die kis uit die outopsie-kamer te verwyder. “Gaan stort dit daar by die rommel sodat die munisipaliteit se lorrie dit kan wegry.” En aan Silas en Ella: “Wil julle haar sien? Ella?”

      Sy knik net. Nog jonk op die jop, begin nou eers, stadig, gewoond raak aan dooie liggame. Wonder of dit óóit makliker word. En nou een wat al jare gebalsem lê. ’n Mummie. Sy teug ’n slag na lug, tree nader toe dokter Koster ’n yskasdeur oopmaak, ’n staallaai uittrek.

      “Ek’t haar gesien daar op haar bed in Abel Lotz se huis,” sê Silas. “Hy’t baie moeite met haar gedoen, spesiale lugversorging en bevogtiger vir haar kamer, selfs op ’n marmerblad uitgelê.”

      “Ja, hy’t goed vir sy ma gesorg. Sy sou lank bewaar gebly het.” Dokter Koster lig die laken van Dorkas Lotz se gesig weg.

      Ella staar na die ou vrou, na die twee plooie diep tussen haar oë ingekerf teen haar voorkop op, die spiere gefossileer van dekades se fronsgewoonte, en later weens rigor mortis en balsemmiddels. Stugge, streng gesig, die ma wat ’n monster verwek het. Onder die laken steek die borsdeel van ’n outydse nagjurk uit, eens wit, nou sepia, die gestyselde bef van geborduurde kant styf om haar verrimpelde perkamentkeel.

      “Sal ek Poppe & Son laat weet om haar te kom haal vir die begrafnis? Ella?”

      Sy kyk op na dokter Koster, haar vingers strelend oor haar maag. Ook hý aanvaar dat dit haar saak bly.

      Sy knik. “Ek sal die dokumentasie reël. Bel die ondernemers.”

      “Sy’s eintlik nog op siekverlof,” sê Silas. “Nie amptelik terug as ondersoekbeampte nie.”

      “Dan kan sy die dokumentasie nie-amptelik reël.” Dokter Koster se bril het afgeskuif terwyl hy kop omlaag Dorkas se gelaat bestudeer het. Nou flits sy oë oor die raam van die bril. “Of gaan jy Ella se saak halfpad aan iemand anders oorgee, Silas? Gaan jy nou ons hele ondersoek bedonner?”

      Óns ondersoek. Ella kyk nie na die kolonel nie, wag vir sy reaksie. Lang pad wat hy en die forensiese patoloog al saamloop, en soms stamperig – wat verwag kan word van twee ou korrelkoppe. En sy is deel van daardie pad. By verstek eintlik, in haar pa se skoene.

      “Solank sy nie op kantoor kom voor die berader haar afgeteken het nie. Streekkommissaris Pitso …”

      “Dêm boontjieteller,” brom dokter Koster. Hy bedek Dorkas weer met die laken, stamp haar in die yskas terug.

      “Dis mý saak,” sê Ella. “En ek sal nie ophou tot ek hom het nie. Ek sal met Poppe & Son reël, ek sal by die graf wees as getuie vir haar begrafnis – nie-amptelik. Ek sal self gaan kyk dat sy laat sak en die graf toegegooi word.”

      “Dan’s

Скачать книгу