Скачать книгу

Ook nie die ergste nie. Geen ledemate of geslagsdele is vir moetie afgesny nie, of die slagoffers gemartel in ’n uiting van woede en frustrasie of in perverse seksuele dade wat sulke moorde kenmerk nie. Wel vreemde rituele. Abel Lotz se gekwelde gees is ’n raaisel.

      “Ek sal hom kry,” sê Ella. “Waar hy ook al is.”

      Dit was haar eerste saak as ondersoekbeampte. Aanvanklik net een moord, en kolonel Sauls, takbevelvoerder van moord-en-roof, het gemeen dis tyd dat sy bevel neem van ’n ondersoek, dat sy gereed is om haar eerste saak te vat en op te los. Niemand kon voorsien dat daardie een moord net die begin was nie, dat sy byna self ’n slagoffer sou word nie, ’n stukkie statistiek.

      “Obsessie kan jou gemoed oorvat,” sê Silas. “Laat ons eers die ding met die kis uitsorteer. Laat ons dit stap vir stap vat, elke stap logies deurdink en deurpraat. Laat die kop regeer, nie die hart nie.”

      “Hy’t my lewe gespaar. Hoekom? Dit sou maklik gewees het, vinnig …”

      “Jy bepraat dit tog met jou traumaberader, Ella.”

      Wanneer hulle alleen is, is sy “Ella”, nie “adjudant” nie. Wanneer hy haar in hulle private ruimte “Ella” noem, stribbel sy nie teë nie, rig sy geen skanse op nie, is hy soos ’n pa wat met sy dogter praat. Sy lê diep in die sitplek, half skuins sodat sy sy gesig in profiel kan sien, nou in die skemerte van die aand met skaduwees oor die groewe en kontoere van sy wange en ken en nek.

      “Om dood te maak, is nie wat hom dryf nie, kolonel. Dis bysaak. Hy oes die velle. Hy’s agter die velle aan.”

      “En toe hy joune nie kon kry nie, was daar geen rede om jou lewe te neem nie. Is dit wat jy sê?”

      “Hy sou niks bereik deur my dood te maak nie. Hy wou ’n stuk van my maagvel hê. Om wat mee te maak? Wat’s die betekenis van die velle?”

      “Hy’t jou lewe nie gespaar uit ’n gevoel van skielike deernis nie. Hy’t jou nie skielik jammer gekry nie. Hy’s onderbreek. As hy nie onderbreek is nie …”

      Sy weet wat hy wil sê, waarom hy sy sin kortknip, dit in die lug laat hang. Sy wéét wat met Abel se vierde slagoffer gebeur het, die een wat haar lewe in daardie huis kom red het, wat die Nagsluiper onderbreek het terwyl hy besig was om haar maagvel te oes. Bam.

      Silas ry by die terrein van die provinsiale hospitaal in, agterom na die laboratoriumgebou van forensiese patologie, half eenkant, kroongrond van dokter Koster.

      “Ek wil haar sien,” sê Ella.

      “Is jy seker?” vra Silas toe hulle uitklim.

      “Sy’s deel van Abel. Hulle is onlosmaaklik, Abel en sy ma. Sy’t my die eerste keer na hom toe gelei.”

      “Uit haar graf uit.”

      “Sy kan my ’n tweede keer help.”

      “Eers wanneer jou siekverlof verby is, wanneer die trauma-berader jou afgeteken het.”

      Hulle stap in. In die lang, stil gang na dokter Koster se kantoor hang ’n onmiskenbare reuk. Nie die medisynereuk van hospitaalgange nie, maar van ontbinding, van sterk reukweerders en reinigers, ondertone van chloor en formaldehied en Dettol.

      Nie ’n opheffende werksomgewing nie, maar hier het Ella Abel se eerste twee slagoffers leer ken. Hier, nakend en weerloos op die vlekvryestaal-outopsietafel, praat die liggame met dokter Koster. Hier vertel hulle wat met hulle gebeur het, vorm ’n beeld van hul noodlottige ontmoeting met die dood.

      Hier het Ella kom kyk na Mia Vermooten, die ambisieuse hoogvlieër, die Nagsluiper se eerste slagoffer. En daarna die hupse Emma Adams.

      “Waar’s die kis?” vra dokter Koster.

      Aan sy oorjas is bruin smeersels en vlekke, droë bloed, of dalk koffie, vermoed Ella. Sy ouderdom is onpeilbaar, grys stoppels aan gesigvore, bruin pigmentvlekke op sy voorkop en rugkante van sy hande. Aan die stompkant van die sestigs, miskien al sewentig, sou sy skat.

      “Tee sal lekker wees,” sê Silas, “terwyl ons op die menere Poppe wag.”

      Dokter Koster sit die ketel aan. Ella kyk hoe hy ’n skeppie koffie in ’n beker gooi. Hy onthou, dink sy met genoegdoening, dat sy nie tee drink nie.

      Die derde slagoffer, die joernalis, het sy ook hier by dokter Koster kom besoek. Dit was vir haar erger om af te kyk op iemand op die outopsietafel wat sy in lewe geken het. Sy kon sy stem nog hoor, die knipper van sy oë sien, al het hy daar gelê sonder gesig, van sy kopvel gestroop.

      “Wat gaan julle met haar doen?” vra dokter Koster. “As ons klaar is met haar kis.”

      Silas haal sy skouers op. “Terug in haar graf in. Wat anders?”

      “Sy sal ’n nuwe kis nodig hê. Julle kan haar g’n in die ou vrot kis gaan terugplant nie.”

      “Ek sal ’n rekwisisie aanvra vir ’n kis. Dennehout met touhand-vatsels. Poppe & Son kan haar weer gaan begrawe.”

      Die Nagsluiper se vierde slagoffer het Ella nie op dokter Koster se tafel gesien nie. Hom het sy beter geken as die joernalis. Báie beter geken, intiem geken. Sy was nog in ICU toe dokter Koster die regsgeneeskundige ondersoek op Bam afgehandel het. Sy was kritiek; daar is gevrees vir sepsis waar Abel met sy ongesteriliseerde lem aan haar buik gesny het.

      Sy het wel Bam se begrafnis in Wespark bygewoon, in ’n rolstoel, vol antibiotika en sterk verdowing teen die pyn. Agterna summier terug hospitaalbed toe.

      Dokter Koster kyk op, hoor ook die lawaai by die diensingang. “Hulle’s hier.”

      Poppe & Son se kistrollie kom teen die effense vloerhelling in. Die rubberwieletjies met die aardige vrag girts oor die skoon teëlvloer na die outopsievertrek, stamp die swaaideure oop. Die hidrouliese springvere laat hulle geluidloos vanself toeswaai.

      “Dankie. Los die kis net so op die trollie,” sê dokter Koster. “Ek sal bel as julle haar kan kom haal.”

      “Hoe lank gaan dit vat?” vra meneer Poppe Senior.

      “Nie lank nie.”

      “Ons is besig, ons het môre ’n begrafnis.”

      “Sy’s nie haastig nie. Oormôre, die dag daarna …”

      Ná die menere Poppe vertrek het, verskyn die lykhuisdiener met ’n klouhamer en groot skroewedraaier. Ella wonder momenteel waar dié gereedskap so vinnig opgediep is.

      Die skroewe is vasgeroes, maar die hout verrot, klam en vol rooi modder, en die kis gaan nie hergebruik word nie. Dit neem die assistent net enkele minute om die deksel los te breek. Hy lig dit weg om die inhoud te ontbloot.

mask.jpg

      2. Sarajewo, Bosnië-Herzegowina, 1991 – 1993

      Berge, woude, riviere. Golwende heuwels bestippel met gehuggies. Kothuise van klip en sink en hout rondom plekke van aanbidding: kerke met torings waarin klokke beier, moskeë met minarette waarin muezzins uitroep. Oewers met bome en boorde vol vrugte, granate wat rooi oopbars. Lappe landerye vol groente, hawer, koring. Weilande met gras en plate wilde affodille, geel en wit.

      Eeue al lê hierdie landskap só, gaan eenvoudige mense langsamer hulle godvresende gang. Nie altyd onversteurd nie, want hulle ken bloed en trane. Hulle is deel van die Balkanse slagvelde, van uitdelging en verowering deur Barbare en Vandale van die Donker Eeue, deur Middeleeuse Ottomane, deur Oostenryks-Hongaarse magshebbers, deur twee wêreldoorloë.

      Nou, in die naam van vergelding, kom die nuwe woestelinge. Ook húlle praat die vergieting van bloed goed, noem dit selfs wenslik. Herlei dit tot die Groot Skeiding in die elfde eeu, waar alles begin het. Só oud al is die onderdrukking en uitwissing van die Serwiërs.

      Die nuwe hordes kom uit Serwië,

Скачать книгу