Скачать книгу

suid en oos na Banja Luka, Srebrenica, Mostar en Sarajewo. Hulle sê vir mekaar die probleem was toe al ’n etniese ding, en is dit steeds. En hulle sê hulle, die Serwiërs, het láng geheues, vergeet nooit die ou onregte nie, en moet dit nou regstel. Hulle kom sonder genade met hulle tatoes en gewere en kanonne, en niks sal ooit weer dieselfde wees nie.

      Wanneer die son in hierdie bloeddronk tyd oor die heuwels opkom en die kleure van die veld veredel, verskyn in die jasinte oggendlig ’n nuwe skakering oor die eens pastorale landskap: die glim van ’n vreemde rosigheid, van al die bloed van mans en vroue en kinders wat hier verspil lê.

      * * *

      In die berge om Sarajewo wurg agt bataljons van die Serwiese Romanija-korps die lewe uit die stad en sy inwoners met sluipskutters en bombardemente. Geboue word in puin gelê, baie van hulle histories – Ottomaanse argitektuur uit die veertiende eeu, Oostenryks-Hongaarse fasades van twee eeue oud.

      Min dele van die stad is onaangeraak, en wanneer die bom-bardemente bedaar, hang donker roetwolke oor die bomkraters en puin. Die lug is gevul met die bitter reuk van kruit, van vuur en versengende verskroeiing. Daarmee saam die krete van gewondes en verminktes. In strate en op sypaadjies bly die dooies lê, want net die dapperstes, dié met ’n doodswens, sal die koeëls trotseer om die liggaam van ’n geliefde te probeer terugwin.

      In ’n bergbasis by Glasinako Polje word Vlatko Galic en Zoran Dragnic as sluipskutters opgelei. Vlatko, met sy Zastava M76, en Zoran, met sy AK47, word losgelaat om te gaan doen wat hulle die beste kan doen: om terreur te saai en die bloed te vergiet van ongewapende mans, vroue en kinders. Hulle doen dit uit ’n verlate woonstelgebou in die Serwiese buurt Kovačići, net suid van die Miljacka-rivier wat Sarajewo soos ’n mes in sy lengte deursny. Hulle vestig die vier en sewentigste sluipskietnes in die beleërde stad.

      In ’n leë woonstel op die sewende verdieping het Vlatko dieselfde dag van hulle intrek met ’n hamer en ’n sementbeitel ’n gat deur die buitemuur van die woonvertrek gekap, nie groot nie, net ’n gleuf vir die loop en die teleskoopvisier van sy geweer. Die Zastava M76 is ’n Joego-Slawiese skerpskuttergeweer, gekloon op die Russiese Dragunov. Maar pleks van die Dragunov se ammunisie gebruik dit die effektiewer 7.92 x 57 mm-mauserkoeëls. Soos die Dragunov het dit ’n flitsdemper voor aan die loop om die warm gasse van ’n skoot, en dus die ligging van die skut, te verdoesel. Die M76 vuur sy koeëls teen ’n trompsnelheid van 730 meter per sekonde. In normale omstandighede op ’n mansgrootte teiken is die effektiewe trefafstand 800 meter – net ’n sekonde vandat Vlatko die skoot aftrek totdat die koeël sy teiken tref.

      Hy lê op sy maag op die vloer, die loop deur die gleuf gedruk. Met die teleskoopvisier het hy ’n voëlvlug-uitsig op die middestad, die Marijin Dvor, die Nasionale Museum, die Parlementsgebou, dele van Tito-straat tussen die dakke deur. Draai hy die loop na regs, sien hy die Skenderija-gebou langs die rivier, ’n kulturele jeugsentrum met winkels, koffieplekke en die Bosna-klub se basketbalbane, en die lemmetjiesdraad om die groot kompleks van UNPROFOR se Franse kontingent. Laat sak hy die loop, duik die Vrbanja-brug oor die Miljacka in sy visier op, so naby, voel dit vir hom, dat hy dit kan aanraak as hy ook sy hand deur die gleuf kan kry.

      Vlatko lig die loop op, sien deur sy visier die geskarrel van ’n voetganger wat Tito-straat na die Holiday Inn toe oorsteek. In Sarajewo stap niemand rustig oor ’n straat nie. As jy wil leef, skarrel jy soos ’n rot van een deuropening na die volgende. Vlatko se vinger rus op die sneller, in sy voorarm span ’n spier.

      “Doef.”

      Die woord plof sag oor sy lippe. En hy gryns toe hy sy vinger verslap en die kolf van sy skouer af op die vloer laat sak. Ek is ’n god, dink hy. Ék besluit wie leef en wie sterf. Daardie vrou kan vandag bly leef.

      Hy vryf met die snellervinger teen sy nek waar ’n sweetdruppel onder sy vuil, gebleikte hare verskyn het. Die druppel is waar die oop bek van ’n wolf hap, die tatoe nie delikaat nie. Die tatoeëerder in Vukovar het gebrou, met stomp naalde net ruwe arsering gedoen sonder definisie en belyning. Vlatko wou eintlik ’n tier se kop hê.

      Op pad na die nuwe bloedige slagvelde suid van die Kroatiese grens het hy nóg ’n tatoe gekry: in die sagte vel aan die binnekant van sy linkerarm wat die geweer se loop stut wanneer hy na ’n teiken korrel, is die woorde ARKANOVI TIGROVI.

      Met sy tatoes as kenteken het Vlatko, en Zoran Dragnic, saam met Arkan se Tiere die Una-rivier na Dubica oorgesteek.

      Etniese suiwering – Vlatko hou van dié frase. Hy meen hulle doen hulle bes, oral waar hulle gaan. Eers Kroasië, nou Bosnië. In Bosnië-Herzegowina, is aan hulle gesê, is hulle prooi nie net die verraderlike Kroate nie. Hier soek hulle ook die onsuiwer bloed van die Bosniaks.

      Die politieke nuanses (as daar nuanses is) van etniese suiwering snap Vlatko nie, maar hy reken dis ’n goeie verskoning, want hy weet wel wie die vyand is, en dit is die belangrikste. Die vyand is die Kroate en die Bosniaks. Wie die opdragte gee, en die verskonings uitdink, traak hom nie. Die pret lê in die avontuur, in die vergieting van bloed.

      Hy trek die loop uit die gleuf, versamel die doppies. Staan op en gaan sit by die tafel, die geweer dwars oor die blad. Met lap en geweerolie begin hy sy wapen skoonmaak en poets. Sy skof is verby.

      Nog nie dertig nie, en veglus is al wat Vlatko dryf, al wat hy wil doen. Dis in hulle bloed, in sy en Zoran s’n. Geweld en selfgelding. Eers as kinders in die ellendige agterstrate van Belgrado, toe in sokkerbendes. Beskonke bloed laat vloei met vuiste en klippe en messe en kettings by wedstryde van hulle geliefde Red Star Belgrade FC.

      Sokkergespuis, is hulle uitgekryt. Maar die uitkryters het geswyg toe hulle, die gespuis, die uitverkorenes word. Ja, daardie bekke was stil toe hulle gewerf is vir Arkan se Tiere, toe hulle die uniform van die Srpska Dobrovoljacka Garda aantrek. Hulle held, toonbeeld van ’n suiwer Serwiese bloedlyn. Al is hy vir ander steeds net Željko Ražnatovic, gewone straatboef, kort-kort in die tronk. Maar niemand sê dit openlik nie, nie in Arkan se gesig of in die gesig van sy volgelinge nie. Want die kenteken van die tier en die motto ARKANOVI TIGROVI boesem vrees in.

      Net ná drie hoor Vlatko die gekap van stewelhakke buite op die betonvloer. Zoran stoot die deur oop, kom sit oorkant hom by die tafel. Plak die halfleë bottel brandewyn op die blad neer.

      Vlatko ruik die Slivovitz aan Zoran se asem, die amandelgeur van die damaspruime se pitte. “Jy’s laat.”

      “Hoeveel?”

      Vlatko wys na die doppies. “Dertien.”

      Van die dertien skote het net twee getref, en hy dink nie dit was noodlottig nie. Hy kon een sien wegskuifel agter ’n geparkeerde kar in, die ander hinkende by die deur van ’n kantoorgebou in. Nie ’n goeie dag nie.

      “Hoe laat kom die bibliotekaris?” vra Zoran.

      “Vyfuur, het hulle gesê.”

      Zoran kom orent, moet op die blad druk vir balans. Hy vat die bottel om die nek en stap met sy AK na die muur toe, hurk, druk die loop deur die gleuf.

      “Vyfuur op die brug?”

      Vlatko staan ook op, swaai sy geweer oor sy skouer. “Met ’n wit lap in sy regterhand.”

      Hy hou Zoran dop wat sukkel om sy lê op die vloer te kry. Aan sý binnearm is die woorde BELI ORLOVI; hy het in Vukovar gemeen dit sal geen skade doen om sy lojaliteite te deel met ’n ander paramilitêre bende nie. Trouens, in oorloë, was sy redenasie, is ’n agterdeur áltyd gewens. Is die tweekoppige arend onder ’n kroon dan nie juis die Serwiese nasionale embleem nie? En gaan dit alles, al die etniese bloedvergieting, dan nie juis om ’n suiwer Serwiese toekoms nie?

      Daarom het dieselfde tatoeëerder met die onvaste hand op Zoran se bors die kop van ’n voël met uitgespreide vlerke aangebring, simbool van Mirko Jovic se Wit Arende. Ook hulle motto op sy binnearm. En op die kneukels van elkeen se regterhand, die hand met die snellervinger, is die letters SDG, vir Srpska Dobrovoljacka Garda.

      Zoran druk die kolf teen sy skouer om sy visier in te stel. Die AK is nie so akkuraat as die M76 nie, en die trefafstand korter, maar die Vrbanja-brug

Скачать книгу