Скачать книгу

de Lange het grootgeword. Hy het toe inderdaad sy eie mens geword. Die seuntjie wat tussen eggo’s en gille grootgeword het, neem nou ander mense met hom saam na die Groot Vyf, die groot vlaktes, die groot kremetartbome en die grootse landskappe van sy land.

      “Mevrou weet, mens hoor altyd van die Engelse se stiff upper lip. Ek sien die ander kant. Hulle is hands-on-mense. Party van hulle is betrokke by …”

      Miskien is Ma en Pa se gebede vir hom toe verhoor. Gedurende sy tienerjare was dit sekerlik net hulle wat vir hom gebid het, en dan ook omdat hulle ’n direkte belang by sy keuses gehad het. Die Allerhoogste moes die buurseun asseblief tog tem en in bedwang hou.

      En as die tweeling hom om die beurt aan ’n neusring of met ’n push-up bra en sakdoekgrootte rompie na die afdraaipaaie sleep, bring die een wat in dié fase met hom uitgaan ook terug na die pad waarop U haar wil hê. Ons bid nie dat U hulle uit die wêreld wegneem nie, maar dat U hulle van die Bose bewaar, Vader.

      Dié gebed is agter geslote deure gebid, nie aan tafel wanneer Pa huisgodsdiens hou en almal sit en voete skuif nie. Toe Paula hulle die eerste keer só hoor bid het, het sy gekook van verontwaardiging. Ma het selfs oor die push-up bra by Pa geklik!

      “… die Prendergasts, veral, is regtig geïnteresseerd in julle skills development programme.” Hy draai sy kop, kyk haar skielik in die oë.

      Hou my sterk, moenie dat ek ooit weer iets voel nie, bid Paula. Nie vir hóm nie.

      “Dis ’n ongewone van,” hoor sy haar eie stem. “Prendergast. Dit laat my aan sneeuganse dink. Aan kraggereedskap. Of selfs aan ’n plek in Finland.”

      Hy lyk verbaas. “Hulle sê hulle is familie van ’n bekende Amerikaanse skilder.”

      “Jou ma het seker vir jou gesê ons werk vandag heeldag hier?” kom Jo tussenbeide.

      “Waar val Mevrou nóú uit? My ma is vroeg vanoggend al weg na daardie groot tuin-ekspo. Ons het mos lank gekuier, ek en sy. Nee, ek was na die Soetdoring-wildreservaat met die groep, toe wou ek hulle Waterfront toe neem vir middagete en ons ry hier verby. Húlle sien die vlooimark en ek sien hoe die straatmense by die syhek van die kerkterrein inkom. Vanselfsprekend sê ek toe vir my busbestuurder hy moet stilhou, dalk kry ons ’n paar lede van die CLAP-span hier.”

      “Nou toe nou,” glimlag Jo.

      “Ek wou hulle ook sommer die kombuis wys waar ek teekoppies leer was en kastrolle leer skuur het. Dis mos darem die plek waar ek … waar óns grootgeword het.”

      Ons het inderdaad op die kerkterrein grootgeword, dink Paula. Ek en jy, Hans de Lange, het ’n stuk van ons onskuld hier verloor: agter die stoorkamer, in die spens, in die kombuis.

      Lalla was buite in die donker saam met ’n seun wat Sondagaande kerk toe begin kom het omdat een van die dominee se tweelingdogters eensklaps, nádat sy deur Hans de Lange eenkant toe gegooi is, sowel goed as kwaad geken het. Laataand ná kerk en Jeugaksie het die skerp, denneagtige geur van die reukweerder wat baie van die gemeente se jong bokramme gebruik het aan Lalla se klere gekleef.

      Lalla wou vir jou iets sê, Hans. Met haar deurmekaar hare, met ’n Omo-wit of rooi brabandjie wat tot Ma se ontsteltenis oor haar bruingebrande boarm hang, met die denne- en muskusreuke wat aan haar afgevryf het, het sy die boodskap vermakerig aan jou deurgegee: Sy het jou nie meer nodig gehad nie. Sy was geholpe, dankie.

      Ons het elke Sondagaand teekoppies in hierdie kombuis gewas. Ma het destyds gesorg dat die gemeente ná die aanddiens saam tee drink, glo om mekaar beter te leer ken. Ná die teedrinkery is ons hierheen ge-tóé-tóé. Ma het die seine wat ons vir mekaar gegee het foutloos gelees. Dié kombuis was die horings van die altaar waar ons hormone ons nie sou kon inhaal nie. Hoe meer teekoppies vir ons, hoe minder angst en voorbodes vir Ma.

      Een aand het jy met die kop na die donker spens beduie. Jou oë het soos dié van ’n kat geblink. My ingewande het in my omgeslaan; my ore het begin suis. Ons het twee van die groot vlekvryestaal-teekanne van die spensrak afgestamp toe ons die eerste keer wild lyf teen lyf gevry het.

      Ma het onverwags die kombuis binnegestap en gevra: “Wat het geval?” In die halfdonker was jou mond swart van my lipstiffie, en die vuur van jou eerste tongsoen was oral in my mond en my lyf.

      “Sommer een van die potte, Mevrou,” het jy gesê.

      “Een van die potte? Watter potte?”

      Jy het op die vloer gehurk en jou lippe met ’n stoflap uit oom Willie se skoonmakerskissie probeer skoon kry. Ek was nog lam in my knieë en die spensrakke het nog gekantel. In my kop, altans.

      Maar ek het aan die giggel geraak, my klere naastenby reggepluk. Ek kon nie ophou giggel nie.

      “Hans noem ’n teekan ’n pót, Ma.”

      “Kom uit daar,” het Ma sonder omhaal van woorde gesê. “Dadelik. Waar is Laurette?”

      “Sy … gesels seker buite, Ma.”

      “Sê sy moet inkom saal toe. Onmiddellik.”

      Drie jaar lank, Paula Rall, hou jy die man wat spensrakke en plafonne kon laat val uit jou lewe. Jy ban hom uit jou gedagtes. Ná drie jaar pak jy uiteindelik die stukkies van jou hart soos legkaartstukke terug. Sommige stukke is steeds soek, maar eindelik glo jy jy gaan dit máák.

      En dan stoot die man vir wie jy jou hart gegee het ’n deur oop. Dan staan hy daar in safariklere, serp in die kleure van die landsvlag om die nek, wit litteken op die wang, sy oë steeds die kleur van bloekomboomblare, sy haarlyn dié van ’n man wat sy jeug agtergelaat het.

      “Ek het besef, Mevrou: mens hét ’n plek waar jy grootgeword het.”

      Hoeveel onthou hy? Hoeveel van wat hy onthou, stoot hy nou onder ’n laken van gemeensaamheid in?

      “Ek het moeite met Hans se verjaardaggeskenk gedoen,” het Ma een jaar vies opgemerk. “My voetsole blase geloop om so ’n veldpet met nek- en oorklappe vir hom in die hande te kry. Maar ek moet dit seker maar gewoond raak: Hans maak van niks ’n ophef nie. Nie eens as hy kry wat hy self gesoek het nie.”

      Ruk jou reg, Paula Rall. Dalk is die verlede vir hom net die verlede. Hy is ’n mán; hy het nie drie jaar lank in die bos sit en treur nie. Hans de Lange draf deur meisies. Hulle harte is sy gym; hulle toekomsdrome is sy speelgoed.

      En die slegte nuus is: wat hy in Phalaborwa doen, bly in Phalaborwa. Sy ma mag ’n snob en ’n beheervraat wees, maar ’n los tong het sy nie. Die tyd toe Hans se pa padgegee het en vier maande lank nie huis toe gekom het nie, het selfs haar brugvriendinne nie daarvan geweet nie.

      “Jou toergeselskap sal nie veel sien nie. Die meeste lede van die uitreikspan verkies om in die agtermiddag te werk,” sê Ma apologeties. “En die mense in die saal is eintlik maar net dié wat gewoonlik dié tyd van die dag op straat is.”

      “Dié wat regtig oor die muur is,” knik Hans.

      Hy het al Ma se skanse omgegooi. Sy déél met hom, koinonia. “Soos Dominee altyd gesê het, Hans: dié wat sonder werk, sonder dak en sonder besittings is, kan enige tyd van die dag op enige plek wees.”

      Hy loop vorentoe en maak sy arms vir haar oop. “Ag, Mevrou,” sê hy, “oor Doom. Ek is so jammer. En dít op die Thaba Nchu-pad. Doom het nog gesê daardie pad is so gevaarlik.”

      Jo staan met haar hande in die lug asof dié omhelsing ’n versoeningsdaad was wat gewag het om te gebeur. Sy huil en vee haar neus aan haar boarm en mou af.

      “Dit … hulle het mos ’n oorbrug na die lughawe gebou, groot padwerke voor die Wêreldbekersokker. Maar dit was nie die taxibestuurder se skuld nie. Die son en die stof moes vir Dominee verblind het, hy het in die rigting van die ondergaande son gery. Hulle het die laaste paar maande mos tot donker op daardie pad gewerk, niemand het gedink hulle sou dit voor die Wêreldbeker klaarkry nie. My ou man moes beheer oor die motor verloor het. Van die padwerkers het gesê hy het reg van voor op die taxi afgejaag. Hulle het albei probeer uitswaai, maar dit was te laat. Hy en die taxibestuurder

Скачать книгу