Скачать книгу

matriekjaar gedink. Dit was nag in Hans se lewe: strafkamp by lamplig.

      Nou was dit sý wat op die bed onder die hoë ventilasievenster gespring het, maar net wanneer Lalla nie in die kamer was nie. Met die kamerlig afgeskakel kon sy sy silhoeët soms agter die ligte gordyne in sy helder verligte kamer sien. Met die blad van die groot lessenaar tussen hom en die venster het hy vreemd ingehok gelyk.

      Die eerste keer toe Lalla haar op die bed by die luikvenster aangetref het, het hulle albei versteen.

      “Ek glo dit nie,” het Lalla gesê. “Wie is jy regtig?”

      Dit was ’n vraag oor húlle twee, oor haar en Lalla, oor susterskap.

      Paula het soos ’n bang kleuter van die bed afgespring. “Jammer,” het sy gemompel. “Dit was stupid van my.”

      Lalla het die kamerlig aangeskakel, ’n blerts wit skuimspoeg op Paula se duvet gespoeg en ook die volgende oggend nie ’n woord met haar gepraat nie.

      Lalla het haar daarna wéér uitgevang. Die hemel weet, dit was nie moedswilligheid of vermakerigheid nie. Sy en Hans was ferromagnetiese elemente met ’n muur tussen hulle: yster en nikkel. Of kobalt en gadolinium.

      Dié keer het Lalla langs haar op die bed gespring en die venster oopgeruk. Sy het Paula teen die muur onder die venster vasgedruk, haar linkerhand se wys- en middelvinger teen haar lippe gedruk en skril deur die oop luik en oor die heining tussen die twee huise gefluit: Pfffffftttt!

      Anderkant die heining, verspot jonk agter die ontsagwekkende lessenaar, het Hans skielik opgekyk. ’n Oomblik het hy reg in Paula se oë gekyk. Haar wange het aan die brand geslaan en daar was ’n suisgeluid in haar ore.

      Lalla het haar van die bed afgestamp, maar sy het Lalla aan die arm beetgekry en saam ondertoe geruk. Al vallende het Lalla haar soos ’n kat in die gesig gekrap. Hulle het half op Lalla se bed, half op die gebedsmat tussen die twee enkelbeddens neergestort.

      “Nou gaan jy te ver,” het Paula woedend gehyg en Lalla weggestamp. Die bedlampie het van die bedkassie afgetuimel; die gloeilamp het aan skerwe gespat. “Jy … jy vra nog hoekom Hans jou gelos het. Dis oor jy is soos jy is!”

      “Hy sal jóú ook los, jou dik seekoei.”

      Dié aand het Paula ure lank in haar bed bly rondrol. Wat dínk Hans van haar? Wat het deur sy kop gegaan toe hy besef sy staan hom en afloer? Hoekom stuur hy nie vir haar ’n SMS nie, hoekom swyg hy soos die graf?

      Uiteindelik het dit tot haar deurgedring dat hy haar nie gesien het nie. Sý kamerlig was aan, hulle kamerlig was af; hy het vanuit die lig in die donker ingekyk. Hy het Lalla hoor fluit, hy sou ’n paar afleidings kon maak, maar die geluk was aan haar kant. Hy kon haar nie gesien het nie.

      Haar wange het ophou brand en sy was minder naar. Maar steeds kon sy nie aan die slaap raak nie. Jou dik seekoei, het Lalla haar genoem. Waar het dié skelwoord vandaan gekom? Lalla moes lank daaraan gewerk het, ure lank in haar gedagtes. Dik seekoei … ’n snydende belediging, in bitterheid met stukke appel tussen die tande verwek en dag ná dag verder gevoed.

      Op ’n dag het sy agtergekom dat Lalla selfs anders loop, asof sy ’n besemstok ingesluk het. Die kyk wat Lalla in die tyd van die breuk gehad het, was maar nog altyd daar. Hulle het wel ’n slaapkamer gedeel en steeds skoolwerk by mekaar afgeskryf, maar Hans was die wig tussen hulle.

      Paula kon ook die verwydering aan hulle klere sien. Vroeër het hulle mekaar se klere gedra: Lalla se trui by Paula se broek, Paula se stewels by Lalla se romp. Nou het Lalla die klere uit Paula se kas neusoptrekkerig opsy gegooi. “ ’n Mens versúip hierin. Nee wat, ek dra my eie.”

      Lalla het gekies om klein en petite te word. Ek is Lalla met die klein lyfie en jy bly ’n seekoei. Oor ’n paar jaar gaan jy soos al Pa se ouer susters lyk: tant Ous, tant Sannie, tant Maria. Hans-Jakob de Lange sal sy fout agterkom. Gee net tyd, hy sal sy fout agterkom.

      Was dit toe Hans wat sy fout met haar agtergekom het, wonder Paula, of het sy die ware Hans leer ken?

      Hoe sal sy ooit weet?

      Hóórt yster en nikkel saam? Wéét ’n mens ooit?

      Sy kyk onderlangs na hom soos hy en Ma gesels. Hy het iewers gedurende die afgelope drie jaar ’n smal, opgehewe merk op sy linkerwang bygekry: die nalatenskap van ’n ongeluk in die bos, ’n insident in die newels van Nikstyd.

      En sy haarlyn het geskuif. Van die kuif wat hy as tiener so noukeurig gejel het, is daar nou byna niks oor nie.

      Hy staan in dieselfde ligbalk wat nog al die jare hierdie tyd van die middag in Juniemaand deur die kerksaal se kombuisvenster val. Hy praat om die beurt met haar en Ma: Hans-Jakob de Lange tussen hang en wurg. Ma is hang: sy wou hom al so dikwels hang. Paula is wurg, want hoe dikwels, lank voor die gruwel, wou sy hom nie al verwurg het nie. Maar nie tot die dood toe nie. Nee, nooit tot die dood toe nie, want daar was ’n tyd toe die liefde alles geglo, alles gehoop en alles verdra het.

      “… heeltemal ’n nuwe ding vir my om my ma samies vir ’n evangelisasie-uitreik te sien maak. Sy’t mos maar altyd ’n tjek of iets gegee. Maar oukei, ’n paar lede van die toergroep …”

      Hy was dus weer ’n aand lank in die gehate Sisteem, en sý langsaan in die kamer waarin sy en Lalla tog, voor én na die drama van graad 11, elke aand kommerloos aan die slaap geraak het – anders as hy. Die atmosfeer in die pastorie was wêrelde verwyder van dié in die huis langsaan.

      Ja, Pa was moeilik, gedrewe, onmoontlik idealisties. Ja, hy het Ma rasend gemaak met sy projekte en uitreike en sienswyses. Ja, Ma was ’n sigeuner, ’n swerwer, ’n trekswael vasgevang in die rol van ’n tradisionele predikantsvrou. Maar die rusies wat hulle gehad het, het uitgewoed. Die vetes was soos veldbrande: kleintjies en grotes en skrikwekkende wegholbrande. Tog het almal van hulle geweet: Elke brand sal verbygaan. Die veld sal swart wees, maar die brand sal op ’n manier geblus word.

      Dis hoe dit is as jy kerk toe gaan en Bybel lees en in ’n pastorie grootword, het hulle as klein kinders agtergekom. Jou pa preek baie oor liefde en vergifnis. Hy en Ma fight, dan kry hy nie oor liefde en vergifnis gepreek nie. Dit pla hom, dan maak hy vrede met Ma, dan kan hy weer oor liefde en vergifnis preek.

      In die deftige huis oorkant die heining het die gekyf en geskree nie opgehou nie. Hans het tussen eggo’s en brande grootgeword.

      Ná haar mastektomie slaap Faith de Lange smiddae agter toegetrekte gordyne en kyf sy minder. Gerugte doen die rondte dat sy haar kort ná die operasie stilletjies groot laat doop het. Sedertdien besoek sy elke Woensdagaand ’n profetes wat haar met spesiaal gemengde olies salf.

      Hansard, het Ma gehoor, neem haar tot by die profetes se huurhuis en wag dan buite in die motor. Hy vat glo sy koerant saam, wat hy in die lig van die straatlamp lees. Soos die vroue in Faith se sosiale ekosisteem is hy nie gemaklik met die koers wat Faith ingeslaan het nie. Soms neem hy glo ook iets vir die keel saam, volgens die ooggetuieverslag van ’n paar gemeentelede.

      Met Hans in Phalaborwa, Hansard Woensdagaande onder die straatlamp in die motor, die Gideonsbende van die gemeente in ’n taamlik ontoeganklike wêreld van hul eie, en haar vriendinne soos voorheen om die brug- en koffietafels, staan Faith ook maar alleen. Die vroue in haar sosiale ekosisteem het egter dié keer ingestem om toebroodjies en sop te maak.

      Die besluit, het Faith vir Ma vertel, was eenparig. Almal, selfs dié van wie jy dit nie sou verwag nie, was ín: Nancy, Ethel, Edith, Ada-Maria Steyn, Ina, al die meisies. Die toebroodjieprojek was soos drinks at Dobbie’s, brug by Nancy, shopping en koffie met kaaskoek, besprekings vir die shows by die Kunstefees. As die doodsengel onverwags toeslaan, raak die lewendes tóg soms ietwat meer bereidwillig om die goeie te doen.

      “… en dis vir my lekker om die land vir ’n groep te kan wys wat van die wêreld ’n beter plek wil maak,” vertel Hans. “Wanneer ek hulle aan julle voorstel, sal julle dalk iets beleef van wat ek bedoel. ’n Hele paar lede van dié toergroep is betrokke by opheffingsinisiatiewe in Afrika. Ek moet sê, hulle is mál oor ons land. Alles is vir hulle interessant: spinnekoppe, vlermuise, bome …”

      Yster

Скачать книгу