Скачать книгу

gesinsbeplanning as oor die akademie gepraat. Ons sou ’n woonstelletjie huur, sommer ’n eenmansplekkie. Ons sou die Pil gebruik, één bekommernis minder vir my pa-hulle.

      Hulle ouers aan weerskante van die pastoriemuur sou die stuipe gekry het as hulle moes weet waaroor Paula en Hans aan die begin van hulle eerste jaar op universiteit gepraat het. Hulle medestudente was besig om joolvlotte te bou; hulle twee was nie náby die vlotte nie.

      “Eers net ons twee, net ek en jy, eers graadvang en werk kry. Maar die dag as ek my aanstellingsbrief het, los jy die Pil.”

      Sy het geskrik. Iets was anders. Hy was in ’n plek vóór of ná vuur en verbode vrugte. “Hoekom sê jy so?”

      “Ag, jy weet tog. Dis jý wat my gespot het oor Billie Boelie.”

      “Billie Boelie? Ek het skoon van hom vergeet!”

      “Ek het hom in ’n boeliestem laat praat. Hoe oud was ek toe? Seker so vyf of ses. Billie Boelie was dáár as ek hom nodig gehad het: ‘Kan ek iets vir jou doen, Hans?’ … ‘Ja, Billie Boelie, ek wil hê jy moet vir Muff keer as hy teen my opspring’ … ‘Hou jy dan nie van honde nie, Hans?’ … ‘Nee, Billie Boelie, ek hou van katte’ … ‘Hel, Hans, jy moenie dat jou pa dit hoor nie, dan gaan hy sê jy’s ’n dogtertjie in panties’ … ‘Dis hoekom jy vir Muff moet skop as hy teen my wil opspring, Billie Boelie. Asssebbbliefff …’ Jy was aan julle kant van die heining, jy’t afgeluister, toe skree jy skielik: ‘Daar ís nie ’n Billie Boelie nie, whê-whê. En ek is nie bang vir Muff nie, whê-whê. Jy ís ’n dogtertjie in panties!’ Ek het my byna natgepiepie, so min het ek dit verwag. Jy was ook maar lekker gemeen toe jy klein was.”

      Sy het stywer teen hom aangenestel, berouvol. “Ek was. Ek was ’n pyn in die nek. Eintlik was dit sad dat jy net vir Billie Boelie gehad het. Oukei, ons kan sommer drie laaities hê, dalk vier. Dan kan ons ’n hond ook aanhou. Viér laaities sal een Muff op sy plek kan hou.”

      Hy was steeds in die plek vóór of ná passie. “My laaities sal altyd iemand hê wat goed saam met hulle doen, iemand wat saam met hulle kan weggaan.”

      “Weggaan?”

      “Boomhuis toe. Garagedak toe. Enige plek op die werf waar hulle húlle ding doen en …”

      “En nie alleen is nie?”

      Hy het geknik. Was daar ’n bitter trek om sy mondhoeke?

      Later, op ’n ander dag, het hy iets laat val, net ’n enkele stukkie van die dowwe legkaart van ’n glanslewe waarin kinders nie hoort nie. “Ek was nog nie in die skool nie, toe vind ek uit dat ’n huis vol weerklanke raak as jy alleen daarin is. Dat eggo’s soos tennisballe is. Ek het baie keer in die gang gestaan en skree, dan spring my stem van die een muur na die ander.”

      “Jy was ’n anderster outjie. Ek wonder wat jou ma sou gesê het as jy vir haar sou sê sy moet koes vir die eggo’s, hulle spring soos tennisballe.”

      “Jy het nie geluister nie. ’n Huis raak vol eggo’s as ’n kind alléén daarin is. Ek was negentig persent van die tyd alleen in die huis.”

      “Maar Marta was tog –”

      “Komaan, Paula! As ’n mens nie meer in nappies is nie, hoef niemand meer jou gesig af te vee nie. Dan hoef niemand meer aan jou te raak nie. Marta kon in haar kamer gaan slaap of teen die muur op die sypaadjie met haar vriendinne gaan kuier.”

      Dié soort gesprek het Paula ontstig. Sy wrokkigheid was soos ’n krat vol rommel: afbeenspeelgoedperde, gebreekte Lego-blokkies, die hardgeworde reste van gemorskos, ou selfone, duur batteryspeelgoed met pap batterye, verslete drafskoene, verkreukelde toppies, bierblikke en verdagte leë plastieksakkies en koeldrankstrooitjies, skeermeslemmetjies en stukkies bladaluminium.

      Daar was véél meer in die rommelkrat as wat enigiemand kon raai.

      Pa het haar gewaarsku teen alles wat nog uit die rommelboks kon kom. “Jy ken hom goed, my kind,” het hy eenkeer vir Paula gesê. “Julle het saam grootgeword. Maar Hans kom uit ’n ander soort huis as jy.”

      “Jy het darem grootgekom,” het sy Hans tydens daardie gesprek probeer uitlok uit wat ook al in hom gebroei het. “Jou ma is lief vir jou; jy moet hoor hoe sy oor jou spog.”

      Hy het sy lip opgetrek, steeks perd in sy eie donkerte. “Dankie dat jy dit vir my sê. Ek sal vir haar sê sy moet iets op Marta Motaung se spaarrekening inbetaal.”

      “Have a heart, Hans!”

      Hy het haar skielik stywer vasgehou. “Dit sweer ek, Paulie: die dag as ek mý kind in ’n koue gang kry waar hy na eggo’s luister, loop ek voor ’n trein in.”

      2

      Paula voel asof sy haar kop moet skud om seker te maak wat die werklikheid is. Nou staan Hans hier in sy kakieklere voor haar ma. Nou verduidelik hy asof daar nie drie jaar tussen toe en nou lê nie.

      “So help ek my ma toe gisteraand in Marta se plek toebroodjies maak, Mevrou, want Marta is na ’n kleinseun se begrafnis. Die skaapbredie is in die oond …”

      Sipho? Marta was swart van skok toe hy met die Nuwe Siekte plus TB gediagnoseer is. Sy was verpletter toe hy vir haar gesê het die TB-pille maak hom te siek, hy gaan net muti gebruik.

      “… en ek is so honger dat ek ’n bees kan opeet, maar Mevrou ken my ma. Die toebroodjies hoort in ’n spesifieke tydgleuf in haar program. Ek vra waar en hoe laat die toebroodjies afgelaai moet word. Sy sê dis eers vir môremiddag as Engeland teen Duitsland speel, maar dis vandag die Lubbes se daknatmaak, hulle het mos ’n huis in ’n veiligheidskompleks gekoop. So weet ek dus nou min of meer alles van Mevrou-hulle se CLAP-projek.”

      Ma is klei in sy hande, sy’s broos ná Pa se dood.

      “My ma het my vertel hoe Mevrou die mense leer stoelkussings maak. En hoe Paula self die eerste weeframe aanmekaargetimmer het. Toe ek in my kamer kom, lê verlede week se Thorn Xpress daar en dis van voor tot agter vol berigte oor die CLAP-inisiatief.”

      Paula se hart keer in haar om. Dan was Hans gisteraand net anderkant die heining, terug in die kombuis waar elke soplepel, elke spaan en elke spatel in die regte volgorde teen die muur hang. Dan was hy gisteraand pens en pootjies en kakieklere en al terug in die Ordelike Sisteem, die trots en pyn van Faith de Lange se lewe. Hoe smartlik was dit nie vir haar wanneer Hansard, haar man, en Hans-Jakob, haar seun, die Sisteem nie respekteer nie.

      Hoe dikwels het Paula haar nie soos ’n viswyf oor die detail van die Sisteem hoor skree nie: “Die gou-e kort-steel-tee-le-pels kom hiér, die gou-e lang-steel-tee-le-pels kom in die vakkie langsaan, hoeveel keer moet ek dit nog vir julle sê? Ek wil nie tussen gou-e lang-steel-tee-le-pels rondkrap as ek gou-e kort-steel-tee-le-pels vir die pie-rings van my Royal Al-bert-stel soek nie!”

      Die getier is deur kort stiltes onderbreek, want die twee manne het nie hulle stemme verhef wanneer hulle om genade en vergifnis gepleit het nie. Ná die stiltes het Faith altyd weer gegil: “Julle maak my senuwees klaar! Ek is óp van julle, óp. Ek sal ’n Lanor/Zaaner/Zanot (Paula kon nooit die presiese naam van die kalmeermiddel hoor nie) moet gaan drink.”

      Hans se ma het kalmeerpille gedrínk.

      Dan was Hans gisternag twintig meter van haar af, weer tuis – en ontuis – in die hoekkamer waarna hy aan die einde van hulle graad 11-jaar getrek het, kort ná die breuk tussen haar en Lalla.

      Arme Lalla. Sy was mál oor Hans, té mal. Hulle het agt maande lank uitgegaan, Lalla se eerste liefde en eerste verhouding.

      Paula was saam met Lalla opgewonde. Jaloers was sy nie, nie tóé nie. Dit was vanselfsprekend dat Lalla eerste ’n boyfriend sou kry; sy was die een wat almal eerste raakgesien het. Toe hulle nog kleuters was, het die gemeente-omies gehurk om Lalla op ooghoogte in die oë te kon kyk. “En wat is dié pragtige dogtertjie se naam? Lalla? Is dit hoe Pappa en Mamma jou gedoop het? Nie? So, jou regte naam is Laurette? Dis ’n besonderse naam. Beteken dit dan nie iets soos ‘wenner’ nie, Dominee?”

Скачать книгу