Аннотация

Nataniël is weer op sy stukke. 41 magiese nuwe stories in Afrikaans en Engels, uit sy mees onlangse verhoogproduksies landswyd. Tegelyk absurd en tog so herkenbaar Suid-Afrikaans. Soos in Nicky & Lou, en sy jongste blitsverkoper 150 stories, is die verhale in Zip! spitsvondig en báie snaaks, en tog ook so wys. Hoe skryf hy op een plek: “As mense na jou staar of jou nie aanvaar nie, is dit heeltemal in die haak. Solank hulle vir jou hande klap.” 27 stories is in Afrikaans, en 14 in Engels. Nataniël has done it again. 41 pitch-perfet stories from his most recent stage productions since 2012: funny, wry, and often with a bitter sting in the tail. These stories evoke South Africans at their best, and their worst. It’s the small dorpies, the crazy characters on the fringe, and always Nataniël’s uncanny insight into human nature. 27 stories are in Afrikaans, and 14 in English.

Аннотация

Dit is die middel van die twintigste eeu. Net soos die Vaalrivier in vloed die dorpie Koukonap bedreig, bly die Fourie-gesin se lewens ook nie onaangeraak deur groter kragte nie. Lood en Lenie het hulle teësinnig hier kom vestig. Daar is hul seun Dries, gedurig in sy kano die rivier aan’t verken, en sy twee broers. Ênie Malmok en Japie Tarentaal van die Breipaal-lokasie. Oupa Sarel, wat dalk net ʼn regte, egte Boereheld was. Die Davels oorkant die draad. Dik Dawid Daneel en Mank Manie Wolmarans en neef Boet Viljoen wat doedelsak speel in die kroeg . . . Die doen en late van gewone dog fassinerende mense, van die dorp se hoëlui tot die nagwadrywers, word met humor, begrip en soms snydende ironie ʼn werklikheid wat jou sal bybly. Hierdie verrassende, veelkantige roman ontgin die Noord-Kaapse landskap en geskiedenis, en so ook die kringloop van die lewe. Koukonap rig aan die leser die uitdaging: Klim in die kano en roei saam. Maar wees gewaarsku – die stroom kan jou lei na ʼn maalkolk!

Аннотация

’n Spierwit geraamte wat teen kranse uitklim. ’n Skrikaanjaende gedaante wat uit ’n rookwolkie vorm aanneem. Die vaskyk in die gesig van ’n dooie … met een oog wat nog lewe! Hierdie grieselige spookstories dateer van die begin van die vorige eeu, maar die indrukwekkende vertellings, ongewone intriges en ontknopings hou lesers vandag nog net so hoendervel en vasgenael soos destyds. C.J. Langenhoven se ervarings as regsgeleerde, parlementslid en joernalis, sy kennis van die sielkunde, die natuur en van die Klein-Karoo – dit alles kom in sy skryfwerk na vore. Met spitsvondigheid, erns en satire gee hy vir ons in die een-en-twintigste eeu ’n sonderlinge beeld van vergange jare; ’n tyd van handkoffers en perdekarre, en toentertyd se Groot Griep. Toe skyndooies alte maklik lewend begrawe is …

Аннотация

Christiaan Bakkes word onthou as die man wie se arm deur ’n krokodil afgebyt is in die Krugerwildtuin. Dit was ’n waterskeiding in sy lewe. Hy was linkshandig en het sy linkerarm verloor. Tydens rehabilitasie moes hy met sy regterhand leer skryf, en uit daardie pogings is Afrikaans se enigste werklike wildernisskrywer gebore. Met sy eerste boek, Die lang pad van Stoffel Mathysen, het Bakkes die Stoffel-persona geskep vir die oorvertel van ware gebeurtenisse in sy lewe. Nou, met Stoffel: die beste stories, word Bakkes se gunstelingverhale in een band byeengebring, treffend aangevul deur ’n fotoseksie in kleur. In sy kenmerkend ongekunstelde en humoristiese styl vertel hy van sy eerste wilderniservarings as kind, van sy dienspligjare en van sy werk as safarigids in Namibië. Hy vertel stories van die veld, van berge en bosse – as reisiger deur Afrika, met ’n stem soos geen ander in Afrikaans.

Аннотация

Jy sien op straat ʼn gesig, jy herken ʼn gebaar, byvoorbeeld die manier waarop iemand ʼn sigaret aansteek, of hoe die wind gordyne deur ʼn oop venster ʼn vertrek laat inbol, en jy weet – plotseling – dat die belangrikste goed in jou lewe reeds gebeur het. Dit kan wees dat jy jou misgis, en wie weet, dalk staan jy eintlik maar net voor die grootste misterie van jou ganse lewe, maar iets . . . iets, weet jy, is vir altyd verby. ʼn Kameraman word wakker langs ʼn jong bloemiste wie se hande na begrafnisblomme ruik; op ʼn Karoodorp lei ʼn Britse skrywer se liefde vir woordspeletjies tot die heel verste grens; ʼn polisieman wonder oor die inhoud van ʼn beige handsak wat hy op ʼn misdaadtoneel gekry het; ʼn bejaarde vrou wag op die koper van die naaimasjien waarmee sy ʼn hele lewe aanmekaargestik het. Rachelle Greeff is een van die akkuraatste registreerders van hierdie beslissende lewensmomente, daardie drumpel tussen dit wat verby is en die skitterende duisternis wat wag. En in verhaal ná verhaal wring sy die leser se hart presies om daardie goed wat nooit verbygaan nie.

Аннотация

’n Vars nuwe stem in Afrikaans. Die verhale in hierdie bundel belig uiteenlopende karakters, milieus en temas. Hattingh gooi die net wyd: in een verhaal neem ’n Hindoe-meisie wraak ná haar Joodse kêrel se verraad; in ’n ander word ’n 4x4 die middelpunt van ’n boeretroue. Daar is huwelike wat verbrokkel, ouers en kinders, slagters en vegetariërs, rebelle en randfigure. ’n Stem met sensitiwiteit en insig is egter telkens aan die woord, en bind die verhale nie slegs tot eenheid saam nie, maar dwing die leser tot nadenke.

Аннотация

Jy sien op ’n dag jou eerste rinkhals langs ’n trappie in die sitkamer, of ’n pofadder wat jou pa met die geweer skiet, en jy raak bewus van die loutere wilde vrees wat oral opwel sodra die woord “slang” deur iemand geskreeu word. Die oeroue slang word op vernuwende wyses deur skrywers gebruik om iets diepers aan te roer. Die slang word méér as slang, dit word ’n sleutel wat iets onsêbaars ontsluit.

Аннотация

Hierdie omvangryke versameling van die bekende en gewilde Nataniël se verhoogverhale is die ideale Kersgeskenk! Nataniël is een van Suid-Afrika se meester-storievertellers op die verhoog. Sy unieke stem en styl, sy spitsvondige en skerpsinnige humor, sy deernis vir die verskoppelinge en verstotelinge, dit alles maak hom ’n belangrike stem in ons kultuur en samelewing. Die versameling sluit in byna al sy verhale (Afrikaans én Engels) uit ouer bundels wat reeds deur die jare uit druk geraak het (Oopmond, Rubber, Maria Maria, Tuesday, Kaalkop², When I was), sowel as 10 nuwe stories. This extensive collection of stories by the inimitable Nataniël will make an ideal Christmas gift for any of his fans! His unique voice and style, his quirky and sharp humour, his empathy for the outcast and outsider, make him an important voice in our society. The collection includes almost all his stories (English and Afrikaans) from his older books which are now out of print (Oopmond, Rubber, Maria Maria, Tuesday, Kaalkop², When I was), as well as 10 new stories.

Аннотация

Sedert die verskyning in 1982 van haar bekroonde debuut, Halfkrone vir die Nagmaal, het E. Kotze haar gevestig as fyn en intieme waarnemer van mens en natuur, veral van die onherbergsame Weskus. Die lot van vroue en kinders in die ruwe Sandveld, die swaarkry van ’n vissermanslewe, die wel en wee van gewone, eenvoudige mense, word subtiel en treffend geteken. En altyd ook met die oog op die mooie, die humoristiese. Diepsee bevat ’n keur uit E. Kotze se kortverhaalbundels Halfkrone vir die Nagmaal, Silt van die aarde, Halwe hemel, Waterwyfie en ander woestynverhale en Die wind staan oos. Kotze is ook die skrywer van Die slag van die breekbrander en die gewilde romans Toring se baai en Hoogty.

Аннотация

Nee, ant Millie, het Annalise gedink, ek gaan nie net my hare verander nie. Ek sal sommer vir ’n totale makeover gaan. Ek is nou moeg en siek en sat daarvoor om ’n ou lieslap te wees. Ek wil ook ’n slag soos ’n million dollar babe voel! En Petrus sal betaal. Hy sal elke sent betaal. En het Petrus betaal? Moenie eens vra nie! Vra eerder: Het Annalise se plan gewerk? En nie net hare nie, want wat van ant Liefie se gespook – ja, letterlik – om haar kamer in Huis Viljoenshof te behou? En Aletta se plan om ná hoeveel jaar weer ’n roering in haar man se . . . uhm . . . hart te bewerkstellig?
Dit is dus stories oor vroue en hul planne. Of soos Esta Steyn sê: oor vroue wat ’n bietjie kan lieg, ’n bietjie kan bedrieg en ’n bietjie kan bieg. Oor die oorsprong van die verhale sê sy: “Die merkwaardige vrou wat al my vorige, vars manuskripte opgeraap en gelees het voordat dit my werf verlaat het, was my suster. Toe verlaat sy my ná ’n siekbed. Maar in haar absentia het sy my nie ’n oomblik alleen gelos nie. Met groot gejuig het sy hierdie keer nie die stories kom lees nie, nee, hulle sommer self hier aangebring. En my kom vertel van dié vroue. Was sy hier? wonder ek. Sy wás, weet ek. Anders was daar nou niks om oor te bieg nie … nog minder ’n bundel.”
En die resultaat? Verhale só lewenseg, soos ’n Italiaanse rok teen halfprys . . . nee, soos verbrande viskoekies en mash!