Аннотация

Agterbaai: die vroeë dekades van die twintigste eeu. Waar klein Kattie onder die kombuistafel sit, Kat op die skoot, luister sy fyn na die familiestories van haar vele broers en susters oor hoe hul voormense beroof is deur bloedfamilie – en die gevolglike trauma van armoede, drank en ontberings as ma en pa van mekaar vervreem is. As skoolkind word Kattie uitgeplaas na aansitterige buurfamilie, waar sy ’n handige stuurdingetjie word, beslis nie ’n gelyke nie. Hierna is sy kinderoppasser by die vername Van Aardes in die Swartland, waar sy ’n beter lewe leer ken: musiek, boeke en fyn maniere. Wanneer sy hiervandaan uitvlug na ’n onbesonne huwelik, stap Kattie egter dieselfde onvervulde pad as haar ma, waarteen sy haar lewe lank sal stry. In Soetloop keer E. Kotze terug na haar vertroude, geliefde oermilieu, die onherbergsame Weskus. Nes in Hoogty kry die leser buitengewoon meelewende insig in ’n huwelik, en in ’n brakkerige lewenspad wat nie altyd maklike keuses bied nie – maar tog sy varswater-soetlope het.

Аннотация

Sedert die verskyning in 1982 van haar bekroonde debuut, Halfkrone vir die Nagmaal, het E. Kotze haar gevestig as fyn en intieme waarnemer van mens en natuur, veral van die onherbergsame Weskus. Die lot van vroue en kinders in die ruwe Sandveld, die swaarkry van ’n vissermanslewe, die wel en wee van gewone, eenvoudige mense, word subtiel en treffend geteken. En altyd ook met die oog op die mooie, die humoristiese. Diepsee bevat ’n keur uit E. Kotze se kortverhaalbundels Halfkrone vir die Nagmaal, Silt van die aarde, Halwe hemel, Waterwyfie en ander woestynverhale en Die wind staan oos. Kotze is ook die skrywer van Die slag van die breekbrander en die gewilde romans Toring se baai en Hoogty.

Аннотация

Al sou sy dit nie graag wou erken nie, volg Helena Burre haar eie kop, nes haar skipper-pa Jas. Wanneer dié oënskynlik ‘n stokkie steek voor haar broer se skoolganery op Stellenbosch, besluit Helena om inderhaas terug te keer van Grenspan in die Vrystaat waar sy die afgelope jaar in ’n dokter se spreekkamer uitgehelp het. Maak nie saak dat sy en Chris amper trouplanne gehad het nie … Dis met die terugkoms op Volleminkbaai dat Helena besef wat sy gemis het. En dat sy weer met Auret Nagel te doene kry. Hoogty is ’n splinternuwe roman deur E Kotzé, kenner van mense, van die see, en van die troebel en helder waters waardeur verhoudings gaan …

Аннотация

Toring lê langs die Weskus, ’n afgeleë gehuggie waar ’n hand vol bewoners ’n bestaan probeer maak om ’n kreeffabriek. Dis midde-in die Tweede Wêreldoorlog en tye is swaar . . . Moenie dié uitsonderlike roman – haar eerste ooit! – deur die bekroonde kortverhaalskrywer E Kotze misloop nie. Kotze ken mense en menswees – en dis nêrens so duidelik soos in hierdie besonderse storie nie. Sê befaamde skrywer Dana Snyman oor Kotze se roman: “Kotze ken en verstaan ’n vissersgemeenskap en die see net so goed soos Steinbeck. Ek glo ‘n waaragtige goeie storie, kan iets in ‘n mens verander. Nooit weer sal die leë visfabrieke en daardie ouens met die gladde monde onder die bloekombome voor die Paternoster Hotel vir my dieselfde wees nie.”