Аннотация

Vatmaar vertel die boeiende verhaal van ’n klein gemeenskappie buite Kimberley, van die draai van die eeu tot ongeveer 1930. Die leser word bekend gestel aan ’n magdom fassinerende karakters – Oom Chai, Ta Vuurmaak, Domanie Frans Kiewiet, Boitjie Afrika, oom Flip en sus Bet – sowel as aan nuwe perspektiewe op bekende historiese gebeure. ’n Mens se oorweldigende indruk is een van diepe menslikheid en humor, hoewel ongeregtigheid en uitbuiting nie verswyg word nie. Die stories is vol kleur en opwinding, dit voed jou siel en laat jou soms uitbars van die lag, net om netnou weer trane in die oë te kry.

Аннотация

Uit oerwoud en vlakte is die bundel waarmee Sangiro in 1921 debuteer, wat daarna in Frans en Engels vertaal word en waarvan jare lank meer eksemplare as van enige ander Afrikaanse boek – met uitsondering van die Bybelvertaling – verkoop is. In al drie stukke slaag Sangiro daarin om die dier-mens-wêreld deur 'n fyn balans tussen die dierlike en menslike eienskappe van die oerwoudbewoners te handhaaf en hulle met liefde waar te neem en te teken.

Аннотация

’n Wêreld sonder grense is ’n bundel aaneenskakelende kortverhale, almal onderdele van ’n oorlogverhaal wat met seldsame ekonomie vertel word. Dit is ’n genadelose boek oor ’n brutale bosoorlog; oor ’n naamlose jong seun wat soldaat word deur ’n reeks inisiasies in geweld. Algaande word die veilige wêreld agtergelaat, totdat daar nog net die grense bestaan wat deur die grensloses vir hulself versin word.

Аннотация

My Kubaan was Van Heerden se eerste kortverhaalbundel – ’n belangwekkende bydrae wat hom midde-in die destydse oplewing van die Afrikaanse kortverhaal geplaas het. Die beste tekste in hierdie bundel het ’n digtheid en vormbewustheid wat hom uitwys as toonaangewend onder ’n hele geslag knap jong kortverhaalskrywers. My Kubaan is in 1984 met die Eugène Marais-prys bekroon.

Аннотация

John Miles se gevierde debuut. Hier is kort-kortverhale wat fokus op geweldpleging en skokkende gebeurtenisse, asof dit uit alledaagse dagbladberigte geneem is. Dit is gedetailleerde verhale wat raakpunte het met tradisionele spanningsverhale, maar vertel vanuit ’n aweregse, ironiese, amper onbetrokke, vertellershoek, sodat dit die leser lank bybly.

Аннотация

Die bekoring van Eugène Marais se eenvoudige dwaalstories is tydloos. Daar kan geen leser wees wat nie betower word deur die eerste woorde van Krom Joggom Konterdans se “lied van die reën” nie: Eers oor die bergtop loer sy skelm, En haar oë is skaam; En sy lag saggies. En van ver af wink sy met die een hand. Marais was een van die eerste Afrikaanse skrywyers wat inheemse verhale in die oorspronklike Boesman-Afrikaanse dialek neergepen het. Sy vier “Dwaalstories” is die eerste keer in 1921 gepubliseer.

Аннотация

Met Dubbeldoor word De Vries deel van die Sestiger-beweging deur in hierdie stadium in sy skrywerskap verhale te skryf wat André P. Brink “laagverhale” noem waarin die “magiese realisme” na vore kom. Hierdie beskrywing tipeer die verwikkelde wyse waarop De Vries daarin slaag om deur metafore veelvuldige betekenisse en simbole in sy verhale te impliseer, terwyl hy steeds die fyn waarneming en in-diepte sielkundige blootlegging van sy vroeë verhale behou. In aanvulling tot sy gebruik van die plaaslike mense en wêreld bring hy nou ook die Europese omgewing onder woord, soos in die titel van die bundel aangedui word, waar die dubbeldoor verwys na die vermenging van Europa en Afrika. Die titel kan egter ook betrekking hê op die mengsel van tradisioneel-realistiese en magiese tipe verhale.

Аннотация

’n Eietydse bundel kortverhale waarin die vrou skerp na vore tree, maar altyd sprekend van die hele uitgelewerde mensdom wie se bestaan alte dikwels verydel word deur teenstrydige, byna ironiese situasies. Rachelle Greeff is met die CNA-debuutprys bekroon vir dié eersteling-bundel.

Аннотация

Elke dag se ervarings in die lewe van ’n gewone huisvrou, dit is die boustof van hierdie essays. Maar soos die storiekoning van ouds die dinge wat hy aanraak in goud kon verander, so het Audrey Blignault die slag om uit die eenvoudige belewenisse van ’n huisvrou glansende avonture en kosbare kleinode van die gees op te tower. Hierdie slag het sy te danke nie alleen aan haar fyn oor en oog (’n oog met ’n stout vonkeling daarin!), haar deernis vir die ewenaaste, haar vermoë om dieper as die oppervlak en die onmiddellike te kyk, haar sin vir die komiese, haar breë leeservaring en haar vaardigheid met ’n woord nie, maar veral ook aan haar opregte lewensvreugde en die vaste geloof dat die lewe ’n rosekrans van blye dae is. Soos dit ’n mens plesier gee om te sien hoe ’n goeie vakman sy gereedskap netjies en sekuur maar met gemak hanteer, so gee dit ’n mens plesier om te sien met watter vaardigheid hierdie skryfster met woorde kan werk en die juiste woord op die regte plek kan gebruik. Daarby weet sy ook hoe om haar grondige kennis van die beroemde woorde van ander – uit die wêreld-letterkunde en die poësie van die Bybel – te laat aansluit en sonder pretensie daaruit aan te haal en toe te pas. Dit herinner my aan Salomo se “goue appels en silwerborde, so is ’n word op sy tyd gespreek”. Alba Bouwer

Аннотация

Hierdie surrealistiese kortprosas met digterlike aanwending van die woord is beduidend anders as die tradisionele realistiese kortverhaal in Afrikaans. Temas soos die samelewing se skuld aan die ondergang van die individu (“Die man met die swaar been”); die verskrikking van die uitwissing van die Jode in die Tweede Wêreldoorlog (“Die nuwe piramides”) en die impak van eerste liefde (“Die dag van die roos”) word in min en eenvoudige woorde met maksimum effek uitgebeeld. Die rasseverhoudinge word aangedurf in ’n stuk soos “Droogte”, waar die wit man homself van die swart man isoleer, maar dan ook van die hele wêreld daarbuite. Hy bou homself toe in ’n huis sonder deure en vensters, sodat die swart man nie kan inkom nie, maar verseël daarmee ook sy eie lot. Ook “Plek vir een” toon aan hoe velkleur nie die eendersheid van die mens kan verander nie. Teenoor hierdie toespelings op die Suid-Afrikaanse aktualiteit werk hy in twee verhale met temas uit die kontemporêre Europese geskiedenis. “Lied oor Niemandsland” se tema is die geloof in waardes wat hoër gaan as die politiek. Die liefde van ’n jong soldaat vir ’n meisie wat in dieselfde dorpie as hy woon, word deur ideologiese grense gestuit.