Аннотация

Prokureur Ian Brand stuur ’n ondeurdagte twiet die kuberruim in en sy lewe word oornag pure hel. Thuli Khumalo, studenteaktivis op 'n kampus wat stink na petrol en traangas, moet kies tussen vaderverraad of haar beginsels versaak. Snaar Windvogel, vroeër van Matjiesfontein, is nou in transisie onder die lem van ’n enigmatiese plastiese chirurg. En al hoe gereelder slaan ’n kruisboogmoordenaar in die Moederstad toe . . . Hierdie en vele ander fassinerende karakters bevolk ’n landskap waarin die enigste sekerheid ónsekerheid is. Want Etienne van Heerden se tergend aktuele nuwe roman sê veel oor die tyd waarin ons lewe, waar privaatheid en identiteit abstrakte begrippe geword het, fopnuus ononderskeibaar van die werklikheid, en “die waarheid” klaarblyklik ’n onhaalbare ideaal.

Аннотация

My Kubaan was Van Heerden se eerste kortverhaalbundel – ’n belangwekkende bydrae wat hom midde-in die destydse oplewing van die Afrikaanse kortverhaal geplaas het. Die beste tekste in hierdie bundel het ’n digtheid en vormbewustheid wat hom uitwys as toonaangewend onder ’n hele geslag knap jong kortverhaalskrywers. My Kubaan is in 1984 met die Eugène Marais-prys bekroon.

Аннотация

Tian Kilian se ouers is voor sy oë vermoor, die aand van die vuurwerke op Slootplaas. Nou reis hy, Amsterdam toe en na Kowloon, oral op die spoor van Charlie Oeng, oftewel Koekepan, oftewel Gelatenheid, oftewel Chinees. Eens op ’n tyd ’n onbeduidende Hollywood-ekstra, maar ’n hoofrolspeler in Tian se wêreld. Hoe harder Tian probeer om die pyn wat hom sedert sy jeug vergesel, te verstaan, hoe tergender word die vraag: Waar eindig die Chinees se skuld en waar begin sy éie aanspreeklikheid? ’n Ryke verskeidenheid karakters bevolk dié ambisieuse verhaal, van die Chinese matriarg Ouma Voetjies in Amsterdam tot die blinde siener Ouma Ogies in die Oos-Kaap, van Cor van Gogh, hy met die kleinood in die koker, tot die enigmatiese, naamlose “Sy” . . .Die wêreld van Charlie Oeng staan in die tradisie van breedopgesette vertellings met veelvuldige verhaallyne en uitgebreide agtergrondbeskrywings. Feit en verdigsel is sjarmant verweef in hierdie verbluffende roman.

Аннотация

In die wilde nagte of bedags as die son bloed uit ’n klip wil trek en ’n mens se gedagtes koorsig maal – dan loop waarheid en verdigsel, geskiedenis en toekoms, lewe en dood deurmekaar op Toorberg, erfgrond van die Moolmans.
Hiermee moet die magistraat rekening hou wanneer hy die dood kom ondersoek van klein Noag, ’n kind van die weemoed, wat nie heeltemal van dié aarde was nie. En daagliks kring die saak uit, verdiep dit totdat dit selfs die wese van die regspraak uitdaag. Daar word van die magistraat verwag om oor ’n hele stam te oordeel, oor die lewendes en die dodes. Hy moet elkeen se skuld bepaal en daarom almal se “sondes oopkrap”.
Maar die Moolmans is ’n familie wat “van die oerdae vir hul eie sondes leer sorg het”. Ouers sny kinders uit hul lewens, stoot hulle opsy as Stief-Moolmans-“weggooivelle” in die Stiefveld, of stedelinge wie se name nie meer oor hulle lippe kom nie. Die Moolmans vergewe nie. Nie as hul stambloed verraai word nie.

Аннотация

Dié roman is ’n wydlopende werk wat hom veral in Seepunt, Stellenbosch en Matjiesfontein afspeel. Maar die kring word wyer getrek om onder meer verskeie Europese lande en Zimbabwe in te sluit.
Seepunt en Stellenbosch is die ruimtes waarin veral een van die hoofkarakters, Christian, beweeg. Hy is ’n internet-kunshandelaar van beroep, maar hy soek iets méér in die lewe; deel van sy bestaan word geheim gehou van sy gesin… soos byvoorbeeld sy kokaïne-verslawing, en sy woonstel in een van Seepunt se meer obskure buurte. Sedert verskeie hartomleidings, en ook nadat hy deur Kaapse bendelede geteiken is, het sy lewe toenemend gekompliseerd – én interessant – begin raak. Ewe enigmaties is sy vrou, Christine, wie se vreemde verlede voortdurend op haar hede bly inspeel.
En op Matjiesfontein is daar ’n amper magiese wedvlugduif-kultuur, wat soos ’n goue draad deur daardie sameleweling loop. Eksentrieke maar uiters geloofwaardige karakters kom hier aan die bod. Daar is bv. die geheimsinnige hotelbestuurder, selfopgeleide hipnotis, wat verskillende personas bevolk: hy is Arendjan, Raspoetin, Rudyard Kipling. Al die hoede pas. En Miss Edelweiss, musiekonderwyseres wat die vlaktes met haar metaalverklikker bewandel. En Johnny, die deurwag met die immer-wit handskoene, wie se hande vir niks verkeerd staan nie.
Op vernuftige wyse word die twee verhaallyne met mekaar versoen, onder meer deur die bruin meisie Saartjie… sy wat eendag ’n viool optel en asof besiel daarop begin speel. Daar en dan word sy herdoop tot “Snaartjie”, en haar lewe word onlosmaaklik verstrengel met die ander Matjiesfonteiners s’n. Wanneer sy ontvoer word – of het sy weggeloop? – begin ’n intrige ontvou wat al drie ruimtes in die storie op vernuftige wyse oormekaar laat skuif.
Van Heerden se roman is ’n absolute kragtoer, en beloof om ’n baie wye leesgehoor te trek.

Аннотация

’n Romanskrywer en Professor in Skeppende Skryfwerk aan ’n Kaapse universiteit verkeer tussen boeke en is op sy weerloosste en hongerste. In die verslete haarsalon van ene Giuseppe Giuliani, in ’n minder goeie deel van Stellenbosch, ontmoet die skrywer ’n bejaarde en beroemde biljoenêr, ’n asbesmagnaat.
Versteek in ’n steeg voorsien die haarsalon bekendes, wat op soek is na privaatheid en rus, van uurlange kopmasserings, begelei deur Italiaanse tenore en pierings vol olywe. Die skrywer se vader – eens ’n vuurspuwer en latere ringmeester in ’n Karoosirkus – deel ’n ongelukkige geskiedenis met die asbesmagnaat en die skrywer is voyeuristies daarop uit om wraak te neem by wyse van sy vertelling – of so dink hy.
Gou ontdek hy egter dat ander spelers in die verhaal ratser manipuleerders van storielyne is as hy.
Die biljoenêr word ’n karakter in die skrywer se boek en die hooftema word die kunstenaar se uitbeelding van die werklikheid, wat lei tot die skepping van ’n vervormde en nuwe werklikheid, kortom, ’n onwaarskynlike onmoontlike: Storie. Dit word deur die sirkus se hoogtepunt-toertjie gesimboliseer – twee kameelperde wat op onwaarskynlike wyse hul nekke verknoop.
Die skrywer en die biljoenêr se lewens verknoop, werklikheid en fantasie verknoop, die twee vaders (die skrywer se bloedvader en sy nuwe magnaatvader) verknoop – en lei tot ’n skokkende einde wat reeds vroeg in die boek deur ’n Indiese fortuinverteller voorspel is.
Wie het ten slotte vir wie geskryf? Wie van die twee mans – die romansier of die magnaat – is die werklike hand agter die verhaal? ’n Storie oor bloedeed, sensualiteit, ’n veranderende Suid-Afrika, ’n verlange na ’n verlore verlede, en ’n geheimsinnige Wes-Afrikaan, die alomteenwoordige Mister Deejay Gucci X.
Ook ’n handleiding oor kunstenaarskap, en ’n wrede verkenning van die etiese problematiek van die skrywer.

Аннотация

Dié yo-yo wat van sy vinger af uitkatrol het eens op ’n tyd vol sale getrek. In die dae van fleur en flambojansie, toe hy met eendsterthare en in sy smoking jacket met elke hopstappie en kierang die gehoor kon betower. Maar nou is Ludo Loeloeraai se hare grys, en verlang hy na die kameravrou wat hy dekades laas gesien het. Die bloedkol op die pad by Tweefontein kan hy nie vergeet nie, en so ook die eerste verskyning van die vliepiering op die oop pad . . .
Dis hier op Paternoster, waar hy aan die einde van ’n baie lang pad tot rus probeer kom, dat Snaartjie Windvogel haar opwagting maak. Nou eers kon sy van die suikerhuis wegbreek, maar sy het reeds die aand toe haar viool stukkend getrap is, geweet dat daar vir haar nooit weer ’n terugkeer na Matjiesfontein sou wees nie.
En dis op Paternoster waar haar pad kruis met dié van Eenslie Maree, pas uitgeklaar as adelbors. Hy sóék haar, want sy is ’n pragtige meisiekind met lang bene en goeie dye, kuite soos twee visse en regop borste, en hy is ’n jongman in uniform met ’n reguit rug. Al weet hy dat sy die een is wat die bouers jumps gee. Al sê mense selfs oom Ludo ry elke oggend verby die vuurtoring om Snaartjie in die reservaat te ontmoet en dis hoekom hy deesdae so sonbruin en gesond lyk, want dié meerminjintoe seks hom deeglik en hy is op dreef.
Een ding is seker: twee lyke wat so kort na mekaar by Bekbaai uitspoel is geen grap nie. Wat sou al dié sterftes met die vloek van die see na Paternoster gebring het? Klimtol is Etienne van Heerden se eerste roman sedert die veelbekroonde 30 nagte in Amsterdam in 2008 verskyn het. Dit is ’n kragtoer van ’n triek.