Аннотация

Die liggaam is nie jou vyand nie, het hy begin. Ons leef dubbeld, die bewussyn en die liggaam, die een lewe is weggesteek in die ander een. Hulle is een, maar soms moet die een die knie voor die ander een buig . . . Die geheim lê by aanvaarding, aanvaar dat ons twee keer onsself is. Oplaas ’n nuwe roman deur die bekroonde skrywer John Miles. In ’n klein tuinwoonstelletjie sit en luister ’n oudonderwyser een stormagtige aand na ’n vrou wat met heimwee sing van ’n rivier in ’n ander land, van die verlies van ’n vaderland, en van ’n koesterende wêreld. Min weet hy wat wag op hom die volgende dag . . . Dat die verlede ’n manier het om jou spoor te volg, en jou te dwing terug na waar alles begin het. Op ’n dag, ’n hond is ’n besinning oor die vervlietendheid van die menslike bestaan en weerspieël eindelik ’n merkwaardige insig in die mens se lot. Dit is ’n aangrypende roman en word, soos altyd, gekenmerk deur Miles se aweregse humor.

Аннотация

John Miles se gevierde debuut. Hier is kort-kortverhale wat fokus op geweldpleging en skokkende gebeurtenisse, asof dit uit alledaagse dagbladberigte geneem is. Dit is gedetailleerde verhale wat raakpunte het met tradisionele spanningsverhale, maar vertel vanuit ’n aweregse, ironiese, amper onbetrokke, vertellershoek, sodat dit die leser lank bybly.

Аннотация

CNA-prys (1992), M-Net-prys (1992), Helgaard Steyn-prys. Kroniek uit die doofpot (1991) is die aangrypende en onthutsende verhaal van ’n swart polisieman se soeke na geregtigheid en dis gebaseer op die werklikheid. Ten spyte van sy armoedige kinderlewe op ’n plaas in die Vrystaat, verwesenlik Tumelo John Moleko sy droom om by die polisie aan te sluit. En uiteindelik kan hy ’n huis en motor vir sy gesin bekostig en in sy eie tuin werk: Dus, die lewe van ’n gewone, eerbare man. Op ’n dag word Tumelo egter onregverdig beskuldig en ’n hou teen sy oor is die begin van doofheid en eindelose mediese probleme. Wanneer hy ’n klag lê teen sy senior kollega, kolonel Van Niekerk, loop hy hom teen ’n muur van korrupsie en rassisme vas. In die nag van 30 November 1987 is polisieman Tumelo in sy huis met sy vrou Busi deur ’n paar oud-kollegas vermoor. Die roman is sober aangebied, maar die leser weet waarop dit onvermydelik afstuur – daarin lê die spanning en tragiek.