Аннотация

Die behoue huis verteenwoordig De Vries se “ernstige” verhale en die kern van sy werk. Hy het self die keuse van verhale uit sy werk gedoen, en Wium van Zyl het ’n kort inleiding daarvoor geskryf: “Geen kortverhaalskrywer in Afrikaans ewenaar De Vries se volgehoue uitdaging aan sy leser nie: die intens gekonsentreerde intriges, die kriptiese weergawe van hele lewensgeskiedenisse in volle verwikkeldheid en daaragter tergende oerbeelde uit die kollektiewe onbewuste (die towenaar, die idioot, die jokkie, die clown) met beheer oor dood en lewe, oor verval en opbou . . . De Vries bly ’n maatskaplik betrokke skrywer (. . .) ’n skrywer wat te midde van ons land se nimmereindigend kwellende geskiedenis in ’n deur kritici afgeskeepte genre sy skrywerskap aanhou verfyn het om ’n groot oeuvre tot stand te bring wat vreesloos wonder oor die raaisels van die menslike bestaan.

Аннотация

Met Dubbeldoor word De Vries deel van die Sestiger-beweging deur in hierdie stadium in sy skrywerskap verhale te skryf wat André P. Brink “laagverhale” noem waarin die “magiese realisme” na vore kom. Hierdie beskrywing tipeer die verwikkelde wyse waarop De Vries daarin slaag om deur metafore veelvuldige betekenisse en simbole in sy verhale te impliseer, terwyl hy steeds die fyn waarneming en in-diepte sielkundige blootlegging van sy vroeë verhale behou. In aanvulling tot sy gebruik van die plaaslike mense en wêreld bring hy nou ook die Europese omgewing onder woord, soos in die titel van die bundel aangedui word, waar die dubbeldoor verwys na die vermenging van Europa en Afrika. Die titel kan egter ook betrekking hê op die mengsel van tradisioneel-realistiese en magiese tipe verhale.

Аннотация

Abraham de Vries vermom sy “kontreiverhale” soms as “ernstige verhale” en sy ernstige verhale as kontreiverhale. Vir die toegewyde De Vries-leser maak dit weinig verskil. In ’n vertroude vertellerstem, ’n stem wat byna uniek is in Afrikaans, word die leser herinner aan die verstrengeldheid van die magiese en aardse van ons lewens. Die verhale gaan onder meer oor spoke en vendusies, oor ’n nuwe lig op die bekende Stanley de Wit se ster teen die berg, die verteller se onpaar ooms, ’n vreemde begrafnis, die rol van toeval. Daar is die herkenbare maar ook die misterieuse. Verhale van hartseer en humor, lokkende geheime, vreemde karakters, triekster-elemente. Nuwe kortverhale deur ’n meester van die genre.

Аннотация

De Vries se nuwe bundel sluit aan by sy ernstiger werk (bv Nag van die Clown, Tot verhaal kom). Hier is sy hooftemas weer die onbegrypbaarheid van dinge en die weemoed van menswees – en dis daardie gevoel van weemoed wat die leser bybly na die lees van hierdie verhale. Die verhale gaan oor gewone mense en is eg menslik, soos die sensitiewe beeld van die ou straatskoonmaker wat sy werk verloor in “Ode aan ’n ou man wie se strate oor hom treur”. In ’n verhaal soos «Winternag»is dit die subtiele uitbeelding van emosionele geweld in ’n verhouding; in “Storm” gaan dit oor tot eksterne geweld. Geweld word in die bundel ’n metafoor vir morele verval, ’n spieëlbeeld van die aftakeling van die mens vanweë die geestelike aanslag in watter vorm ookal. Verhale wat onthutsend én liries is.