Аннотация

Sy is al een-en-twintig jaar oud en as sy besluit sy wil motorwerktuigkundige word, moet haar ouers maar verlief neem. Nell se reis na haar nuwe werk is vol wederwaardighede, maar sy leer nie maklik nie. ʼn Rissiepit, sy, maar ook hardekop! Gedurende daardie veelbewoë rit ontmoet sy iemand wat ʼn groot rol in haar lewe sou speel, maar sake verloop volgens niemand se plan nie. Ryk, selfversekerde Dewald vind die nuwe aankomeling op Kuilvlei oënskynlik nie onweerstaanbaar nie, en sy hom ook nie. Daar is te veel dinge in die weg van ʼn romanse tussen hulle twee. Een struikelblok is Badie… Badie – jeugvriend, toegewyde ridder, sjarmante hofmaker. Nell weier om die lasterlike dinge wat van hom gesê word te glo. Daarvoor is haar vurige geaardheid te lojaal. As motorwerktuigkundige het sy ook nie juis tyd vir liefdesspeletjies nie. Maar die rabbedoe leer meer as werktuigkunde gedurende haar stormagtige leerlingskap. Ook van mense en van die liefde.

Аннотация

Baas van Babilon gaan oor ’n blitshuwelik, erfgrond, twee broers – Deon die losbol teenoor die stil, sterk Calvyn met die bitter hart – en ʼn onskuldige meisie wat as nuwe bruid op die plaas nie aanvaar word nie omdat sy nie met “agtergrond” en status kan spog nie. Dis enkele van die elemente van dié komplekse familiedrama. Sal Babilon, spogplaas van die hovaardige De Ridders, vir Salome net ʼn tussenspel wees? Sal sy haar siel behou op hierdie tradisieryke erfgrond waarin die bitterheid, haat en tweespalt soveel diep onstuimige rivierlope uitgekerf het? In As die wiel draai word die ryk Killians van Ebenhaeser bankrot verklaar en hulle verloor eindelik hul erfgrond, Ebenhaeser. Dis toe dat al Charlene se lugkastele vir haar toekoms in duie stort. Maar daar is hoop: Charlene en haar pa word gevra om na Ebenhaeser terug te keer. Die nuwe eienaar, Henk de Beer, eertydse bywonerseun, se vriendelike aanbod blyk egter nie so onskuldig te wees as wat dit wil voorkom nie. In Vyf vir vreugde moet Doktor Louwda Louw, kindersielkundige, tot haar eie verbasing vind dat sy instemmend antwoord op ʼn onverwagse huweliksaanbod van Ruben Brynard, ʼn verbitterde prokureur. Op die oog af skort daar niks, maar wanneer Louwda ná die troue by Ruben se huis opdaag, wag daar ’n erge verrassing op haar. Hoe gaan hierdie vrou, wat al net so sinies as haar man geraak het oor die lewe, haar jammerlike situasie in vreugde omskep?

Аннотация

In Die snip van Sesdorings kom ʼn beeldskone rooikopmeisie met die uiters onvroulike naam van Hennie Vermaak, wat sy saam met ʼn stowwerige plaasbiblioteek van haar oupa geërf het, op Sesdorings aan om besit van haar erfenis te neem en begin die vonke behoorlik spat. Voor haar koms het sy immers geweet van die vete tussen haar oupa en die Meirings op die buurplaas . . . En ook dat die spul Meirings haar oupa behoorlik laat les opsê het. En wat kon hy, ʼn arme ou man, doen om hom te laat geld? Natuurlik moes hy maar af en toe op sy eie manier vir hulle wys hoe die vurk in die hef steek. Nie alleen wou Hennie van haar erfenis ʼn klinkende sukses maak nie, maar ook wou sy die onreg teenoor haar arme, weerlose oupa uitwis. Aanvanklik slaag sy in haar doel – maar dit is voordat die sjarmante Donnie Meiring op die toneel verskyn en die strydbyl begrawe. En veral voordat sy ouer broer, Carl, wat niks met enigiemand wat ʼn rok dra te doen wil hê nie, sy ware kleure wys. In Rabbedoe en rissiepit is Nell al een-en-twintig jaar oud en as sy besluit sy wil motorwerktuigkundige word, moet haar ouers maar verlief neem. Nell se reis na haar nuwe werk is vol wederwaardighede, maar sy leer nie maklik nie. ʼn Rissiepit, sy, maar ook hardekop! Gedurende daardie veelbewoë rit ontmoet sy iemand wat ʼn groot rol in haar lewe sou speel, maar sake verloop volgens niemand se plan nie. Ryk, selfversekerde Dewald vind die nuwe aankomeling op Kuilvlei oënskynlik nie onweerstaanbaar nie, en sy hom ook nie. Daar is te veel dinge in die weg van ʼn romanse tussen hulle twee. Een struikelblok is Badie . . . Badie – jeugvriend, toegewyde ridder, sjarmante hofmaker. Nell weier om die lasterlike dinge wat van hom gesê word te glo. Daarvoor is haar vurige geaardheid te lojaal. As motorwerktuigkundige het sy ook nie juis tyd vir liefdesspeletjies nie. Maar die rabbedoe leer meer as werktuigkunde gedurende haar stormagtige leerlingskap. Ook van mense en van die liefde. In Die hart se tweede lente is ʼn gekletterde seekat, ʼn towenaar, twee Duitsers in ʼn koma, ʼn lang, groen, haarlose hond en ʼn twyfelagtige waarsegster maar enkele van die dinge waarmee Klara Verster op haar eerste oorsese vlug as lugwaardin te doen kry. Daarby help dit haar nie veel toe sy uitvind dat die man wie se sportmotor sy op pad lughawe toe gestamp het, haar kaptein op die vlug is nie. Adriaan Kirsten is egter net so oorbluf deur die blondine met die viooltjieblou oë wat net soos sy gewese verloofde lyk, wat hom so te sê voor die kansel laat staan het. ʼn Humoristiese liefdesverhaal wat sommer weer vonk in die lewe sit.

Аннотация

In Die Suidwestertjie ken Sarie Wessels net die sonkant van die lewe – tot daardie onheilsdag dat die lot juis háár tref om Blouwildebees, oftewel grootbaas Hugo Kritzinger, se sekretaresse af te los. Sommer met die intrapslag loop dinge skeef . . . Tuis duik ʼn onverwagte penarie in Hugo se lewe op. Hy huisves sy broer, Paul, en dié se twee kleuters terwyl hul ma ʼn rugoperasie ondergaan, maar blindedermontsteking stel sy huishoudster ʼn maand lank buite aksie. Wat nou gedaan? Sarie, die aflos-huishoudster, steel dadelik klein Annemie en Karl se harte. Met haar sonnige geaardheid laat sy selfs vir Hugo, die bot buffel, geleidelik ontdooi en anders na die lewe kyk. Totdat die snobistiese Alice Sullivan op die toneel verskyn en hom waarsku dat daar dalk slinkse plannetjies agter die Suidwestertjie se onskuld skuil. Hugo kan homself nie meer peil nie. Nog erger, selfs die jaloesieduiwel begin hom teister wanneer Daan by Sarie kom kuier. Het die son dalk te laat in sy lewe begin skyn? In Dierbare drosters moet Betsie Viljoen se pa weens geldnood hul plaas aan Barend von Throtha verkoop en by die Ebony-myn gaan werk, en dit steek ʼn wit vlam van wraak in haar hart aan. En nou, ná jare op die stowwerige myndorpie, is Jasper Viljoen oorlede en wag sy en haar vier pragtige halfsussies op die mynmagnaat om hulle te kom haal. Gelukkig kry hulle snuf in die neus oor sy plan om vir Betsie werk te kry en die ander vier weeshuis toe te stuur. Met wa en donkies vlug hulle na die ou berghut op die plaas. As hulle moes geweet het dat ou Barend se seun, Ludwig, op die plaas boer, sou hulle dadelik die hasepad gekies het. Gelukkig kry hulle ʼn beskermengel in die vorm van die vertoiingde ou prospekteerder, oom “Slonsie”. Wanneer Barend besluit om self op Kameeldoring na die Viljoen-dogters te kom soek, het Ludwig sy eie planne om hulle te beskerm. Want Betsie is die eerste meisie wat sy gewese verloofde, Anette Adendorf, se beeld uit sy hart verdryf. Anette daag egter onverwags saam met sy pa op die dorp op, en skommel Ludwig se kaarte lelik deurmekaar. Waar eindig jammerte en waar begin liefde? En kan ʼn vrou weer lewe in uitgebrande kole blaas? In ’n Nooi vir Omdraaikrans sorg Hilda Cronjé met 'n slinkse slenterslag dat haar vriendin Mariet Fourie weer eens haar kastaiings uit die vuur moet krap. Ná ʼn tref-en-trap-ongeluk jaag Hilda weg. ʼn Ooggetuie wys haar omkoopgeld van die hand en haar gewetenlose daad kom op die lappe. ʼn Desperate Bernard Cronjé reël dat sy selfsugtige dogter drie maande tikster moet speel vir doktor Kobus Liebenberg, sielkundige navorser op die afgeleë Omdraaikrans. Maar Hilda het net een ambisie en dit is om ʼn topmodel in Johannesburg te word. Eers op Omdraaikrans ontdek Mariet waarvoor sy haar ingelaat het. Almal minag en wantrou haar en sy sukkel om die rol van haar selfsugtige, gewetenlose vriendin oortuigend te speel, want sy kan eintlik niks anders wees as haar onbaatsugtige self nie. Kobus kan “Hilda Cronjé”, oftewel “Griet”, dus in geen kategorie plaas nie. Totdat Yvonne Sterling, Kobus se vriendin, onwetend die eerste saadjie van agterdog oor die geval Cronjé saai. Waarom lyk sy tikster Griet so baie na Hilda Cronjé, die sosiale vlinder wat gereeld oor glansblaaie dartel? Kobus begin in die doolhof van Griet se identiteit rondspeur. Nie net sy agterdog nie, maar ook Mariet se hart dryf haar al meer in ’n hoek . . .

Аннотация

Sophie en Sophia was die wenverhaal in NB-Uitgewers se Ultrasatyn-wedstryd vir superstomende liefdesverhale wat die sensuele besing. Reëls van die spel was die naaswenner. Reëls van die spel: Twee jaar gelede was Lukas die onweerstaanbare dosent wat Leila se hart gebreek het. Sy was naïef en onervare genoeg om in sy bed te beland en die reëls van die spel tussen hulle verkeerd te verstaan. Vandag is sy ’n sterker, wyser vrou, en van Lukas het sy al amper vergeet, baie dankie. So iets sal nie weer met haar hart gebeur nie. Tot sy in haar nuwe werkplek instap en sien die meneer Strauss wat haar nuwe baas moet word, is inderwaarheid niemand anders nie as einste Lukas, die man wat haar hart onder sy hak vermorsel het. Sommer met die intrapslag al spat die vonke, en gou is Leila weer besig om ’n sensuele spel van lus en passie te speel – maar sal haar hart hierdie keer as oorwinnaar uit die stryd kan tree? Sophie en Sophia: Op sewe-en-twintig moet Sophie dit nou eenmaal erken: sy benodig sekslesse. Sy’t dan nog nooit die groot O gevoel nie, nog nie eens naastenby nie! Dan gebeur drie dinge byna tegelyk: Sophie kom in kontak met ’n skrywer van witwarm hygromans, raak lus om te begin blog soos in Julie & Julia, én trek in ’n nuwe woonstel in – langs haar broers se pel Derek. Ja, die een wat soos haar amper-ouboet is . . . Maar ook só glad nie! Sophie verbrand haar vingers met Derek, want van hartsake weet sy so min as van kosmaak, en mens kan van albei ’n liederlike brouspul maak. Derek weet veel meer van sensuele sake, en saam-saam beproef hulle allerlei resepte wat hy reeds vervolmaak het. Teen die muur . . . In ’n restaurant . . . In ’n bewegende motor . . . Sophie kan nie uitgeproe raak nie, maar haar seks-blog is ’n bestanddeel wat Derek nie verwag het nie, en die lewe dreig om Sophie alleen voor haar rekenaarskerm te laat . . .

Аннотация

Die vierde omnibus van ’n bekende en geliefde skrywer. Tiendes van silwer is die verhaal van die liefdeslewe van vier jongmense en speel af op die kampus van Potchefstroom. Dis deurmekaar jare van liefkry en keuses doen, seerkry en ontdek dat silwer net ’n skynsel is. En dat werklike geluk net met die hart gekoop kan word. Nog ’n verhaal van jong liefde. Gruispad na Tóg Wat speel af deels op ’n plaas in die Vrystaat en deels op die kampus van Pretoria. Die rustelose Pierre Nienaber is nog nie gereed om met sy jeugliefde te trou en te gaan boer nie en besluit om ’n nagraadse kursus te gaan doen. Maar daar is ’n lewenslustige jong mediese student wat al sy waardes onderstebo keer. In Skemerspel moet Eben sy geliefde Christine teen sy sin agterlaat wanneer hy in Leiden gaan studeer. Hy het gehoop sy sal hom kan vergesel, maar haar jong boetie se herstel na ’n ernstige ongeluk is stadig en sy kan hom en haar bejaarde ou vader nie alleen los nie. Maar is hul liefde sterk genoeg om so ’n lang skeiding te deurstaan?

Аннотация

Jong onderwyseres Kylie is ’n geskeide vrou, nie ’n onskuldige meisietjie nie. So die kaalbas casanova in haar buurvrou se huis behoort haar darem nie só baie te ontstig nie! Maar dan kom dit uit Justin is haar nuwe buurman. A nee a, sy’s veronderstel om ná haar egskeiding ’n mannehater te wees, wat is dit nou met haar en die vlinders? Kylie hou haar hardekoejawel, maar sy misreken haar – so maklik gee sjarmante boukontrakteur Justin nie op nie. Maar haar eks Rynhard is nog nie uit die prentjie nie en wil Kylie met alle mag en geweld terugwen. Boonop vertel haar ma – en Rynhard self – haar voortdurend dat sy kamstige affair nooit ooit gebeur het nie. Justin se hulpvaardigheid en bedagsaamheid laat Kylie se skanse sak. Hy maak kos, versorg seerplekkies, terg haar oor saam mango’s eet in die bad . . . Hulle praat glad van trou. Maar hoe kry Kylie Rynhard van haar deur af weg? Wanneer Justin se amper-eksvrou haar boonop begin dreig, weet Kylie nie watter kant toe nie. Die verleidelike nuwe man . . . of haar ewe sexy eks met wie sy so ’n lang geskiedenis het?

Аннотация

Jong dokter Naomi Harker doen aansoek om werk op ’n mobiele oogkliniek, en reeds tydens haar onderhoud is sy diep aangetrokke tot die trein se hoofspesialis, die uiters aantreklike Tony Baxter. Sy is verheug toe sy gekeur word, maar van meet af aan is daar wrywing op die oogtrein: Naomi se eks werk ook as spesialis daar, en sy jaloesie oor Naomi en Tony se goeie werksverhouding is duidelik te sien. En dan is daar die apteker, wat weer een van Tony se ekse is . . . Alles kan egter nog gaan tot hulle Louis Trichardt bereik. Daar verleen Tony en Naomi hulp aan ’n vlugteling-gesin van Zimbabwe, en die gevaar van dié middernagtelike avonture vorm ’n hegte band tussen hulle twee, wat verdiep wanneer die trein se mense later by die Baxters se familieplaas uitspan. Naomi bly egter huiwerig om haar ware gevoelens vir Tony te wys, want hoe kan ’n adonis soos hy werklik in so ’n doodgewone vrou belangstel? Sal die oogtrein se spore vir Naomi na ware liefde lei, of is daar net te veel duwweltjies in die pad?

Аннотация

Amelie doen nie groepwerk nie. Sy doen nie motorbestuur nie, en sy doen ook nie mans wat vir haar lelies of juweliersware aandra nie. Ja, sy’t ’n bietjie bagasie – en wie het nogal nie? Maar wanneer spanbou-spesialis en bedryfsielkundige Chris op die prentjie verskyn, en boonop veroorsaak dat Amelie ’n ver ent pad moet ry om sowaar in simpel groepies te gaan rondfoeter, word haar wêreld omgekeer. Die man sukkel met haar en weet nét watter knoppies om te druk. Wanneer sy Chris leer ken en besef hy’t ’n groot, luide familie – presies die soort wat sy so graag om ’n gesellige etenstafel in haar eie tuin sou wil sien, die soort waaroor sy droom sedert haar ouers se ontydige dood – is haar kop aan die draai. Dit verg allerlei ompaaie, en harde werk van Chris se kant, om deur Amelie se bagasieknope te sny. Sal sy haar dinge kan laat staan en die familie wen waarna sy so smag? En dít voor Chris besluit sy’s net té veel moeite?

Аннотация

Dokter van harte se Jenna Joubert wil nie deur dokter Luca de Wet ondersoek word nie. Sy weet wat skort: haar hart is bloot gebreek. En sy weet hoe graag hartchirurge teater toe draf, of dit nou die beste ding is of nie. Dis net . . . Luca de Wet maak allerlei fantasieë in haar wakker, en hy duik boonop oral op.
In Engel van my hart moet brildraende Breggie Bruwer vir die beroemde oftalmoloog dokter Graham Condor gaan werk, in Londen. In sý oë veral wil sy mooi wees, maar ai, sy weet hoe onsinnig haar verliefdheid is: dokter Condor weet nie van haar verskroeide vlerke nie en het die wêreld se mooistes aan sy voete.
In Voorskrif vir die hart kan dokter Zoely du Toit nie wag om op Arendsnes aan die Weskus te gaan locum nie. Op die platteland sal niemand die waarheid oor haar verlede kan uitsnuffel nie, hoop sy. Maar sy sukkel om ’n lae profiel te handhaaf toe sy die dodelik aantreklike dokter Vito Vincenzo se werkkring én huis moet deel . . .