Скачать книгу

section>

      

      Trompie

      Omnibus 8

      Trompie die kaptein

      Trompie die alleenloper

      Trompie die atleet

      Topsy Smith

      Human & Rousseau

      Voorwoord

      Omtrent 30 kilometer van Johannesburg af, aan die voet van ’n berg, lê die dorpie Kwaggaberg. Mense op pad Gauteng toe jaag vinnig hier deur en dink dit is ’n mooi plekkie, maar darem té afgeleë. Min weet hulle!

      As ou inwoners hoor hoe reisigers wat soms in die hotel oornag, smalend praat van Kwaggaberg wat so stil en dood is, skud hulle net kop, kyk veelseggend na mekaar en sê met ’n sug: “Hulle weet nie van Trompie nie …”

Trompie die kaptein

      1

      ’n Heerlike vakansiedag

      “Weet julle wat?” vra die sestienjarige Trompie, en kyk ingedagte na sy ingeduikte skoenpunt wat in so ’n toestand is omdat hy gedurig na klippe, blikke en graspolle loop en skop.

      Sy drie vriende, Rooie, Blikkies en Dawie, kyk peinsend na hom. Dan skud al drie hul koppe. Nee, hulle weet nie wat nie.

      “Wil julle graag weet?” vra Trompie. Die drie knik nou hul koppe. Ja, hulle sal nogal graag wil weet.

      “Wat wil julle weet?” vra Trompie en die ondeunde sproetgesig glimlag.

      “Jy’t mos gevra of ons weet wat,” brom Rooie, en voeg by: “Probeer jy miskien snaaks wees, hè?”

      Blikkies en Dawie wil nou ook weet of Trompie probeer snaaks wees.

      “Natuurlik nie,” sê Trompie. Hy probeer verbaas lyk dat hulle oor so iets kan wonder. “Ek vra maar net: ‘Weet julle wat?’ Dis al.”

      “Wel, ons weet nie,” brom Rooie. “Sê ons nou wat jy wil sê.”

      “Al wat ek wil sê,” sê Trompie gemaak gedwee, “is dat môre ’n vakansiedag is. So daar’s nie skool nie.”

      Sy drie vriende kyk met vies uitdrukkings op hul gesigte na hom.

      Dan sê Blikkies: “Dink jy miskien ons het dit nie geweet nie?”

      “Ek het geweet julle het geweet,” sê Trompie, “maar ek het gedink julle het gevergeet.”

      Al drie verseker hom hulle het allesbehalwe, om sy woord te gebruik, gevergeet.

      “Wel, wat gaan ons môre doen?” vra Trompie en vryf sy hande in die lug. Sy hele houding gee te kenne dat hy wil hoor wat hulle voorstel, maar hy het natuurlik reeds self besluit wat hulle die volgende dag gaan doen.

      Die vier vriende kuier saam in Rooie se buitekamer. Trompie sit agterstevoor op ’n stoel. Hy het eenkeer in ’n fliek gesien hoe die cowboyheld elke slag wanneer hy gaan sit, die stoel omswaai sodat die rugkant voor hom is. Dan gaan sit hy wydsbeen oor die stoel en leun met sy arms en skouers teen die rugleuning. Trompie het van dié fliek en sy held gehou, en van toe af sit hy ook so op ’n stoel wanneer hy nie by die huis is waar sy ma hom daaroor kan aanspreek nie.

      Soos gewoonlik lê Trompie se kouse op sy skoene en sy hemp hang by sy broek uit. Sy skoolpet sit windmakerig skeef op sy ongekamde boskasie. Hy kyk nou na sy vriende wat kastig ernstig sit en dink oor wat hulle môre op die vakansiedag gaan aanvang.

      Hier op die dorpie Kwaggaberg waar hulle woon, is die vier bekend as die Boksombende. Trompie praat altyd van die beroemde Boksombende, maar baie Kwaggabergers noem hulle die berugte Boksombende.

      Die vier seuns is al maats vandat hulle saam in graad vier in Kwaggaberg se laerskool was. Hulle het die Boksombende toe reeds gestig. Vandag is hulle in graad tien en in Hoërskool Kwaggaberg. Trompie, Rooie en Blikkies is dieselfde ouder­dom, maar die hoogs intelligente Dawie is twee jaar jonger en nogtans in dieselfde klas as hulle.

      Dawie sit op die bed en dink glad nie aan wat hulle môre kan doen nie. Trompie se hond, Boesman, lê op die matjie voor die bed en Dawie is besig om Boesman se maag met sy skoenpunt te kielie. Hy wil gaag sien hoe lyk ’n hond as hy lag. Dawie kan nie onthou dat hy al ooit ’n laggende hond gesien het nie. Maar Boesman lag nie. Hy tok-tok net met sy stert teen die vloer.

      Rooie dink ook nie oor die gewigtige vraag van wat hulle môre gaan doen nie. Hy is soos gewoonlik kaalvoet. Hy wikkel sy tone en hou hulle noukeurig dop. Hy probeer sy tone op so ’n manier wikkel dat die groottone glad nie roer nie, maar dit is moeilik. Elke keer wanneer hy wil skree: “Ditsem! Ek het dit reggekry!” begin sy groottone ook beweeg.

      Rooie – hy het natuurlik rooi hare – is ’n sterkgeboude kêrel wat Trompie deur dik en dun sal volg en bystaan.

      Trompie is die Boksombende se Grootkaptein en Rooie erken dit deesdae. Daar was ’n tyd toe hy nie tevrede daarmee was nie, maar toe gryp hy en Trompie mekaar eendag en die Grootkaptein gee vir hom ’n prag van ’n blouoog. Nou aanvaar Rooie vir Trompie as hul leier.

      Rooie glo iemand wat hom so in ’n geveg op sy plek kan sit, is ’n ou wat ’n mens deur dik en dun kan volg. En dit is presies wat hy doen. As Trompie die een of ander kattekwaad voorstel, is Rooie altyd die eerste een wat sê: “Orraait, Trompie, laat ons weg wees!”

      Blikkies, die ander lid van die Boksombende, dink ook nie oor wat hulle op die vakansiedag gaan doen nie. Hy ken vir Trompie en weet die Grootkaptein het reeds op iets besluit en gaan nou-nou vir hulle sê wat dit is.

      Nee, Blikkies sit en dink nie. Hy sit sommer net. Sy oë is half toe en dit lyk of hy sit en slaap. Net sy kakebene beweeg ritmies op en af soos hy aan ’n grashalmpie kou.

      Blikkies is lank en skraal. Hy het sy bynaam op laerskool gekry omdat sy kniekoppe altyd soos twee blikke teen mekaar gestamp het as hy in die klas opstaan. Die kinders wou natuurlik tydig en ontydig hê Blikkies moet uit sy bank uit opstaan sodat hulle kon lag.

      Blikkies praat stadig en half luierig, en hy is die een wat alewig beswaar maak as Trompie die een of ander kwa­jongstreek voorstel. Die ander drie steur hulle nooit aan sy besware nie, en Blikkies verwag dit ook nie van hulle nie. Hy doen dit net ingeval daar iets verkeerd loop, want dan kan hy vir die ander sê: “Sien, ek het julle mos gesê.” Nadat hy beswaar aangeteken het, is Blikkies altyd meer as bereid om aan die kattekwaad deel te neem, want hy voel sy gewete is dan skoon.

      Dit is stil in die kamer. Die vier vriende sit kastig en dink. Blikkies draai sy kop en spoeg die grashalmpie waaraan hy gekou het met ’n boog deur die lug en by die venster uit. Blikkies kou altyd. Wanneer sy geldsake nie te benard is nie, kou hy kougom. As hy platsak is, en dit is gewoonlik die geval, kou hy grashalmpies.

      Trompie kyk vies na Blikkies toe hy die grashalmpie so sierlik uitspoeg.

      “Dink jy nie, hè?” snou Trompie hom toe.

      “Ek dink, ja,” antwoord Blikkies stadig en lui.

      “Hoe kan jy dink én spoeg?” wil Trompie weet.

      “Dis maklik,” kap Blikkies terug. “Maar dis in elk geval nie vir my nodig om te dink wat ons môre gaan doen nie.”

      “Hoekom nie?”

      “Omdat jy al klaar daaroor gedink het.”

      Rooie en Dawie stem saam met Blikkies. Hulle is seker die Grootkaptein het al klaar gedink wat hulle môre gaan doen. Hulle ken hom mos.

      Trompie lag en sê: “Ek wou maar net hoor of een van julle dalk ’n beter voorstel as ek het.”

      “Ons sal nie weet of ons ’n beter een het nie,” sê Dawie en sy wakker oë glinster, “as ons nie hoor wat jou voorstel is nie.”

      “Hoe kan julle weet of julle ’n beter voorstel het as nie een van julle een gemaak het nie?” wil Trompie weet.

      Rooie

Скачать книгу