Скачать книгу

laaie staan.

      “’n Oogknip in die tyd, die wit stam van Afrika.”

      Ja, dis hoe dit deesdae gaan aan die etenstafel van Ian se ouers, wat graag die Kaapse adel onthaal.

      #

      Terwyl Ian met hierdie gedagtes by Jannie Smuts en toe die blommeverkopers verbygery het, stroom die protesteerders skielik om hom. Die beplande optog na die Parlementsgebou is die vorige dag in die media aangekondig, maar hy dag dit sou eers later plaasvind. Nou het hy midde-in die chaos beland.

      Sommige betogers was met klippe bewapen, sweet het hulle afgetap. Langs die betogers, onbeholpe in die draf aan ’t retireer, was die onlustepolisie, hul toerusting skrikvreemd in hierdie omgewing van winkels en blommeverkopers en toeristewoonstelle.

      Regs was die Goue Akker, met die groot glasvensters waarop die son weerkaats, met die Wimpy se logo. Glaskristalle lê oor die straat versprei en knars onder sy kar se wiele. Groot snye glas sit nog in rame.

      Toe Ian spoed verminder vir die voetoorgang, stroom betogers om hom en klap op sy motor se dak. ’n Paar begin die kar skud om dit om te dop, slaag nie, en hol dan verder.

      Toe ’n jong swart man ’n ent weg van Ian sy hand terugtrek om die baksteen deur die Wimpy se groot glasvensters te gooi, deins die teiken anderkant die glas reeds weg.

      Hulle’t hom sien kom.

      Dis ’n bruin gesin, en die vrou met burka is al half orent. Die man met sy stoppelbaard bak sy arm en skouer óm die seuntjie, wat nog strooitjie in die mond met sy melkskommel sit.

      ’n Klein prinsie is hy. Ian kon net sowel iewers in die Midde-Ooste gewees het; die seuntjie het donker, intense oë, verbeel Ian hom nou waar hy in sy kantoor sit en bewe. Gene wat terugspoel na wie weet waar, deur die smart van apartheid terug, verby die tye, na slawerny en gevangenskap en ’n land ver van hier.

      En op daardie oomblik.

      Die oomblik net toe die baksteen begin vlieg, toe boor ’n pyl van agter deur die kaalbolyf baksteengooier, tussen die swart, glimmende skouerblaaie in en voor by die bors uit, asof dit deur botter glip.

      In sy motor verloor Ian byna beheer. Sy voet glip van die rem af en hy trap per abuis die petrol. Die Alfa spring vorentoe en toe Ian betyds rem om nie teen die motor voor hom te bots nie, stol die enjin.

      Die aansitter stotter.

      Skouspelagtig vlieg die baksteengooier se rooi bandana van sy kop af. ’n Man met ’n kamera vang die rooi stralekrans bokant die gooier se kop en ook vasgevang is die vlugtende gesin daardie skriksekond net voor die baksteen die glas tref.

      Die verkeer, tot stilstand geruk, begin benoud beweeg. Op die agtergrond, besig om oor die straat na die aanvaller aan te kom: ’n falanks onlustepolisie in macho uniforms. Rubberkoeëlskieters.

      En ’n volgende YouTube-greep: bloed uit die man se bors spuit agter die pyl aan asof dit die pyl jaag en rooi waaier die bloed uit oor die venster net voor die baksteen deur die glas bars. Die baksteen tref die stoppelbaardman teen sy slaap sodat hy terugsteier, agteroor val en die kind van die stoel aftrek. Die kind trek die spattende melkskommel saam en in nog ’n foto, uit ’n ander hoek (deur iemand vanaf die Wimpy se toonbank): die spattende groen melkskommel, die gooier, Maxwell Tshabalala, se spattende bloed, glas wat in skitterende kristalle teen die oggendson sprei, en die verbaasde stoppelbaardman se kwyl wat by sy skewe kaak uitskiet.

      As jy mooi kyk, sien jy ook op stilfoto’s iets wat soos ’n streep in beeld lyk. Effe blinkerig. Nat, rooi. Jy kry dit net as jy op die foto’s inzoem. Eers lyk dit soos dalk ’n lysie teen die Wimpy se muur, of selfs ’n fout op beeld – dalk ’n wimper voor die lens.

      Maar later sou dit uitgewys word: dis die moordpyl, nog in volle vlug.

      Klaarblyklik afgeskiet deur ’n hoogs gesofistikeerde kruis- of langboog. Dodelik. ’n Skut wat sy storie ken.

      Teen só ’n pyl lyk die klippe en uitgebreekte sypaadjieplaveisel waarmee die studente hul revolusie voer, na primitiewe wapens.

      #

      Die klein en skaars hoorbare pieng wat aandui dat sy kliënte gearriveer het. Hier by Brand, Nortier & Cele Inc. is als gedemp en diskreet. Hipermoderne, gestroopte en papierlose kantore. Saggies brom die databergingstelsel in die kamer langsaan.

      Hy trek sy asem diep in. Staan op, sit eers weer.

      Veeg oor sy oë. Nie die eerste mens wat hy sien sterf nie, nee.

      Op, Ian! Húp!

      #

      “Kom binne, menere. Welkom.”

      Hulle het almal hulle oë op hul slimfone. Die rede vir die verkeersophoping in die middestad en hoekom hulle laat is, en die sluipmoordaanval met die pyl – dis als in hulle hande.

      “Ek het dit self gesien,” sê Ian. “Ek het pas daar verbygery.” Hy haal weer diep asem. “So, waar begin ons? Wil julle eers die uitsig sien?”

      “Het ons maar nes die Chinese gesigsherkenningstegnologie geïnstalleer in Kaapstad se CCTV-kamerastelsel, was daardie skutter van die moordpyl se gesig én sy naam nou al oral op die internet,” sê die lang kliënt aan sy kollega.

      Hulle staan in die daktuin van Brand, Nortier & Cele Inc. se kantore, wat van ver gesien nogal ’n komieklike glasboks bo-op ’n toringgebou is. Ian se vennoot, Rudolph Nortier, sê altyd: “As jy hier bo in die daktuin uitloop, weet jy net een spesie broei hier – en dis die arend. Legal eagles!”

      Ian, anders gerat, sou die daktuin nooit in sulke brawe terme beskryf nie. Nog bewerig ná wat hy in Adderleystraat beleef het, staan hy nou saam met die vyf mans, potensieel nuwe kliënte, op die rand van die tuin en hel oor die afgrond. Dis soos om in ’n heli oor die stad te hang. En soos altyd wanneer hy aan helikopters dink, ruik Ian bloed en limf en daardie reuk wat jy nooit van jou hande kan afwas nie: die reuk van die dood. Hiervandaan die witblink flits van oggendson op die see, daar ver die rookkolom waar die een of ander trein vandag weer op die Kaapse Vlakte brand, en nog verder die blou branders van die Hottentots-Hollandberge wat soos die voorpunt van ’n tsunami na die stad aanrol.

      Hier ruik jy ligweg traangas op die lug, maar geboue versper die uitsig na die stadsdeel waardeur die studente pas beweeg het.

      Hulle staan daar rond en bespiegel oor wat pas gebeur het, en Ian is maar te bly dat hy kans het om sy gedagtes agtermekaar te kry.

      Die man met die goue das skrik (“Hierjy!” onder gelag) toe die daktuin se hidrobesproeiing skielik aangaan. Later gaan hulle na binne, maar Ian het hulle klaar geëien. Die Goue Das is die alpha male – en hy lei aan aandagafleibaarheidsindroom. Toe die kabelkar daar buite begin opkatrol teen Tafelberg het sy oë soontoe geflits, nes ’n verkleurmannetjie s’n wat ’n vlieg gewaar.

      Die Goue Das se oog val ook, toe hulle om die ovaal tafel gaan sit, op die mikrospuitjie naaste aan die glasdeur, die druppels wat spat teen die glas. Sy oog volg die beweging van ’n albatros aan die westekant verby. Sy oog blits na die getrommel van sy kollega, die buitengewone hoogleraar, se vingers.

      Dis die man wat, toe hulle aansit, kyk na Ian se iPhone langs sy hand op die tafel en sonder ’n sweempie ironie sê: “Hallo, Google.” Ian wil eers met ’n kwinkslag kom oor Google, die groot luistervink, maar toe hy sien dat die ander hul kollega se opmerking as doodnormaal aanvaar, staan hy op, glimlag na die hoogleraar en gaan sit sy foon in die kantoor langsaan neer.

      “So ja,” sê hy toe hy weer kom sit.

      Die vyf wou voor die tyd nie veel verklap oor hul besoek nie. Net dat hulle ’n uurafspraak verlang om Brand, Nortier & Cele “aan die tand te voel”, soos die Goue Das dit gestel het toe hy die afspraak maak. Nadat hy Ian se blog gelees het. “Ons dag jy’s dalk die man vir ons.” En bygevoeg: “Dis net ’n possibility meeting.”

      Tog het Ian ’n goeie gevoel gehad van die terrein waarop hulle beweeg. Vooraf, om die afspraak te knoop, moes Ian ’n opiniestuk oor die konflik tussen privaatheid en sekuriteit

Скачать книгу