Скачать книгу

      Ons besoek die Amsterdamse diereskuiling. Dis meestal diere wat agtergelaat is deur eienaars wat weens ouderdom dood is. Elkeen van die diere daar het ’n profiel op die diereskuiling se webblad, waar hul individuele voorkeure, vrese, allergieë en gewoontes breedvoerig uiteengesit is. By die skuiling het baie diere hul eie kamers en is daar allerhande vorme van vermaak vir hulle: klimrame, sandputte, balle en vrywilligers wat met hulle speel en stap.

      Ek wil ook registreer as vrywilliger, maar die skuiling het ’n ooraanbod van helpers en my naam kom op ’n waglys. Buite staan ’n paar diereambulanse geparkeer.

      Is dit moontlik? kyk ek en C vir mekaar.

      Die Nederlandse ondernemingsgees bruis deur die stad. Vir die ekspats en toeriste is Koningsdag suiwer ’n geleentheid vir ligsinnigheid en dronk wees in die strate. Maar vir die Nederlanders beteken dit ook iets veel belangrikers: dis die dag van die vrijmarkt. Waar almal al hul ou goed wat hulle nie meer wil hê nie op straat voor hul woonstelle uitstal en aan mekaar probeer verkoop. As jou kind kan sing, dan laat jy hom dit sommer ook doen met ’n oranje hoedjie op sy kop, vir nog ’n ekstra paar eurosente. Die hele land word ’n vlooimark, skaamteloos.

      Ek en C drink bier en verkyk ons aan die nasie van die koopman so in sy element. Die VOC was daardie tyd vir die wêreldekonomie wat Microsoft vandag vir ons is, vertel C terwyl ons rondjes lopen deur die uitbundige Jordaanbuurt.

      Toe ons weg is uit Suid-Afrika het ek gedink dat ek darem nou vir eers klaar rondom braaivleisvure gestaan het, net om agter te kom dat bbq ’n gunsteling-someraktiwiteit onder die Nederlanders is. In die begin van ons eerste somer in Amsterdam word ek en C vir die eerste keer genooi na so ’n geleentheid in die park deur ’n paar Suid-Afrikaners wat nou al gesout is in die ding.

      Ons koop ’n weggooibraai by die Albert Heijn. Dis so groot soos ’n oondpan, van ’n harde foelierige materiaal gemaak en het kole in die onderkant. Dan gaan sit ’n mens in Vondelpark, steek hierdie braaibak aan en braai jou tjoppies een vir een op die klein vierkantjie foelie wat op die gras lê. Baie snaaks.

      Maar daar is iets te sê vir hierdie somersaand-bbq’s. Ek drink ’n Nederburg Shiraz en dra ’n somersrok. Die park is propvol mense en ek kry my eerste blootstelling aan die opwinding en uitgelate feestelikheid waarmee die son in Noord-Europa begroet word. Wanneer die hele samelewing vir ’n oomblik saam stilstaan, ontspan en die reëls waardeur alles so perfek bymekaargehou word, ’n bietjie verslap. Wel, tot ’n mate. Later die aand urineer ’n vriend van ons agter een of ander bos in ’n uithoek van die park, en toe die polisie hom betrap, word hy met 150 euro beboet.

      “Wildplassen,” noem hulle dit.

      Een van die voordele daarvan om in ’n nuwe land te woon, is die manier hoe jou geskiedenis wegval. Elke ontmoeting is ’n geleentheid om jouself te herskep, of om die self te wees waarmee jy identifiseer op daardie spesifieke dag, sonder dat iemand jou verantwoordbaar hou vir wie jy gister was.

      In ’n mens se eie land, waar jy diep wortels het, is die meeste nuwe ontmoetings reeds ingekleur deur gedeelde geskiedenis. Jy verstaan mense al klaar omdat jy hul vriende ken, of omdat jy die stad goed ken waar hulle vandaan kom en omdat jy die kultuur van die hoër skool waarin hulle was, verstaan. Jy ken iemand al ’n bietjie voor jy hulle ontmoet, want julle het al van mekaar gehoor en jy weet hoe hulle inpas in die lewens van ander mense wat jy goed ken. Hierdie gesitueerdheid is beperkend, dit skep verwagtinge en hou ’n mens gebonde aan ’n spesifieke geskiedenis. Ná 27 jaar in die Kaap, deurentyd omring deur min of meer dieselfde mense, het my buitelyne verhard.

      In Amsterdam begin ek deur klein dade van identiteitsrebellie hierdie gesedimenteerde self ondermyn, omvorm en herskep. Ek koop my eerste paar hoëhakskoene, wat só nie “ek” is nie (sal my Suid-Afrikaanse vriendinne onmiddellik opmerk), en trek dit daardie selfde aand na ’n partytjie toe aan. Eers hobbel ek selfbewus en onseker daarop rond, maar wanneer ek agterkom dat my nuwe vriendinne geen teenstrydigheid opmerk nie, begin ek lang, selfversekerde treë gee, soos wat ’n mens net kan doen in ’n paar baie hoë hakke. Veel later die aand pak ek die riskante taak aan om met hierdie skoene huis toe te fiets deur die nat strate, en ek glimlag agter my groot wolserp in bewondering vir hierdie avontuurlustige nuwe vrou.

      Ter viering van die nuutgevonde vryheid laat ek ’n fyn goue ringetjie deur my septum skiet.

      Maar, leer ek mettertyd in Amsterdam, die netwerk van mense waarmee ’n mens onvermydelik in jou eie land verweef is, is ook ’n luukse. Dit laat ons toe om makliker geken te word. En dit verbind ons dikwels met die soort mense wat ons die graagste wil ken, dit bied ’n kortpad na vriende wat ons kan verstaan, en romantiese partners wat ons lank kan liefhê.

      Van C het ek gehoor lank voor ek hom ontmoet het. Jare gelede op Stellenbosch. Daar is mos mense van wie ander mense praat, en C is een van hulle.

      Ek het pas uit ’n verhouding gekom wat aanvanklik gelyk het na iets belangriks, maar wat toe maar net weggekrimp het, en ek was weer vuur en vlam op die dating scene. Daar was ’n baskitaarspeler met wie ek nagte lank gesit en vry het in die diepste drinkgate van Stellenbosch; ’n Christen-onderwyser saam met wie ek op lang staptogte gegaan het in Jonkershoek; en ’n melankoliese eks met wie ek te gou weer in ou patrone verval het.

      ’n Vriendin van my het uitgegaan met een van C se vriende. C het pas teruggekeer ná ’n paar jaar in die Ooste. Hy kan Mandaryns praat, hy het kaalvoet deur die Himalajas gestap, hy was maande lank in ’n Boeddhistiese tempel waar ’n mens nie ’n woord mag praat nie en agt uur per dag mediteer, hy het finalejaarfisika geslaag met 100%.

      “Jy móét hom ontmoet!” het my vriendin my verseker. Alles halwe waarhede, soos sulke stories maar altyd is. En, het ek later geleer, hierdie stories verteenwoordig slegs een aspek van die komplekse, veelsydige en multidimensionele mens wat C is. Maar ek was dit eens met my vriendin, dis ’n man wat ek moet ontmoet.

      Ons eerste ontmoeting was net romanties in retrospek. Ek het saam met die onderwyser opgedaag by ’n partytjie waar C ook was. Dit was by ’n groot studentehuis in Uniepark op Stellenbosch waar C se vriende gebly het. Die huis was so groot, met so ’n groot erf en swembad, dat die ouens dit “Die Kingdom” gedoop het, ’n naam wat die afskilferende mure en verwaarloosde tuin komies weerspreek het.

      Die ouens het begin poker speel en ná ’n uur of twee was dit net C en my date by die tafel oor. Ek kan nie eens onthou wie uiteindelik gewen het nie, maar wanneer ek hulle so in my geestesoog sien, laat in die nag by kerslig in diep konsentrasie gebuig oor hul kaarte, met leë rooiwynbottels en asbakke vol sigaretstompies rondom hulle, hou ek daarvan om te dink aan daardie spel as C se eerste liefdesverklaring aan my.

      In die jare wat volg, het C my leer swem in die see, slaap in ’n tent. Hy leer my bome se name en voëlgeluide. Hy weet hoe alles werk, hy verduidelik dinge vir my, geduldig en vrygewig. Hy is rof en roekeloos, maar daar is ’n grasie, amper ’n soort elegansie in sy lang ledemate. Hy mediteer elke oggend ’n uur lank voor ek wakker word.

      In daardie eerste paar jaar baklei ons baie. Dieselfde geveg oor en oor. C is sterk en hiperonafhanklik, die resultaat van ’n goeie Vrystaatse opvoeding gekombineer met sy opleiding in Oosterse spiritualiteit. My kwesbaarheid, afhanklikheid, skrik hom af, stoot hom weg. Ook wanneer ek hom nié nodig het nie, verloor ek hom, laat hy gaan van my, by voorbaat.

      Maar ons is verlief en meestal onafskeidbaar, vir baie jare.

      Dit was my idee om Nederland toe te trek. Ek wou ’n PhD gaan doen by ’n oorsese universiteit en daar was beurse beskikbaar.

      C, ’n ewige avonturier, was ook lus vir ’n skuif. Ek het ’n promotor gevind by die Vrije Universiteit Amsterdam: ’n indrukwekkende, toeganklike feministiese filosoof met dieselfde naam as my ma, iets wat ek as ’n goeie teken beskou het. Dit was eers later dat ek besef het ek dat die

Скачать книгу