Скачать книгу

hulle word ek werklik bewus van die identiteitsverwarring en onsekerheid wat my bestaan kenmerk en vorm.

      ’n Genuanseerde antwoord op die vraag van my identiteit sal wees dat Afrikaanse kultuur juis ’n vreemde vermenging van al hierdie teenstrydighede is: tradisie en rebellie; ’n nostalgie vir ’n verlede en ’n hunkering na transendensie; verplasing oor tyd en ruimte; inburgering en vervreemding; en die kreatiwiteit en veerkragtigheid wat met soveel dubbelsinnigheid gepaard gaan.

      Maar dis ’n antwoord wat eers veel later in hierdie verhaal tot my sal begin deurdring.

      Ek verloor summier my hart op Amsterdam. Hoekom het ek 27 jaar lank in Afrika rondgeploeter?

      My Nederlandse vriende lag dat ek so in vervoering kan raak oor iets so eenvoudigs soos openbare vervoer. As die busrooster aandui dat die bus 14:17 arriveer, dan arriveer dit 14:17. Elke keer, oor en oor, dagin en daguit. As daar een of ander steurnis op ’n roete is, kan jy op die app op jou foon sien waar die probleem is, wanneer jy die volgende bus kan verwag en watter alternatiewe roete jy kan neem om by jou bestemming uit te kom. Daar is ’n diens en ’n app, ’n organisasie en ’n beheerliggaam, ’n wet en reël vir elke liewe aspek van die Nederlander se bestaan. Die hele land loop op ’n vaartbelynde skedule, waar alle dienste en reëls en liggame by mekaar inskakel om ’n naatlose ervaring te skep wat ’n mens in staat stel om optimaal te funksioneer en elke minuut van die dag effektief te benut. As Nederlanders leef ons volgens die klok, vertel die ou tannie by wie ek elke week my Nederlands gaan oefen.

      Amsterdam se reputasie van dwelms en seks weerspieël net die toeristerealiteit waarvan die Amsterdammers hulself deeglik afskerm, groepe dronk (dikwels Britse) mans wat rondval in die strate en bachelorpartytjies. Die meeste Amsterdammers rook byna glad nie dagga nie, besoek nooit die sogenaamde “coffee shops” nie, en ek het nooit ’n enkele Nederlander ontmoet wat erken het dat hulle gebruik maak van die dienste van sekswerkers nie. Die Amsterdammers drink meestal “biertjes” op ’n rustige en gesellige manier in mooi kroeë en kafees. En wanneer hulle gaan klub, is dit silwerskoon dwelms wat hulle ’n glashelder high gee, en die energie om die hele nag of naweek lank te dans. Baie meer heilsaam as die soort gedrinkery wat ons in Suid-Afrika doen (en lyk my in Engeland ook).

      Ek het gedink dat Amsterdam ’n plek gaan wees van allerhande vreemde, wilde subkulture en mense met mohawks, maar die Amsterdammers is eenvoudig en stylvol geklee, ’n eenvoud wat treffend is aan hul lang, slanke liggame. Die vrouens dra omtrent geen grimering nie, hul velle blink natuurlik, want die lug is so skoon. Die mans is selde groot en gespierd. Amsterdam is sag op die oog, en al die ander sintuie, en hier woon ’n mens met ’n heerlike sin van orde, styl en welstand.

      Behalwe vir die orde is daar die veiligheid. Ná ’n paar weke hier kom ek agter dat ek anders voel, en later besef ek dis ’n afwesigheid van ’n onderbewuste angs. Dis asof ek geleidelik begin het om die verwagting dat iets verskriklik gewelddadigs enige oomblik met my kan gebeur, begin vergeet het. Hoe onnatuurlik is die vlakke van geweld wat vir ons as Suid-Afrikaners normaal is?

      Hier in Amsterdam het iets in my op ’n dieper vlak begin ontspan. Ek het anders begin slaap: verder, digter, asof daar voorheen nog altyd ’n deel van my was wat half wakker gebly het om te waak. Snags kan ek vroualleen deur die strate wandel. Wanneer ek slaap, selfs al is ek alleen by die huis, skrik ek nie yskoud wakker van onverwagse naggeluide nie. Ek word op ’n nuwe fisieke manier onafhanklik van ander mense, ek hoef nie in groepe te beweeg nie, ek het geen beskerming nodig nie. En geen man aan my sy nie.

      Die Nederlander is vreesloos, want sy is veilig. Sy staan solied haar plek in die wêreld vol. Sy is nooit genoop om die konkrete verganklikheidsbesef wat my Suid-Afrikaanse psige kenmerk, te internaliseer nie. Toe ek ná ’n paar maande in Amsterdam vir die eerste keer ’n ambulans deur die strate sien jaag, is ek verbaas. Waarvan gaan ’n mens dan dood hier?

      Ek sien ’n dokumentêr op televisie oor die shelters in Nederland waar junkies verniet kan bly en waar die staat jou daaglikse dosis heroïen verniet voorsien. Op hierdie manier daal die misdaadsyfers in die stede, word onwettige dwelmhandel ondermyn en is almal veiliger en gelukkiger. In die dokumentêr sit al die verslaafdes heerlik hoog in die tuin van die shelter in die middagsonnetjie en dut.

      In Nederland is ek in die middel van die wêreld. Al die goeie kunstenaars stal hier uit, die bekende filosowe en skrywers kom praat. Ek woon praatjies van Amartya Sen, Zadie Smith, Jacques Rancière, Judith Butler, Jürgen Habermas, Achille Mbembe, Nadezhda Tolokonnikova en Antjie Krog by. Op enige gewone weeksaand kan ’n mens na wêreldberoemde musiekkunstenaars by Paradiso op die Weteringschans gaan luister.

      Hier is geen armoede nie. Of niks wat óns as werklike armoede sal bestempel nie. Hier kan ’n mens op ’n minimumloon die wa deur die drif kry. Selfs as kassier in ’n supermark kan jy ’n woonstel in die stad bekostig en jou kinders na goeie skole toe stuur. Almal is okay. Daar is nie die trauma, woede, swaarkry en ongeregtigheid wat die lewe in Suid-Afrika kenmerk nie. En vir my, as wit middelklas-Afrikaner, is daar die verligting dat ek kan ophou skuldig voel oor hoe gemaklik my lewe is, oor my wit vel. Ook op hierdie manier begin ek ligter leef: die skuld en vrees wat my wit welstand in Suid-Afrika deurdrenk, begin stadig wegsypel.

      Die lug van die stad is silwerskoon omdat daar so min motors is, omdat almal fietsry, en die water is selfs skoner, omdat dit die meeste dae van die jaar reën. Op ’n manier voel dit of ek tegelyk in ’n wêreldstad en op die platteland woon.

      Ek is uitgeknip vir hierdie lewe, het ek vir C gesê. Toe dit nog ek en hy was.

      Wie is ek, waar kom ek vandaan?

      Nie van hier nie. In my land is ons kwaad vir mekaar, tyd is relatief. In my land seëvier lukraakheid, sit ons ons hoop op die noodlot of op god, enigiets anders as die staat. In my land is veiligheid ’n luukse waarvoor jy baie geld nodig het, en selfs dan is daar geen waarborge nie. Daar sit ons aan die suidpunt van Afrika en so baie mense is nie okay nie. In my land moet jy hare op jou tande hê.

      In my land is die aanspraak wat sit in die “my”, wanneer ék dit gebruik, veral in hierdie taal, ’n omstrede saak. En met goeie rede.

      Dis hoekom ek weer Nederlander gaan word. In die spore van my voorouers. Terug na waar ek veronderstel is om “oorspronklik” vandaan te kom. En waar ek hoort, hopelik.

      Dis nou as ek die verdomde taal kan baasraak.

      Maar ’n mens dra swaar aan Suid-Afrika. Dit sit aan jou. En nou, hier agter op die Nederlander se fiets, side saddle, met my wang teen sy rug, weet ek al wat môreoggend vir my wag. Ten spyte van die vryheid en die opwinding van die oomblik, weet ek wat kom. Wanneer ek môreoggend vertrek, nog ’n grys Amsterdamse Saterdagoggend in, háát ek hierdie lighartige witheid, hierdie skyn-Europeesheid, hierdie onbelemmerdheid, ongebondenheid. Hierdie eenvoud van ’n enkele, suiwere identiteit. Die gemak van vergetelheid. God weet, maar dit voel nie reg nie. Wie is hierdie mense? En wat maak ’n mens in hierdie speelgoedstrate?

      En dan bel ek vir C.

      Die Sarphatistraat

      Die Sarphatistraat in Amsterdam is breed en boomryk. Die woonstelgeboue wat aan beide kante uitkyk op die straat is hoog en mooi en het almal die kenmerkende Nederlandse gewels. Volg jy die straat in die oostelike rigting kom jy uit by Amsterdam se bekende dieretuin, sowel as die operahuis, die botaniese tuin en die Tropenmuseum. Volg jy die straat na wes, gaan jy oor die Amstelrivier in die rigting van die Rijksmuseum.

      Die straat is bekend in Nederland omdat dit verewig is in die beroemde openingsin van een van die kortverhale van die twintigste-eeuse Nederlandse skrywer Nescio. Nescio begin “De Uitvreter” met die woorde: Behalve den man, die de Sarphatistraat de mooiste plek van Europa vond, heb ik nooit een wonderlijker kerel gekend dan den uitvreter. Dis vir my steeds glad nie duidelik wat Nescio nou eintlik hier sê oor die Sarphatistraat nie (of oor die uitvreter, in daardie geval), maar blykbaar was die Sarphatistraat in Nescio se tyd geag as ’n voorbeeld

Скачать книгу