Скачать книгу

Ek het lus vir koffie en Ma se beskuit, en ons moet die arme Eric seker van Nadia gaan verlos.”

      Hulle loop vinniger terug as wat hulle gekom het. Twee vrouefigure wat al hoe kleiner raak in die verte, terwyl die see verbete sy waters aanhou land toe stuur.

      Hoofstuk 5

      Augustus 2012, Danville

      Hansie gee ’n uitroep van verbasing toe pastoor Bendt ’n sjokoladekoek voor hom op die tafel neersit. Hulle het pas aandete genuttig en daar is nie gereeld sulke luukses op die spyskaart nie. Die koek is versier met sewe brandende kersies.

      “My seun,” sê die veel ouer man saggies, “die kersies is vir die jare wat jy hier in die Tabernakel my medewerker was. Die tyd het gevlieg! Ek weet nie hoe ek ooit sonder jou sou reggekom het nie.” Hy haal ’n bottel port en twee glasies uit die kabinet. “Ek het gereken ons moet dit vier dat jy Sondag ten volle as pastoor bekragtig word. Ek is só trots.”

      “En ek dankbaar, pastoor. U het my alles geleer. Sonder u sou ek verlore gewees het, maar u was altyd daar om my by te staan en raad te gee. Nader as dít sou ek nooit op my ouderdom aan ’n aardse pa kon kom nie. Ek …”

      “Wat is dit, Hansie?”

      “Kom ons eet eers van die koek!”

      Toe hulle klaar gesmul het en net krummels in die bordjies oorbly, huiwer Hansie steeds merkbaar. Tot die pastoor vir hom knik. Dan gaan haal die jonger man sy seildrasak, maak dit oop, haal ’n redelik dik dokument uit en stoot dit oor die tafel.

      “Ek probeer al só lank die moed hiervoor bymekaarskraap. Dis so ’n groot ding om te vra en as ek dit nie nou doen nie, sal ek nooit nie.”

      “Wat is dit, Hansie?”

      “Ek was in kontak met die Departement van Binnelandse Sake. Lank terug.” Hy lag senuweeagtig. “Seker al twee jaar gelede!” Hansie tel die dokument op en blaai na die voorlaaste bladsy. “En voor die tyd het ek lank daaroor gebid. Maar dit was altyd vir my duidelik dat ek u naam moet aanneem. U van, bedoel ek. Bendt. Ek wil u seun wees, ek wil u naam dra, pastoor.”

      Die ouer man skud sy kop ongelowig. “Het jy koste aangegaan ter wille van my?”

      “Sal u my wettiglik aanneem? My as u seun aanvaar?”

      Die ouer man se oë swem in trane. “Hoe anders? Dit sal vir my ’n eer wees!” Hy kyk weer af na die dokument. “En … Gabriël? Sal dit jou nuwe naam wees? Ja, dit moet. Het jy dan nie nog altyd na ’n engel gelyk nie?”

      “Dankie, pastoor. Mag ek die naam waardig wees. Veral aangesien Gabriël nie net ’n engel van geregtigheid was nie, maar ook van genade.”

      Die pastoor plaas sy hand oor dié van sy helper. “Deur die begenadiging van Bo sal ons van krag tot krag gaan.” Hy raak skaam vir sy emosies en sê amper te hard: “Ek dink jy moet vir ons elkeen nog ’n doppie skink, kêrel. Ons kan net nie voorbly met die dinge wat ons moet vier nie!”

      Later dieselfde maand word ’n geregistreerde posstuk per koerier afgelewer: die aannemingsdokumente. Gabriël is nou amptelik pastoor Tony Bendt se seun.

      Die jonger man lê in die volgende paar weke sy kinderlikheid af; hy ís immers al in sy middel veertigs. Hy bring meer as ooit sy kant met goed uitgewerkte preke, wat hoofsaaklik fokus op onregverdigheid en ’n pleidooi lewer vir die aflegging van alle self- en hebsug. Dit sal beloon word met die groter genade van Bo. Sy boodskap spreek sterk tot die toegewyde gemeentetjie van die ou Bendt se Tabernakel – en die getalle groei weekliks. Meer en meer mense raak nuuskierig oor die vurige blonde prediker en kort voor lank is die markiestent veels te klein. Pastoor Bendt senior soek na ’n groter een, maar ook dít sou nie lank deug nie. Die perseel in Danville is eenvoudig nie groot genoeg nie.

      Gabriël kom toevallig te hore van ’n goedkoop stoorplek in Johannesburg, nogal so ewe in Hoofstraat. Toe hy alleen in die vervalle, rommelbestrooide saal met sy hoë fabrieksdak en gebreekte vensters staan, besef hy dat dit nie toeval was nie. Hy is soontoe gelei. Want hy hoor die woorde duidelik:

      Dit is waar my Tabernakel van Genade gesetel is.

      Gabriël se kop ruk om. Hy is steeds alleen. Die stem! Hy het dit in twintig jaar nog nooit weer gehoor nie, maar dadelik herken. En dit was die eerste keer dat hy nie hoef te wonder wat dit dalk beteken nie, maar die woorde kon uitmaak …

      By sy en sy mentor se blyplek gekom, staan hy lank in die badkamer en kyk na die houertjie met groen-en-rooi kapsules wat hy in die kabinet onder die wasbak hou – die noodsaaklike medisyne wat hy elke oggend so getrou sluk. Moet dit nie dalk sterker gemaak word nie? Dit is immers al donkiejare dat hy daagliks dieselfde dosis inkry. Vier kleintjies elke oggend.

      Nee, besluit hy. Dit was tog nou net die een keer dat hy die stem gehoor het. En dit het mos ’n mooi boodskap gebring. Met ’n bewende hand bêre hy weer die klein kapsules langs die houertjie met Panado’s.

      Die volgende dag begin Gabriël soos ’n besetene werk om die rommel te verwyder, die swaelnessies en byeneste uit te haal. Die plek uit te verf. Hy swoeg van ligdag tot donker, wanneer hy nie preke voorberei of dienste aanbied nie.

      Hy hoor nie weer die stem nie.

      Aan die begin van 2013 is geen verval meer sigbaar nie en staan daar net ’n baie ruim saal, perfek vir hulle doeleindes.

      Pastoor Bendt kry byna nie gepraat nie. “Dit is ’n wonderwerk. Ek was onseker of jy die stoor ooit sou kon restoureer, en kyk nou net …” Hy kniel op die koue sementvloer. “Laat ons die Here loof vir wat Hy ons gegee het. As ons nou net ons gemeente hier kan kry.”

      “Hulle sal kom, Pa,” antwoord Gabriël met ’n nuwe selfvertroue.

      Hy is reg. In die volgende maande stroom soveel mense na die nuwe Tabernakel dat die meeste van hulle dit as ’n kerk beskou. Die media berig oor dié fenomeen. Die Tabernakel in Hoofstraat waarheen mense van so ver as Pretoria kom, selfs die Oos- en Wes-Rand. Net so merk die pers mense van Lagos, Nigerië en Uganda op. Daar word gefluister oor genesings, mirakels wat af en toe plaasvind. Die Tabernakel haal die televisie. Kerk of kultus? word op ’n lamppaal gevra. Indien dit bedoel was om kerkgangers te ontmoedig, gebeur die teenoorgestelde. Die publiek se nuuskierigheid word sterker en sterker geprikkel. Gabriël en sy pa moet meer as een Sabbatsdiens begin hou – selfs later vier maal op ’n Sondag.

      Tony Bendt kan nie die pas volhou nie. Gabriël neem nou die meeste van die dienste waar, ook dikwels wanneer hy nie veronderstel was om te preek nie. Hy hoef nie meer preke voor te berei nie, hy weet al hy hoef net te praat en die gemeente sal luister.

      Tog kry hy tyd om die ouer man met groot simpatie en toewyding te versorg – al kan hulle hulp bekostig noudat die koffers wat nog altyd leeg was so ruimskoots gevul word.

      “Ons moet ’n ander pastoor kry om jou by te staan, my seun.”

      Gabriël skud sy kop. “Wie, Pa? Wie kan ons met ons boodskap vertrou? Dis nie nodig nie, ek is sterk en vol krag van Bo. Laat ons vir eers so voortgaan.”

      Dit is waar. Gabriël is besiel en raak net nooit moeg nie. Hulle woonkwartiere se drumpel word deurgetrap, want tot laatnag ontvang hy stomme siele wat ’n belydenis kom maak in die hoop op begenadiging. Slaap word ’n luukse, maar hy het dit nie nodig nie. Die ure in ’n dag is in elk geval te min. Dis al weer Augustus en daar is nog soveel om te doen vanjaar, soveel siele om te bereik. Dis asof ’n begeestering van Gabriël besit geneem het waarin daar vir vermoeienis geen plek is nie. Net die drif om meer en meer mense deel te maak van die Tabernakel.

      Of nee, daar is nog iets. ’n Vae onrus wat hy nie kan verwoord nie en wat hy buitendien nie met sy pa sou kon deel nie. Veral nie noudat die ou man so verswak nie.

      Dit kom hierdie keer ná middernag, toe hy op die punt is om die ligte af te skakel.

      Waarom staan jy my teë?

      Droom ek? wonder hy nog, maar besef dadelik dis nie die geval nie. Hy is nie eens verbaas nie. Nee, hier staan hy onder die hoofligte wat

Скачать книгу