Скачать книгу

ry af van elkeen hoor hoe julle voel oor die moontlike ontslag. Laat sentiment asseblief nie deel wees van ons beslissing nie. Die vrylating van ’n persoon wat kranksinnig verklaar is, is te netelig. Matrone, ons begin by jou. Hoe voel jy oor die saak?”

      “Ek is die een wat u lankal reeds bewus gemaak het van Hansie se kwaliteite, maar as hy gaan, sal ek hom mis.”

      “Ek ook,” kom dit van suster Brink. “Hy is so ’n positiewe mens en ’n groot hulp met die ander pasiënte.”

      “Doktor Naudé?”

      Die kliniese sielkundige wat verlede jaar aangestel is, lyk huiwerig. “Hansie is ’n innemende mens, maar ek is nie seker of hy wel geestelik gesproke geheel en al buite gevaar is nie. Die ding van die stem kwel my. Wat gebeur as hy nie op sy medikasie bly nie?”

      “Komaan, Herman,” sê doktor Botes. “Die kêrel is intelligent genoeg om te weet dat hy dit moet aanhou gebruik – veral ná twee dekades.”

      Herman Naudé roer sy skouers. “Watter versekering het ons, Giep?”

      “Die man het homself goed leer ken in die twintig volle jare wat hy hier by ons was. Jy mag dalk nie weet nie, dis al van so lank voor jou tyd. Binne die eerste jaar het hy sy matriek gemaak oor die pos. Nie lank daarna nie, toe het die kêrel ’n graad in teologie, met sielkunde as addisionele vak. Hy is nie dom nie en weet wat dit aan hom sou doen indien hy sy medikasie stopsit.”

      “Hy’s ook ’n opregte gelowige,” kom dit van die pastoor. “Soms verstom sy kennis my, ek glo hy ken die Woord uit sy kop uit.”

      “Wie het dan ooit gesê dat so iemand onnosel moet wees?” kap Herman Naudé terug. “Julle weet tog self die mees geslepe misdadigers het ’n vlymskerp brein. Ek kan hoeveel gevalle in Amerika en Engeland opnoem waar moordenaars ná hulle vrylating teruggekeer het na hulle ou weë … As daardie destydse uitspraak van Weskoppies korrek was, is Hansie Roodt ’n onrehabiliteerbare geval.”

      “As ek net dink aan die oorgroeide kind wat ons opgeneem het, en die aangename en mooi jong man wat nóú by ons is,” laat die matrone hoor, “moet ek my regtig by doktor Botes skaar. Die verwarde Hansie van vroeër is nie meer nie.”

      Die direkteur kyk op sy horlosie. “Doktor Naudé verwoord my eie vrees. Hoe kan ons Roodt uitlaat sonder ’n voog wat oor hom sal toesig hou?”

      “Ek sal hom inneem,” kom dit stilweg van die pastoor. “Hy is welkom in my huis en welkom om deel te word van my Tabernakel.”

      “Weet jy wat jy onderneem, pastoor?” wil die direkteur weet. “Om so iemand onder jou vlerk te neem is ’n geweldige verantwoordelikheid.”

      “Ek weet dit,” verseker die pastoor hom. “Ek is oortuig dat Hansie net ’n aanwins vir ons sal wees. Ek is nie meer jonk nie, maar hy is nog, en sterk. Oor die jare wat ek hom leer ken het, het ek nog nooit getwyfel aan sy opregte geloof nie. Eintlik is ek oortuig dat Hansie eendag by my die bediening sal kan oorneem.”

      ’n Stilte daal neer, tot die direkteur sy keel skraap.

      “Dan gaan ons oor tot stemming. Wie stem vir vrylating en wie is daarteen?”

      Hoofstuk 4

      November 2014, Stilbaai

      Rachel ken haar kind maar net te goed. Sy het dadelik geweet daardie oproep wat Danny by die restaurant gekry het, was nie goeie nuus nie. Sy kon agterkom Eric het ook iets opgemerk, maar om Nadia se onthalwe het sy nie uitgevra nie.

      Dit is dus eers laatmiddag, toe hulle soos gewoonlik strandlangs stap en sy besef het dat Danny nie eerste gaan praat nie, dat Rachel die saak aanroer. Nadia was vas aan die slaap toe hulle by die huis weg is en Eric het beloof om haar ’n kaartspeletjie te leer wanneer sy wakker word.

      “Wat is dit, Daniella?” Sy neem haar dogter se hand en draai haar na haar toe. “Iets het verander en dit het te make met daardie oproep wat jy gekry het. Waarom jy jou ellendige selfoon moes aan hou terwyl jy ’n gas in ’n restaurant is, slaan my dronk. Dis nie soos ek jou …”

      “Ek weet, Ma, en ek is skuldig.”

      Vir ’n oomblik lyk Rachel se dogter weer vir haar soos ’n jong meisie. Jy sou in elk geval nooit sê sy is 43 nie.

      “Van wie was dit? Wat het jou so omgekrap? Dit was werk, nie waar nie?”

      Klein golfies klots om Danny se enkels. Sy kan drie vissersbote sien en die een se naam lees: Ja-my-ma. Sy sal tog nie langer kan uitstel nie, ma’s het ’n ander soort instink. Sy voel Rachel se onrustige blik op haar.

      “Dit was Mbulu, Ma. Ek sal moet terug.”

      “Jy het gesê jy is klaar met Johannesburg – nog ’n lekker lang ruk hier, dan gaan ons drie terug Kaap toe,” beskuldig Rachel haar. “Daar moet ander speurders wees wat jou werk kan doen. Jy het met lof gepraat van Billy Venter en –”

      “Daar is ’n ander rede ook, Mamma.”

      Die donker oë blits. “Jou werk het na jou kop toe gegaan, Daniella. Jy dink jy is die enigste mens wat mal moordenaars se spoor kan vat.”

      “Harm Hasslau het uit die hospitaal ontsnap.”

      “Hoe? Jy’t gesê hy is onder die strengste …”

      “Dis wat ek ook gedink het. Maar volgens Mbulu het hy ’n magdom mense wat hom kan help ontsnap. Ek ken nog nie al die besonderhede van hoe dit gebeur het nie, maar dit kan nie anders nie, ek moet die saak gaan afsluit. Hasslau moet agter tralies wees.”

      Rachel aarsel. “My kind, is dit regtig …”

      “Hy is die man wat verantwoordelik was vir Pappa se dood. Wat dink Mamma dan?”

      “Weet jy, Daniella, ek dink jou pa sou gesê het jy moet dit nou laat gaan. Iemand anders kan hom vastrek. Almal weet tog nou van hom, dit moet ’n kwessie van tyd wees. Jy kan Braam nie terugbring nie, al sit Hasslau ’n duisend jaar in die tronk. Dink aan my en Nadia – ons is jou familie. Ek sien nie weer kans vir Johannesburg nie.”

      “Ek verwag dit ook nie. Ek het reeds vir my ’n vlug bespreek vir môreoggend. Moeks en Nadia moet hier bly. Wie weet, dalk is ek nog voor Kersfees terug. Anders het Ma mos gehoor Eric sê julle kan bly so lank julle wil …”

      “En dan?” wil Rachel weet, nou diep ontsteld.

      “As ek langerig móét wegbly, gaan julle terug Kaap toe. Dan gaan Nadia na die St Teresa’s-meisieskool. Ek sal reël dat ek daar is vir die inskrywing, maar dis regtig nou net ás dinge voortsleep. Mens weet nooit.”

      “Jy het ’n saak hangende in die gesinshof, of het jy vergeet? Jy gooi vet op die vuur. Wil jy nou Piet Hector se argument staaf dat jy nie omgee vir jou kind nie en glorie najaag? Dink tog daaraan.”

      “Ek het dit nie uit die oog verloor nie, Moeks. Asseblief, laat ons nie my laaste dag hier bederf nie.”

      Rachel kyk anderpad. Danny is reg. Sy is seker onredelik, maar wat ook al gebeur, sy gaan nie terug Johannesburg toe nie. Die blote gedagte aan al daardie spanning is net te veel.

      Die vissersbote kom vinnig nader. Die man by die voorste een se boeg dra ’n baie rooi hemp.

      “Dis my werk, Moeks. As ek anders kon, miskien ’n prokureur word, of ’n …”

      “Jy kan as jy wil. Jy het die opleiding en jy het jou graad cum laude behaal. Jy kan ’n praktyk open.”

      Danny lag. “Nou klink Ma net soos Piet. Ek doen waarvoor ek die beste toegerus is. Om polisievrou te wees is meer as net my werk. Dis my roeping, kan Ma dit nie verstaan nie?”

      Rachel voel ’n branderigheid agter haar ooglede, maar sy sal nie huil nie. Daniella is só Braam se kind, net so besiel met haar werk. Twee koppige vasbyters! Dit maak haar partykeer seer om na Danny te kyk: die mooi gelaatstrekke wat haar so aan Braam Brink herinner. En die rooi hare, wat hier, anders as in Johannesburg waar Danny dit vasgesteek

Скачать книгу