Скачать книгу

      Meneer Erasmus se hand rus vir ’n oomblik op die hefboom. Toe trek hy dit en die valdeur gaan oop. Sewe mans stort na benede, drie verdiepings ver.

      Hansie besef hy huil toe tog maar. Sy maag draai. Ag, Here, bid hy in die stilligheid, moenie dat ek myself vuilmaak nie.

      Daar is vyftien minute vir tee sodat die dokter sy ronde kan kom doen. Die bewaarders begin by die trap af bondel.

      “Hou dadelik op met grens,” beveel oom Kallie saggies. “Jy bly, Hansie. Jy wag vir die dokter. Daarna ruim jy die bloedpit op. Jy ken die storie.”

      Hansie knik net. Hy hoor weer die ander stem, maar kan geen woorde uitmaak nie. Nou weet hy egter dis die stem wat hy al van kleins af hoor, al was dit nog nie so baie kere nie. Nog altyd as dit gekom het, het dit gehelp. Dis reg, hy onthou nou dit was op tye wanneer hy gedink het daar is geen hoop meer nie, hy kan dit nie meer uithou nie, hy gaan mal raak. Die stem praat met hom, dan raak dinge beter. En daarna vergeet hy weer van die stem. Al is die woorde nie duidelik nie, was die stem nog nooit so hard soos nou nie. Hy is byna verbaas dat oom Kallie nie terugdraai om te kom kyk wie hier by hom is nie.

      Hansie kyk rond, vir ’n oomblik oortuig dat hier iemand moet wees, al is dit nie moontlik nie. Hy is nie seker of hy die woorde sou verstaan ás hy hulle duidelik kon hoor nie.

      Hy besef daar het tyd verbygegaan. Hy kyk af en sien die dokter wegstap en die sewe lyke agterlaat. Hy bly nooit lank nie, moet net seker maak dat daar nie meer ’n hartklop is nie.

      Hansie klim af ondertoe. Die gehangdes swaai nog liggies. Sy taak is om hulle eers uit te trek, dan af te spuit. Maar hy kan nie! Nie wéér nie. En so baie van hulle. Nog nooit was dit vir hom so erg nie, verdomp, geen mens kan dit hou nie! Tog, hy trek die mans se klere af, gooi dit op ’n hoop – sodat dit vir ander verdoemdes gegee kan word. Almal hang nou kaal, soos stukke vleis in ’n slaghuis. Die stank is iets vreesliks, want almal het hulle bevuil, soos altyd gebeur. Die gevolg van daardie laaste groot maaltyd.

      Hansie mag agtien wees, maar hy voel soos ’n voorskoolse kind wat al te veel van die wêreld se wreedheid gesien het. Dis te veel vir enige mens. Hy kan dit nie meer vat nie. Dalk is hy reeds mal, dié dat hy stemme hoor. Wat help dit die stem kom, as dit hom nie help nie?

      Hy besef iets. Dit moet die stem van God wees. Hoeveel kere het hy dan nie al gebid dat God hom uit hierdie ellende moet verlos nie?

      Dan wonder hy: Wil God nie vir my sê ek moet myself help nie?

      Maar hóé?

      Hy draai die kraan oop en ’n sterk straal water skiet uit die tuinslang. Hy spuit die slap liggame skoon.

      Gewoonlik kom een van die ander om hom die gehangdes te help afhaal. Laat dit tog net nie oom Kallie wees nie …

      Asof in antwoord op daardie gedagte, kom die stem van daar bo af: “Jou luigat, is jy nog nie klaar nie? Het jy net hier staan en tjank?”

      Hansie verstaan dit nou, al daardie woorde wat hy nie kon uitmaak nie. Dit was ’n bevel. God help dié wat hulleself help.

      En hy moet nou optree. Uiteindelik self iets doen.

      Sy voet hinder hom glad nie toe hy blitsig by die twee en vyftig trappe op beweeg nie, na waar die ouer man hom onbegrypend aankyk.

      “Vrek, jou ou donner!” skree hy, en stamp, en oom Kallie val gillend na benede.

      Sy gil hou skielik op.

      “Dood. Vrek,” sê Hansie saggies vir wie ook al hier by hom mag wees, al kan hy nie meer die ander stem hoor nie. “Ek kon toe ook mense hang. En kyk, ek huil nie meer nie.”

      “Wat de hel gaan hier aan?” vra Burger van onder af.

      Hansie begin lag. “Toemaar, dis net oom Kallie. Hy is skuldig bevind, en ek moes hom straf.”

      Hoofstuk 2

      November 2014, Stilbaai

      Dis verstommend dat ’n mens se vrede só vinnig tot ’n einde kan kom. Een oomblik was die vier van hulle nog saam aan tafel, met ’n lieflike uitsig en die geur van kos en sagte musiek op die agtergrond. Toe kom die oproep op haar selfoon.

      Sy moes nooit buitentoe gekom en geantwoord het nie. Maar dan het sy tog net die onafwendbare uitgestel.

      Die oomblik toe sy die stem herken het, het die werklikheid haar ingehaal.

      Watter seën was die afgelope tien dae of wat nie. Hier op Stilbaai in Eric se huis, ver van die senutergende gebeure wat in Johannesburg afgespeel het. Danny was weer besig om haarself te vind – want as jy met ’n moordsaak besig is, verloor jy jouself. Dan kan jy nie bekostig om net mens, net vrou te wees nie. Dan is jy voluit speurder.

      Daardie saak het geëindig toe sy die reeksmoordenaar skiet. En, op ’n emosionele vlak veel belangriker, sy het Harm Hasslau gevang. Die man wat vir haar pa se dood verantwoordelik was. Daarna verdien jy tog om te rus, nie waar nie? Al was dit vir haar moeilik om af te skakel, al het die rustigheid haar op ’n vreemde manier soms juis onrustig laat voel, was dit nou die tyd om te ontspan, saam met haar ma en kind. Ja, ook saam met Eric. Sy staan hier met die foon teen haar oor en dink aan hoe Eric net ’n minuut gelede hier in die Press Room-restaurant vir haar geglimlag het: nie die briljante kriminoloog nie, net ’n man wat op ’n sekere manier na ’n vrou kyk.

      Danny het geglo daar sal nog ’n hele klomp dae soos die laaste tien wees. Dae soos gister, toe haar ma haarself oortref het met die aandete. Rachel het iewers ’n vars kabeljou bekom. Krokante slaai en groentes en pietersielie-aartappels daarmee saam voorgesit. Nadia het met verstomde dogtertjie-oë na die kos gekyk, al behoort sy reeds aan haar ouma se toorkunsies gewoond te wees. En hy het gelag, die skaam en teruggetrokke professor Eric Strauss wat Danny aanvanklik as hooghartig en chauvinisties ervaar het. Sy kan nie onthou of sy al ooit ’n vakansie meer geniet het nie; haar normaalweg bleek vel het selfs ’n bietjie kleur gekry.

      Stilbaai en Eric se huis by die see – omtrent ín die see – was te goed om waar te wees. Ja, voor Nuwejaar sou hulle moes teruggaan huis toe, sy en Rachel en Nadia. Maar Nuwejaar was nog ’n bietjie meer as ’n maand ver. Sy het Nadia reeds voor sy weg is uit Johannesburg by ’n nuwe privaatskool in die Kaap ingeskryf. Nadat een van die kind se onderwysers hulle verraai het, moes sy seker maak so iets kan nie weer gebeur nie – en dat Piet Hector …

      Nee, sy sal nie weer aan hom dink nie. Of nie nou al, gedurende haar tydjie van rus nie. Piet Hector mag ook nooit in die pad van enige moontlike verdere geluk staan, sodat sy nie weer iets vir ’n man kan voel nie. Danny was huiwerig om dit teenoor haarself te erken, maar Eric beteken elke dag meer vir haar. Of dit liefde is? Sy is bang vir daardie woord.

      Dit was die perfekte aand – en nou voel gisteraand so ver.

      “Niemand kan fout maak met so ’n vis nie,” het Rachel gesê. “Die visserman het my verseker dit het ure tevore nog geswem.”

      “Ouma!” Nadia se oë het vol trane geskiet. “Toe maak Ouma die arme vis dood!”

      “Ouma het net die vis gaargemaak, kind. Die visserman het dit gevang en dis sy werk.”

      “Maar wat daarvan as die vis kindertjies het?” Die gedagte het te veel geraak vir die dogtertjie. “Ek wil nie meer eet nie!”

      “Toemaar,” het Eric gepaai, “môre neem ek julle uit vir middagete.” En toe die twee vroue protesteer: “Dis die laaste Sondag van die maand. Dis my verskoning.”

      En hier is hulle nou, en hier staan sy op die veranda en kyk uit oor die olyfboorde om die restaurant. Met kommissaris Bongani Mbulu se stem in haar oor.

      “Danny, Harm Hasslau het uit die hospitaal verdwyn.”

      Die einde, weet sy. Hierdie onwerklike vrede is op ’n einde.

      “Wat? Maar hy was tog onder die strengste polisiebewaking!”

      “Korrek, ja. Maar die man het kontakte, en nou is hy spoorloos.”

      Sy

Скачать книгу